Christus kom weer! Verwag ons Hom? En hoe?
Lees: Lukas 17:20 -18:8
Teks: Lukas 18:6-8
Sing Ps
100:1,3
86:6
Skb. 33:2,3 Skb.43:5,6
Broeders en Susters, daar vind deesdae so baie ontstellende dinge plaas
dat ons nie eens meer aan die toekoms kan dink nie. Ons sien nie juis
lig in die tonnel nie.
Nou praat ons nie net van moord en roof en kapings en
verkragtings wat daaglikse gebeur nie, of van stygende
lewenskostes en petrol wat onbetaalbaar duur word nie. Dit ook, ja.
Maar dit wat ons veral onrustig maak, lê op die pad van ons
christelike geloofslewe.
Dit ontstel ‘n mens grenseloos om te hoor en te lees hoe sommige
teoloë daarop uit is om die Woord van die Here heeltemal
kragteloos te maak. Die Woord is mos nie meer volgens hulle die
onweerlegbare, onfeilbare, onveranderlike en volkome Woord van
God nie. Hulle beweer selfs dat die Here magteloos staan teenoor die
mens.
En dan is alle media tot hulle beskikking gestel om hulle valse
leerstellinge te verkondig: die radio, die TV, koerante en selfs
kerklike tydskrifte.
Die ergste is dat hulle al talle mense - gelowiges - verwar en
met hulle saamsleep op die dwaalweg. En hulle werk met ywer en spoed.
En dit ontstel ‘n mens. Hoe gaan ons as kerk bly voortbestaan teen
hierdie verwoede aanslae? Dan word ‘n mens later moedeloos, want dit
lyk of dit vorentoe al donkerder word.
En dit is presies wat die duiwel wil hê. Ons moet nie meer ‘n
toekomsverwagting hê nie; ‘n verwagting op die wederkoms van die
Here nie. Trouens dit is mos wat dié selfvoldane
teoloë wat hulleself christene noem, ook verkondig: “Jesus het nie
uit die dood opgestaan nie! Daarom sal daar ook nie ’n wederkoms
plaasvind nie.”
Maar nou kom Jesus in hierdie gedeelte wat ons gelees het en Hy
verseker ons dat Hy weer sal kom.
Hy gaan nog verder. Hy wil nie hê dat ons ons so moet
ontstel oor dinge wat ons vandag belewe nie. Die dinge moet
gebeur. Hy sê: Hulle sal kom met voorstellings van valse
Christusse: “Kyk , hier is Hy!” of
“Kyk, daar is Hy .” Dít hoor ons ook vandag van daardie
teoloë.
Maar Jesus sê: “Julle moet nie
agter hulle aangaan nie.“ Voor Sy wederkoms sal dit gaan soos
in die tyd van Noag en in die tyd van Lot toe alles skielik
uitgewis en vernietig is, as voorspel vir die wederkoms van
Christus.
En toe vra Jesus se dissipels vir Hom (vers 17:37):
“Waar
Here? Waar sal hierdie oordeel plaas vind met U wederkoms?
Toe gee Hy vir hulle ‘n eienaardige antwoord:
“Waar
die aas lê, daar sal die aasvoëls bymekaar kom”.
Hiermee bedoel Hy na regte: Waar, of liewer wanneer die
toestand in die wêreld ryp geword het vir die oordeel
van God, dan kom Ek om te oordeel.
Dit wil sê wanneer hierdie wêreld a.g.v.die toenemende
goddelosheid volkome verrot geword het vir God se oordeel, dan sal op
daardie dag, skielik en onverwags , die wederkoms plaasvind om te
oordeel, net soos in die tyd van Noag en van Lot. Die goddelose
wêreld moet dus eers ryp word in sy goddelosheid vir die oordeel
van God. Ons weet dus nie wanneer dit gaan gebeur nie. Ons belewe egter
hoe hierdie goddelose wêreld besig is om ryp te word vir
die Here se finale oordeel.
Broeders en susters, dit wat vandag gebeur maak aan ons bekend: Jesus
is op pad. Sy koms is voor die deur.
Maar nou: verwag ons Hom nog elke dag? En hoe verwag ons Hom?
Ons beoefen ons godsdiens miskien daaglikse. Die meeste van ons bid
miskien elke dag. Ons kom Sondae miskien gereeld kerktoe. Maar watter
plek neem die wederkoms van Christus in ons godsdiens en in ons lewens
as gelowiges in? Verwag ons Hom nog elke dag?
Meer nog, bid ons nog soos daardie eerste Nuwe Testamentiese gemeentes
soos ons in Openbaringe 22 lees:
Kom
Here Jesus, kom gou!
Of soos dit van die gelowiges in Tessalonika geskryf word dat
hulle hulle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en
ware God dien terwyl hulle Sy Seun wat Hy uit die dood opgewek
het, voortdurend uit die hemel verwag ? (1 Tess 1:10)
Broeders en susters, ‘n godsdiensbeoefening sonder om die Here elke dag
biddend te verwag, is ‘n halwe godsdiens. Só ‘n
godsdiensbeoefening is net tydelik, aardsgerig en dit het sy
ewigheidsbetekenis verloor. Dit is niks anders as 'n halfhartige en
daarom valse godsdiens nie.
