Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 31:2, 4, 12
Gebed
Psalm 4:2
Skriflesing: Johannes 9
Teks: Kategismus Sondag 13.
Johannes 9: 35
Glo jy
in die Seun van God? Hy antwoord en sê: Wie is Hy Here,
dat ek in Hom kan glo.
Die Here Jesus keer 'n uitgewerpte man in die straat voor.
- Die man was vroeër blind, maar op die stadium
toe die Here Jesus met Hom gepraat het, kon hy sien.
- Miskien het hy geloop en worstel, want hy het nie
die man gesien wat hom gesondgemaak het nie.
- Dit het so gebeur:
- Jesus het klei op sy oë geplak en hom
aangesê om dit te gaan afwas in die badwater van Siloam.
- Toe hy kon sien, het hy vir hulle gesê dat hy
nie weet waar Jesus is nie (v. 12).
Omdat hy toe getuig het dat Jesus hom net kon genees het omdat Hy God
is, het die Fariseërs hom uit die sinagoge geban. Dit is waarom
ons hom kry waar hy in die straat afstap.
- Menslik gesien – en veral gesien uit die menslike
standpunte van sy tyd – was daar vir hierdie man geen geestelike of
geloofstoekoms meer nie.
- Om uit die sinagoge geban te wees, het in sy tyd
beteken dat jy amptelik van God af weggeban was.
Dit blyk uit die gebeurtenis hier in die straat dat dit inderdaad 'n
seën was dat hierdie man deur die Fariseërs uitgeban was. In
hierdie geval het die Here ook, soos in baie ander gevalle, die sonde
in diens van sy eer gebruik:
- Hy het die sataniese hoogmoed waarmee die
Fariseërs hierdie man wou verneder, gebruik om hom in die arms van
Jesus te laat inbeweeg.
- Toe die man sonder toekoms in die straat afstap,
vra Jesus vir hom: “Glo jy in die Seun van God?”
Die Here soek en vind sy kinders altyd wanneer ons ter wille van sy
Naam verwerp word.
- Ons God het elkeen van ons persoonlik lief.
- Daarom kom Jesus na hierdie eensame verwerpte toe
en vra vir hom: "Glo jy?"
- Baie persoonlik: "Ek wil weet of jy glo, want Ek
het 'n persoonlike verhouding met jou!"
Die vrug van hierdie man se innerlike word getoets.
- Ken hy die Seun van God wat aan hom geopenbaar is?
- Verstaan hy wat die Here wou sê toe Hy hom
gesondgemaak het?
Die feit dat hy genees is, is simbolies daarvan dat ons van die gebreke
wat deur die sondes in ons veroorsaak word, genees word deur Jesus. Die
oë van ons gees word genees om die Seun van God te kan sien as die
Verlosser wat ons met God versoen.
Wat glo ons van die Here Jesus Christus? Die eerste is dat Hy die Seun
van God is. Dit is ook wat Jesus vir die blinde man vra: “Glo jy in die
Seun van God?” Dit is baie gevra, want as ons in die Seun van God glo,
moet ons:
- glo dat, op 'n manier wat geen mens nog ooit kon
verklaar, of weet hoe dit kon gebeur nie, Jesus werklik die Seun van
God is;
- bely dat Jesus werklik die Seun van God is. Ons
moet glo dat Jesus die natuurlike, gebore Seun van God is.
- glo en bely dat Jesus God self ook is.
Kan ons dit ooit verstaan, of werklik glo?
- God het dit aan ons geopenbaar.
- Daar was 'n man in die straat wat getuig het: As Hy
nie God was nie, sou Hy niks kon doen nie! (v.33)
Die Seun van God lewe vir ons saligheid. Die bewys lê in die
oortuigingskrag van die Heilige Gees wat ons geestelike oë oopmaak
sodat:
- ons Hom as't ware kan sien aan die kruis;
- ons oë Hom sien lewendig word, en met
Goddelike almag die mag van die satan verbreek;
- maar ook sien aan die regterhand van God waar Hy
vir ons bid.
Maar dan moet ons ook die angs in die oë van die Satan sien.
- Hy het in sy eie kwaad vergaan.
- Sy laaste hoop het vervaag toe Christus opgestaan
het.
- Al wat hy nou doen, is dat hy probeer om soveel
skade as moontlik aan te rig voordat Jesus terugkom.
Omdat ons die mense is wat deur al hierdie pyn gaan, openbaar die Here
aan ons hoe die Seun van God mense opsoek, en vra oor hulle geloof. 'n
Besondere vraag: Glo jy in die Seun van God?
- Die Here het die reg om ons geloof en ons belydenis
te vra ten opsigte van die Seun van God, want die belydenis rus op 'n
geloof wat gegrond is op God se eie beloftes en die vervulling daarvan.
- Die Seun van God is van die skepping af beloof.
- Hy het in die geskiedenis gelewe.
- Hy het self die man voorgekeer en op die straat
uitgevra oor sy geloof.
