Sing vooraf: Psalm
11:1; Psalm 31:1, 17.
Ons begin hierdie ontmoeting met
God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van
die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
68:9
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid vir ‘n nuwe lewe met Ps. 19:4
Wet
Psalm
19:4.
Gebed.
Psalm 144:1.
Skriflesing:
Lukas 18
Teks:
Lukas 18:8
Ek sê vir julle dat Hy
gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy
wel die geloof op die aarde vind? (Lukas 18:8 AFR53)
Die
gedeelte handel duidelik oor die wederkoms en die situasie wat daar op
daardie oomblik tussen die Here Jesus en die mense wat dan nog op die
aarde lewe, gaan wees.
- Wat baie
belangrik is vir die verstaan van hierdie gelykenis, is dat ons moet
onthou dat die Here met sy kerk praat en hulle in die gelykenis
aanspreek oor die manier waarop hulle glo.
- Die
Here het die erns van die saak al in die vorige hoofstuk aangespreek
toe hy gesê het:
En soos dit gebeur het in die dae
van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die
mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou
en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan
het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos
dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en
gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar
op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel
af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in
die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word. In
daardie dag moet hy wat op die dak sal wees, terwyl sy huisraad in die
huis is, nie afkom om dit weg te neem nie; en so ook moet hy wat op die
land sal wees, nie omdraai na wat agter is nie. Dink aan die
vrou van Lot! Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit
verloor; en elkeen wat dit verloor, sal dit behou. Ek
sê vir julle: In daardie nag sal daar twee op een bed wees;
die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue
sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat
word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die
ander verlaat word. En hulle antwoord en sê vir
Hom: Waar, Here? En Hy sê vir hulle: Waar die liggaam
lê, daar sal die aasvoëls saamkom. (Lukas
17:26-37 AFR53)
- Die
aanspraak is baie baie diep: glo jy werklik
volhardend? Die
gelykenis keer mense om net sommer “ja” te
sê, want die Here openbaar dat die erns van jou geloof ten
toon gestel word deur die erns en die volharding van jou gebedslewe.
Hoe
volhardend bid ons?
- Bid en
geloofsgetrouheid gaan hand in hand.
- Elke mens
wat ‘n diep verhouding met die Here het, is ook gereeld met
die Here in gesprek.
Vertrou ons werklik die Here?
- Dis
nie ‘n retoriese vraag nie, want as jy die Here met jou lewe
vertrou, dan sal jy ook met jou nood na die Here toe gaan.
- Dan
sal jy weet dat die Here gebede verhoor en dat Hy alles wat ons nodig
het, voorsien.
- Ons vertroue in die Here
– of ons geloof - word sigbaar vertoon in
ons gebede en die manier waarop ons bid.
Dit is
presies wat hierdie gelykenis leer. Dit is ‘n gelykenis wat
vol kontraste is, sodat die waarheid juis deur die kontraste uitgelig
word.
Die Here Jesus het pas voor die tyd
‘n vraag van die Fariseërs geantwoord waarin Hy
gesê het dat niemand weet wanneer die wederkoms is nie, want
ons kan dit nie met allerhande tekens en dinge vasstel nie.
En toe Hy deur die
Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het
Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie
met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk
hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle. (Lukas
17:20-21 AFR53)
Nou gaan die Here
Jesus verder en Hy bemoedig die ware gelowiges dat hulle nie moet moed
verloor nie.
- Hy gee ook die resep vir
volharding: Bid. Bid. En hou aan bid.
- Die
saak verduidelik die Here nou met die gelykenis van die weduwee en die
onregverdige regter.
- In die gelykenis hou die
weduwee aan om haar saak by die regter te gaan voordra
- totdat sy verhoring kry.
Die
punt wat die gelykenis maak, is dat die Here op die regte tyd en op die
regte manier gebede verhoor.
- Op sy tyd
laat sy regspraak die verkeerde magte en alle boosheid in duie stort.
- Met
dieselfde daad van oordeel en regspraak maak hy sy uitverkorenes
regverdig en laat hulle in sy koninkryk triomfeer.
So
loop die volharding van die gebed - wat niks anders
is nie as volharding in ware geloof en in lewende gemeenskap met God
- uit op ons opneming in die koninryk van God.
In
die gelykenis staan die regter in baie skerp teenstelling met die Here.
- Die mense wat na die gelykenis gestaan
en luister het, het immers eerste daaraan gedink dat die (enige) regter
tog namens die Here moet optree.
- Daarom moet hy
ook die wil en die styl en die beeld van die Here vertoon.