Jesus se opstanding, hemelvaart, heerskappy vanuit die hemel en Sy
wederkoms, is 'n eenheid. Alles wys op Sy koninklike heerlikheid en
heerkappy. As ons Sy wederkoms uit hierdie ketting van Sy koninklike
heerlikheid sou uitsluit, dan sal dit met ons maar ellendig gaan in ons
geloofslewe.
Luister wat Jesus self hiervan sê in Lukas 18:8:
"Maar
sal die Seun van die mens met Sy koms nog geloof op die aarde vind?
Jesus laat hierdie vraag egter in die lug hang. Waarom? Omdat dit 'n
dringende vraag is waarop ons as gelowiges self 'n antwoord moet gee.
Met hierdie vraag koppel Hy ons geloof aan Hom direk aan Sy
wederkoms.Daar het nou al soveel eeue verby gegaan sedert daardie dag.
En Hy het nog nie gekom nie. Daarom gebeur dit dat mense kan verslap in
hulle verwagting op Sy koms. Mense verwag Hom nie meer elke dag uit die
hemel nie. Vir baie gelowiges het hierdie verlossingsdaad na die verre
toekoms verskuif. Baie ander dink nie eens meer aan daardie dag
nie. Hierdie dag, wat so 'n daaglikse werklikheid moet wees, het ons na
daardie dag, eendag, verskuif. En dit is verkeerd.
Met dié vraag bedoel Jesus nie dat daar met Sy wederkoms geen
gelowiges op aarde sal wees nie. Daar sal nog wees, natuurlik!
Hy stel die vraag om ons te laat besef hoe 'n belangrike plek ons
verwagting op Sy wederkoms in ons geloofslewe moet inneem. 'n Geloof
sonder verwagting op Sy wederkoms, is 'n dooie geloof, 'n geloof sonder
sekerheid op ons toekoms.
Daarom gee die Here by monde van Paulus vir ons die regte antwoord op
hierdie vraag van Jesus in Romeine 15:13:
"Mag
God die bron van hoop julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede
vervul sodat julle hoop - ons hoop op die wederkoms van Christus - al
hoe sterker word deur die krag van die Heilige Gees."
Om ons te leer dat ons nie moedeloos moet word omdat Hy so lank
talm om te kom nie, vertel Jesus 'n gelykenis. In hierdie
gelykenis gaan dit oor 'n weduwee. Sy het 'n probleem omdat skelms haar
huis en haar besittings op 'n skelmagtige wyse probeer onteien. Dit is
dus 'n kwessie van kwaadwillige uitbuiting.
Sy gaan toe na die regter van die stad. Hy moet sorg dat reg
geskied.Maar hy was sommer 'n bullebak. Hy het geen ontsag vir God
gehad nie. En hy het geen mens ontsien nie.
Die ongelukkige weduwee het na hom gegaan, nie om gunste en gawes nie.
Sy het verwag dat reg moet geskied, want daavoor is hy mos 'n
regter.Maar die bullebak van 'n regter reageer nie eens op haar versoek
nie. Hy maak asof sy nie eers bestaan nie.
Die weduwee het haar egter nie deur die regter se onbeskofte houding
laat afsit nie. Sy het weer en weer met dieselfde versoek na hom
toe gegaan.
Haar besliste en aanhoudende versoeke het op die ou end die regter laat
besef dat sy nie moedeloos sal word nie. Uiteindelik het hy toe maar
aan haar versoek toegegee.
In verse 7 en 8 pas Jesus hierdie gelykenis toe op ons as gelowiges in
ons gebedsverhouding met die Here, juis met die oog op die
wederkoms van Christus.
Die onregverdige regter het eindelik aan die weduwee se versoek
toegegee.
Dan sê Jesus in vers 7: "Sal God dan nie aan Sy uitverkorenes reg
doen wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle
geval?"(o.a.v.)
Die vraag is nou: Wat bedoel Jesus as Hy sê dat God lankmoedig
teenoor Sy uitverkorenes is?
Is Hy dan ook soos hierdie regter? Hy laat dan toe dat Sy uitverkorenes
al vir eeue by hom smeek om die vervulling van Sy beloftes oor die
wederkoms sonder om daarop ag te slaan?
Trouens, Jesus sê self in 17 :22 hoe dat die uitverkorenes
se gebedsmeking onbeantwoord bly:
"Daar
sal dae kom dat julle daarna sal verlang om net een van die dae die
Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie."
Dit beteken: daar sal dae van ontsettende benoudheid en verdrukking kom
oor die uitverkorenes. Hulle sal smekend bid en met versugting verlang
na die dag van die afrekening wanneer die oordeel van die Here volkome
voltrek sal word. Maar daardie dag sal nog nie aanbreek nie. Dit sal
voorkom asof God nie aggee op die gebedsmekinge van Sy kinders nie.
Dan gebeur dit dat ons as gelowiges begin twyfel oor die wederkoms van
Christus. Dit help nie om langer tot God te bid dat daar aan ons
reg moet geskied nie. Inteendeel, die kwaad en onreg word al hoe erger.