Dit sou al voldoende wees, maar die feite staan al hoe meer vas as ons
na die voorspellings en hulle vervullings kyk:
- God kom gee die belofte self vir Eva.
- Daarna kom die profete en hulle voorspellings al
hoe noukeuriger oor Jesus se menswording, en van sy Seunskap van God.
- Dan kom Jesus self. Hy word in Betlehem gebore.
- Daardie nag bely die engele Hom as die Seun van God
oor die velde van Efrata.
- Laaste het die Satan self Jesus as die Seun van God
bely.
En die satan het reguit bely dat Jesus die wêreld kom verlos, en
dat hy wat die satan is en sy engele eendag gepynig gaan word. Die
besetene van Gadara het uitgeroep:
Wat
het ons met U te doen, Jesus Seun van die lewende God, het U gekom
om ons voor ons tyd te pynig?
Hierdie geloof en belydenis dat Jesus die Seun van God is, is ons
troos, want hierdie belydenis is 'n vaste vertroue dat die Seun van God
vir ons sorg.
- Hy gaan die Satan vernietig – soos wat die duiwel
dit self bely.
- Ons moet soos hierdie blindgeborene onvoorwaardelik
glo, anders het ons glad geen ware troos nie.
Dit is nou presies hier waar die uitverkiesing inpas.
- Alle mense verdien dit om verwerp te word.
- Die blindheid en die gebrek van die man is die
simbool daarvan.
- Daarom is alle mense inderdaad na die sondeval
verderf.
- Van die mens se kant gesien behoort almal klaar in
die hel.
- Daar is geen mens wat ooit in eie krag daar kan
uitkom nie.
- Dan kom Jesus Christus en Hy sterf vir die wat die
Vader Hom gegee het.
- Dit is die wat die Menswording en Seunskap van
Christus bely.
Dink net aan die geweldige grootsheid van God se genade.
- God het nie een van ons nodig om God te wees nie.
- Hy het ook selfs nie eers die engele nodig om dit
te wees nie.
- Want Hy was God soos Hy nou is, voordat die mense
of die engele geskape was.
- Maar nogtans kom kies Hy ons tot kinders.
- Hy doen dit ter wille van die werk van die Seun van
God, en om Hom te verheerlik.
Ons kry by die Here die opdrag om teenoor mekaar dieselfde gesindheid
te openbaar wat God teenoor ons openbaar.
- Ons moet mekaar ook so liefhê.
- Die voorkeure of afkeure wat ons teenoor ander
mense het, moet verdwyn.
- Mense wat almal in die hel is, kan geen voorkeur of
afkeur teenoor mekaar openbaar nie, want almal is ewe sleg daaraan toe.
- Net so kan uitverkorenes ook geen voorkeure teenoor
mekaar hê nie, want Christus het ons uitverkies, en daarin was
ons eie graad van goedheid of bekwaamheid nie 'n bepalende faktor nie.
Die genade is dat as ons kinders van God is, ons ook in die regte deel
wat 'n vader uitoefen oor sy kinders.
- Een van die regte is die tug.
- Ons word getug tot gehoorsaamheid.
- Daarom moet ons in ons daaglikse lewe ons bekeer
van die dinge wat die hemelse Vader ontstel.
Kom ons kyk nou na die betekenis daarvan dat ons glo dat Jesus God se
Seun is, en dat ons deur Hom ook kinders van God is.
- Die resultaat is dat ons weet dat ons volkome
verlos is: Ons moet geloofsekerheid hê.
- Dit is iets wat goud en silwer jou nie kan gee nie:
om te weet dat jou adres op die nuwe aarde is. As jy hier sterf, dan is
jou plek reeds by God verseker.
- Dit beteken dat jy nie alewig met 'n vrees vir die
duiwel moet rondloop nie, want die is reeds oorwin. Hy is op hierdie
oomblik in 'n baie netelige posisie, want elke dag is vir hom 'n dag
nader na die hel en na verskrikking toe.
- Jy is klaar van die geweld van die satan verlos. En
daarom kan jy met vrede die dag van jou dood tegemoet gaan.
Bely Christus as
die Seun van God, en weet dat God u liefhet in Hom, en
u ook altyd versorg in Hom.
Vraag 33: Waarom word Christus
die eniggebore Seun van God genoem
terwyl ons tog ook kinders van God is?
Antwoord: Omdat alleen Christus
die ewige natuurlike Seun van God is
(a), terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem
is (b).
(a)Joh 1:14; Heb 1:1, 2; Joh 3:16;1 Joh 4:9; Rom. 8:32. (b) Rom 8:16;
Joh 1:12; Gal 4:6; Ef 1:5, 6.
Vraag 34: Waarom noem jy Hom
ons Here?
Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle
heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy
kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het (a).
(a)1 Pet 1:18, 19; 2:9; 1 Kor 6:20; 1 Tim 2:6; Joh 20:28.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 130: 2, 3
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 21 September 2003