Sing vooraf: Psalm 36:2
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:7
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Vergifnis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God:
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 146:3, 6
Skriflesing:
Klaagliedere 3
Teks:
Klaagliedere 3:24
Die Here is my deel, sê my siel, daarom
sal ek op Hom hoop. (Klaagliedere 3:24 AFR53)
Die feit dat ons die Here bely en dat ons wanneer ons volwasse geword het,
geloofsbelydenis doen, beteken nie dat ons nou ’n spanningsvrye lewe gaan
lewe nie.
- Alle mense gaan van tyd tot tyd deur lyding.
- Allerhande soorte lyding, byvoorbeeld siekte en werkspanning.
- Ons beleef van tyd tot tyd ook spanning in ons menseverhoudinge.
Sommige mense word deur ander mense verontreg.
- Soms word gelowiges gedreig deur die dood.
Hoe hanteer mense sulke dinge?
Klaagliedere 3:19-38 gee die antwoord: Die ware gelowige soek sy hoop en sy
troos in God. Die ware gelowige berus ook
in sy lyding in die wil van God wat al hierdie dinge oor ons
beskik.
Kom ons let op die volgende sake:
1. Jeremia se
troosteloosheid
2. Lyding werk bekering
1. Die troosteloosheid van
Jeremia
Jeremia was troosteloos en diep begrawe in sy eie ellendes. Tog bly hy nie
roerloos daarin vasgevang nie.
- Hy raak in ’n geweldige geloofstryd betrokke en in hierdie stryd van
hom begin hy om al meer en meer insig te kry om sy hoop op die Here te
vestig.
- Ons lees nog in vers 18 van sy groot moedeloosheid dat sy roem
(waarskynlik voor die mense) vergaan het en dat tot sy hoop op God
vergaan het.
- Hy voel dus van mens en God verlate.
Maar dit is nie waar dat die ware gelowige ooit deur die Here verstoot
of verwerp word nie. Daarom lees ons van vers 19 af hoe die Here Jeremia
uit hierdie dieptes optel.
Jeremia bid: Dink aan my ellende en my
omswerwing, aan die wilde-als en die gif. (Klaagliedere 3:19
AFR53)
- Sy gebed raak twee verskillende kante van die beproewing waarin hy
vasgevang was:
- Die eerste deel van sy gebed raak homself.
- Hy bid dat die Here aan hom moet dink – natuurlik dink hy hier in
terme van God se genade.
- Die tweede deel van sy gebed handel oor sy vyande:
- Gedenk Here aan die wilde-als en die gif.
- Al sê hy baie duidelik hoe hy oor sy vyande voel, bid hy nie dat hy
self wil wraak neem op hulle nie.
- Hy bid net dat die Here hierdie saak in gedagte moet bring –
natuurlik besef hy dat die Here almal wat verkeerd doen met sy straf sal
oordeel.
Jeremia het dieselfde gevoelens ervaar wat ons ook telkens ervaar
wanneer ons gedagtes oor ons ellendes begin maal: Hy sê dat sy siel
buig.
- Jeremia haal baie keer uit een van die Psalms aan – hierdie een is
ook ’n aanhaling.
- Dit kom uit Psalm 42 waar die Koragiet sê dat sy siel hom neerbuig in
hom as hy aan al sy ellendes dink.
Net soos die Koragiet vorder Jeremia se geloof ook van verbuigde
geloof tot by hoop op die Here.
- Al is sy beproewing so geweldig diep, rig hy sy oog in die geloof op
die oneindige genade en ontferming van God.
- By al sy verontregting is daar meteens by Jeremia die bewustheid dat
hy mos nog lewe.
- Die Here het nie toegelaat dat Jeremia doodgemaak word nie.
- Al ly hy, die Here se genade is nog saam met hom.
Toe Jeremia dit eers besef, toe kon hy bely dat die genade van die
Here altyd nuut is, want in elke omstandigheid het die Here vir hom genade
gehad.
- Dit is ook waarom hy sê dat die Here se trou groot is.
- In die Nuwe Testament gee die Here Jesus vir ons ’n mooi beskrywing
van die grootheid van die Here se trou:
sodat julle kinders kan word van julle
Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en
goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. (Matteus
5:45 AFR53)
Die Here se trou bestaan daarin dat Hy nie wispelturig is nie.
