Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 18:1, 6.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 106:2
Gebed.
Psalm 4:1.
Skriflesing: Lukas 3:1-22
Teks: Lukas 3:14
En die
soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En
hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers
nie; en wees tevrede met julle soldy.
Waar gaan ons begeertes met ons heen? Soms lei dit ons om te
oorspandeer en geld te mors. Ander kere laat dit ons in
gierigheid verval. Soms lei dit ons na die dobbelsale toe met die
hoop op die groot rykdom!
Vir die soldate het die Here gesê: Wees tevrede met wat jy
het! Moenie jou salaris wil vergroot deur ander mense af te pers
om jou te betaal nie. Dus: moenie roof nie! Moenie mense
afdreig nie! Moenie geld (of wat ookal) in die hande probeer kry op ‘n
manier wat by God oneerbaar is nie. Wees tevrede met wat jy het.
Kom ons ondersoek die saak van lewenstevredenheid soos volg:
1. Wat is
lewensontevredenheid?
2. Gee die Here vir
my dinge – en waarom?
3. Hoeveel deel God
uit?
1. Wat is
lewensontevredenheid?
Ons ken almal mense wat altyd loop en murmureer oor hoe arm hulle is.
- Daar kan net nie genoeg ellendes oor hulle kom nie, want hulle
teer op hulle ellendes, sodat hulle al klaende deur die lewe kan gaan.
- Hulle wil altyd gevlei word en mens moet altyd hulle moreel bly
opblaas, anders kan hulle net nie hulle voete voor mekaar kry om
vorentoe te gaan nie.
- En dan is hulle eintlik diep in hulle so verwaand dat jy met
hulle niks kan doen nie.
Hierdie kermkouse is nie onbekend nie en die verskynsel is ook nie
vreemd nie. Die Heilige Gees skryf van hulle in die Bybel ook:
Judas 1:16: Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en
volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde,
terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.
Die teks handel duidelik oor lewensontevredenes wat ook nog ander mense
misbruik tot hulle eie voordeel.
Deur sy genade beskik God dat ons besittings en allerhande dinge het
wat ons tot sy eer moet bestuur.
- Die Here kan dit ook enige oomblik van ons af wegneem.
- Hy kan dit doen om verskillende redes:
- Ons kan dinge te swak bestuur dat Hy ons daarmee kan
vertrou,
- of Hy kan besluit om ons te beproef - soos vir
Job - en dit dan alles van ons af wegneem.
Daarby is ons van nature baie blind vir God se genade.
- Ons kom baie min op die punt waar ons verleë vir die Here
vra: “Here, wat wil U nou hê dat ek moet doen?”
- Ons kom ook baie min op ‘n punt waar ons uit plig by die Here
raad vra oor die bestuur van ons geldsake of ons huwelik of die
opvoeding van ons kinders.
- Wanneer ons dit nog doen, is dit baie keer omdat daar ‘n eie
begeerte afgter lê. Byvoorbeeld: Wat kan ek nog doen om my rykdom
te vermeerder?
Lukas 12:18 Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my
skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed
insamel.
Net so is daar is mense wat hulle kinders enige ding sal laat doen om
almal te laat verstaan my kinders is die slimste en die beste. Die Here
gee nogal ‘n beskrywing van hierdie soort mens sse lewensstyl:
2 Timoteus 3:2 Want die mense sal liefhebbers van
hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars,
ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
Dis ongelukkig die seer waarhede van die lewe.
Dis presies wat lewensontevredenheid is:
- Om meer te wil hê as waarmee God my toevertrou.
- En dan veral: Om dit te wil hê om my eie selfsugtigheid te
bevredig.
As ons eers in hierdie sonde verval het, is daar niks meer goed genoeg
nie:
- Dan is ons huis nie in die regte woonbuurt nie;
- ons motor is nie op standaard nie;
- ons klere moet pas by die bestes.
- Dikwels moet my lewensmaat gaan, sodat ek ‘n ander een kan kry
wat meer aan my eie behoeftes voldoen.
