Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het. Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1, 3.
Gebed.
Psalm 139:3.
Skriflesing: Johannes 3.
Teks: Kategismus Sondag 20; Johannes 3: 8
Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.
Ons glo omdat ons verlos is, want God die Heilige Gees bewerk die ware geloof in ons.
- Hy verseker ons dat ons salig is deur die soenbloed van ons Here Jesus Christus.
- Ons kan lewe met vrede in onsself: ons kan met vrymoedigheid voor God kan staan in die oordeel omdat die Heilige Gees ons verseker van God se genade vir ons in Jesus Christus die Here.
Ons let in hierdie preek op die volgende dinge:
1. Wie is die Heilige Gees?
2. Wat doen die Heilige Gees?
3. Die troos van die Heilige Gees.
1. Wie is die Heilige Gees?
Die Heilige Gees is een van God se drie Persone. Die Here onderskei hier tussen die werk van die Vader en die Seun en die Gees.
- Geloof en bekering word bepaaldelik deur die Heilige Gees gewerk.
- Die misterie van hierdie saak is dat God een Wese is, maar in sy almagtige Godheid bestaan Hy ook in drie Persone, wat elkeen 'n eie werkswyse het.
- Die Drie Persone werk nooit los van mekaar nie.
- Hulle is altyd verbind aan mekaar: onderskeie, maar nie geskei nie.
- Die bewys hiervoor is byvoorbeeld dat die Bybel leer dat die Heilige Gees van sowel die Vader as van die Seun af uitgaan. (Later in die preek noem ek enkele Skrifgedeeltes waar dit staan.)
Wie van ons kan al hierdie dinge, naamlik die Drie Eenheid van God en die werking van die Drie Persone gesamentlik, maar ook die afsonderlike werk van elke Persoon van die Here verstaan? Ons kan maar net soos die dissipels bid dat die Here ons meer geloof moet gee, sodat ons al die dinge kan glo al verstaan ons dit nie!
- Die feit is net dat ons deur die Heilige Gees deel kry aan Jesus Christus, en aan sy verlossingswerk.
- Die Heilige Gees lei ons tot wedergeboorte.
- Hy gee aan ons geloof, en laat ons ook groei in ons geloof.
- Maar hoe Hy met ons gees werk, en in ons werk, dit is 'n misterie. Dis wat Nikodemus agtergekom het.
Nikodemus was 'n Skrifgeleerde. Ons sou in die idioom van ons tyd sê dat hy 'n professor in die Teologie is. Daarom het hy ook baie belanggestel in dit wat Jesus gepreek het. Nogtans was hy baie verbaas toe hy hoor wat Jesus alles preek. Die dinge was vir hom nuut en selfs vreemd. Daarin kom ons duidelik agter dat sy kennis nie so goed was soos wat dit behoort te wees nie.
Nokodemus was veral verbaas toe die Here Jesus vir hom vertel dat die wedergeboorte 'n saak is wat in sy aardse lewe tuishoort.
- Hierop het Nikodemus geantwoord dat hy nie dink dat dit moontlik is dat 'n mens weer in die skoot van sy moeder kan ingaan en weer gebore word nie.
- Jesus se reaksie was dat Nikodemus niks van die hemelse dinge sal verstaan as Hy hom nie daarvan vertel nie, want hy het nie eers 'n begrip van die aardse dinge nie.
Jesus het die werk van die Heilige Gees in gedagte gehad.
- Dit gaan in die werk van die Heilige Gees oor 'n geestelike geboorte maar steeds op die aarde.
- Dit gaan oor iets wat nie gesien kan word nie, soos die herkoms of die adres van die wind. Soos wat die wind waai, so waai die Gees van God deur ons en bewerk nuwe lewe in ons.
- Sonder dat iets sigbaars gesien kan word, werk Hy bekering en wedergeboorte in die mens.
2. Wat doen die Heilige Gees?
Die Heilige Gees gaan van sowel die Vader as van die Seun uit. Dan werk Hy in ons. Kyk na die volgende gedeeltes waar die Heilige Gees die Gees van die Vader genoem word.
- In Matteus 10: 20 staan die volgende geskryf:
... want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van die Vader wat in julle spreek.
- 1 Korintiërs 2: 11, 12 leer ons dat niemand die verborge dinge van God ken nie, behalwe die Gees van God.
- Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees van God wat kom, en daardeur weet ons wat God ons uit genade geskenk het.
- Die Heilige Gees leer ons dus om die genade van God te kan ken. Hy is ook die naelstring wat ons aan God bly verbind.
Daar is ook plekke in die Bybel waar die Heilige Gees die Gees van die Seun genoem word.
- Een so 'n voorbeeld is Galasiërs 4: 6 waar die volgende geskryf staan:
En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur en Hy roep: Vader, Vader.
- Dit is baie duidelik uit hierdie gedeelte dat die Heilige Gees in elkeen van ons die begeerte bly opwek om tot die Vader te bid.
- Hy lei ons ook in ons gebede wanneer ons bid.
- Die leiding van die Heilige Gees is nie net beperk tot leiding wanneer ons bid nie. Dit word in 1 Petrus 1: 11 aan ons geopenbaar dat die Gees van Christus ons leer van die heerlikheid wat aan die kom is.
- Sonder die Heilige Gees kan ons nie aan Jesus Christus behoort nie. Luister weer na wat in Romeine 8: 9 geskryf staan:
Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, die behoort nie aan Hom nie.