- Sy liefde en sy waarheid staan onwankelbaar vas oor sy hele skepping.
- Die trou van die Here is net die ander kant van die Here se genade.
Ons sing dit ook (Psalm 36:2 berym):
U goedheid, Heer,
is hemelhoog;
u waarheid tot die
wolkeboog;
u reg sal nooit
begewe,
maar staan soos berge,
vas van voet;
2. Lyding werk bekering
Kyk hoe die geloofsmoed van die digter toeneem. Die bewondering en
aanbidding van die Here in sy trou kom sterk uit in hierdie gebed van
Jeremia.
- Sy wanhopigheid het heeltemal verdwyn en plek gemaak vir ’n volle
geloofsvertroue.
- Kyk net hoe getuig hy sonder aarseling van sy persoonlike
geloofsekerheid:
Die Here is my deel.
Dit is dus baie duidelik dat Jeremia op hierdie punt tot bekering gekom het
in sy stryd om duidelikheid te kry oor al die ellendes wat hom getref
het.
- In vers 18 het hy nog gesê dat daar nie meer ’n mens is wat iets van
hom dink nie.
- Hy sê dat tot sy hoop op die Here daarmee heen is.
Nou bely hy dat die Here sy deel
is.
- Saam met hierdie belydenis dat die Here sy deel is,
- is daar ook nog die geloofsmotivering dat hy juis daarom op die Here
sal hoop.
As mens mooi oor hierdie saak dink, moet jy jouself die vraag
afvra:
- Op wat van die Here het Jeremia gehoop?
- Net dat die Here moet voorsien dat die mense wat Jeremia verontreg
dit moet staak?
- Of dat sy pyn en lyding moet ophou?
- Waarom sê hy dan dat sy siel sê die Here is sy deel?
- En waarom sal sy siel juis net vir hierdie lewe se verlossing op die
Here hoop?
Die antwoord op al hierdie vrae is nie so moeilik nie.
- Die eerste deel van die antwoord is dat Jeremia hom hier beroep op
dit wat in die Ou Testament geskryf staan – onthou hy het in sy tyd reeds
boeke soos Numeri en die Psalms van Dawid gehad.
- Op ’n hele paar plekke staan daar in daardie boeke geskryf dat ons
deel nie op die aarde is nie, maar dat die Here ons deel is
Ook het die Here vir Aäron gesê: Jy sal
in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is
jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel. (Numeri
18:20 AFR53)
Die Here is die deel van my erfenis en
van my beker; U onderhou my lot. (Psalms 16:5 AFR53)
Al beswyk my vlees en my hart – God is
die rots van my hart en my deel tot in ewigheid. (Psalms 73:26
AFR53)
Jeremia se hoop op die Here gaan dus oor hierdie lewe en oor die
hiernamaals.
- Die Here sal hom uit hierdie ellendes verlos – dis waar, maar hy het
ook in die ewigheid ’n deel by die Here.
- Sy sielsgemeenskap met die Here gaan deur die tyd tot in die
ewigheid.
Dit is duidelik dat daar by Jeremia self ’n diep bekering plaasgevind
het tydens hierdie beproewing wat oor hom gegaan het. Hierdie woorde:
Die Here is my deel, sê my siel, daarom
sal ek op Hom hoop (v. 24)
staan in baie skerp kontras met vers 18 waar hy nog gesê het:
Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en
my hoop op die Here. (v. 18)
Dit is dan ook die nut van lyding en beproewing: Dit bring ons self tot
dieper geloof en tot bekering.
- Dit is sekerlik waar dat die mense wat ons verontreg ook tot bekering
moet kom – maar dit is ’n saak tussen hulle en die Here.
- Die naaste verpligting lê altyd op onsself om te sorg dat ons eie
verhouding met die Here in orde is.
- Hiervoor gebruik die Here onder andere lyding.
- Jeremia bely dit dat dit goed is dat ’n man moet ly – hy verkies
net dat dit moet gebeur wanneer ’n mens nog jonk is (v. 27).
Wat nou? Is dit nou genoeg as my hoop op die Here gevestig is? Nee,
want my belydenis van God se goedheid moet ook nog daarby kom.
- Jeremia bely dat die Here goed is vir die wat op Hom hoop en die siel
wat Hom soek.
- Dit beklemtoon dat die Here se genade mense volg wat Hom met hulle
volle menswees dien – in totale oorgawe.
