Oggenddiens.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 102:1.
Geloofsbelydenis
Wet
Skrifberyming 10:1-6.
Gebed.
Psalm 69:1
Skriflesing: Jona 1
Teks: Jona 1: 12c
... want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.
Handelinge 27: 24
Moenie vrees nie Paulus, jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar.
Ons kyk na twee manne wat altwee deur die Here geroep was en wat altwee in 'n storm op see beland het.
- Ons gaan kyk na die oorsake wat die Bybel aangee waarom die storm in elke geval ontstaan het.
- Ons gaan ook kyk na wat elkeen van hierdie twee manne onder
daardie omstandighede gedoen het, en wat die gevolg was van hulle
optrede.
- Ons gaan kyk na hierdie twee manne as voorbeelde van twee uiterstes:
- Dit was manne wat lewensverskillend gelewe het, maar tog ook altwee manne wat deur die Here geroep was.
- In die uitvoering (of nie) van hulle roeping sien ons ook hoe
verskillend die gevolge is van die manier waarop jy dit doen wat die
Here van jou vra.
Vanoggend se preek handel oor Jona en sy posisie in hierdie hele aangeleentheid. Vanaand gaan oor Paulus se optrede.
Die tema van vanoggend se preek is: 'n Onregverdige mens bring almal saam met hom in gevaar.
Ons gee vanoggend aandag aan die volgende sake:
1. Jona vlug vir God
2. Jona se ontnugtering
3. Die oomblik van waarheid
1. Jona vlug vir God
Let op hoe die saak verloop:
- Die Here roep Jona. Hy kry 'n duidelike opdrag:
- Gaan verkondig die oordeel van die Here aan die stad Ninevè.
- Al was dit ongelowige mense wat daar gebly het, het hulle
sondes (boosheid) so erg geword dat die Here dit nie langer wou verdra
nie.
- Jona wou nie. Hy het, volgens Skrifverklaarders sy eie motiewe gehad waarom hy dit nie wou doen nie.
- Maar die punt waaroor dit gaan, is dat hy die roeping wat die Here op hom lê, nie wil nakom nie.
- Die ellende van so 'n toestand is dat Jona nie kan agterkom dat hy nou presies so sleg is soos die mense van Ninevè nie.
- Hy mis die beginsel van sonde:
- ongehoorsaamheid is doodgewoon ongehoorsaamheid - dit maak nie saak wie dit pleeg nie!
- Die Nineviete dien nie die Here nie, en Jona wil die Here ook nie
dien in die uitvoering van sy roeping nie - die beginsel is
presies dieselfde!
Hy vlug toe.
- Die plek waarheen hy moet gaan, lê reg Oos van hom af.
- Hy gaan egter Wes - reg in die teenoorgestelde rigting.
- Hy gaan na die hawe toe en koop by die Fenisiërs 'n passaat na Tarsus toe.
Die Here laat nie 'n mens toe om Hom op so 'n manier te behandel nie.
- Daarom wag die Here met sy oordeel vir Jona.
- Die ellendes van die saak is dat die ander mense wat hy saam met
hom sleep, ook in die moeilikheid kom as gevolg van sy ongehoorsaamheid.
Die gebeurtenis stel een ding baie duidelik:
- Die onvroomheid van een mens kan baie ander mense ook in die moeilikheid bring.
- As iemand wil wegvlug van sy Goddelike opdrag, gaan die Here self hom inhaal - soos vir Jona.
2. Jona se ontnugtering
Terwyl die storm aan die gang was, kry ons Jona aan die slaap.
- Die matrose worstel met die see, en hulle bid elkeen vir al hulle afgode.
- Dit is duidelik dat daar paniek op die skip is.
- Maar Jona slaap.
Presies so lyk die mens wat aan die Here ongehoorsaam is:
- Hy het 'n valse gerustheid waarin hy voortslaap.
- Dalk moet ons betekenis heg aan die feit dat Jona die matrose nie help om te oorleef nie.
- Hulle alleen moet die werk doen en hy doen niks.
Die kaptein maak Jona wakker.
- Dit was 'n baie bang wakker word, want dit was nie net 'n wakker word uit sy slaap nie.
- Dit was 'n skrikwekkende wakker word in die besef dat hy toe
nooit vir God gevlug het nie, en dat die Here hom nou vasgekeer het.
