Sing vooraf: Psalm 51:1, 4, 5
Ons
hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
149:1, 2
Gebed
Psalm 130:2
Skriflesing:
Johannes 3:22 – 4:3
Teks:
Johannes 3:26 en 4:1; Kategismus Sondag 26
En
hulle het na Johannes gekom en vir hom gesê: Rabbi, Hy wat
saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop,
en almal gaan na Hom toe. (Johannes 3:26 AFR53)
Toe
die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus
meer dissipels maak en doop as Johannes – (Johannes 4:1 AFR53)
Sakramente
is net bedoel vir gelowiges. Dit is seëls van God se groot
genade oor hulle. Dit is die waarmerke daarvan dat God die gelowiges
almal in sy genadeverbond insluit.
Ons
onderskei twee sakramente: Die Doop en die Nagmaal. Hulle word egter
nie geskei en apart van Christus gesien nie, want altwee preek die dood
en opstanding van Christus en, deur sy dood en opstanding, die
opstanding van die gelowiges.
Altwee
die sakramente kom uit die Ou-Testamentiese openbaring voort. Ook in
’n bepaalde volgorde.
- Eers is daar die besnydenis. Die Here gee die opdrag dat dit bedien
moet word op die agste dag. Dit word dus bedien aan kindertjies
(seuntjies).
- Baie jare daarna stel die Here die Pasga in – met die uittog
uit Egipteland. Dit word gebruik deur almal ouer as twaalf jaar
– wat uit die verbond was.
- ·Onder die ou verbond kry ons dus hierdie beginsel dat iemand eers in
die uitverkore volk ingelyf moes wees voordat hy die pasga kon gebruik.
Anders gestel: die besnydenis het die deelname aan die Pasga
voorafgegaan.
- Daarin is dit al klaar duidelik dat die doop die Nagmaal voorafgaan,
want in die nuwe verbond gaan die besnydenis oor in die doop en die
Pasga gaan oor in die Nagmaal.
- Die betekenis van die twee sakramente bly egter dieselfde:
- Deur die doop word ons in die verbondsvolk ingelyf.
- Deur die Nagmaal vier ons die verlossing van die verbondsvolk.
- Met altwee vier ons die verlossing uit die sonde en die dood, en die
toegang in die ewige lewe by God in.
Die
Jode het hulle kinders op ’n baie vroeë ouderdom
laat geloofsbelydenis aflê.
- Gewoonlik wanneer hulle twaalf jaar was, wanneer hulle dan die Pasga
begin gebruik het.
- Die rede daarvoor was omdat hulle destyds baie vroeg getrou het. Die
meisies was gemiddeld op 14-jarige ouderdom moeder van hulle eerste
kind.
Ons mag
nie hieruit gaan aflei dat die Pasga minder belangrik was as die
besnydenis nie, omdat die besnydenis op die agste dag al bedien was, en
die pasga eers op 12-jarige ouderdom nie.
- Albei was presies ewe belangrik, want iemand wat nie sy seuns besny het
nie, en ook diegene wat versuim het om die Pasga te vier, is met die
dood gestraf.
Kom
ons besin vir ’n oomblik oor die erns waarmee die Here dit
afgedwing het nadat Hy dit ingestel het:
- Hoeveel van ons sou vandag hier gewees het as ons hierdie wet nog so
streng toegepas het, soos wat die Here dit in die ou verbond
geëis het?
- Hoe baie lidmate sou nie gesterf het as ons byvoorbeeld in ons tyd nog
die doodstraf oor ons lidmate moes voltrek wanneer hulle sonder rede
nie hulle kinders doop nie, of van die Nagmaal af wegbly!
Ons
kan gerus maar weer daarvan kennis neem dat dit is hoe God in die ou
verbond daaroor gevoel het!
- En dit is wat met ons sal gebeur wanneer ons nie ons kinders doop nie.
- Dis ook wat gaan gebeur as ons hulle wel laat doop, maar ons voed hulle
nie behoorlik in die vrees van die Here op nie!
Daar
is in die Bybel ’n groot ooreenkoms tussen die betekenis van
die salwing in die Ou Testament en die Nuwe Testament, en die Heilige
Doop.
- ’n Profeet is byvoorbeeld gesalf op bevel van die Here. Dan
is daar salf of olie wat lekker ruik oor sy kop en sy hare uitgegooi
sodat dit afgeloop het tot op sy skouers.
- Die salwing was die teken dat iemand tot daardie amp uitverkies is, en
die lieflike geur was die teken dat die Gees van God nou met hom was.