En, broeders en susters, is dit nie alreeds met ons die geval nie? Deur
die eeue heen, veral in die tye van groot verdrukking is daar met
trane gebid dat die Here tog moet kom om reg te laat geskied.
Maar die eeue het gekom en gegaan, en Hy het nie gekom nie.Hou die Here
Hom dan doof vir Sy uitverkore kinders se smekinge?
Nee, hoegenaamd nie. Die Here is nie soos daardie onregverdige regter
nie.
Die vergelyking in die gelykenis lê daarin dat die regter
op die ou end tog toegegee het aan die versoeke van die weduwee, hoewel
teen sy sin. Hierdie vrou het nie moedeloos geword nie. Sy het enduit
volhard.
Nou sê Jesus: "Nog veel eerder sal God diégene verhoor wat
aanhou om tot Hom te smeek in hulle gebede."
Hy is immers ons barmhartige en liefdevolle Vader. Hy sal ons nooit
eenkant toe stoot nie, want ons is vir Hom kosbaar. Natuurlik nie uit
onsself nie, maar op grond van Sy verkiesende liefde.
"Want
kyk watter liefde die Vader aan ons bewys het. Hy noem ons sy kinders
en ons is nou reeds Sy kinders."(1 Joh. 3:1)
So oneindig groot is Sy liefde vir ons dat Hy ons, toe ons nog
sondaars en vyande van Hom was, losgekoop en verlos het uit ons
sondedood deur die bloed en lyding van Sy geliefde Seun, Jesus Christus
aan die kruis.
Ons wat almal Satansaanbidders moes wees, het Hy bevry uit die mag van
Satan met Christus se volkome offer aan die kruis en Sy oorwinning oor
Satan toe Hy as oorwinnaar uit die dood opgestaan het.
Natuurlik verhoor ons Vader ons gebede. Maar as Hy nie onmiddelik doen
wat ons vra nie, het Hy 'n doel daarmee. Jesus sê dit uitdruklik:
"Ons Vader hoor ons smeekgebede, maar Hy is ook lankmoedig teenoor ons.
Dit wil sê Hy kan nie nou aan ons smeekbede beantwoord nie. Met
ander woorde, die tyd is nog nie ryp vir die wederkoms van Jesus nie.
Maar wanneer sal die tyd dan ryp wees? Ons kry die antwoord in die 2e
brief van Petrus (hfst. 3:9) : "Die Here stel nie die vervulling van Sy
beloftes uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is lankmoedig teenoor
ons, want Hy wil nie hê dat sommige verlore moet gaan nie.
Dit beteken dat ons en hulle wat na ons kom nog baie bekeringswerk het
om te doen. Geeneen van Sy uitverkore kinders mag verlore gaan nie. Die
genadewerk wat die Here in Jesus Christus begin het en steeds voortsit
deur die Heilige Gees en verkondiging van die Woord, moet eers voltooi
word.
Jesus sê dit self in Matt. 24:14 :
"Hierdie
evangelie sal in in die hele wêreld verkondig word sodat al die
nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom."
Die wederkoms sal nie plaasvind voordat die laaste uitverkore kind van
die Here gebore is nie.
En tog laat die Here ons nie in onsekerheid wag op die vervulling van
Sy beloftes nie. Inteendeel, deur die Heilige Gees het die Here in ons
kom woon. En volgens Efesiërs 1:14 lees ons:
"Die
Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God
belowe het, wanneer Hy almal wat aan hom behoort volkome sal verlos."
Dit is met die vervulling van die belofte oor die wederkoms.
Daarom sê Jesus dat God gou aan Sy uitverkorenes reg sal doen.
Wanneer die goddelose wêreld ryp geword het in hulle
goddeloosheid, dan oordeel God onmiddelik.
Ons, aan die ander kant , wat elke dag biddend volhard het met
verwagting op die koms van Jesus, sal op daardie dag ons Saligmaker en
Verlosser met ongekende vreugde tegemoet kan gaan.
Maar omdat ons nie weet wanneer daardie dag sal kom nie, bemoedig die
Here ons deur die gelykenis om altyd elke dag biddend op Hom te wag.
As ons in ons gebede volhard en biddend ons Here Jesus elke dag verwag,
lewe ons deur ons gebede in gemeenskap met die Here. Hy is immers die
bron van ons hoop op die koms van Jesus Christus. En deur die krag van
die Heilige Gees sal ons verwagting en hoop op die wederkoms net al hoe
sterker word, ten spyte van toenemende verdrukking wat ons hier op
aarde moet verduur.
Ons Here Jesus Christus kom weer. Dit is verseker. Hy is ons enigste
sekere toekoms. Laat ons Hom dan elke dag biddend verwag terwyl ons God
in alles dien deur gehoorsaam aan Sy wil te wees. En laat ons
mekaar in hierdie neerdrukkende tye voortdurend daaraan herinner: "Die
Here kom!" Dan sal die dag van Sy koms vir ons net ware vreugde en
ewige vrede by God vir altyd wees.
Amen
Ds. H.P.Prinsloo
Bellville
20/04/2002