- Hy sal nou die konsekwensies van sy optrede in die oë moet kyk.
Die soldate werp toe die lot.
Hulle besef meteens dat hulle gekonfronteer word met die toorn van 'n Mag baie groter as hulleself.
- Uiteraard kan 'n lot wat deur die HERE beskik word, niemand
anders as Jona as sondaar aanwys nie - en dis presies hoe dit gebeur.
- Toe hulle Jona konfronteer, antwoord hy eerlik.
- Niemand kan in elk geval vir die Here lieg as jy direk voor Hom staan nie.
- Daarom vertel Jona die volle waarheid.
Jona begin by die Here. Die God wat tot op daardie stadium vir die matrose onbekend was.
- Ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.
- Toe word die manne baie bang!
- Waarom?
- Om dat hulle die krag van God juis op daardie stadium in die see rondom hulle gevoel het.
- Hulle het dadelik die geweld van die toorn van die ware God verstaan.
Hulle verstaan ook dat jy nie vir hierdie God kan vlug nie, want Jona
het nou-net vertel dat hy hulle gebruik om vir hierdie God te vlug, en
hier keer Hy hulle nou voor.
Jona bely dit dan ook:
...
want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.
Hulle siddering was ongetwyfeld ook omdat hulle hulle aandeel in die
saak besef het.
Tog - soos mense maar is, het hulle hulle ook vir 'n rukkie teen die
Here probeer verset, want hulle het probeer om te roei en die skip weer
by die land terug te kry. Maar die see het ruwer geword. Hulle kon op
'n baie duidelike manier agterkom dat hulle besig is met 'n verkeerde
ding.
3. Die oomblik van waarheid.
Dan vind die deurslaggewende bekering by hulle plaas.
- Hulle almal bid saam vir die HERE.
- Dis 'n gebed wat baie dinge sê,
- want hulle kla daarin dat hulle in die noute gekom het met die storm wat die Here beskik het,
- en hulle smeek dat die Here hulle tog asseblief nie moet laat vergaan nie.
- Verder bely hulle dat hulle weet dat hulle Jona oorboord moet gooi - trouens Jona het self so gesê (v. 12).
- Daarom smeek hulle die Here dat Hy tog nie moet dink dat hulle 'n onskuldige man vermoor as hulle Jona oorboord gooi nie.
Toe gooi hulle Jona oorboord en die see word stil.
- Die stilte het hulle vrees vergroot.
- Elia het die Here ook in die stilte gehoor.
- Daarom offer hulle dadelik, net daar op die skip, vir die Here 'n brandoffer.
Die Here se genade was daar!
- Die hele skip se manne bid saam op die dek - behalwe een. Die onverantwoordelike een.
- Hy het toe ook gebid, maar nie saam met die gereddes op die skip
nie - alleen in die diep donker onder in die see, want net
die volgende hoofstuk beskryf hoe Jona gebid het in die groot vis se
maag.
Dis die hartseer van hierdie geskiedenis.
- Die beter opset sou wees dat Jona saam met die manne gebid het, en dat hulle saam kon deel in die vreugde van God se genade.
- Jona se ongehoorsaamheid en sy spanning het eers al die
moeilikheid veroorsaak, en nou ook die onbevredigde toestand geskep dat
mense wat bymekaar hoort, terselfdertyd bid, maar ver uitmekaar uit.
Baie dieselfde soort van spanning het natuurlik rondom Jesus Christus gehang.
- In 'n sekere sin was dit presies die teenoorgestelde as wat dit was in Jona se geval.
- Jona het almal in die moeilikheid gehad oor sy eie sondes.
- Hy moes as sondaar van die boot af verwyder word sodat die ander kon bly lewe.
- Hy moes die straf oor sy eie sondes dra, en ter wille van die
lewe van die ander wat toe begin glo het, moes hy van hulle af verwyder
word.
Met Jesus was dit anders.
- Die hele rede waarom Hy gekruisig geraak het was oor sonde, maar
met die verskil dat dit nie sy sonde was nie - dit was die mense wat Hy
wou verlos se sondes.
- Net soos in Jona se geval het daar vrede gekom na die tyd.
- Maar nie omdat Jesus soos Jona verwyder moes word uit die samelewing nie.