Dis lewensontevredenheid: om nie te wil hê wat die Here vir jou
gee nie; om onbekwaam te wees om te hanteer wat God vir jou gee; om
soos die duiwel in jou eie selfsugtige strewes die wil van God te begin
oorvra.
Lewensontevredenheid loop dikwels hand aan hand met ‘n diep
onbekwaamheid in die ontevrede mens se eie lewe.
- ‘n Voorbeeld daarvan kry ons in die gelykenis van die verstandige
en dwase maagde.
- Die dwase meisies se insigte het hulle in die steek
gelaat. Hulle wou nie hulle olievoorraad aanvul nie, en wou van
die olie van die bekwames vir hulleself hê toe die Bruidegom kom.
Matteus 25:8 En die wat dwaas was, sê aan die
verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.
Die gevolge was noodwendig en voorspelbaar: verwerping deur die Here.
‘n Duidelike voorbeeld van iemand wat lewensontevrede is, maar voorgee
dat hy sy pad met die Here goed en reguit loop, is natuurlik die ryk
jongman.
- Alles rondom sy geloofslewe het geklink asof dit baie goed gaan
met sy geloofslewe - totdat die Here hom blootgelê
het oor sy werklike lewenswaardes: Gaan verkoop alles wat jy het
en dan kom jy terug en dien My!
- Die Bybel vertel in Matteus 19:22 hoe ontsettend hierdie oomblik
van waarheid vir hierdie mens was:
Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan;
want hy het baie besittings gehad.
- Hy kon nie tevredenheid kry nie - ook nie met God
nie - want met sy vroom gesig en al het sy geld tussen hom
en die Here gestaan.
Geen wonder dat die Here dit duidelik stel dat lewenstevredenheid ‘n
lewenshouding is waarmee ons Hom en Hom alleen wil dien:
So kan
dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my
dissipel wees nie. Lukas 14:33
Een van die dinge waaroor mense lewensontevrede raak, en wat baie
in die Bybel genoem word, is gierigheid.
- Dit is wanneer mens ‘n oorwaardering vir geld het.
- Jy wil aan die een kant nie betaal wat ‘n ding se prys is nie, en
aan die ander kant wil jy vir alles die meeste hê wat jy kan kry!
Kyk net in watter geselsskap gooi die Heilige Gees ‘n gierigaard.
Luister na sy lysie:
geen
drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen
strydlustige, geen geldgierige nie; 1 Timoteus 3:3
Waarom sou die Here so ‘n afsku aan gierigheid hê? Hy gee die
antwoord in1 Timoteus 6:10
Want die
geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit
begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte
deurboor.
- Gierigheid maak mense dus ongelowig!
- As ons dit eers begryp, verstaan ons waarom die Here vir die
Christene wat ui die Jodedom gelowig geword het skryf in Hebreërs
13:5
Julle
gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle
het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit
verlaat nie.
Dis ook nie sonder rede dat die Here hierdie ding sê nie, want
gierigheid laat ‘n mens dink die Here is blind, en dan steel jy, maar
jy dink die Here is blind. ‘n Voorbeeld is die ding wat Agan
gedoen het:
Ek het
naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en
twee honderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in
gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit
begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder.
Josua 7:21
- Die uiteinde van hierdie saak was dat die Here se toorn oor die
hele volk Israel gekom het.
- En Agan self het weens sy ongeregtigheid omgekom.
- Daarom het Josua en die hele
Israel Agan geneem met die silwer en die mantel en die goudstaaf
en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy kleinvee en sy
tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hul na die dal Agor
gebring. Daar het die hele Israel hom en sy gesin gestenig, en hulle
het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.
(Josua 7:24; 22:20)
Agan was nie die enigste een nie. Geweld en bedrog het eie geword
aan die kerkvolk van die Here ook! Onthou maar net wat in Miga
2:2 geskryf staan:
Ja,
hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle
dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel.
