Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 18:20.
Gebed.
Psalm 2:1, 5.
Skriflesing: Johannes 5: 18 - 23 en Psalm 2.
Teks: Kategismus Sondag 13.
Johannes 5: 18
... Hy het nie net die Sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelykgestel.
Psalm 2: 6, 7
Dit is Ek wat Hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg. Ek wil vertel wat die HERE aangekondig het. Hy het vir My gesê: Jy is my Seun, vandag het Ek jou Vader geword.
Die gedeelte profeteer van die Here Jesus se verlossingswerk, want Wie anders as Jesus Christus gaan mense verlos, en 'n koninkryk oprig. Wat belangrik is, is dat ons moet oplet presies hoe die Here Jesus hier in Psalm 2 voorspel word en hoe Hy homself bekendstel in Johannes 5: Hy is die Seun van God en God het Hom gegenereer, maar Hy is self ook God.
Ons gee aandag aan die volgende dinge wat in ons tyd aktueel geword het:
1. Jesus is die werklike Seun van God en Hy is God self.
2. Ons bely ons enigste verlossing in Jesus Christus.
3. Ons moet ons belydenis uitlewe.
1. Jesus is die werklike Seun van God en Hy is God self.
As ons Psalm 2 lees, moet ons oplet na die kontras tussen die spanning wat daar in die werklike lewe was en die rustigheid van die gebeurtenis waarvan geprofeteer word:
- Die volke was oproerig en opstandig.
- En dan, te midde van die volke se opstandigheid, praat hierdie Psalm van die koninkryk van die Messias, die Gesalfde Verlosser.
- Die Verlosser gaan 'n koninkryk tot stand bring sonder dat iemand Hom kan keer, want Hy is deur God gesalf, en gegenereer, en Hy is God self.
Dis baie belangrike woorde hierdie, want die nuwe Testament leer dieselfde: Jesus is die Seun van God. Ons lees in Johannes 5: 18 dat Jesus gesê het God is sy Vader, en Hy het Hom ook met God gelykgestel - presies soos dit in Psalm 2 staan. Maar die Jode het hierdie dinge nie verstaan nie en ook nie geglo ne. Daarom wou hulle, toe hulle dit hoor, die Here Jesus doodmaak.
Romeine 8: 32 sluit hierby aan. Dit stel die saak net vollediger:
Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie?
Hierdie gedeelte leer ook dat Jesus God se Seun is.
- Dit openbaar daarby dat Hy vir ons gesterf het: die Vader het die Seun oorgegee aan sy toorn, sodat die Seun in hierdie hele proses van oorgelewer word die straf vir ons almal moes dra.
- Op die wyse het hy vir ons versoening bewerk.
Hoe is Jesus God se seun? Is dit net figuurlik bedoel? M.a.w. dat dit maar net 'n manier van sê is? Of is Jesus werklik God se Seun?
- Hierdie vraag kan glad nie fisies uitgeklaar word nie. Dit is 'n saak wat alleen deur die geloof beantwoord en aanvaar kan word.
- Die antwoord is dat Jesus werklik God se Seun is, al het Hy van ewigheid af bestaan.
- Dit is waarom daar in Psalm 2 staan dat God sê: ... vandag het Ek jou Vader geword. (In die ou vertaling staan daar: dat God sy seun gegenereer het).
- Dit beteken Hy het van altyd af bestaan het en dat Hy net op 'n stadium gebore is uit Maria.
Laat ons dadelik dit sê: Ons kan nie alles verstaan wat God doen nie, want Hy is net te groot en te magtig in sy doen en in sy denke.
- Daarom moet ons vir die feit dat Jesus God self is, en dat Hy ongeskape is, en dat Hy van ewigheid af bestaan, maar dat Hy nogtans gebore is uit 'n vrou, bloot in die geloof aanvaar.
- Dit is een van daardie dinge wat God kan beplan en kan doen, maar waar ons verstand nie kan bybly nie.
Hierdie openbaring kom al vir baie eeue met ons saam.
- In die Ou Testament is dit so voorspel en in die Nuwe Testament het dit so waar geword.
- Ons bely hierdie dinge al vir baie eeue in ons belydenisskrifte.
- Ons bely bv. in die belydenis van Athanasius art. 8 " Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige gees is ongeskape."
