Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1, 11
Gebed
Psalm 86:6
Skriflesing:
Lukas 1:26-36
Teks:
Lukas 1:32; Kategismus Sondag 13
Hy sal
groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die
Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee.
Hy sal groot wees, sê die engel. Niemand kon presies weet hoe
groot en magtig Jesus sou wees nie. Net die Vader het dit geweet.
- Omdat dit aan ons
geopenbaar moes word, stuur die Here dan die engel om dit aan Maria te
gaan vertel.
- Tog het dit nie so
gelyk nie. Hy kom soos ’n buite-egtelike kind in ons wêreld in,
want sy moeder verwag Hom voordat sy getroud is. Jesus word in die
grootste armoede gebore. Hy gaan nederig deur sy hele lewe.
Dit is egter nie waaraan sy grootheid gemeet kan word nie. Jesus se
grootheid bestaan daarin dat Hy ten spyte van al hierdie dinge die Seun
van God is. Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word, sê
die Bybel.
Dis belangrik, want ons aanbid Hom as God, omdat Hy die Seun van God
is. As Hy nie die Seun van God is nie, het Hy ook nie die mag om ons
kinders van God te maak nie. Vandaar sy Naam: onse Here!
Die grootheid van Christus bestaan in twee dinge:
1. In sy
Seunskap van God
2. In sy
heerskappy as God
1. In sy
Seunskap van God
Ons Kategismus begin hierdie dinge ondersoek met die vraag: Waarom?
Waarom word Hy die eniggebore Seun van God genoem? Waarom noem jy Hom:
onse Here?
Kom ons vra eers: wat is die mees primêre ding in ons geloof? Dan
antwoord ons: dit dat ons God as
geweldig groot in sy almag beskou en
dat ons Hom daarvoor aanbid.
- Hy het die hemel en
die aarde geskape, en Hy onderhou alles tot vandag. Dit is nou sover
dit die natuur aangaan.
- Vir ons het die Here
nog meer en beter voorsiening gemaak as vir die natuur.
- Hy groepeer ons almal wat aan Hom
behoort saam in sy kerk. Hier leer Hy ons sy liefde en genade.
- Hy het ons so lief,
dat Hy sy Seun stuur om ons sondes met Hom te versoen. Dis waarom
Christus moet kom sterf, en dis ook hoe dit gebeur dat ons weer kinders
van God word. Anders gestel: ons word lede van sy liggaam.
Maar
almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders
van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; (Joh. 1:12 AFR53)
Dit is groots. Dit beteken vir ons die ewige lewe.
- Dit beteken minder
spanning in my lewe, want spanning en dood is nie die einde nie. Dit
neem die spanning van vernietiging van ons af weg.
- Dit gebeur alles
deur Jesus Christus wat so groot is dat Hy bo alle dinge is.
Die grootheid van Jesus Christus as die Seun van God is tog baie
duidelik in hierdie geweldige almagsdaad. Dit is die betekenis van
Jesus se Seunskap.
Ons is ook kinders van God, maar anders as Jesus Christus.
- Hy is die eniggebore
Seun van God. Hy is die Seun van God op so ’n manier as wat geen mens
dit kan wees nie.
- Hy is die enigste
natuurlike Seun van God. Die Heilige Gees is sy Vader. Hy het Maria
oorskadu, sodat sy Jesus kon hê. Nie een van ons word so ontvang
nie.
- Ewige Seun beteken
dat Jesus van ewigheid tot ewigheid die Seun van God is. Ook voordat Hy
op die aarde gebore was.
- Jesus was ook
teenwoordig by die skepping. Lees maar die Evangelie volgens Johannes
hoofstuk 1.
- Daar staan geskryf dat Jesus van
die begin af by God was, en dat Hy self ook God was.
- Daar staan ook dat alle dinge wat
bestaan, deur Hom ontstaan het, en dat daar niks is wat bestaan wat Hy
nie tot stand laat kom het nie.
Daar is ’n verskil om die natuurlike Seun van iemand te wees en om sy
ewige Seun te wees.
- Jesus is God se
natuurlike Seun en sy ewige Seun. Ons is God se kinders deur die bloed
van Jesus Christus.
- Ons kindskap van God
verskil ook in hierdie opsig van Jesus se kindskap, want ons het nie
van ewigheid af gelewe nie, en ons het ook geen aandeel gehad in die
skepping nie.
- Ons is saam met die skepping
geskape.
- Nadat ons geskape is, kon ons nie
’n heilige verbintenis met God onderhou nie. Spoedig was daar die vlek
en die smet van die sondeval oor ons.
- Toe was ons nie meer kinders van
God nie. Die Seun van God moes ons eers weer terugbesorg en op
dié manier weer kinders van God maak.
Jesus kon dit doen omdat Hyself God is. Hy is nooit geskape soos ons
nie. Hy bestaan van ewigheid af en daar is geen mag wat teen Hom iets
kan doen nie. Daarom het Hy ook die mag gehad om ons vry te maak van
die besitreg van die satan.
