Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm: Psalm 68:1, 9
Gebed
Psalm 25:2
Skriflesing: Lukas 13
Teks: Kategismus Sondag 22;
Lukas13:32
. . .
vandag en môre en op die derde dag is Ek klaar.
Ons het bepaalde verwagtinge vir ons lewe. Ons maak voortdurend nuwe
planne vir ons aardse toekoms. In sekere opsigte reken ons soms
letterlik jare vooruit.
- Is dit ook waar van ons voorbereiding en beplanning
ten opsigte van die wederkoms van die Here?
- Die ewigheid is nie meer ver vorentoe nie. In ’n
sekere sin leef ons vlak voor die wederkoms van die Here.
- Moet ons nie nou reeds ons roeping en ons hart skik
na die dag van die wederopstanding uit die dood nie?
Die antwoord is dat ons lewensbeplanning nou reeds so moet wees dat die
lewe na die dood al by ons toekomsbeplanning in berekening gebring word.
Wat is presies hierdie verwagting wat ons van die ewige lewe het, en
ons wederopstanding uit die dood?
- Ons Belydenis vat dit saam in die verwagting dat
ons liggaam weer sal lewe – die opstanding van die vlees.
- Hier word natuurlik veronderstel dat ons eers sal
doodgaan en begrawe sal word, want ons belydenis veronderstel dat ons
liggame eers weer sal lewe as hulle uit die dood opgewek en weer met
ons siele verenig word.
Die opstanding uit die dood het die krag dat dit ons leer dat ons nie
vir die dood self hoef bang te wees nie, want die dood kan ons nie van
Christus skei nie.
- Selfs wanneer ons dood is, staan ons heeltemal
onder die regering van Christus.
- Ons is dan nog steeds ten volle onder sy
beskerming, want as ons sterf, is ons dadelik by Hom in die hemel.
- Die wat aan Christus behoort, is in elk geval nooit
sonder Hom nie.
Daar is natuurlik dié verskil met ons gemeenskap met Christus:
Wanneer ons dood is, is ons gemeenskap met Hom alleen geestelik, en nie
geestelik en liggaamlik soos tans, en soos wat dit weer na die
opstanding sal wees nie.
Die opstanding uit die dood word voorafgegaan deur ’n tydperk wanneer
ons liggame begrawe word, maar ons siel dadelik in die hemel sal wees.
- Die wat nie opreg geglo het nie of wat moedswillig
en ongelowig was, is dan natuurlik in die hel.
- Daar is nie ’n tussentoestand waarin mens slaap en
van niks bewus is totdat ons eendag opgewek word nie.
- Daar is ook nie ’n vaevuur soos wat in die ou
Roomse teologie geleer word nie.
- Daar is ook nie so ’n ding soos ’n doderyk waar
alle mense wat sterf se siele opgegaar word totdat dit die laaste dag
tyd word om hulle te oordeel nie.
- Die Bybel leer ons nêrens van sulke dinge nie.
Die Bybel leer ons die volgende baie duidelik:
- Wanneer ons sterf, is ons siel dadelik by die regte
bestemming. Óf in die hemel, óf in die hel.
- Daarvoor is die bewys van die gelykenis van die ryk
man en Lasarus. Ons lees daarvan in Lukas 16.
- Jesus Christus is hier self aan die woord.
- In dié gedeelte in die Bybel verhaal Hy dat
Lasarus sterf en dadelik deur die engele weggedra word na die boesem
van Abraham. Dit is na die hemel toe.
- Later sterf die ryk man ook. Sy siel word ook
versorg, want hy maak sy oë in die hel oop.
- Die ryk man is in groot smarte, want in die hel is
daar geen vreugde nie.
- Ons kommunikeer selfs in die hiernamaals met
mekaar, want hierdie ryk man het Abraham gesmeek om Lasarus te stuur om
net een druppel water met die punt van sy vinger op sy tong te kom sit.
- Die ryke wil selfs dat Lasarus gestuur word om sy
goddelose broers te gaan waarsku, maar die Here wil nie.
Hierdie gelykenis maak die punt baie duidelik dat ons dadelik by ons
sterwe in die hemel of die hel is.
