Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 46:3
Gebed
Psalm 145:1, 8
Skriflesing:
Johannes 18
Teks:
Johannes
18:36; Kategismus Sondag 48
Jesus
antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my
koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie
aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier
nie. (AFR53)
Die Here Jesus het by meer as een geleentheid geweier om Koning te wees
van ’n aardse koninkryk. Hy is reeds van ewigheid af Koning oor ’n ryk
wat deur die wêreld gehaat word omdat dit nie van die wêreld is nie.
Die koninkryk van die Here Jesus verskil in elke opsig van ’n aardse
koninkryk:
- Dis hemels.
- Dis nie afhanklik van mense se wil of hulle
vermoëns nie.
- Dis geestelik.
- Dis onslytbaar en ewig.
Hier op die aarde lyk dit nie so nie. Hier lyk dit asof die koninkryk
van die Here Jesus tot niet gaan omdat die wêreld sulke magtige
strukture het. Dinge ontwikkel net so dat daar al hoe minder plek vir
die Christendom is.
Tog is dit nie so nie. Die koninkryk van die Here Jesus is aan die kom
– onweerstaanbaar in sy krag en heerlikheid. Omdat dit nie van hierdie
wêreld is nie, is dit ’n koninkryk van die toekoms – die verste
toekoms: die ewigheid in die hiernamaals.
As ons bid: Laat U koninkryk kom, dan bid ons:
1. Vir onderwerping
2. Vir bewaring
3. Om te kan hoop
1. Laat U koninkryk kom, is ’n gebed
vir onderwerping
Onderwerping aan die Here is dat God se regering deur sy Woord en Gees
in ons lewens vrugte dra. Ons weet almal dat dit nie iets is wat in ’n
oomblik se tyd gebeur nie. Dis iets wat mettertyd tot stand kom – al
hoe langer en al hoe meer ons ons in gehoorsaamheid aan die Here
onderwerp. So kom die gehoorsaamheid ook al hoe langer en al hoe meer
in ons lewens na vore.
Hierdie is ’n baie seldsame gebed. Dink daaroor:
- Wie sal ’n gebed bid waarin hy/sy vrywillig gaan
smeek dat hy hom aan die Here wil onderwerp?
- Wie sal sy heil en verlossing sien in
gehoorsaamheid aan die Here – veral as dit beteken dat hy wins of
voordeel in die aardse lewe moet prysgee?
Geen mens wil vanself (van nature) so iets doen nie.
- Ons wil nie gehoorsaam nie – ons wil heers.
- Ons wil nie regeer word nie – ons wil self regeer.
- Hoe min mense het regtig al losgekom van die satan
se belofte dat ons soos God sal wees? Beteken verwaandheid dan nie juis
dat so iemand in sy eie oë God geword het nie?
Die punt is net dat dit in die aard van die mens is dat sy eie luste en
sy eiesinnigheid om sy eie ding te doen hom beheers.
- Ons sien nou juis in die reeks preke uit Openbaring
16 dat die Here openbaar dat die mense wat in die laaste tye lewe hulle
eerder deur die Bose sal laat lei as deur God!
- Ons sien in die wêreldgeskiedenis wat om ons
afspeel dat mense makliker met geweld speel en eerder onder geweld sal
mor en sug as om met vrede in die Naam van die Here orde te handhaaf.
Uit al die dinge is dit duidelik dat ’n ongelowige nie hierdie gebed
sal bid nie. Hierdie gebed word gebid deur iemand wat deur bekering
verander is van ’n moedswillige mens af na ’n kind van God in Jesus
Christus toe.
- Dis iemand wat ’n onderdaan is in die koninkryk van
Koning Jesus Christus.
- Dis iemand wat verlig word deur die Heilige Gees.
- Iemand wat die noodsaaklikheid insien om die Here
te aanbid en dien.
Hierdie gebed is ’n verstandige gebed.
Dit getuig van selfkennis. Dis die gebed van iemand in wie se hart die
gees van revolusie en opstand teen die Here gebreek en oorwin is.
