Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 9:1, 7.
Gebed.
Psalm 32:1, 3.
Skriflesing: Johannes 3.
Teks: Kategismus Sondag
7. Johannes 3 : 16
Want
so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee
het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die
ewige lewe kan hê.
Ons hoor nogal dikwels die aanhaling van Johannes 3 : 16.
- Gewoonlik word die vers uit verband aangehaal: die tweede deel
van die vers wat die onderskeid maak tussen mense wat glo of nie glo
nie, word meestal verswyg, of nie in sy konsekwensies erken nie.
- Ons hoor net dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy
eniggebore Seun gegee het.
- Maar ons hoor nie dan ook dat Hy nie vir almal gesterf het nie,
maar net vir diè wat glo nie.
Hierdie vers maak tog baie duidelik dat die Here self ‘n onderskeid
tussen die mense tref, want Hy laat nie sy Seun onvoorwaardelik vir
almal sterf nie.
Ons kan die saak ook uit ‘n ander hoek bekyk:
- Uit ewige liefde skenk God sy Seun aan die mense.
- Maar deur die werking van die sonde, en ook kragtens die
uitverkiesing, is daar mense wat nie die behoefte aan ‘n Messias het
nie.
- Hulle verwerp Jesus. Hulle gaan dus verlore.
Daarom gaan die Here verder en word sy Gees teruggestuur nadat Christus
na die hemel toe gevaar het.
- Hierdie Heilige Gees werk die geloof in die mense se harte.
- Die geloof is uiteindelik in sy betekenis die aanneming van
Christus en sy weldade.
Buiten Christus is geen verlosssing moontlik nie, daarom moet ons
geloof ons juis na die Evangelie in Jesus Christus toe lei. Romeine 1 :
17
Maar
die regverdige sal uit die geloof lewe!
Die hele saak van die verlossing word herhaaldelik in die Skrif
aangetoon, bv. in 2 Korinthiërs 5 : 18, 19.
En dit
alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en
ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in
Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul
misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons
toe te vertrou. (2 Korintiërs 5:18-19 AFR1953)
- God het ons met Hom versoen en aan ons die bediening van die
versoening gegee.
- Dit word deur die Gees van die Here in ons gewerk.
- Die geloof bewys dit.
- Op ons gebed wat in ons geloof gebore is, word die verlossing dan
ook aan ons geskenk.
Ons kan ons preek in drie dele verdeel.
1. Ons weerlê die leer van
die algemene versoening.
2. Ons gee aandag aan die Middel
van versoening.
3. Ons bely die Evangelie van
versoening.
1. Eerste dan die saak van die
algemene versoening.
Algemene versoening beteken dat alle mense wat daar lewe, hemel toe
gaan.
Die leer verkondig dat alle mense in Christus verlos word soos wat
almal in Adam verdoem is. Ons leer daarteen dat die Bybel ander leer.
- Ons leer dat Christus net vir gelowiges gesterf het.
- Die leer van die algemene versoening leer verder dat as mense hel
toe gaan, dit is omdat hulle uit hulleself die Here nie wou aanneem nie.
- Net so gaan hulle ook hemel toe omdat dit hulle eie keuse was om
te glo.
Volgens die leer van die algemene versoening is verlossing dus
heeltemal ‘n saak wat berus in die vrye wilsbeskikking van die mens:
God bied die verlossing aan, en enige mens kan nou maar self besluit of
hy die verlossing wil aanneem of laat staan.
Teenoor hierdie leer sê ons dat die Bybel ander leer.
- God skenk sy Seun, dis waar.
- Maar Hy skenk Hom net ter wille van die uitverkorenes.
- By die uitverkorenes is verlossing ook glad nie ‘n vrywillge saak
nie.
- God het lankal in sy raad vasgestel dat hulle die verlossing sal
aanvaar.
- Niks kan God se beplanning verander nie.
Daarom ontvang hierdie uitverkorenes ook die ware geloof in hulle
harte, want God stuur dan juis sy Gees om dit daar te gaan bewerk.
Nou gebeur dit so dat daar sekere gelowe is wat sê ons het ‘n
ergerlike leer, want ons leer gee aanstoot dit verwerp sommige
mense.
- Dit is waar, hierdie leer gee aanstoot, maar dit gee nie aanstoot
aan enige ware gelowige nie.
- Dit gee net aanstoot aan mense wat graag losbandig wil lewe, en
wat God se raad wil verander en buig soos wat dit hulle pas.
Die mense beweer ook dat hierdie leer onbarmhartig is. Ons sou
dan met hierdie leer van ons die godsdiens ‘n wrede en onregverdige
saak maak.
