Sing vooraf: Psalm 145:1 tot 5.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 68:2.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente
en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige wêreld,
asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van
die Woorddiens:
Amen.
Psalm 34:2.
Skriflesing: Job 36.
Teks: Job 36:26; Kategismus Sondag 36.
Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is
onnaspeurlik. (Job 36:26 AFR53)
In die hoofstuk wat ons gelees het, word daar gepraat van God wat
goddeloses en ellendiges, maar ook volke en die natuur beheer. Besef u
hoe magtig die Here is om dit te kan doen?
- Dit is so belangrik om dit te besef, want ons gelowiges het 'n
lewenspatroon waarin ons die een oomblik te mooi bely wie God die Here
is, en die volgende oomblik sondig ons asof Hy nie bestaan nie.
Die almag en die Wese van God word dikwels aan sy Naam verbind.
- Ons dink byvoorbeeld aan Psalm 111: 9 waar daar staan dat die Naam van
die Here heilig en vreeslik is.
- Die Psalmdigter bedoel inderdaad dat die Here heilig is en gevrees moet
word.
- Dit is trouens onmoontlik om aan die Here te dink en nie aan sy Naam te
dink nie, net soos wat dit onmoontlik is om aan die Naam van die Here
te dink sonder om aan sy Wese te dink.
So dikwels noem ons die Naam van die Here.
- Soms is dit wanneer ons van Hom praat.
- Ander kere is dit wanneer ons met God praat, byvoorbeeld wanneer bid.
- Maar dikwels word dit gedoen wanneer iemand vloek -
hoe verbuig die Naam van die Here ookal gebruik mag word om die vloek
te kamoefleer.
Die punt is net dat die persoon wat die Here se Naam gebruik, baie kere
nie besef dat die Here direk by hom teenwoordig is wanneer hy die Here
noem nie.
- Elihu het dit besef toe hy gesê het dat die Here groot en
onbegryplik is.
- Dit is eintlik 'n belydenis dat die Wese van die Here te groot is vir
ons verstand om dit te kan vat.
Stel nou ’n vloeker daarteenoor wat die Here se Naam gebruik
wanneer hy kwaad is of wanneer hy die Naam bloot as ’n
stopwoord gebruik, of as ’n beklemtoning van sy feite.
Al hierdie dinge raak die derde gebod.
Dit is juis omdat die Wese van die Here so groot en magtig is dat dit
ons begripsvermoë oorskry,dat Hy ons gebied om sy Naam met
vrees en net in aanbidding te gebruik.
Die inhoud van die Here se Naam bly dieselfde:
- Dit is dieselfde om die Here se Naam met vrees en aanbidding te gebruik
- as wanneer die Here se Naam ydel gebruik word.
- Die een is net reg en die ander een ernstig verkeerd!
Die Here is so ernstig hieroor dat Hy terselfdertyd die dreigement
daarby voeg dat Hy die misbruiker van Sy Naam nie ongestraf sal laat
bly nie.
- Dit beteken dat die Here jou gaan straf as jy hierdie gebod ortree.
- Hy verbind Hom daaraan.
Die Here gee nie hierdie opdrag uit verwaandheid nie.
- Hy gee die gebod omdat Sy Naam en Sy wese identies is met mekaar.
- Hy gee die gebod omdat die gang van die hemel en die aarde se
geskiedenis daarin vasgevang is.
Die een wat hierdie almagtige Naam verkeerd gebruik, gaan hom vasloop
teen die heiligheid en die almagtigheid van hierdie Naam.
- Dit gaan die effek hê dat daardie sondaar vernietig gaan
word - logies, want niemand kan met God kragte meet
nie.
- Daarom is dit net vanselfsprekend dat daardie persoon gestraf sal moet
word, omdat misbruik van die Here se Naam ook minagting van God beteken.
Die heiligheid van God eis dat ons Hom in alles wat ons doen, sal
aanbid en verheerlik.
- Hy wil hê ons moet Hom eer.
- Hy wil ook hê dat hierdie eer wat ons aan Hom gee op 'n
sekere lyn moet lê.
- Dit
beteken dat daar sekere tye en plekke is waar Hy onder geen
omstandighede sy Naam genoem wil hê nie.