Die
regter het twee gebreke:
- Hy het nie die
reg van God in sy gedagte nie
- En hy stel ook nie in
die welsyn van diegene oor wie hy regspreek belang nie.
In
teenstelling tot die regter is die Here heeltemal anders.
- Die
Here is ons hemelse Vader wat in sy heiligheid regverdig is in
letterlik alles.
- Hy dra die welsyn van die wat Hom
in gebed aanroep op die hart.
‘n
Volgende kontras in die gelykenis kom na vore in die weduwee en haar
persoon.
- Sy is vir die regter
‘n onbekende.
- Sy hou ook aan smeek by
iemand (die regter) wat nie na haar wil luister nie.
In
skerp kontras met haar bid ons vir ons behoeftes by ‘n
liefdevlle God wat ons wil hoor en wat werklik vir ons omgee.
- Hy
is ook God wat persoonlik met ons omgaan - wat
beteken dat Hy ons almal ken.
- Hy verhoor ook ons
gebede, want Hy weet presies wie ons as sy uitverkorenes is.
Hy het dit self vasgestel (Efesiërs 1:4).
Op
die punt openbaar die Here die verskil tussen sy genade en die
toegewing van ‘n mens.
- Die
vrou se gekerm by die regter maak dat hy uiteindelik haar saak behartig.
- Maar
hy doen dit nie uit genade nie. Hy doen dit omdat hy
geïrriteerd is en omdat hy die irritasie uit sy lewe wil
uitkry.
- Hy wil vrede kry, want die vreemde vrou se
gekerm krap sy hele program om.
Teenoor
hierdie regter, openbaar die hemelse Regter Homself as
genadig: Hy verhoor ons gebede uit liefde.
- Hy
verhoor ons nie omdat ons Hom irriteer en dan Hy verhoor Hy uiteindelik
maar ons gebede om tog net van ons ontslae te raak nie.
- Hy
vergewe sondes en dien ons saak omdat Hy ons liefhet.
- Hy
oorweeg nie ons waardigheid of onwaardigheid as grond vir verhoring van
ons gebede nie.
Die gelykenis openbaar dan dat die
Here op ‘n punt wat Hy vasstel hierdie aarde se geskiedenis
tot ‘n finale punt bring .
- Dit
gebeur wanneer Hy weer kom.
- Dit is ‘n
oomblik van geweldige erns en lewens en doodsbeslissing
- dan gaan dit vir elke mens oor die ewige verlossing of die
ewige dood.
Wat sê die gedeelte vir
ons? Dit:
- Glo ek en jy
volhardend in Jesus Christus die Seun van die lewende God.
- Aanbid
ek en jy Hom met volgehoue geloof en omgang met Hom as jou enigste
Verlosser?
Verstaan ons nog dat ons as gevolg van
ons sondes nie toegang na God toe gehad het nie, maar dat die kruisdood
juis die geweldige versoening tot stand gebring het dat
- ons
as God se uitverkore kinders na Hom toe mag gaan met ons nood
- en
dat ons na Hom toe moet gaan om Hom te aanbid?
- Dit
is kortweg die betekenis van die voorhangsel wat geskeur het.
Nog
meer dinge gaan daarmee saam.
- As ons
dit verstaan, waarom bly ons so maklik van afsprake met die Here af
weg?
- Is jy werklik ‘n gelowige as die
Here met jou ‘n afspraak het om jou te seën en jou
te onderrig uit sy Woord en jy is net nie daar nie?
U moet nie
die vraag teenoor die dominee antwoord nie. Jy moet
vir die Here gaan sê watter regsgronde jy in sy reg vind wat
jou die vrymoedigheid gee dat jy byvoorbeeld maar van die tweede diens
af kan wegbly - terwyl Hy die afspraak met jou
gemaak het.
Die
feit is dat ons die Here vir baie dinge terugskuif, terwyl ons probeer
voorgee dat ons ernstige en opregte gelowiges is.
‘n
Voorbeeld uit ons praktiese lewe vertel die volgende verhaal:
‘n Onlangse opname het vasgestel dat die meeste wit
huishoudings ‘n DSTV aanhou. Dit kos meer as R300
per maand. Dieselfde groep kyk ongeveer vier uur per dag TV.
Vraag:
- Is dit nie so dat heelwat van ons
lidmate wat DSTV geriewe het, se kerklike bydraes minder is as dit nie?
- Kan
jy ontken dat so-iets dit duidelik maak dat jou verhouding met die Here
heeltemal uit balans is as jy dit meet aan jou verhouding met die
wêreld?