2. In sy
heerskappy as God
Die grootheid van Jesus Christus se Seunskap is dat Hy die eie Seun van
God is, maar dat Hy terselfdertyd ook God self is.
- Ons is aangenome
kinders van die Here, en daarom dra ons ook die letsels daarvan. Ons
het die natuur van ons aardse ouers – vol sonde en ongeregtigheid. Ons
is afhanklik van die vergifnis van ons sondes om in die hiernamaals by
God te kan wees.
- Jesus is weer anders.
- Hy het nie vergewing van sondes
nodig nie, want Hy leef heeltemal volmaak en sonder sondes.
- Daarom bly Hy ook die Seun van
God, terwyl ons dit eers weer gemaak moet word.
- Omdat dit dan geskied deur die
Godheid van Christus moet Hy ook deur ons aanbid word. Dit vereis
natuurlik onderskeiding en balans in jou geloof en in jou aanbidding,
want jy moet die drie Persone van die Godheid gelyklik aanbid.
Deesdae is daar talle godsdiensstrominge, waarvan sommiges nogal baie
gewild is ook, waar die Godheid van die Here Jesus in gedrang kom.
- Daarom bly die toets
vir die ware godsdiens dat alle godsdienste daaraan gemeet moet word of
hulle die Drie-Enige God in al sy Persone gelyklik aanbid.
- Wanneer enige
Persoon van die Godheid minder aanbid word, is dit ’n gebrek want die
Vader het ons verlossing beplan; die Seun Jesus Christus het dit bewerk
en God die Heilige Gees bewerk die geloof en ook die saligheid in
elkeen van ons.
Voorbeelde is:
- By die Jehova se
Getuies word die Godheid van Christus en ook die Godheid van die
Heilige Gees geloën en nie gelykgestel met dié van die
Vader nie.
- By ander
geloofsgroepe, soos die Pinksterkerke, word die werk van die Heilige
Gees, en die gawes, soos wonders en tale, weer oorbeklemtoon.
Op die getuienis dat Jesus Christus die Seun van die lewende God is, en
op die openbaring daarvan deur die Heilige Gees, bou God sy kerk.
- Die kerk is
natuurlik die uitverkorenes op die aarde.
- Op ’n ander plek
word die kerk ook die liggaam van Christus genoem.
Die liefde van die Vader en die kragtige werk van die Heilige Gees hang
dus vir ons saam met ons geloof in die ware Seunskap van Jesus Christus.
Wie die Seunskap van Christus loën, word iemand sonder God – en
dus iemand sonder hoop.
- Dit gaan dus hier
inderwaarheid oor die heerskappy van Christus.
- Hy stuur die Heilige Gees.
- Hy regeer ons ook so dat ons vry
mense word.
- Hy regeer ons ook daarin dat Hy
in ons dood vir ons die lewe voorsien, want Hy maak vir ons plek by die
Vader gereed. Daar word elkeen van ons ontvang wanneer ons uit hierdie
aarde verhuis.
- Die heerskappy van Christus gaan
ook daarin oor ons uit dat Hy ons daadwerklik van gevaar beskerm. Nie
net geestelike gevare, soos die aanvegting van die duiwel en sielestryd
en twyfel nie. Hy beskerm ons ook in fisiese gevare.
Dit is so dat Jesus die duiwel toelaat om ons te beproef, maar dis net
so waar dat die duiwel geen grens kan oorskry wat God hom oplê
nie.
- Die duiwel kan ons
dus nie mateloos beproef nie.
- Net so bewaar die
Here ons ook fisies. Telkens is ons in gevaar, maar ons kom daaruit met
die behoud van ons lewe. Ons word byvoorbeeld van siekte bewaar, en
weer genees as dit oor ons gekom het.
Ons ken die grootheid van Christus se regering oor ons in al die
seëninge wat oor ons kom.
- Laat ons maar eerlik
wees en erken dat ons almal al iewers op ’n punt gekom het waar ons
gedink het dat ons nie meer verder kan gaan nie. Plekke waar ons lewe
vir ons maar baie donker gelyk het.
- En dan het ons tog
weer later op ’n punt gekom waar ons kon terugkyk en besef dat die Here
ons ook daardeur gebring het.
Ken u die Seun van God wat al hierdie welvaart aan u besorg? Baie
van
ons leef ons godsdiens so leeg uit. So soos ’n eenrigtingstraat. Ons
ontvang van die Here so veel, en ons gee so swaar terug – as ons
teruggee. Ons praat en beplan alles in ons lewe net rondom onsself,
want baie keer beskou ons dinge wat ons deur Jesus Christus ontvang as
ons reg, in plaas van as genade.
Ons moet soos die Psalmdigter die eer aan die Here gee:
Ek sien al vorste ryk en magtig,
wat buigend voor Hom staan,
en al die nasies wat eendragtig
hom dien as onderdaan.
Want Hy sal die verstotelinge
dié wat geen helper het –
die stilverloorne en geringe –
sal Hy verhoor en red.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 17-2:3, 4
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 3 Oktober 2004 (aand)