- Verder was die salwing die teken dat hierdie persoon wat nou gesalf is,
van God af die wysheid ontvang om sy amp te kan uitoefen, en die vrees
van die Here te kan leer aan die na wie toe hy gestuur is.
Net
so is dit met die doop. Jesus Christus het Hom laat doop. Hy het na
Johannes toe gegaan, sodat hy Hom kon doop. Dit is gedoen sodat alle
geregtigheid vervul kon word.
- Die doop is ’n Goddelike roeping,
- maar ook ’n bevel.
- Verder is dit ’n teken en ’n seël van God
se besondere genade oor die een wat gedoop word.
- Dit is die vrug van die uitverkiesing. Met ander woorde jy word deur
God gedoop omdat Hy daarmee sigbaar aan jou toon dat jy ’n
uitverkorene is wat deel in die verlossing van die Here Jesus Christus.
- Verder kan ons sê dat die doop ’n inlywing in die
gemeente is. Iemand word nie eers ’n lidmaat van die kerk
wanneer hy of sy belydenis van geloof doen nie. Nee, ’n
gedoopte kind is net so lidmaat van die kerk as wat ’n
lidmaat is wat belydenis van geloof afgelê het.
Daarom,
geliefde jong broeder en suster, al is jy nog in die katkisasieklas,
kan jy net soos enige volwassene getug word, en selfs uit die gemeente
afgesny word as jy lelike sondes doen en daarin bly volhard!
Die
doop is by al hierdie dinge ook ’n sigbare bewys van God dat
Hy ons bekwaam maak vir ons roeping en taak as gelowiges.
- Eerstens deur die wil van die Vader,
- verder deur die genade van Christus,
- en net so deur die inwoning van God die Heilige Gees.
Om
gedoop te wees in Christus beteken dat jy nou ’n Christen is.
- Kinders is net sulke Christene soos ons wat al groot is!
- Ons Christene is almal profete, priesters en konings. Ons is met ons
doop as ’t ware gesalf daarvoor, want nou het ons die salwing
van die Heilige Gees.
Later
roep die Here Jesus vir Hom ’n groep dissipels en Hy leer
hulle wat ’n mens moet glo om verlos te word. Hy leer hulle
ook om die dinge te doen wat in die Nuwe-Testamentiese kerk gedoen
behoort te word: Hulle doop mense.
Na
sy dood en opstanding stuur Jesus die twaalf apostels uit. U moet nou
weer beleef hoe daardie uitsending plaasgevind het! Dit was
’n geweldige oomblik!
- Jesus was dood.
- Toe staan Hy op en verskyn aan die mense.
- Hy bestel toe die dissipels op die berg.
- Hulle daag daar op, en Jesus verskyn aan hulle.
- Onmiddellik as hulle Hom daar sien, aanbid hulle Hom!
- In hierdie gebedsoomblik kom Jesus nadergeloop na hulle toe en Hy
sê dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom gegee is.
- Dan sê Jesus vir die dissipels:
Gaan
dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam
van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles
te onderhou wat Ek julle beveel het. (Matteus 28:19 AFR53)
Volgens
Matteus was dit die laaste woorde wat Jesus aan hulle gesê
het voordat Hy in die hemel opgeneem is.
Die
koninkryk van God is heilig, en daarom ontvang elkeen wat daar ingaan
die teken van heiligheid, en die seël van sy genade.
- Ons word geroep om koninkryksburgers te wees en hierdie roeping word
deur ons doop bevestig.
- Ons word geroep in ’n nuwe verbond, met die Gees van God as
ons Leidsman in die uitvoering van hierdie verbond.
Nou
moet ons net nie die fout maak om die laaste deel van die doopopdrag te
vergeet nie!
en leer hulle om alles te onderhou
wat Ek julle beveel het!
Die
opdrag is duidelik:
- Iemand buite die verbond moet eers onderrig word voordat hy in die
verbond kan inkom.
- Maar ons kinders is reeds binne die verbond.
- ·Dit beteken dat elkeen van ons die dure plig het om ons kinders in die
leer behoorlik te onderrig totdat hulle eendag belydenis van geloof
aflê, en daarmee die geloofsverantwoordelikhede van die
verbond op sy/haar eie skouers neem.
En
as ons wat ouers is, dit nie doen nie, verdien ons die dood voor die
Here. Dit is hoe dit in die Ou Testament was. Hieroor kan ons gerus
besin wanneer ons kom Nagmaal gebruik.
