Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:3
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 40:4
Gebed
Skrifberyming 33:2
Skriflesing:
Johannes 17
Teks:
Johannes
17:15, 24
Ek bid
nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van
die Bose bewaar.
Vader,
Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My
sal wees, sodat hulle My heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het,
omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.
’n Uur of wat tevore is die Nagmaal ingestel. Daar aan die tafel het
iets baie belangriks en treffends gebeur: die Here het die dissipels se
aandag gevestig op hulle eenheid met Hom en met mekaar.
- Hy het ’n brood geneem en aan stukke gebreek en vir
hulle gegee om te eet. Hy het vir hulle gesê dat dit sy liggaam is wat
vir hulle gebreek word.
- Daarna moes hulle uit een beker drink om die
eenheid met sy bloed en met mekaar as deelgenote in hierdie
verbondsbloed te beleef.
Met dit vars in hulle gedagtes, het die Here hierdie gebed gebid
waarvan ons gelees het. Ons weet nie presies wanneer die Here die gebed
gebid het nie.
- Miskien was dit nog in die bovertrek toe al die
dissipels bymekaar was.
- Miskien was dit terwyl hulle die nag ingestap het
na Getsemane toe – iewers op pad daarheen, voordat hulle oor die
Kedronspruit gestap het – dat die Here Jesus hierdie gebed gedoen het.
In die eerste gedeelte van die gebed bid die Here Jesus oor Homself en
sy werk. Daarna bid Hy vir die dissipels en vir alle mense wat deur
hulle prediking tot bekering sal kom – waarby ons ingesluit is.
- Dit is baie belangrik om raak te sien dat die Here
dieselfde eenheid wat tussen Hom en ons – en ons met mekaar – aan die
Nagmaal geopenbaar is, ook weer in hierdie gebed van God afpleit.
- Die inhoud van die gebed is dat die saligheid wat
die Here Jesus bring, in hierdie lewe en in die lewe hierna ’n deel van
ons bestaan sal wees.
Die Here Jesus sluit die wêreld uit uit sy gebed vir genade,
heerlikheid en eenheid met Hom.
- Hy bid nooit vir die wêreld nie.
- Hy sê wel vir die wêreld dat Hy baie dinge oor
hulle kan sê en ’n oordeel oor hulle uitspreek. (Johannes 8:26).
Dit beteken nie dat Hy nie genadig is nie. Hy is, maar Hy bid sy genade
af vir ’n baie geselekteerde groep mense. Hy noem hulle:
- Die aan wie die Woord gegee is
- Die wat glo dat God Jesus gestuur het
- Die wat U My gegee het
- Die wat aan U behoort
- Die wat in die wêreld is, maar nie deel is van die
wêreld nie
Die Here bid ook besondere dinge van die Vader af vir hierdie mense. Hy
vra:
- dat God ons nie uit die wêreld moet wegneem nie;
- maar dat, solank ons hier is, Hy ons teen die
duiwel moet beskerm;
- dat ons die waarheid ken en daarin geheilig moet
word;
- dat ons almal een mag wees;
- dat ons sy heiligheid mag sien; en
- dat ons saam met Hom sal wees.
Die Here Jesus openbaar in sy gebed baie duidelik dat ons wat in die
wêreld is, baie groot moeilikheid gaan ondervind. Die probleemgebiede
is juis die waarvoor Hy bid, naamlik om:
- suiwer te bly in die leer van die Woord; en
- om in ’n fisiese en in ’n geloofseenheid te kan bly
voortbestaan sonder om deur dwaalleer of deur onderlinge
onverdraagsaamheid verskeur te raak.
Ons is nou saam rondom die Nagmaal – net soos wat die dissipels daardie
aand ook saam was rondom die Nagmaal.
- Ons gaan saam sit in die eenheid van verlos wees en
in die eenheid van ons geloof.
- Ons gaan saam sit en eet in die besef dat ons uit
die Woord van die Here dieselfde een evangelie van verlossing ken.
- Ons gaan saam die brood en die wyn van ons Gasheer,
Jesus Christus, ontvang en weet dat Hy vir ons bid – dat Hy ons in ons
eenheid as sy liggaam en kerk van die Here in sy gebed en almagtige
versorging bewaar totdat Hy op die wolke verskyn.
Kom sit aan met ’n eerlike gemoed. Ons bely ons sondes. Maar ons bely
ook dat ons sondes deur Jesus Christus met God versoen is, omdat ons
saam met Christus gekruisig is, sodat ons vir God kan lewe (Galasiërs
2:19).
Daarna staan ons van die tafel af op met die vaste voorneme om te
strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand
van God sit, aangesien ons saam met Christus uit die dood opgewek is
(Kolossense 3:1).
Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak
gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming.
- Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die
sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee (Titus 3:5).
- Daarom moet ons elke dag ’n bekeringslewe lei, en
moet ons in ’n skerp en lewende verhouding met die Heilige Gees lewe.
Amen.
Gebed
Psalm 33:2, 11
Formulier
Psalm 23:2, 3
Af tafel toe:
Tydens Nagmaal: Psalm 116
Terug banke toe: Psalm 118
Slotpsalm 103:3
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees gaan met u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 23 Mei 2004 – Nagmaal