- Ons wag nie ons verhoor af tot met die wederkoms
nie.
- Ons belydenis is dus heeltemal suiwer as dit begin
met die woorde:
Dat nie alleen my siel dadelik na
hierdie lewe tot Christus sy Hoof
opgeneem sal word nie. Die een rower wat saam met Christus gekruisig
is, het dit ook so ondervind: “Voorwaar
Ek sê vir jou, vandag sal
jy saam met My in die Paradys wees.”
Gelukkig is die dinge nie die enigste troos nie. Dis nie net my siel
wat lewe tot in ewigheid nie. My liggaam word ook so versorg.
Op hierdie evangelie van onsterflikheid rus ons hele verlossing. Dit is
ook deels die betekenis daarvan dat Christus sê dat Hy vandag en
môre werk, en op die derde dag klaar is.
- Sy werk was dat Hy vir die sondes van sy mense en
tot hulle versoening gekruisig en begrawe is.
- Die derde dag het Hy teruggekom uit die dood. Met
sy liggaam en sy siel – heeltemal.
Daarmee het Hy ook die weg geopen vir ons almal om Hom te volg.
- Soos Hy teruggekeer het ná sy dood, sal
elkeen van ons ook weer herskep word. Daarom begrawe ons die dooies met
soveel eerbied.
- Die mens se liggaam is nie ’n tweederangse
materiaal wat ’n swakker behandeling moet kry as die siel nie.
- Die Bybel stel dit ook mooi waar daar gesê
word dat die liggaam geplant moet word om weer op te kom soos ’n
graankorrel.
Regdeur die Bybel is daar die hoop dat die dooies weer gaan opstaan.
Van die skepping se kant af verloop daar ’n tyd tussen ons dood en ons
opstanding. Maar van God se kant af is dit nie so nie. By God is
ewigheid – dis tydloos.
- Niemand van ons weet wanneer Jesus Christus op die
wolke sal verskyn nie.
- Niemand van ons weet wanneer die bevel sal kom dat
die aarde en die see sy dooies moet teruggee nie.
- Maar daardie dag sal dit wees soos met die
opstanding van Christus. My liggaam sal ook soos syne opgewek word, en
met my siel verenig word (1 Kor. 15).
Daar sal verseker veranderinge wees. Ons sal dan volmaak wees. Ons
liggame sal verheerlik wees.
- Die Bybel sê mos dat die graan wat opkom,
verskil van die pit wat gesaai is – so sal dit ook met ons opstanding
wees.
- • Nou is ons die beeld van Adam, en dan sal ons
die
beeld wees van Christus. Ons sal dan ’n hemelse liggaam hê.
Op hierdie opstanding volg die ewige lewe. Met siel en liggaam lewe ons
dan tot in ewigheid.
In die Heidelbergse Kategismus is daar ’n vraag wat wil weet watter
troos hierdie klomp feite nou aan ons bied.
- Ons eerste antwoord is dat dit ons God se genade
laat verstaan:
- Ons ervaar nou die genade van God in ons lewe.
Hierdie leer verseker ons dat die genade in die hiernamaals selfs
groter is as hierdie genade.
- Daar is ’n eenheid in die genade. Ek sal dit deel
met hierdie selfde liggaam en siel waarmee ek dit tans op die aarde
deel.
- Die hemelse heerlikheid sal die voltooiing wees van
die genade wat ek hier ontvang.
- Die genade van God is in hierdie lewe al iets
groots om te ontvang en te beleef. Daarom sal dit nog groter en
heerliker wees in die hiernamaals. Daar staan mos in 1 Korintiërs
2:9:
God
het vir die wat Hom liefhet ’n heerlikheid berei soos wat die oog
nie gesien het nie, en die oor ook nie gehoor het nie, en ook nog nie
in die hart van ’n mens opgekom het nie.
Die betekenis hiervan is dat ek by die Here die verwagting kry dat ek
met liggaam en siel in die hiernamaals betrek gaan word in ’n lewe wat
geen sonde ken nie.
- Dit sal ’n lewe wees waar daar nie hartseer of rou
gaan wees nie.
- ’n Lewe sonder armoede. Armoede en gebrek is dan
vir altyd verby.