- En in art. 13 "en tog is dit nie drie Almagtiges nie, maar een Almagtige."
- En in art. 22 " Die seun is deur die Vader alleen, nie gemaak of geskape nie, maar gegenereer."
2. Ons bely ons enigste verlossing in Jesus Christus.
Hoekom bely ons al hierdie moeilike dinge? Net om daarmee baie duidelik en ondubbelsinnig uit te druk dat ons weet en glo dat Jesus waaragtig God is. Hy is aan God gelyk, want Hy is God. Hy doen Goddelike werke, en Hy dra God se name. Hy word aanbid soos God aanbid word, want Hy is God wat aanbid moet word.
Ons lees dit bv. in Kolossense 1: 13 - 15:
Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in Wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van sondes. Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;
Sien u dat die Bybel Jesus hier nie net beskryf as die Verlosser wat met sy bloed betaal, en wat 'n hemelse koninkryk oprig nie. Hy word ook beskryf as die Beeld van die onsienlike God. Hy is God.
1 Johannes 5: 20 beskryf die Godheid van Jesus nog skerper:
... en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.
Ons is ook kinders van God. Nauurlik op 'n totaal ander manier as Jesus Christus! Hy is God se eie Seun, soos ons gesien het, en ons is aangenome kinders.
- As ons baie eerlik wil wees, moet ons erken dat ons kinders van die toorn is, want ons doen baie dinge waarvan God nie hou nie.
- Ons doen sondes, en is ongehoorsaam.
- Ons onteer dikwels die beeld van God in ons met growwe dinge wat ons aanvang.
- Ons vertrap baie keer die genade van God.
- Maar die Here gaan haal ons juis in hierdie toestand deur die dood van sy Seun, en verander ons in kinders wat gehoorsaam kan wees. Hy maak weer van ons kinders van die lig.
Kyk na die verskil tussen ons en Christus: Christus is God se ongeskape en sondelose Seun, terwyl ons geskape mense is, wat on sondes geval het, en toe weer verlos moes word, en teruggebring moes word na die doel van ons skepping toe.
Dis ook die rede waarom ons Jesus bely as "onse Here."
- Hy het met sy genade ons onmag weer in krag herstel.
- Hy het ons verander van verlorenes af na verlostes toe.
- Hy het ons liefdeloosheid vir God weer in aanbidding omskep.
- Hy het ons m.a.w. totaal vernuut: liggaamlik en geestelik.
Kyk na die effek van al hierdie dinge wat God in Jesus Christus vir ons gedoen het:
- Die geestelike vernuwing belewe ons nou reeds in ons daaglikse bekering, en in ons gehoorsaamheid aan God.
- Ons beleef dit ook in ons geloof.
- Die liggaamlike vernuwing word eers 'n werklikheid op die dag van die wederopstanding, wanneer die aarde ons liggame sal gee sodat God ons liggame verheerlik en dit weer met ons siele herenig, maar ons geestelike vernuwing is reeds aan die gebeur!
3. Ons moet ons belydenis uitlewe.
Nou kom die toepassing. Ons bely Jesus as die Seun van God wat ook ons Here is, maar hoe werk dit in ons daaglikse geloof? Die saak is ontsettend ernstig, want om net die Here te bely, beteken absoluut niks!
Die feit dat jy Jesus as God bely, maak jou niks beter as die duiwel nie, want daar is 'n paar voorbeelde in die Bybel waar die duiwel die Here Jesus ook bely het as Jesus, die Seun van die lewende God!
- Ons moet besef dat ons deur die dood van Jesus werklik die eiendom van God geword het.
- Ons lewe moet so onberispelik wees dat daar niks mag wees wat te kortskiet in ons vertoning van God se beeldskap nie.
- As daar iets skeef staan of verkeerd is, dan behoort ons ons mos daarvan te bekeer!
Die skeidslyn tussen 'n ware en 'n valse geloof, is baie baie dun!
- Daarom sê die Here dat ons hard moet stry om in die koninkryk van God in te gaan.
- Ons hele lewe moet 'n bewys wees daarvan dat ons Jesus as God en Verlosser bely, en dat ons met liggaam en siel aan
Kom ons lees Kategismus Sondag 13 saam.
AMEN.
Slotgebed.
Slotpsalm 84:1, 5.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 30 Junie 2002