Sing vooraf:
Psalm 49:5; Psalm 118:10
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1, 9
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet antwoord ons daarop met Psalm
19:4
Wet
Psalm 19:4
Gebed.
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 36:1.
Skriflesing: Lukas
16:1-17
Teks: Lukas 16: 8, 9
En die heer het die onregverdige
bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van
hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van
die lig. En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige
Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige
tente kan ontvang. (Lukas 16:8-9 AFR1953)
Die tema van die gelykenis is dat daar mense is wat die gawe het om op die
verkeerde manier en op die verkeerde plekke vir hulle skatte en voordele
bymekaar te maak.
- Maar op die een plek waar hulle dit behoort te doen, naamlik in hulle
verhouding met God, kan hulle dit nie doen nie.
- Uiteindelik gaan hulle met al hulle aardse slimmigheid en rykdom vir
ewig verlore.
Hierdie gelykenis is vol beeldspraak en woordspelings.
- Een van die woordspelings wat hier gebruik word, is byvoorbeeld dit
dat die baas (heer) van die slaaf met presies dieselfde naam genoem word
as wat die Here self in die Nuwe Testament genoem word.
- Dit bring ons al klaar onder die indruk dat die Een wat die finale
regspraak in die gelykenis uitspreek, nie 'n gewone baas of
hoofbestuurder is nie, maar dat dit die ewige God is wat sy oordeel
bekendmaak.
In die voorbeeldverhaal vertel die Here Jesus van 'n bestuurder wat
beheer gehad het oor iemand se eiendom.
- In vandag se terme sou dit 'n finansiële bestuurder van 'n maatskappy
kon wees.
- Die Here vertel hoe hierdie betrokke man se geldgierigheid in sy
optrede gelei het tot verskillende soorte bedrog.
- Dit het vir hom tydelike verligting gebring, want in hierdie lewe (sy
aardse bestaan) het hy daarmee weggekom, maar in die ewige oordeel het hy
verlore gegaan.
Die Here word voorgestel as die Besitter van 'n groot stuk landgoed
waarop baie verskillende produkte verbou word - soos wat dit destyds in
Galilea was.
- Aan die hoof van die finansiële administrasie was daar 'n man wat die
verskillende oeste verkoop en verruil het en wat dan deur 'n boekhouding
en kwitansiestelsel aan die Besitter verslag moes doen.
- Daar het egter 'n konstante stroom klagtes (praes. part.) by die
Besitter aangekom dat die bestuurder sy besittings verkwis.
- Die Griekse woord beteken nie dat die bestuurder beskinder is nie:
Dit beteken meer dat daar voortdurend bewysde klagtes ingedien is teen
die bestuurder.
Die saak word toe ondersoek.
- Net soos wat die Here met Kaïn gemaak het, word die sondaar nie met
die eerste oogopslag gestraf nie.
- Die saak word eers bespreek: Die Besitter het hom ingeroep en gesê:
En hy het hom geroep en vir hom gesê:
Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake;
want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie. (Lukas 16:2 AFR1953)
Dit gaan nie daaroor dat die Besitter die klagtes wil kontroleer om vas te
stel of hulle waar is nie - dit het hy reeds gedoen.
- Die bestuurder moet hom net oor sy vergryp met die Besitter se goed
kom verantwoord.
- Die oordeel is dus deur die Besitter klaar vasgestel: Die bestuurder
gaan afbetaal en uit sy diens ontslaan word.
Op hierdie punt gebruik die Here Jesus hierdie voorbeeldverhaal om aan
te toon hoe mense dikwels een leuen gebruik om 'n ander een mee toe te
smeer - en met altwee probeer om vir hulleself voordeel te bewerk.
- Die Here toon ook aan hoe tevergeefs en nodeloos hierdie soort van
oefening is, want dit bereik nie die hiernamaals nie.
- Trouens, dit sluit ons van die hiernamaals af.
Hierdie bestuurder het die skuldenaars een-een ingeroep. Hy het
besluit om met hulle vriende te maak, sodat hy na sy ontslag uit sy posisie
nog steeds op hulle goedheid kan teer. Daarvoor misbruik hy sy posisie weer
'n keer.
-
Die eerste ding wat hy doen, is om
weer bedrog te pleeg.
- Hy laat hulle hulle skuldbriewe (kwitansies) saambring en hy hoor
by hulle wat die bedrae is waarop hy aanvanklik met hulle ooreengekom
het.
- Daarna laat hy hulle verminderde bedrae invul.
- Hulle moet dit self doen en in hulle eie handskrif.
- Die bedoeling is dat, as daar
moeilikheid kom, die Besitter moet dink dat dit die huurders en
skuldenaars is wat die bedrae verander het.
Natuurlik was die skuldenaars dadelik baie beïndruk met hierdie nuwe
reëling - en vanselfsprekend sou hulle met hom groot vriende bly,
selfs nadat hy deur die besitter uit sy pos ontslaan is.
