Ons verhouding met die Woord van God bepaal ons bestemming
Skriflesing: Lukas 16: 14-31
Teks: Lukas 16:27-31
Sing: Ps.92: 1,2 19:4 98:6,7 119:38,39
Vroeër jare het daar by sommige gelowiges 'n afdruk van 'n sekere
skildery in hulle woning gehang. Op die skildery is twee paaie
uitgebeeld: 'n smal pad en 'n breë pad. Die smal pad het gelei na
die hemel en die breë pad na die hel. Daar was baie mense op die
breë pad, maar op die smal pad was daar maar min. Die breë
pad was 'n pad vol genot en plesier, maar die smal pad was 'n moeilike
pad.
Hierdie skildery kan dan ook tot 'n sekere mate vergelyk word met die
gelykenis van Lasarus en die ryk man. Lasarus verteenwoordig die mense
op die smal pad na die hemel, en die ryk man weer die mense op die
breë pad na die hel.
Die gelykenis wat Jesus vertel het, handel natuurlik oor elke mens se
lewe hier op aarde terwyl hy op pad is na sy eindbestemming. En daar is
net een van twee plekke waar jy gaan uitkom: die hemel of die hel!
Maar ons eindbestemming is nie die kerngedagte wat die Here in hierdie
gelykenis wil beklemtoon nie. Wat Hy wel hier beklemtoon, is dit wat
vir ons as mense hier op aarde belangrik is sodat ons noual sal weet
wat ons eindbestemming gaan wees: die hemel of die hel.
Vooraf moet ons egter sê dat Lasarus se eindbestemming nie die
hemel was omdat hy 'n arme ellendige bedelaar was nie.
Net so was die ryk man se rykdom ook nie die rede waarom hy in die hel
beland het nie.
Abraham was ook 'n ryk man, en Isak en Jakob en Dawid ook. Tog was
hulle eindbestemming ten spyte van hulle rykdom diehulle sg. ywerig
besig met die Woord van God, het hulle nooit by die God van die Woord
uit gekom nie. Hulle was eerder godjies in hulle eie oë.
In die gelykenis vergelyk Jesus hulle lewenswandel met die van die ryk
man. Hy was ryk, en dit was op sigself nie sondig of verkeerd nie. Dit
was ook nie 'n sonde om mooi klere te dra nie. Hy het nie nodig gehad
om in die vodde van die bedelaar te loop nie. Sy rykdom en besittings
het hy immers van die Here ontvang.
Sy groot sonde was egter dat hy sy rykdom net tot sy eie voordeel en
plesier gebruik het. Hy het hom nie gesteur aan die opdragte van die
Here in Sy Woord nie. Hy het al die gawes wat hy van die Here ontvang
het nie tot diens van God en tot die voordeel en nut van die ander
mense soos Lasarus gebruik nie. Hy wou nie aanvaar dat sy baie
besittings aan God behoort het om dit volgens die wil van God te
bestuur nie. Hierdie man het dus nie rekening gehou met God en sy Woord
nie, soos dit blyk uit ons teksverse. Vir hom het dit net gegaan om sy
eie eer net soos vir die Fariseërs.
As hy vandag sou lewe, kan ons van hom sê dat hy wel 'n lidmaat
van 'n kerk is. Hy het 'n Bybel in sy huis. Hy gaan af en toe kerk toe
en hy gebruik ook die nagmaal. Maar hy steur hom nie aan die opdragte
en waarskuwings van die Here nie. Hy lees en luister miskien na die
Woord en Woordverkondiging, maar hy ontmoet nie die Here in die Woord
nie. Hy lewe soos hy wil en nie soos God wil nie.
Dit blyk duidelik uit die ryk man se reaksie toe Abraham vir hom
gesê het dat sy 5 broers die Wet en die profete het. Hulle moet
daarna luister want dit is die Woord van God. En hulle moet gelowig op
so 'n wyse daarna luister om die Here self daarin te hoor. En dan moet
hulle dit wat die Here deur Sy Woord verkondig gelowig aanneem.
En hulle moet hulle deur die Woord laat lei. Dan sal hulle ook
gehoorsaam elke dag met die Here lewe en op Hom alleen vertrou. Sy 5
broers het dus nie 'n probleem nie. Hulle gaan nie ongewaarsku hulle
eindbestemming tegemoed nie. Al wat hulle moet doen is om in
verbondenheid met die Woord van God te lewe waardeur Hy hulle onderrig
en waarsku sodat hulle hulle tot God kan bekeer.