- Die vrede van God kom oor ons omdat Jesus in God se hofsaal
moes gaan staan en die volle oordeel en straf vir elkeen van ons se
sondes gedra het.
- Paulus skryf dat Jesus sonde gemaak is vir ons.
As ons so deur Jona hoofstuk 1 lees moet ons daarom baie duidelik
gewaarsku wees dat ons nie in Jona se voetspore moet volg in
ongehoorsaamheid nie.
- Ons sal baie swaarder gestraf word as hy. Ons omstandighede is
meer verswarend as syne, want ons is reeds deur Jesus Christus
geregverdig.
- Ongehoorsaamheid in ons geval beteken dus dat ons direk in verset kom teen die soenverdienste van Jesus Christus.
- Daarby behoort elke ware gelowige sy medegelowiges in gedagte te
hou, want met roekelose roepingsversaking is dit noodwendig dat ander
gelowiges ook in die straf wat oor ons beskik word, betrek kan word -
soos die seelui in die storm gekom het as gevolg van Jona.
Statistiek wys duidelik dat die Christelike kerke met groot
getalle krimp elke jaar - terwyl die misteriegodsdienste
groei! Waar kom die fout?
- Die probleem is dat dit uiters moeilik is om met jongmense en
volwassenes te praat en evangelisasiewerk te doen, as hulle te min of
geen kennis van die Bybel het nie. Dis presies wat die probleem
is!
- ‘n Redelike groot getal van die jongmense wat die kerk verlaat,
leef in die waan dat hulle dink hulle weet alles van die Christelike
leer, terwyl die waarheid is dat hulle in werklikheid feitlik niks weet
nie.
- Skade word berokken deur die wat met die kerk gebreek het omdat
hulle hulle verbeel dat hulle alles van die geloof af weet en dan as
"deskundiges" van buite af vertel:
- waarom die kerk vir hulle onaanvaarbaar is
- en hoe skynheilig kerkmense is en hulle dan nog christene noem
- hoe onbetroubaar die Bybel is ens.
Die feit is: Baie mense praat graag oor God, maar glo nie werklik in Hom nie.
Mense met gebrekkige skrifkennis word juis makliker mislei deur
sekere "teoloë" wie se opvattings dikwels
goeie dekking in die sekulêre pers ontvang. Dit wil
voorkom asof daar al meer teoloë is wat aan Esau se "lensiesop
sindroom" ly.
- Ons as ouers sal ons verbondsopvoeding skerp moet hou, anders
gaan ons kinders noodwendig geen of te min kennis van God hê.
- Ons moet nie met hulle probeer praat as hulle eers tieners is nie - dan is dit te laat!
- Ons moet hulle van heel kleins af alles van die Here leer!
- As die straf van die Here ons dan tref wanneer ons kinders
wegraak van die kerk af, sal ons diep moet dink oor wat die Here
gesê het toe Hy in sy wet laat afkondig het dat Hy die wat Hom
haat, straf tot in die derde en vierde geslag.
Dieselfde geld seker in groter mate van ons almal wat as ampsdraers geroep en bevestig is.
- Besef u dat as ons ons roeping traag of nalatig gaan uitvoer, ons aan die gemeente van die Here skade gaan doen.
- Dit sal baie sleg gaan in die oordeelsdag as 'n gemeente saam in
die regbank moet staan omdat hulle sonde by die kerkraadslede aangeleer
het.
Met elke preek bevestig die Here baie skerp aan u sy genade.
- Hy het gesterf dat u sondeskuld betaal kon word, en sodat u volkome by die versoening met God betrek is.
- Nou is ons werklik belas met die verantwoordelikheid om God se koningskap te verkondig aan almal om ons.
- As ons hierdie opdrag ontvlug, is ons soos Jona wat die storm oor
almal saam met ons laat opsteek en hulle saamsleep in God se verterende
oordeel in!
- Gaan dan en beoefen u elkeen u roeping met die grootste
nougesetheid, soos wat dit pas by mense wat deur Jesus Christus vernuut
is.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 62: 1.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 9 Maart 2003.
* Hierdie is een van twee preke wat saam gepreek is op Sondag 24 Mei
1992 te Kempton Park. Die een is Handelinge 27: 24 en die ander een is
Jona 1: 12c. Ek het hierdie preke “oorgemaak” en weer gepreek in
Bellville op 9 Maart 2003.