Iemand wat oortuig is dat God ’n koninkryk het en en dat hy deur God
regeer wil word, is iemand wat nederig is, en wie se oë so oopgegaan
het dat hy sy eie nietigheid kan sien.
Iemand wat die gebed bid, het ook kennis van God, want hy verstaan en
bely daarmee die albeskikking van God oor elke mens se lewe. Hy weet
dus dat God se koninkryk die eindbestemming van die ware gelowige is.
2. Laat U koninkryk kom, is ’n gebed
vir bewaring
Enige mens wat homself teen die lewe vasgeloop het, sal die
ondervinding hê om te weet dat hy hulp nodig het.
- Hy sal dit baie skerp ervaar dat daar in hierdie
lewe magte is wat baie groter is as onsself.
- Daarom bid die ware gelowige dat God met sy
oorwinnende mag ons sal beskerm teen die magte van die donker.
Iemand wat hierdie gebed bid, is iemand wat baie goed verstaan dat hy
’n diepe behoefte het om deur God beskerm te word.
- Hy weet dat hy homself nie kan bewaar nie – daarom
kan hy die Kerk ook nie bewaar nie.
- Hy besef dat hy daarom ook nie in staat is om die
Kerk van die Here te laat groei nie – en die Kerk moet groei.
- Daar is net Een wat dit kan doen, en dis die God
van die Kerk. Daarom bid ons dan tot God dat Hy sy koninkryk moet laat
kom.
Iemand wat hierdie gebed bid, is iemand wat ’n baie bewuste besluit
moet neem om die Here te dien, omdat hy besef dit die enigste oord is
waarvandaan daar redding en verlossing kan kom. Daar is so ’n
gebeurtenis in die Bybel opgeteken. Dit was die roerende oomblik toe
Naomi haar skoondogters beveel het om terug te draai na die heidendom
toe waar hulle vandaan gekom het.
Daarop
sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na
haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan! Maar Rut sê: Moenie
by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want
waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is
my volk, en u God is my God.
(Rut 1:15-16 AFR53)
Die een wat hierdie gebed met oortuiging bid, getuig dus van sy geloof.
- Dit getuig daarvan dat hy werklik glo dat daar by
die Here bewaring en beskerming moontlik is.
- Dis God se saak om die wat Hom aanbid vir ewig te
beskerm. Daarom rig Hy vir hulle ’n ewige koninkryk op waar Hy hulle
kan en wil beskerm sodat hulle tot in die ewigheid nie verlore kan raak
nie.
Iemand wat ’n lewende verhouding met die Here het, ken die duiwel en sy
manier van werk.
- Hy weet dat die duiwel niks met rus laat nie. Hy
slaan sy kloue in alle mense in wat hy kan beetkry om hulle en dit wat
vir hulle heilig is, te vernietig.
- Daarom is hierdie gebed juis ’n hulproep na die
Here toe om te sorg dat die duiwel sy hande afhou van ons wat glo.
- Ons wil hê die Here moet asseblief sy hande op ons
lê.
Dis ’n gebed waarmee ons bid dat die Here sy almag en sy wysheid in ons
lewens openbaar. ’n Gebed dat die Here ons met hierdie almag en wysheid
moet beskerm teen die lis van die satan.
3. Laat U koninkryk kom, is ’n gebed
vir om te kan hoop
Kyk rond in die omgewing rondom ons. Kyk na alles: die natuur, sosiale
strukture, menseverhoudinge, wetstoepassing – enigiets.
- Met eerlikheid moet ons erken al die dinge wemel
van onvolmaaktheid.
- Kom ons sê dieselfde ding oor in geloofswoorde: Ons
sien baie min van die volmaaktheid van die koninkryk van God in die
lewe rondom ons.
- Selfs in die heilige algemene Christelike Kerk wat
ons bely, gaan dinge maar al skeurend en verwarrend. Dit word toenemend
gekenmerk deur onderlinge verdeeldheid.