Die ryk man se versoek aan Abraham om Lasarus te stuur om sy broers te
waarsku, kom dus daarop neer dat hy indirek die Here beskuldig. Die
Here het Sy broers nie vooraf en genoeg gewaarsku nie. Die Woord is
onvoldoende. So wil hy homself ook verontskuldig. As hy vooraf
gewaarsku was, sou hy nie in die hel beland het nie.
Maar Abraham se antwoord op sy versoek weerlê al die
beskuldigings. Die Woord is kragtig en daartoe instaat om sondaars tot
bekering te bring. As mense net maar wil luister en ag gee op wat God
deur Sy Woord en Gees tot ons spreek. Dit is soos Paulus in Romeine
1:16 sê.
"Die
Evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo."
In Romeine 10: 14,17 beklemtoon hy ook hoe belangrik ons verhouding tot
die Woordverkondiging moet wees. Hy sê;
"Hoe
kan 'n mens God aanroep as jy nie in Hom glo nie. En hoe kan jy in Hom
glo as jy nie van Hom gehoor het nie. En hoe kan 'n mens van Hom hoor
sonder iemand wat preek."
Die gevolg is dan: Die geloof in God kom dus van die prediking wat 'n
mens hoor. En die prediking wat ons hoor is die verkondiging van Jesus
Christus.
Niks kan die plek van die Woord vervang om ons tot geloof en
gehoorsaamheid tot God te bring nie.
Maar die ryk man was nie hiermee tevrede nie. Die heilige Skrif alleen
is nie voldoende nie. Daar moet nog iets bykom, iets buitengewoons en
iets sensasioneel. As iemand uit die dood sou opstaan en hulle sou
waarsku, dan sal hulle luister. Hy weier dus om te erken dat die Woord
van God 'n krag is tot redding vir elkeen wat glo. En daarom is sy
gevolgtrekking : As sy broers dan in dieselfde plek van ellende beland
waar hy is, dan lê die skuld by die Here en Sy Woord.
Maar Abraham verwerp hierdie beskuldigings geheel en al: As hulle na
die Woord van God nie luister nie; as hulle nie gelowig gehoor gee, en
hulle op grond van die Woord bekeer nie; as hulle nie vra na die wil
van God om te doen wat vir Hom aanneemlik is nie, sal selfs iemand wat
uit die dood opstaan hulle nie kan oortuig nie.
Die Woord van God, die blye boodskap van verlossing en redding deur
Jesus Christus is die enigste weg tot saligheid vir elkeen wat deur die
Woord tot geloof kom. Jesus Christus, self die Woord, het die Woord ook
aan die Fariseërs verkondig. Hulle wou nie luister nie.
Inteendeel: hulle het Hom verag. Daar staan is vers 14 : "Hulle het Hom beledigend uitgelag".
Letterlik staan daar: hulle het hulle neuse vir Hom opgetrek, wat teken
is van hulle minagting vir Hom en die Woord wat Hy verkondig het. Op
die ou end het hulle daarop aangedring dat Hy gekruisig moet word,
terwyl hulle nie besef het dat dit die lydensweg was wat Jesus moes
gaan sodat sondaars gered kon word nie.
Maar Hy het uit die dood opgestaan. In Jesus se opstanding word
bevestig wat Abraham ook aan die ryk man gesê het. Die boodskap
dat Jesus uit die dood opgeslaan het, is deur die Romeinse wag wat die
graf moes bewaak aan die Joodse Raad oorgedra. Daarna het die apostels
die evangelie van die opgestane Christus aan hulle verkondig. Ons
verwys na Handelinge 2 met die uitstorting van die Heilige Gees.
Nogtans, nieteenstaande Jesus se opstanding uit die dood, het hulle die
prediking nie aangeneem nie. Daarom is hulle bestemming die ewige
verderf.
Broeders en susters, ons verhouding tot die Woord van God, ons
betrokkenheid by Sy Woord, bepaal wat ons bestemming sal wees: hemel of
hel.
Ons belewe tans tye waarin die Woord van God nie meer as die volle
waarheid aanvaar word nie.
Die neiging is vandag dat die Woord van God by die behoeftes en
sienswyse van die mens moet aanpas, en nie meer dat die mens hom
volkome aan die gesag van God se Woord sal onderwerp nie. Daarom word
Goddelike uitsprake wat nie meer by ons tyd en omstandighede inpas nie,
op 'n subtiele manier gewysig. As 'n uitspraak of opdrag van God in Sy
Woord nie meer vir ons aanvaarbaar is nie, dan sê sommige
teoloë: nee, maar daardie opdrag van die Here is eintlik maar net
'n tydsgebonde opdrag. Dit was maar net bedoel vir die mense van
Paulus-hulle se tyd. Ons lewe in ander tye en omstandighede. Daarom
moet ons daardie opdragte nie meer sien as van toepassing op ons nie.