- Job het Jesus Christus nie geken nie, maar hy het die werking van die Heilige Gees goed geken. Hy was veral bewus van die skeppingsmag wat God die Heilige Gees het. Hy noem die Heilige Gees die asem van die Almagtige:
Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend (Job 33: 4).
- Die Heilige Gees is dus ook die Bewerker van lewe.
- U moet net oplet dat die lewe waarvan Job praat, sowel geloofslewe of geestelike lewe as liggaamlike (fisiese) lewe is.
- Die Heilige Gees se werking oorspan dus my totale lewe.
Ons kan die werk van die Heilige Gees taamlik bondig opsom as ons sê dat Hy in ons Geestelike lewe blydskap en regverdigheid bewerk.
- Hy beweeg ons om uit die sonde uit te beweeg in die sfeer van God se heiligheid in - sodat ons heilig kan wees soos Hy.
- Hy appeleer teen ons gewetes wanneer ons iets verkeerd doen, sodat ons regverdig kan wees soos Hy.
- Die Heilige Gees bewerk die sekere geloofsvertroue in ons dat ons aan die Here behoort.
- Dit is die basis van ons lewensvreugde, want wie gaan nie bly wees as hy weet dat hy aan die Here behoort nie?
- Die Heilige Gees rig ons hele lewensverwagting op om meer te verwag as net hierdie lewe.
- Hy rig ons geloof op die hiernamaals. Ons lees in 1 Korintiërs 15 dat daar mense is wat net vir hierdie lewe op Christus hoop!
Dit is wat die Here vir Nikodemus geleer het:
- Die Heilige Gees - wat God self is - lyf my deur die geloof wat Hy in my bewerk in Christus in.
- Hy laat my dus fisies deel kry aan alle weldade wat die Here Jesus deur sy dood en opstanding bewerk het.
- Daar is hoegenaamd geen ander manier waarop ons 'n aandeel in die verlossingswerk van Christus kan kry nie, as net deur die werk van die Heilige Gees in ons.
3. Die troos van die Heilige Gees.
Dit is waar ons troos lê: As ons ons geloof self moes bewerk, en op ons eie kragte staatmaak - nie net om te glo nie, maar ook om aan te hou glo - sou ons in 'n geweldige vrees verval het, want ons is so onvolmaak dat ons dit net nie sou regkry nie. Soos dit is, hou ons aan foute maak - soveel dat ons nie een dag van ons lewens kan afsluit sonder dat ons foute gemaak het nie.
- Dit beteken nou nie dat ons in angs hoef te verval omdat ons aanhou sonde doen nie.
- Allermins beteken dit dat ons moet twyfel of die Here ons uitverkies het.
- Die Heilige Gees bewerk juis die gemoedsrus en vrede in ons dat die Here Jesus vir ons gesterf het omdat ons nie sondevry kan lewe nie.
Ons behoort almal die vrede wat die Heilige Gees in gelowiges bewerk, in ons te ervaar. Ons moet hierdie vrede gebruik en daarin lewe.
- Dit is baie belangrik dat ons daaraan aandag gee, want baie keer skep ons met ons gedrag onvrede met ander mense.
- 'n Hele paar van ons het onsself nou al moedeloos geoefen in spanning oor ons toekoms in hierdie land.
- Nou ervaar ons hierdie geweldige angs en onsekerheid oor dit wat vorentoe met ons kan gebeur - dit alles terwyl God die Heilige Gees ons juis verseker van God se almagtige en onkeerbare regering oor ons wat waarlik glo. Hy belowe aan ons vrede.
Ons moet oppas dat ons nie die werk van die Heilige Gees in ons lamlê met ons kleingeloof en wantroue nie. Want ten diepste mag dit so wees dat ons vrese en angste net openbaar hoe groot ons eie ongeloof en ons weerstand teen die Heilige Gees is.
Om dit te verstaan, moet ons aan die volgende voorbeelde uit die Bybel dink, en self besluit waar ons verhouding met die Heilige Gees inpas:
- 'n Moordenaar aan die kruis word bekeer en hy sterf in Jesus Christus se vrede.
- Paulus kom tot bekering en kry God se vrede terwyl hy op pad was om mense te gaan vermoor.
Maar
- teenoor hulle is daar Farao. God verhard sy hart en hy weier om die volk te laat trek. Hy sterf toe die koue water van die dooie see bokant hom toeslaan - in angs en sonder vrede.
Ons moet in elke opsig die vermoë aanleer om te luister na wat die Heilige Gees vir ons sê. Dan sal ons in vrede kan lewe.
- Net die feit dat ons glo, is die bewys dat ons verlos is, want God die Heilige Gees bewerk die ware geloof slegs in die wat verlos is.
- Hy verseker ons dat ons salig is deur die soenbloed van ons Here Jesus Christus.
- Die Heilige Gees oortuig net mense wat deur die Here se bloed vrygemaak is van God se straf dat hulle verlos is - dit is wat dit beteken het toe Jesus gesê het dat Hy vir ons 'n ander Trooster sal stuur nadat Hy weggegaan het hemel toe.
- Al die dinge was ook van Nikodemus waar, want u moet nie dink dat hy vreesvry voor die Here Jesus gestaan het nie.
- Hy het juis in die nag na die Here toe gekom omdat hy die vrede in homself, dat hy met vrymoedigheid voor God kan staan in die oordeel, gemis het.
Kom ons lees Kategismus Sondag 20 saam.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 14:1, 2.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 28 Julie 2002.