Daarom is hierdie gebed in die mond van die ware gelowige ’n gebed van
hoop:
“Here ek bely dat U ’n koninkryk het
waarin alles volmaak is. Vestig
dit in ons lewe in die plek van al die gebrokenheid wat ons in die
huidige een sien en beleef.”
- Die gebed is dus ’n uiting van hoop dat daar ’n tyd
sal aanbreek wanneer ons van alle verdeeldheid en vrees en geweld
verlos sal wees.
- Dis ’n gebed dat my hoop op die komende volmaakte
koninkryk van God die moedeloosheid in my sal verdring sodat ek my
roeping kan nakom.
- Dis ’n gebed waarin ek my hoop op God bely dat Hy
sy beloftes hou.
- Dis ’n gebed waarin ek die absolute trou en
getrouheid van God bely dat Hy my in Jesus Christus se verdienste in
hierdie koninkryk gaan toelaat.
Ons leef in die Nuwe-Testamentiese tyd. Onthou u hoe ons tydvak ingelui
is met die prediking van Johannes die Doper en van die Here Jesus
Christus self:
(Johannes het) gepreek en gesê:
Bekeer
julle, want die koninkryk van
die hemele het naby gekom. (Matt. 3:2)
Van
toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die
koninkryk van die hemele het naby gekom. (Matt. 4:17)
Die Here Jesus se prediking het presies daarby aangesluit.
- Hy roep ons voortdurend op dat ons sy koninkryk met
ons lewenstyl in gedagte moet hou:
Maar
soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie
dinge sal vir julle bygevoeg word. (Matt. 6:33)
- Hy waarsku dat ’n valse en onopregte
geloofsbelydenis ons nêrens in sy koninkryk gaan bring nie:
Nie
elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van
die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele
is (Matt. 7:21)
- Hy stuur ons uit om aan die mense rondom ons die
boodskap van sy koninkryk oor te dra:
En
gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom (Matt.
10:7).
As u dalk wonder (of twyfel) of u die dinge van God se komende
koninkryk kan verstaan, kan u die groot gerustheid in u hart hê dat u
dit wel verstaan en sal verstaan.
- Die Here Jesus verseker u daarvan in Matteus 13:11:
Toe
antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die
verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle
is dit nie gegee nie.
- Hy waarsku egter ook dat die wat nie hoor en
verstaan nie (of nie wil hoor en verstaan nie!) deur die duiwel
aangeval gaan word, en die aanbidding wat so ’n persoon vir God het,
gaan vernietig. Dan bly jy kaal agter as ’n aanbidder van die donker
magte:
As
iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die
Bose en roof wat in sy hart gesaai is – dit is hy by wie langs die pad
gesaai is (Matt. 13:19).
Die Here Jesus belas die kerk ook met die verantwoordelikheid om tydens
hierdie aardse lewe reeds volgens sy Wil uit te sorteer wie in hierdie
koninkryk gaan wees en wie nie. Dink net waarmee die Here u vertrou!
Die vraag is net: Is u besig daarmee?
En Ek
sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat
jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy
ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees
(Matt.
16:19).
Ons troos is dat die Here Jesus ons verseker dat ons met die
eindoordeel in sy koninkryk sal ingaan. Hy verseker ons daarvan in ’n
gelykenis/preek wat Hy hieroor gehad het:
Dan
sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle
geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van
die grondlegging van die wêreld af (Matt. 25:34).
Daardie tyd is ’n tyd van vreugde. Die Here Jesus neem self deel aan
hierdie vreugde. Onthou wat Hy aan die eerste Nagmaaltafel gesê het:
Maar
Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van
die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut
sal drink in die koninkryk van my Vader (Matt. 26:29).
Kom ons kyk saam wat ons belydenis hieroor leer in Kategismus Sondag 48:
Vraag 123: Wat is die tweede
bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom.
Dit is: Regeer ons so deur u Woord en
Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk
en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat
teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord
bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U
alles in almal sal wees (e).
(a)Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps 51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom
16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor 15:28.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 28:2 (10-1:2)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 23 Mei 2004 (aand)