Daarom moet ons vandag weer ons leer aan die Bybel gaan toets om te
sien of ons reg is!
Leer die Bybel ‘n algemene versoening, of verwerp Hy dit?
- Matteus 7 : 13 verdeel die mense duidelik in twee groepe.
Twee oneweredige groepe. Die een groep is baie groter as die
ander een.
Gaan
in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na
die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die
poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat
dit vind.
Die Here self praat hier van baie teenoor min!
- Of Johannes 3 : 36 waar daar staan dat daar mense is wat aan die
Seun ongehoorsaam is, en dat die toorn van God op hulle bly, en dat
hulle die lewe nie sal sien nie!
- Hierdie gedeelte praat net daarvan dat daar mense is wat beslis
hel toe gaan. God se toorn bly op hulle.
Die leer van die algemene versoening word dus sover verwerp.
- Romeine 9 : 11 leer dan ook dat die Here aanvaar wie Hy wil, en
verwerp wie Hy wil, selfs nog baie lank voor hulle gebore is.
- Die feit dat die Here reeds voor mense se geboorte bekendmaak
of Hy hulle verwerp of liefhet, is om aan te toon dat:
- dit nie gaan oor die werke wat mense in hulle lewe gedoen het
nie,
- maar oor wat God oor hulle beslis.
Die Bybel se eie woorde:
Dat
die voorneme van God volgens die uitverkiesing kon bly staan, nie uit
die werke nie, maar uit Hom wat roep.
Dit gaan natuurlik in hierdie saak oor selfondersoek. Die
waarheid in die Bybel moet altyd op ons betrekking hê.
- Daarom moet ons ons aan hierdie waarhede gaan toets.
- Geen mens kan lewe sonder om vas te stel wat God se doel met hom
is nie!
Bewys jou lewe dat jy ‘n uitverkorene is?
- God het al die genademiddele aan jou geskenk,
- en jy is ‘n verbondsmens, want God het jou self in sy verbond
ingelyf,
- Toets:
- Lewe jy dalk so sorgeloos dat dit bewys dat jy hierdie dinge
nie glo nie?
- Òf : benut jy die genade van God soos jy dit behoort te
doen?
Hierdie leer van genade behoort iets met my te doen:
- Dit behoort te maak dat ek op my knieë neersak en God dank
en prys vir dit wat Hy alles aan my skenk sonder dat ek dit verdien.
- En dit behoort ook te maak dat ek God smeek om my te help om te
volhard in ‘n goeie en regte lewe, en om weg te bly van die kwaad af,
sodat ek nie myself met ‘n ydele hoop bedrieg nie.
Die leer van die algemene verkiesing is dus onaanvaarbaar, want dit sal
die waarheid van God se Woord en ook die verlossing in Christus geweld
aandoen.
- Dit is juis omdat Christus nie voor die voet vir alle mense sterf
nie, dat die Bybel leer dat Christus vir sommiges ‘n dwaasheid
is, en vir andere weer ‘n rots van struikeling.
Christus sê self ook dat Hy kom om verdeeldheid te bring.
- Hy skei die wêreld en die kerk in twee groepe:
gelowig en ongelowig.
- As Hy sonder meer vir almal sou sterf, sou hierdie skeiding mos
verval!
- Hy sou Hom ook daarmee as onmagtig bewys:
- dit sou bewys dat Christus nie God is nie, omdat sy versoening
onbekwaam is om alle mense te verlos!
- Ons weet mos uit die Bybel dat daar nog mense is wat saam met
die Satan in die Hel sal wees.
Die belangrike punt hier is dat ons moet besef dat ons die sonde
oorerf, maar God se genade ontvang na die welbehae van God.
2. Die tweede saak is die Middel
van versoening.
Die middel waardeur ons aan die Here
Jesus se versoening deel kry, is die geloof. Dink weer aan wat
die apostel Paulus skryf: die
regverdige sal deur die geloof lewe.
… deur die geloof …
Ons kry in die Bybel ‘n volledige beskrywing van die verskillende
voorkomste wat gelowe kan aanneem.
Ons vergelyk die gelykenisse van Matteus 13, die gelykenis van die
saaier.
- Saad het op die pad geval - mense wat glad nie glo
nie…
- op die rotse - mense wat ‘n entjie wegspring met die
geloof, maar dan in duie stort…
- tussen die onkruid - die mense wat maar wurg met die
geloof, maar nooit ‘n saak daarvan maak nie, want hulle leef meer
tussen verkeerde waardes…
- en in die goeie grond - mense wat die ware geloof
besit.