- Die Here Jesus wys daarop dat hierdie soort van beplanning net aards
gerig is - luister na die bestuurder se woorde:
...hulle my in hulle huise kan
ontvang...
teenoor
wanneer julle die lewe verlaat, hulle
julle in die ewige tente kan ontvang.
- Hierdie laaste verwysing is duidelik gerig op die ewige lewe.
Die Besitter het die bestuurder ingeroep en hom lof toegeswaai omdat
hy verstandig opgetree het teenoor mense van sy eie soort.
- Dit blyk dat die Besitter niks verloor het nie, want die bedrae wat
uiteindelik betaal is, was die bedrae wat aanvanklik betaal moes gewees
het.
- Die groot hoeveelhede wat afgeskryf is, is dit wat die bestuurder
elke keer in sy eie sak gesteek het.
Daar is 'n paar belangrike dinge waarop ons moet let om die
voorbeeldverhaal verder te kan verstaan.
- Die eerste is dat hierdie bestuurder verlore gaan: hy behou nie sy
werk nie en die Here noem hom enduit 'n onregverdige bestuurder.
- Die tweede is dat die Here daarop wys dat mense wat verlore gaan,
mekaar tydens hulle aardse lewe kan ondersteun en tegemoetkom.
- Die geslag van wêreldmense kan situasies uitbuit en voordeel
daaruit trek as hulle met mekaar saamwerk.
Dan kom daar so 'n groot versugting van die Here: Die kinders van die
lig lê nie teenoor hulle geslag (gelowiges) dieselfde verstandigheid
aan die dag nie. Sy presiese woorde is:
En die heer het die onregverdige
bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van
hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van
die lig. (Lukas 16:8 AFR1953)
Die Here het ons gemeente vanjaar al 'n halwe eeu in sy krag gedra en
beskerm.
- Dit was, in die terme van die gelykenis 'n tyd waarin ons ook moes
verhuur en rente vra, en sy kerk laat groei.
- Hierdie kerk sal ook eendag moet rekenskap gee van hoe ons kerk was,
en hoe ons die eer en lof van God verkondig het in ons eredienste, maar
ook hoe ons dit ons eie gemaak het wanneer ons daarmee die daaglikse lewe
in is.
Om seker te maak dat ons nie soos die ou monnike onsself wegsluit van
die lewe af en aan niks wil raak, smaak of proe nie, brei die Here Jesus
nou hierdie voorbeeldverhaal uit met enkele opdragte.
En Ek sê vir julle: Maak vir julle
vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe
verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang. (Lukas 16:9
AFR1953)
Aan die begin van hierdie preek het ek u daarop gewys dat die Here in
hierdie verhaal met woorde speel. Die woordspeling gaan by ons verby, omdat
ons Afrikaans praat, maar die mense wat na die Here gestaan en luister het,
het die woordspeling gesnap.
Die woord mammon is ook so 'n
woordspeling.
-
Mammon
beteken:
- Dit waarop jy jou vertroue stel; dit waarin jy glo.
- Uit hierdie grondbetekenis uit het dit die betekenis van geld
gekry, omdat mense soos die onregverdige bestuurder hulle geloof en
vertroue net op geld stel.
Die Here verwys na die bestuurder se optrede:
- Hy het vir hom vriende gemaak met mense op die manier waarop hy
mammon gebruik het en vir hulle afslag gegee het.
- Met dit as voorbeeld sê die Here vir die gelowiges dat hulle ook deur
mammon vriende moet maak - maar vriende met 'n ietwat ander
karakter as die bestuurder s'n: vriende wat hulle in die ewige woning kan
ontvang.
Meteens is dit nie meer moeilik om te verstaan wat die Here bedoel
nie.
- Ons moet 'n bepaalde lewensgerigtheid hê.
- Hierdie lewensgerigtheid moet die ewige lewe as eindproduk hê.
- Daarom moet ons verstandig teenoor die Here optree - ook met die
materiële middele wat die Here vir ons gee.
Uit hierdie verhaal is daar 'n paar reëls duidelik:
- Moenie oneerlik raak teenoor die Here wat jou as bestuurder oor sy
besittings aangestel het nie.
- Wees altyd eerlik en bestee en bestuur alles wat jy het dat die
Here die eer en die voordeel daarvan kry.
- Inhaligheid gaan maak dat jy jou eindbestemming uit die oog
verloor - vir 'n gierige mens draai alles om sy beursie
en hoe vol hy dit in hierdie lewe gestop kan kry.
- Moet nie mense verdruk en onderdruk as jy in 'n meerderheidsposisie
kom nie.
- Maak vriende met mense wat saam met jou die ewige lewe deel.
- Maak ook vriende met hulle op die manier waarop jy die onregverdige mammon hanteer.