En soos die Fariseërs die Wet van God verskraal het tot
mensgemaakte wette, so word die Woord van God in ons tyd al meer en
meer kragteloos gemaak om die mens te pas. Baie sê byvoorbeeld
dat nie alles wat in die Bybel staan die die Woord van God is nie.
Mense wil ook nie meer kerktoe kom om na die Woord te luister nie.
Daarom moet die prediking plek maak vir allerande sensasies en konserte
om mense weer na die kerk te lok.
Maar so sê Jesus in hierdie gelykenis: As hulle na die Woord van
God nie luister nie ; as hulle nie deur die Woord getrek word nie, sal
niks anders, selfs iemand wat uit die dood opgestaan het en met mense
tydens die erediens te kom praat, hulle oortuig of tot bekering bring
nie. Die Woord van God alleen wys ons op die ware weg van verlossing en
dit is die weg van Jesus Christus. En die Heilige Gees alleen oortuig
ons deur die Woord van die Waarheid.
Daarom moet ons verhouding tot die Woord wees wat die verhouding van
Lasarus in die gelykenis was. Jesus sê wel niks van Lasarus in sy
verhouding tot die Woord van God nie. Al wat ons van Hom hoor is dat hy
'n arme ellendige bedelaar was, siek en vol swere. En die mense het hom
maar net daar by die poort van die ryk man se paleis gaan neerlê.
Daar het hy dag na dag gelê met die hoop om tog ietsie uit die
oorskiet van die ryk man se tafel te kry. Daar het hy ook gesterf en is
in die hemel opgeneem.
Tog sê Jesus iets besonder oor hom. Hy gee aan hierdie arme
ellendige bedelaar 'n naam nl. Lasarus. Die Hebreeuse vorm van hierdie
naam is Eleaser. En dit beteken: "God is my hulp".En dit sê vir
ons alles van hierdie bedelaar. Hy het hom volkome op die Here verlaat
en aan Sy Woord vasgehou. Vir hom was die Woord van God die lig op sy
pad na die ewige heerlikheid in die hemel by die Here.
Salig is hulle wat weet hoe arm hulle voor God is en daarom volkome
afhanklik van Hom is, want aan hulle behoort die koninkryk van die
hemel. (Saligsprekinge uit Matt.5:3). Mense wat in hierdie goddelose
wêreld werklik van die Here afhanklik is, soek hulle troos en
krag in Sy Woord. Mense wat in hierdie leuenagtige wêreld soekers
is na die waarheid, vind die waarheid in Sy Woord.
Mense wat smag na God se daaglikse teenwoordigheid, ontmoed hom in Sy
Woord, vol liefde en genade en barmhartigheid .
Mense wat op hierdie wyse met die Woord besig is, lewe elke dag in
verbondenheid met die Here. Deur Sy Woord lewe ons ook in
geloofsgemeenskap met mekaar om mekaar in 'n godonterende wêreld
in die geloof te bemoedig en te versterk. Deur Sy Woord en Gees is ons
ook weergebore tot 'n nuwe lewe om kinders van God te wees.
Deur sy Woord stort die Heilige Gees al die weldade wat Christus vir
ons verwerf het,in ons lewens sodat ons ook soos kinders van God wil
lewe.
Deur Sy Woord kom ons tot die werklike eenheid in geloof en in ons
kennis van die Seun van God.
Deur Sy Woord en Gees is ons seker van ons eindbestemming.
Daarom, sal ons ook soos Paulus sê: Om Christus Jesus , my Here,
te ken, oortref alles in waarde. Daarvoor span ek my ook in.
Daarom, broeders en susters, neem die Woord en Woordverkondiging so 'n
besonder plek in ons eredienste in. Niks anders kan die plek van die
Woord inneem nie, selfs nie iemand wat uit die dood sou opstaan nie.
En ons kom dan met verlange na en oorgawe aan God om - soos dit in die
briewe aan die sewe gemeentes in Openbaringe 2 en 3 staan - te luister
wat die Gees vir die gemeente sê. Nie maar net te hoor nie, maar
om te luister en dan gewillig en gehoorsaam die Woord aan te neem wat
die Here aan ons opdra.
Ons verhouding tot die Woord van die Here bepaal noual wat ons
eindbestemming sal wees. Die hemel of die hel.
AMEN
Ds. H.P.Prinsloo (Bellville).
7 April 2002. Oggenddiens