Tydsgeloof en ongeloof is almal vorms van valse geloof.
Die Here gee die beskrywing juis sodat ons onsself kan sien en kan
beoordeel waar ons inpas.
- Want alleen die ware geloof kan ons aan Christus laat vashou.
- Alleen die ware geloof laat jou vashou aan die Here Jesus
Christus, en aan die Woord van God.
- Dit laat ons steun op die genade van God, en skenk die lus om
werklik aan God gehoorsaam te wees.
Jou ware geloof is dus jou praktiese bewys dat jy die ewige lewe het.
Ons ware geloof is dus ons praktiese bewys dat ons onder diè is
wat met ‘n gelowige hart die weldade van Christus aanneem.
Die ware geloof is dus twee dinge:
- Dis ‘n gewisse kennis dat die Here Jesus my verlos het.
- Dis ‘n vaste vertroue dat hierdie Verlosser ook aan my die
Heilige Gees geskenk het - wat my van hierdie verlossing
verseker.
3. Die derde saak is dat ons
hierdie saak van die Evangelie van die versoening bely.
As ons geloof nie die volle Bybel aanvaar nie, is dit vals. ‘n Ware
geloof aanvaar nie net sekere punte van die Bybel en verwerp of verswyg
ander nie.
Die hele saak van verlossing is vir die ongelowiges en die mense wat
glad nie aan God glo nie, ‘n belaglike saak.
- Hulle vra hoe dit moontlik kan wees dat Christus God kan wees?
- Hoe kan God ook ‘n mens wees?
- Waarom moet ‘n mens sterf om ander mense te verlos?
Ons antwoord is dat dit juis die enigste ware geloof is wat ons dit
alles laat glo.
- Die Heilige Gees van God openbaar dit aan ons.
- 2 Petrus 1 : 17 leer dat Christus sy eer en heerlikheid van God
af ontvang het, toe God die Heilige Gees luisterryk op Hom neergedaal
het, en die Vader gesê het: Dit is My geliefde Seun in Wie Ek ‘n
welbehae het.
Die Heilige Gees werk nie net hierdie geloof nie, Hy bevestig ook die
hele inhoud van die Evangelie van die begin af tot aan die einde van
God se Woord aan ons.
- Hierdie geloof se inhoud is dat in Christus se sterwe vir sy
uitverkorenes juis die heiligheid en krag van die Drie-Enige God tot
openbaring kom.
- Daarom kan ons onbevange bely dat dit vir ‘n Christen nodig is om
alles te glo wat in die heilige Evangelie beloof word.
Die toepassing is dit:
- Moet nooit dink dat God aan ons iets verskuldig is nie.
- Ons kan nie God se raadsplan beweeg nie.
- Ons kan God dus nie dwing om ons te verlos nie.
- Ons staan baie swak, en buitendien sondebevlek, voor God.
Wat ons van God ontvang, is genade.
Daarom moet ons so dankbaar en verantwoordelik wees as die Heilige Gees
hierdie verlossing aan ons kom verkondig, en ons moet dit dan met ‘n
gelowige hart aanneem.
Kom ons lees Kategismus Sondag 7 saam:
Vraag 20: Word al die
mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan
het?
Antwoord: Nee;
(a); maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word
en al sy weldade aanneem (b).
(a)Matt 7:14; 22:14. (b) Mark 16:16; Joh 1:12;
3:16, 18, 36; Jes 53:11; Ps 2:12; Rom 11:20;
3:22; Heb 4:3; 5:9; 10:39; 11:6.
Vraag 21: Wat is 'n ware
geloof?
Antwoord: 'n Ware geloof
is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy
Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n
vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my
hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my
uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e),
vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(a)Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21;
10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal
5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef
2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16;
10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef
2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom
1:17; Gal 3:11; Heb 10:10, 38; Gal 2:16.
Vraag 22: Wat moet 'n
Christen glo?
Antwoord: Alles wat in
die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons
algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.
(a)Joh 20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.
Vraag 23: Hoe lui die
artikels?
Antwoord: (1) Ek glo in
God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die
aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons
Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die
maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig
is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5)
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; (6)
opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die
almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die
dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek
glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die
heiliges; (10) die vergewing van sondes; (I1) die
opstanding van die liggaam (12) en 'n ewige lewe.
Amen.
Slotgebed.
U Naam, o Heer, so hoog in heerlikheid
Verhef ons vir ewig en altyd.
U koningseer wat alle krone oorstraal
Verhoog ons in onvermoeide taal.
Amen.
Slotpsalm 25 : 7
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 10 Augustus 2003 (aanddiens).