Dis waarom die Here ons waarsku en sê: Wees tevrede met wat jy
het, want die Here beskik oor jou - en Hy sal jou nooit in
die steek laat dat jy vernietig raak nie!
2. Gee die Here vir
my dinge – en waarom?
God beskik oor wat ons moet hê.
- Hy Alleen beskik en beveel wat ons daarmee moet maak
- want Hy alleen het die reg om dit te doen.
- Alles in die skepping is sy eie eiendom - maar Hy
stel ons daaroor aan.
- Hy doen dit deur aan ons dit toe te ken wat Hy wil hê dat
ons dit in sy Naam moet beheer en verbeter.
Alles rondom hierdie saak van besittings gaan oor
verantwoordelikheid:
- Ja, daar is net een Gewer: die Here.
- En Hy gee dit sodat ons dit wat Hy gee, met verantwoordelikheid
moet bestuur.
Die opdrag wat die Here vir Adam gegee het was om die aarde te bewerk
en te bewaak.
- Eenvoudig beteken dit dat die Here hom beveel het om dit waarmee
die Here hom vertrou het, te beskerm.
- Die Here het daarmee baie duidelik veronderstel dat daar in die
skepping ‘n mag rondloop wat altyd besig sal wees om met listigheid
elke waarde wat ons het, te probeer besoedel:
- ook ons waardes rondom besittings en die maniere waarop ons
lewensonderhoud in die hande sal wil kry.
- Adam moes dus duidelik weet dat daar ‘n skerp aanval sal wees op
ons waardes rondom eiendom, ons eie besittings en die verkeerde
begeertes wat daaruit mag ontstaan. Hierteen moet hy en sy nasate
waak!
- Na die sondeval is ons inderdaad op niks geregtig nie. Tog
seën die Here ons deur vir ons lewensmiddele te gee.
Die sondeval het ons in ‘n totaal nuwe verhouding tot God
geplaas: Hy het ons geskape om sy “rentmeesters” te wees.
- Na die sondeval was daar van hierdie rentmeesterskap nie meer
sprake nie.
- Iemand wat God wegdink en self God word in eie reg -
omdat hy soos God wil wees - is op geen manier meer ‘n
rentmeester van God nie!
Tog is die Here se beskikking dat Hy sy besittings op die aarde nog
steeds aan ons toevertrou. Maar dan soos wat dit staan van die
ouderlinge in Titus 1:7
Want
’n opsiener moet as ’n rentmeester van God onberispelik wees, nie
eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen
vuilgewinsoeker nie;
‘n Rentmeester is iemand wat aangestel word om iemand anders se huis te
versorg en te bestuur. Daar is dus dinge wat aan hom toevertrou
is - maar daar is ook dinge wat buite sy bereik gestel is!
Elke keer wanneer ons iets anders begeer het as waarmee die Here my
vertrou het, was daar moeilikheid. Dink maar aan Adam en Eva se
val. Hulle het dinge begin begeer wat die Here hulle verbied
het. Toe laat hulle begeertes hulle verkeerd dink daaroor:
Toe
sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was
vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer om verstand te
verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by
haar, en hy het geëet. Genesis 3:6
Later het hierdie saak van begeerte wyer begin uitkring en al hoe meer
dinge ingesleep. Ons sosiale lewe het met allerhande soorte
euwels te doene begin kry. Soveel dat God met sy wet ingryp:
Jy mag
nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer
nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat
van jou naaste is nie. Eksodus 20:17
3. Hoeveel deel God
uit?
God gee nie vir alle mense ewe veel nie. Daar is verskil in
geslag, in leeftyd, in kennis, in liggaamskragte, blyplek.
Abraham was ryk en Lasarus was arm.
1 Samuel 2:7 Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder,
ook verhoog Hy.
Vir een mens gee die Here genade om maklik te lewe en vir ‘n ander meet
die Here ‘n lewe van pyn en wroeging uit - en so sou
ons ‘n lang lys kon maak.