- Het ons as ouers die reg om die sakrament te gebruik wanneer ons nie
ons kinders in die verlossing en vrees van God grootmaak nie?
- Watter voorreg het u as vader en moeder om die genade van God te geniet
as jy jou kind die voorreg om die genade te ken, weerhou?
Dit
is nie genoeg as u kinders in die katkisasie onderrig word nie. Dit is
maar ’n baie klein deel van u kind se geloofsopvoeding.
- U moet hom leer bid.
- U moet hom leer om op God te vertrou.
- U moet hom leer om weer uit die sondes op te staan, en sterker in die
geloof vorentoe te beweeg.
- U het dit teenoor God beloof toe u daardie verbondskind hier ten doop
gehou het en die Here hom beseël het as ’n
uitverkorene.
Dit
bring ons by die skadukant van die doop. Die doop is die teken van
skuldvergifnis.
- Weet jou kind wat is sonde en skuld? Weet hy waarheen hierdie skuld of
sonde hom neem as God nie ingryp en hom daaruit ruk nie?
- Het jy jou kind geleer om God lief te hê?
Die
antwoord is in soveel gevalle: NEE! Want ons hou nie altyd die belofte
teenoor God om sy kinders in die raad van sy verlossing te onderrig
nie! Geliefde ouers, God gaan ons hieroor eendag in die gerig bring.
En
nou aan u, kinders van die Here:
- Julle doop verplig julle om rein te wees en rein te lewe.
- Die Heilige Gees wek julle op om te leer, en om te groei in julle
geloof, want soos julle grootword, moet julle die verpligtinge van die
kerk oorneem, en die koninkryk van God sal oor ’n paar jaar
deur julle voortgebou moet word.
- Die feit dat julle gedoop is, verplig julle tot gehoorsaamheid aan die
Here.
Vertrou
dan die Here, want Hy het sigbaar sy trou aan julle bewys.
En
stry om heilig te lewe.
Geliefdes,
wat vir ons kinders geld, geld nog meer vir ons!
Laat
ons dan so lewe, en stry teen die kwaad, dat ons doop nie in die
oordeel teen ons getuig nie.
Kom
ons lees Kategismus Sondag 26 saam.
Vraag 69:
Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat
die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?
Antwoord:
So: Christus het die uitwendige waterbad ingestel (a). Daarby het Hy
beloof (b) dat ek net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid
van my siel, dit is, van al my sondes, gewas is (c) as wat ek uitwendig
met die water gewas is, wat die vuilheid van die liggaam wegneem.
(a)
Matt 28:19. (b) Matt 28:19; Mark 16:16; Hand 2:38; Joh 1:33; Matt 3:11;
Rom 6:3, 4. (c) 1 Pet 3:21; Mark 1:4; Luk 3:3.
Vraag
70: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?
Antwoord:
Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter
wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir
ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as
lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe
meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).
(a)
Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33;
3:5;1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12.
Vraag
71: Waar het Christus ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed
en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word?
Antwoord:
Met die instelling van die doop wat soos volg lui: "Gaan dan heen, maak
dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en
die Seun en die Heilige Gees..." (Matt 28:19); en: "Hy wat glo en hom
laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel
word" (Mark 16:16). Hierdie belofte word ook herhaal waar die Skrif die
doop die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes noem
(Tit 3:5; Hand 22:16).
Amen.
Slotgebed
Ons
loof en dank U Here, dat U ons nog leer en lei. Ons dank U ook dat U
ons geloof versterk met die Sakramente. Nou bid ons dat U ons sal skool
met U Heilige Gees dat ons met ’n diepe behoefte van
afhanklikheid, en met ’n opregte gebed tot versterking van
ons geloof ons sal voorberei om die Heilige Nagmaal met U te vier. Here
seën ons ook vandag. Ons smeek dit in die genade van ons Here
Jesus Christus.
Amen.
Slotpsalm
138:1
Die genade van die Here Jesus Christus en
die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u
almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 27 November 2005 (aand)
(Aangaande
die Pasga) En jy moet jou seun op dié dag vertel en
sê: Dit geskied ter wille van wat die Here aan my gedoen het
toe ek uit Egipte uitgetrek het. (Eksodus 13:8)
.
. . omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook
saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die
dode opgewek het. (Kolossense 2:12)
. . . van
die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding
van die dode en van die ewige oordeel. (Hebreërs 6:2)
.
. . waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as
’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as
’n bede tot God om ’n goeie gewete--deur die
opstanding van Jesus Christus (1 Petrus 3:21)