Jesus was uiters gebalanseerd as dit by geld kom. Hy het gesê: Gee God
wat aan Hom toekom en die keiser wat aan hom toekom.
Die Here Jesus se kruis staan in hierdie optrede wat die Here van ons
verwag, sentraal.
- Hy het gesterf vir gelowiges wat in hulle beheer van fisiese middele
teen God oortree omdat hulle sonde hulle so sleg maak dat hulle later net
al hoe meer rykdom wil hê. Daarmee loop hulle uiteindelik die ewige lewe
by die Here mis.
- Hy het gesterf om mense wat so rykdom en aards gerig raak, weer terug
te draai, sodat hulle hierdie groter koninkryk buite hulleself kan sien
en liefkry en die Koning van hierdie ryk aanbid as hulle ewige Vader.
- Hy het gesterf sodat mense wat ander mense uitbuit kan verander en
met hulle vriende maak, sodat Hy hulle in sy koninkryk kan opneem.
Die Here Jesus beklemtoon die volgorde van belangrikheid:
- Voorop staan die koninkryk van God - dis ewig en blywend.
- Daarna kom mammon met alles wat hy bied - wat maar alles verganklik
is.
Ons kerk het die afgelope 50 jaar ook deur hierdie stryd gekom. Ons as
kerk en gelowiges sal in die toekoms steeds meer gekonfronteer word deur
geld en die dinge wat saam met geld gaan, soos status en gesag.
- Die boek Openbaring maak dit duidelik dat die magte wat aan die einde
van die tyd beheer in die kerk gaan oorneem, dit onder andere deur geld
gaan doen.
- Die Here sê mos dat gelowiges nie in die laaste dae sal kan koop of
verkoop nie. Hierdie ander magte sal die beheer hê oor al die geld.
- Gelowiges sal ook soos hierdie bestuurder gekonfronteer word om of in
volle eerlikheid en oorgawe die Allerhoogste God en Here te dien -
of om jou siel te verkoop aan die magte wat aards is en wat net hier
voorsien.
Let op dat die Here Jesus Christus die voorbeeldverhaal nie afsluit
met geld en bestuurderskap oor fisiese dinge nie.
-
Hy sluit dit af
met die uitspraak dat jy nie twee here kan dien nie: Ons kan nie
God en Mammon dien nie.
- Maar dan maak die Here Jesus tog 'n paar uitsprake waarmee Hy aantoon
dat jy kan weet of iemand die Here opreg en van harte dien -
jy moet net kyk na sy getrouheid t.o.v. aardse besittings. Kyk hoe doen
iemand dinge in hierdie lewe, en jy sal weet hoe lyk sy hiernamaalse
lewe:
- Die Here Jesus beklemtoon dit dat iemand wat nie eers met geld kan
werk nie, glad nie met die hemelse dinge sal kan werk nie.
- Hy wys daarop dat iemand wat nie betroubaar is met iemand anders se
goed nie, nooit toegang sal hê tot die Here se goed nie.
Soos alle mense staan ons gemeente in 'n siftingskrisis.
- In die vyftig jaar wat agter ons lê was daar fisiese magte wat kerke
sogenaamd beheer en beheers het.
- Kerke was vroeër sogenaamd beskerm deur die destydse regering.
- Daar was nog iets van dat kerkgang iets van jou karakter gesê
het - en dit was nogal belangrik vir ons promosie en ons
sosiale aansien.
Nou het hierdie deel van die lewe meteens onbelangrik geword.
- Daar het 'n regering gekom wat glad nie beïndruk word deur die
Christelike godsdiens nie.
- Godsdiens het geen openbare status meer nie, behalwe vir die ware
gelowige. Hy wil nog steeds in 'n warm en persoonlike verhouding met God
lewe.
Kyk net hoe reageer mense oraloor.
- Die wat nog nooit ten volle geglo het nie, raak net doodgewoon weg
uit die kerk.
- Ons kerkbesoek wys dit.
- Elke lidmaat kan sy eie posisie dus bepaal.
- Sal ons gemeente oor fyftig jaar nog bestaan? Die Here sê iets
ongunstigs van ons en ons tydgenote:
..want die kinders van hierdie wêreld is
verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig.
Hierdie saak sal moet verander: Ons kan bly voortbestaan, maar dan sal daar
'n groot bekeringsdaad oor ons beskik moet word.
- Ons gelowiges sal ons lewenswaardes in orde moet kry. Nie net teenoor
dinge soos geld nie - ook teenoor mekaar.
- Ons wat almal kinders van die lig is, sal by mekaar moet uitkom en
vriendskappe bou wat in die ewige huis eindig.
- Ons sal met verstand en met ’n getroue geloof saam moet bou aan dinge
wat vir die koninkryk van God belangrik is.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 25: 5, 7.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: Sondag 4 Februarie
2007 (oggend)