-
Soek is nie
maar net om te sê jy glo nie. Dit is
om soos Jesus Christus tot die dood toe getrou te bly aan wat God van
jou vra.
Hierdie geloofsekerheid dra ons deur ons beproewinge. Hierdie
geloofsekerheid hou ons hoop op die Here wakker.
Let op dat daar van vers 28 af bevele gegee word aan die gelowige oor hoe
hy sy lyding moet hanteer.
- Hy moet sy verdriet dra in die stilte van God se teenwoordigheid.
- Mens kan nie gaan ontvlugting soek in drank of geraas nie.
- Toe Elia op die berg was, het God in die stilte gekom.
- Net so kom ons uitkoms nog altyd in die stilte waar die Here naby is.
Verder moet ons ons lyding dra in volle oorgawe aan God.
- Ons buig nie voor ’n blinde noodlot nie.
- Ons buig onsself tot in die stof voor die Here neer – in erkenning
van sy almag en sy ewige beskikking.
Daarby sê vers 30 dat ons die wang moet gee vir die wat ons
slaan.
- Die Here bedoel beslis nie hiermee dat ons ’n slaansak vir die lewe
moet wees nie.
- Al wat die Here sê is dat ons nie moet wraak neem nie.
- Ons moet nie reg in eie hande neem en sy straf oor mense se
sondes wil voltrek nie.
- Veral in sulke oomblikke moet ons hoop op God.
Jeremia bely dat die Here niemand
vir ewig verstoot
nie.
-
Vir ewig is ’n baie lang tyd, want
die ewigheid gaan verder waar ons tyd eendag ophou om te
bestaan.
- Dis waar. Elkeen van ons bereik altyd ’n punt waarvandaan ons kan
terugkyk en sien hoe die Here ons uit spanning en lyding verlos het.
Tog is daar een Uitsondering. Daar was Iemand wat nie kon terugkyk op
redding nie: Die Here Jesus Christus.
- God het Hom oorgegee aan die volle geweld van sy straf.
- So erg dat Jesus aan die kruis op Golgota uitgeskreeu het dat God Hom
verlaat het.
- In Jeremia se lewe het ons iets profeties daarvan dat Jeremia ook
gesê het dat sy aansien voor die mense tot niet is en dat hy geen hoop op
God meer het nie (v. 18).
As daar ooit van lyding sprake is, dan moet ons onthou hoe Jesus gely
het.
- Hy moes die heerlikheid van die hemele verlaat, en die diens van die
engele prysgee om soos ’n mens (asof Hy sondes gehad het) aan ’n kruis
vasgeslaan te word.
- Die opskrif bokant die kruis: Die Koning van die Jode, het vir die
Romeine beteken dat hierdie man teen die keiser in opstand wou kom, en
vir die Jode het dit beteken dat Jesus teen God in opstand gekom het.
- Die ewige Seun van God moes op die aarde gestraf word en kom sterf
asof Hy ’n ketter en ’n landsverraaier was.
Dit alles het gebeur omdat God daarmee al ons sondeskuld teen ons tot
niet gemaak het – sy Seun het ten volle vir alles sy straf gedra.
- Dit is waarom ons ook soos Jeremia kan sê:
Die Here is my deel, sê my siel, daarom
sal ek op Hom hoop.
- Ons kan nooit sê Ja, . . . my roem
het vergaan en my hoop op die Here nie, want Jesus het juis
hierdie aanspraak tot niet gemaak.
Wanneer u vanaand u geloof voor die Here bely, onthou dan dat die Here
vir ons ’n erfdeel bepaal het wat baie groter is as hierdie wêreld, en baie
langer gaan bestaan ook. Dit gaan bestaan tot in ewigheid.
Maar voordat ons daar is, suiwer en bou die Here ons geloof.
- Hiervoor gebruik Hy dikwels beproewinge, en selfs bittere
verontregting soos wat Jeremia oorgekom het.
- Dit is dan wanneer ons ons geloofsoog op die troon van die Here moet
vestig en by hierdie lewe verby moet kyk om die ewigheid te sien kom.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm: Skrifberyming 18-7 (45):1, 12
Aflegging van geloofsbelydenis
Psalm 20:1-5
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 15 Oktober 2006 (aand) –
Belydenisaflegging