Ons kan nie eenvoudig net beweer
dat nieteenstaande hierdie feit ons aanbidding nog op
standaard is nie!
- Het ons nie met baie
meer van ons redenasies al so vervlak in ons geloof dat ons
die Here nie meer werklik ken nie?
- As die Here nou
kom, hoeveel van ons wat hier saam is gaan deur Hom gesien word as ware
gelowiges?
- Hoeveel van ons gaan dan nie die voorreg
hê om met allerhande kwinkslae en slim redenasies onsself te
verweer nie, doodgewoon omdat sy heiligheid ons met al ons ingebore
valsheid voor sy oë gaan wegvee in die hel in!?
Hoe
lyk die gemeente se profiel?
- Die
gemeente is ryk aan venyn, terwyl ons nie ryk aan venyn behoort te wees
nie, maar ons behoort mekaar voor te gaan in eerbetoon. Dit
is tog wat ware liefde is.
- Ons is ryk aan
slapheid. Ons moet ons slapheid afgooi en erns maak met die
dinge van God se koninkryk.
Nou lyk elke tugtiging of dit op
die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van
droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van
geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die
slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak
reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak
nie, maar liewer gesond gemaak word. Jaag die vrede na met
almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; (Hebreërs
12:11-14 AFR53)
- Ons is ryk
aan baie verskonings want elkeen van ons dink in ons verwaandheid dat
ons baie uniek is en ‘n uitsondering op die Here se
reël. Laat ons nie in dieselfde versoeking as die duiwel val
nie - vir hom is daar geen verlossing ooit moontlik
nie.
Die uitspraak van die Here mag dalk wees dat
Hy in hierdie gemeente ‘n groot getal gekamoufleerde heidene
bymekaar sien:
- Sien Hy nie dalk
‘n hele aantal mense wat met hulle naweekreëlings en
skerp tonge en hulle eie selfhoogskatting hulleself aanbid
- maar net om die Here te paai, staan sy Naam op
hulle kerk se hoeksteen geskryf.
- Mense met
leë harte vir die Here maar met vol lewens in die
wêreld.
Waarom sal die Here baie van die
lidmate van die gemeente anders sien?
Ons weet
dat Christus al hierdie dinge wat die verval en afval in die kerk
raak, vooruit gesê het. Dit moet gebeur.
- Maar
laat ons ag gee op onsself en op mekaar.
- Kom ons
sorg dat ons tot die regte selfkennis kom, sodat ons nie in die genade
van God veragter nie.
- Laat ons ter wille van ons
eie saligheid die Woord van die Here nie verag nie, maar die
geleenthede benut om dit te hoor en daarvoor te buig.
- Kom
ons maak seker dat ons in ons naweekreëlings nie die
onderlinge byeenkomste met God en met mekaar versuim nie.
- Laat
ons ons tonge t.o.v. mekaar in toom hou, want ons sal van elke ydele
woord rekenskap moet gee by Sy wederkoms.
Daar is
nie meer baie tyd oor op die Here se horlosie nie.
- Maar
ons lewe nog en dit beteken Hy gee ons nog tyd vir bekering.
- Miskien
moet ons as gelowiges elkeen op sy eie, maar ook as gemeente saam
rondom God se tafel gaan sit en van voor af vra wat die Here van ons in
ons aanbidding verwag.
Daar is nog tyd
vir bekering - grondige bekering.
…as die Seun van die
mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
130:2, 4
Die genade van die Here Jesus Christus en die
liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 18 September 2005 (oggnd)
Naskrif:
Sekeres van die
Skrifverklaarders meen dat hierdie gelykenis verwys na ‘n
buitelandse regter wat deur Herodes Antipas aangestel sou kon wees.
- Die soort van aangestelde regter
waarna die gelykenis verwys was in daardie dae algemeen bekend as
korrupte mense.
- Hulle het uitsluitlik hulle
regspraak beoefen volgens die omkoopgeld wat hulle gekry het.
- Hulle het ook in die omgangstaal
bekend gestaan as “rower regters” (robber judges).
Die Jode self sou nie
‘n regsaak op hierdie wyse hanteer het nie.
- Hulle sou so ‘n saak
na hulle ouderlinge toe geneem het om dit te hanteer.
- As die ouderlinge die saak moes
arbitreer, moes dit deur drie mense gedoen word:
- een wat deur die klaagster
aangewys word
- een deur die persoon wat die
saak verdedig
- en dan was daar ‘n
derde persoon wat onafhanklik aangewys moes word.