Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 47:1, 3.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 16:4
Gebed.
Psalm 32:1, 6
Skriflesing: Job 1.
Teks: Job 1: 21
Die
Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy
geloofd !
Die Satan wou Job sover kry dat hy God vervloek. Maar hy het presies
die teenoorgestelde bereik. Job het die Here geloof.
Die Satan het met verskillende rampe op een dag op Job toegeslaan. Die
laaste een was die werwelwindstorm wat opgesteek het en die huis van sy
oudste seun met die grond gelykgewaai het. Al Job se kinders was op
daardie stadium besig om saam fees te
vier, en almal het saam gesterf.
Job het geweldige skok en hartseer deurgemaak. Hy het toe twee dinge
gedoen:
- Hy het sy bo-klere geskeur en dadelik al sy baard en hare gaan
afskeer.
- Dit was dinge wat as 'n sieraad beskou is, en wat volgens hulle
siening nie by rou en hartseer gepas het nie.
- Hy het op die aarde neergeval en gekniel.
- Hy het biddend voor die God van hemel en aarde neergeval en aan
Hom hulde betoon en gesê dat alle eer aan die Here toekom.
- Die Here gee
- en die Here neem
- Prys die Naam van die Here!
- Maar Job bely ook dat hy geen reg op enige iets het nie:
- Hy het naak in die wêreld gekom, en hy gaan weer nakend
terug in die aarde in.
- Alles wat hy het, het die Here aan hom gegee.
Sy hele bestaan hang af van God se beskikking.
- God gee en neem.
- Want God is heeltemal vrymagtig.
Tog het Job sy Godverlatenheid baie sterk beleef toe die Here alles van
hom af weggeneem het, en hy op die ashoop gesit het.
- Hy skryf in Job 10: 16 dat die Here hom verbreek en jaag soos 'n
leeu.
En as
my hoof hom ophef, sou U my jaag soos ‘n leeu en U opnuut wonderbaarlik
teenoor my gedra. (Job 10:16 AFR1953)
- Daarom bid hy in hoofstuk 17: 3 dat die Here vir hom borg moet
wees.
Gee
tog ‘n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap
verleen? (Job 17:3 AFR1953)
Elke mens het 'n borg en middelaar nodig, en God alleen kan so 'n
middelaar voorsien.
Presies dit gebeur vandag ook met ons.
- Geen ware gelowige kan die uitspraak maak dat hy nooit gekwel
word deur die sonde, en deur aanslae van die Satan nie.
- Elke eerlike gelowige sal bely dat daar tye kom wanneer ons die
aanvalle van die Satan erg en swaar beleef, en ook tye wanneer ons diep
in die sonde val.
Dan gebeur dit dat ons in ons worsteling besef dat ons eie krag en
geloof nooit die deure van die hemel sal oopmaak nie.
- Ons maak ons sondes daagliks meer.
- Dan beleef ons die behoefte aan 'n Borg en Middelaar - net soos
Job dit beleef het.
Job was in trane omdat sy kinders dood is.
- God het hulle geneem.
- Maar God het ook gegee: Sy eie Seun.
- Die Here het die Borg en Middelaar voorsien.
- En daarmee saam het Hy aan ons saligheid, verlossing en die ewige
lewe gegee.
- Daarom is u vandag hier saam.
Jesus is gebore en het met sy kruisdood ons Borg geword.
- Daar aan die kruis het Hy die straf gedra vir al die dinge wat
ons van God vervreem.
- Volmaak - sodat God se toorn oor ons sondes heeltemal tot rus
gekom het.
- Die Here Jesus het die aand voor sy kruisiging die Nagmaal
ingestel, en beveel dat ons dit moet aanhou vier totdat Hy weer aan die
einde kom.
- Hy het ons geroep om vandag saam met Hom maaltyd te hou, sodat
hierdie Nagmaal ons kan verseker dat ons Hom as Borg het.
Hy het tereggestaan vir al ons ongeregtighede.
- Die gevolg van sy borgskap is dat u verseker kan wees van die
ewige lewe.
- Ons kan van ons voortbestaan verseker wees: Nou en tot in
ewigheid.
- Ons kan ook deur die Here Jesus se kruisdood verseker wees dat
God aan ons die inwoning van sy Heilige Gees gee. Hy troos ons en
versterk ons geloof.
Gemeente kom ons prys en loof ook die Naam van die Here!
- Kom sit aan God se tafel, en gedenk dat Hy sy Seun vir ons
verlossing gegee het.
- Ontvang die brood en wyn wat Hy aan u gee as sigbare tekens om
ons weer van die Borgskap van Jesus Christus en van ons ewige lewe te
verseker.
Amen.
Gebed.
Skrifberyming 14:2
Formulier.
Aan Tafel: Psalm 23:2, 3.
Tydens nagmaal Psalm 116
Lofpsalms terwyl die gemeente terugbeweeg banke toe: 145; 146; 147;
148; 149; 150.
Slotpsalm 18:1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Nagmaal 31 Augustus 2003