- Daardie lewe sal met heerlikheid gevul wees.
- Die ewige vrede om God van aangesig tot aangesig te
kan sien, en ook te weet dat ek nie meer met my sondes die Here kan
bedroef nie, is deel van daardie bestaan.
- Dan is my stryd teen sonde en siekte en spanning
verby, en my oordeel is agter die rug.
- Die vrees vir die hel is iets van die verlede.
My verdere troos is die waarborg wat die Here in die Bybel gee dat
hierdie lewe ewig is.
- Daar is nie sprake van dat daardie lewe mettertyd
sal verbygaan nie – soos ons hier gewoond is nie.
- Dood en verganklikheid is vir ewig verby wanneer
Jesus Christus my liggaam uit die aarde terugneem en met my siel
verenig.
- Dan leef ek tot eer van God, soos wat ons van die
skepping af dit moes doen.
Hierdie vooruitsig bepaal my lewe as ’n Christen, want dit rus
heeltemal op die krag van Christus.
- ’n Ongelowige kan hierdie dinge nie verstaan nie.
Maar ons wat die almag van God ken, weet ook dat as Hy die aarde en
alle dinge kon skep, deur doodeenvoudig net ’n woord te sê, Hy
dan ook die mag het om ons uit die dood te laat opstaan.
- As Christus uit sy eie krag self uit die dood
opgestaan het, hoeveel makliker sal Hy nie nou dat Hy verheerlik is,
ons ook uit die dood kan opwek nie.
Christus sê self in Johannes
(6:40) dat dit die wil van sy Vader
is dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag
hê. Dan voeg Hy die belofte daarby: En Ek sal hom opwek in die
laaste dag.
As ons nie hierdie beloftes gehad het nie, sou ons ook nie hierdie
vooruitsigte gehad het nie.
- Maar nou word dit juis in die Bybel geleer dat die
opstanding uit die dood die vervulling van die Evangelie is.
- Hierdie saligheid wat ons gaan deel met liggaam en
siel, is die doel van Christus se verlossingswerk.
Hierdie vooruitsigte wat ons het van die opstanding en die hiernamaals,
het ’n groot invloed op ons lewens – of behoort dit te hê. Ons
hele lewe en ons lewensbeplanning moet dit duidelik wys dat ons
voorbereidings tref vir hierdie dag van die opstanding en die begin van
die ewige lewe.
- Daarom moet ons baie versigtig wees dat ons nie ons
lewens met beuselagtighede verwyl nie.
- Of dat ons soveel aandag gee aan ons daaglikse lewe
en ons finansiële vooruitgang dat die koninkryk van God ook nie sy
regmatige plek kry nie.
As ons sien dat dit ons lewensgesindheid is, moet ons ook besef dat
hierdie dag van die wederopstanding dan nie ’n troos is nie, want dan
gaan ons opstaan tot die dood toe. Dan is die wederopstanding en die
ewige lewe vir jou ’n bedreiging, want dit gaan die finale voltrekking
van jou oordeel wees.
Maar vir die gelowiges is daar die geweldige troos dat geen vrees vir
daardie dag hulle geloof hoef te benewel nie. Want vir hulle is daardie
dag die dag van die grootste vreugde. Daarom sing ons ook in Psalm 73
dat ons niks anders as die Here in die hemel begeer nie, want op die
aarde is daar niks waarin ons siel hom werklik kan verlustig nie.
En dan:
Beswyk dan ooit in bitter smart
of bange nood my vlees en hart
dan sal U wees vir my gemoed
my Rots, my Deel my ewige Goed.
Kom ons lees Kategismus Sondag 22 saam:
Vraag 57: Watter troos gee die
opstanding van die liggaam aan jou?
Antwoord: Dat nie alleen my
siel na hierdie lewe dadelik tot Christus,
sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van
my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan
die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).
(a)Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil
3:21.
Vraag 58: Watter troos skep jy
uit die artikel van die ewige lewe?
Antwoord: Dat, aangesien ek nou
alreeds die begin van die ewige vreugde
in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit -
’n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van
geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys (b).
(a)2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.
Amen
Slotgebed
Slotpsalm 46:1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Bellville 16 November 2003
(aand)