Luister maar na die volgende paar uitsprake in die Bybel waaruit
hierdie dinge baie duidelik is:
Job 13:26 dat U bitter dinge oor my beskik en my die
ongeregtighede van my jeug laat erwe,
Jona 4:6 - 8 Toe beskik die HERE God ’n wonderboom en
laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom
van sy ontstemdheid te bevry; en Jona was baie bly oor die wonderboom.
Maar God het die volgende môre toe die dag breek, ’n wurm beskik;
en dié het die wonderboom gesteek, sodat dit verdor het.
En met sonop het God ’n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op
die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag
sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.
Die Here gee dus vir een mens groot rykdom. Vir ‘n ander een gee
Hy armoede. Op die een laat Hy die Son brand. Vir ‘n ander
een beskik Hy teydelik beskerming teen die son. Die feit is bloot
dat die Here nie besittings en seën gee volgens ons maatstawwe nie.
Wat die Here se manier van doen vir ‘n sondaar moeilik maak, is die
feit dat daar dinge in ons menswees ingetrek het as gevolg van ons
sondes, wat maak dat baie van ons ons nie by die beskikking van God wil
neerlê nie.
Daar is dikwels mense wat iets anders wil hê as wat die Here vir
hulle uitgemeet (of gegee/beskik) het. Dit raak elke
stukkie van ons bestaan.
- Daar is mense wat ontevrede raak met hulle lewensmaats en dan
meteens hulle vryheid of selfs dalk iemand anders wil hê.
- Daar is mense wat ontevrede is met hulle huise of hulle inkomste
– en dan op oneerlike maniere rykdom en besittings in die hande wil kry.
Daarom gee die Here ook negatiewe wette/reëls oor besittings en
eiendom:
- God verbied byvoorbeeld diefstal.
- Hy verbied ook nie slegs die soort diefstal en roof wat die
owerheid straf nie, maar Hy beskou ook al die skelmstreke en liste
waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry as
diefstal.
- Hierdie soort diefstal word op verskillende maniere gepleeg:
- Dit kan gebeur met geweld
- Dit kan gebeur met 'n skyn van reg, soos deur die
- Dit kan gebeur met oneerlike of oneerbare metodes of enige
middel wat God verbied.
- Hy verbied byvoorbeeld ook dat ons gierig mag wees.
- Hy verbied ook nog alle misbruik en verkwisting van sy gawes,
soos byvoorbeeld deur te dobbel.
Die Here gee natuurlik positiewe wette ook in verband met
besittings/eiendom.
- God gebied ons byvoorbeeld om die belange van ons naaste, waar
ons kan en mag, te bevorder.
- Ons moet ander se besittings respekteer, en as hy minder het as
ek, moet ek hom nogtans met eer behandel - soos ek wil he
dat hy my moet behandel.
- Ons moet nie net ons eie besittings vermeerder nie. Ons moet aan
ander ook uitdeel. Ons moet ons werk getrou doen, sodat ons die
behoeftiges in hulle nood kan help.
Hierdie opdragte van die Here maak dinge vir ons baie, baie moeilik,
want dis dinge wat heeltemal teen ons aard ingaan.
- Ons standpunt is gewoonlik: “My goed is my goed.”
- Ons neiging is dat ons altyd net meer en meer wil hê.
Ons almal se waardes oor wanneer ons genoeg het, is verskillend.
- Vir sommiges sal alles op die aarde nie eers genoeg wees nie.
- Vir ander is armsalige kos, die minimum klere en ‘n skuiling al
rede tot diep dankbaarheid.
Mense wat in verset is teen wat God aan hulle uitdeel, is natuurlik nie
ware aanbidders van die Here nie!
- In hulle verwaandheid rebelleer hulle teen die Here.
- Hulle eie wil staan vir hulle hoër as die wil van die Here.