- Daarom is
dit net onmoontlik om die Naam van God verkeerd te gebruik, en dan te
probeer ontken dat dit uit minagting of gebrek aan respek vir God is
dat dit gedoen is.
Kyk na die voorbeeld in Levitikus 24:10. Daar word vertel dat die seun
van 'n Israelitiese vrou in 'n geveg betrokke was. Hy het die geveg
verloor, en omdat hy verloor het, het hierdie seun die Naam van God
gelaster.
- Hulle het hierdie seun toe onmiddellik in die gevangenis geplaas, en by
die Here 'n uitspraak gaan vra oor hierdie seun.
- Die Bybel vertel die verhaal met die woorde:
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Bring
die vloeker buitekant die laer uit, en almal wat dit gehoor het, moet
hulle hande op sy hoof lê; dan moet die hele vergadering hom
stenig. En met die kinders van Israel moet jy spreek en
sê: As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra. (Levitikus
24:13-15 AFR53)
Die Here is hier aan die woord. Maak die kind dood. In ons tyd sou ons
dadelik opstandig wees, want ons hou nie daarvan om voorgeskryf te word
en selfs gedreig te word nie. Maar dat moet ons hier net een
ding besef.
- God is die Skepper en Beheerder van absoluut alles.
- Hy is die Een met die hoogste krag.
- Hy kan eis net wat Hy wil.
- Dit moet
gehoorsaam word.
- Die wat
wil teëpraat, gaan met 'n Mag te doene kry met wie daar net
nie teëgepraat word nie.
- Hy het
gesê dat die seun doodgemaak moet word, en hy is toe
doodgemaak.
- Die Here se eise verander nooit, en as jy 'n moedswillige misbruiker is
van die Naam van die Here, gaan die Here aan die einde van jou tyd
hierdie oordeel oor jou ook voltrek.
Ons moet natuurlik sien dat die doodstraf wat die Here hier ingestel
het, ook 'n simboliese betekenis het, want die doodstraf sien in
hierdie gebeurtenis op die ewige dood: Op die hel.
Dit is omdat hierdie saak so uiters ernstig is, dat die Here alle mense
verbied om sy Naam te laster en dat Hy die straf uitspreek soos ons in
Levitikus 24:15,16 lees.
En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand
sy God vloek, sal hy sy sonde dra. En wie die Naam van die HERE laster,
moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik
stenig. Die vreemdeling net soos die kind van die land as hy die NAAM
laster, moet hy gedood word. (Levitikus 24:15-16 AFR53)
Kom ons kyk na ander dele in die Bybel wat ook oor die Naam van die
Here handel, dan sien ons die volgende:
- Dawid verbind die Naam van die Here aan verlossing (Psalm 54).
- Psalm 8 besing die heerlikheid van die Naam van die Here op die ganse
aarde.
- Die bevel van God en die Naam van God word ook aan mekaar verbind in
Eksodus 5:23.
- Daar is baie meer voorbeelde wat uiteindelik aantoon dat alles en
letterlik alles, aan God en aan sy Naam verbind is.
Ons moet baie versigtig wees om die Naam van die Here nie te laster
nie. Gemeente, waak daarteen om nie met die Naam van die Here te vloek,
of dan die Naam van die Here verkeerd te gebruik nie.
Moet ook nie vals sweer nie, want dis ook 'n manier van laster.
Positief: Kom ons benader die saak van 'n ander kant af. Die
Here verbied ons om sy Naam te laster.
- Enersyds is dit beslik omdat ons die eer van God moet handhaaf.
- Maar andersyds is dit ook sodat ons voortdurend moet peins en besef hoe
groot en heilig God is.
Kom ons lees Kategismus Sondag 36 saam.
Vraag 99: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik
deur te vloek (a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie
(c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat
ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d).
Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en
eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g)
en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a)Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt
5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr
29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23.
(f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps
50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom
2:24;1 Tim 6:1.
Vraag 100: Is dit dan so 'n groot sonde om die Naam van God
te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn
wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en
vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom
het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).
(a)Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 33: 11
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 3 Sept
2006 (aand)