- Iewers in ons belydenis (NGB art 29!) bely ons die volgende:
…Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit
meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself
nie aan die juk van Christus onderwerp nie;… maar neem weg en
voeg by na eie goeddunke;…
Lewensontevredenheid dring my dus tot baie diep besinning:
- Hoe tevrede is met die min of baie wat God vir my gee.
- Hoe getrou is ek met die bestuur van alles wat Hy aan my
toevertrou het?
- Is ek nog eerlik met die Here: Dring my besittings en my
begeertes daarrondom my nie in ander sondes in nie?
Oorvra ons nie dalk dikwels die lewe nie. Wat wil ons alles
hê voordat ons tevrede is? Wanneer het mens genoeg
lewensmiddele?
- Dink daaraan: Jesus was God self wat uit die hemel ‘n menslike
liggaam aangeneem het en Hy het nie ‘n TV gehad nie!!
- Die van ons wat ontevrede raak met ons lewensmaats en wat die
storie het van “ons wil ons vryheid hê!” - wat wil sulke
mense bereik?
- Watter vryheid het jy as jy die genade van God verag en jy van
jouself ‘n slaaf van die sonde en van selfsugtigheid maak? Wat
wil jy op die lang duur daarmee bereik?
Hoe maak die verdienste van Christus my tevrede? Inderdaad
moet ons vra: Maak die verdienste van die Here Jesus my tevrede?
- Ons lees ‘n hele klomp dinge in die Bybel en ons onderstreep
alles totdat ons dit in ons praktiese lewe moet uitvoer.
- Dan kom die probleme ten opsigte van ons lewensontevredenheid
dikwels na vore.
Kyk na die volgende voorbeelde:
Die skrywer van Psalm 27 praat namens ons as hy sê:
Een
ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van
my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die
HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Psalms 27:4
Pragtig! Maar is dit waar dat ons die lieflikheid van die Here
ondersoek as ek my ooreenkomste met Hom verbreek en teen sy wil ingaan?
- Ons weet baie goed dat ons met hierdie verlossing uit die sonde
en uit die ewige dood uit “in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in
elke woord en alle kennis” - soos die Bybel leer in 1
Korintiërs 1:5.
- Ons weet ook baie goed van die lyding van die Here Jesus ter
wille van ons. Luister net hoe sterk die Bybel die saak stel:
2 Korintiërs 8:9: Want julle ken die genade van onse Here
Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm
geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.
Daar is baie van ons wat in kerkbanke sit vir wie hierdie openbaring
van die Here totaal leë woorde is.
- Wanneer baie van ons dink (glo?) dat die Verlosser vir ons net
nie genoeg geld en status na ons sondige sin gee nie, dan raak ons
lewensontevrede.
- Of my sonde laat my lewenswaardes kraak en nou wil ek aanstap
skeihof toe om my eie belang te gaan dien.
- Wat help hierdie stuk openbaring my dan as ek dit nie vir myself
kan toe-eien nie? Is ek dan ‘n ware gelowige?
Die waarheid is dat die effek wat die verlossing van die Here Jesus op
‘n ware gelowige het, is dat so ‘n persoon nie in homself en sy eie
gierigheid opgaan nie, maar in diens aan ander mense.
- Die Here Jesus se versoening oor ons beteken dat:
… julle in alles ryk kan
word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.
(2 Korintiërs 9:11).
- Ons moet nie kyk hoeveel ons vir onsself kan inpalm nie
- ons moet leer om met ons totale lewe uit te reik na ander mense
toe, sodat ons dankbaarheid aan God daardeur sigbaar kan word.
- Hierdie is nie die enigste plek waar die Bybel hierdie ding aan
ons leer nie. Dit staan byvoorbeeld ook in 1 Tessalonisense 3:12
en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en
vir almal,
Kom ons besin ernstig oor hierdie saak en ons sorg dat ons deur
bekering en ook deur berou oor die punte waar ons sondig. Ons
saak met God reg kry ewn reg hou.
Ons lewe tevrede met wat ons het!
Slotgebed.
Slotpsalm 131:1, 2.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 7 September 2003.