Sing vooraf: Psalm 2:6
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1, 3
Geloofsbelydenis: Nicea
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid vir ’n
nuwe lewe met Ps. 19:4.
Wet
Psalm 19:4
Gebed
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Vergifnis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes
van God:
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 32:1
Skriflesing: Lukas 3 en Matteus
3
Teks:
Lukas 3:16; Matteus 3:11
. . . antwoord Johannes almal en sê:Ek doop julle wel met
water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie
waardig is om los te maak nie – Hy sal julle doop met die
Heilige Gees en met vuur. (Lukas 3:16 AFR53)
Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my
kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra
nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. (Matteus 3:11
AFR53)
Elkeen van ons is toe ons gedoop is, gedoop met die Heilige Gees.
- In hierdie proses was daar geen bepalende aksie van die gelowige se
kant wat veroorsaak het dat die Heilige Gees aan hom toegeken is nie.
- Dit is ’n daad wat totaal van die Here af uitgegaan het en
waarin Hy sy verbond aan die gedoopte toegeken het.
- In hierdie toekenning het Hy ook sy Heilige Gees gegee as ’n
wesenlike deel van sy verbond.
In hierdie preek word aandag gegee aan die volgende sake:
1. Die betekenis daarvan om met die Heilige Gees gedoop te wees
2. Die Heilige Gees volg my van my doop af in my lewe
1. Die betekenis daarvan om met die Heilige Gees gedoop te wees
Die Heilige Gees en vuur is twee elemente wat ons in die Bybel baie
keer saam kry. Die rede is voor die hand liggend: die een
verteenwoordig die ander in ’n sekere sin.
- Die Here gebruik baie keer vuur om sy teenwoordigheid te openbaar.
- Soms dui dit sy genade aan en ander kere sy oordeel.
Ons lees in Levitikus 9:24 van die eerste offers wat Aäron as
hoëpriester gebring het.
- Hy het sy hande na die volk toe uitgesteek en hulle geseën.
- Toe het hy en Moses saam in die tent van samekoms ingegaan en toe hulle
uitgekom het, het hulle die volk geseën.
- Die Here het toe sy heiligheid aan die hele volk geopenbaar deurdat
vuur uit die Here se aangesig uitgegaan het en die brandoffer en die
stukke vet op die altaar verteer het.
Die hele volk het verstaan dat dit die openbaring is dat die Here in
hulle midde is en dat Hy hulle offer aanvaar. Hulle het neergeval en
gejuig.
Maar dit het nie altyd goed gegaan wanneer die Here Hom in vuur aan die
volk geopenbaar het nie.
- Ons lees in Levitikus 10:2 dat Aäron se twee seuns, Nadab en
Abihu, met vreemde vuur voor die Here opgedaag het, en dat daar vuur
van die Here af uitgegaan het en die twee manne verteer het.
- Die Here het dus vuur gebruik om sy oordeel en sy genade te openbaar.
Johannes die Doper se preke en sy doop het na hierdie dinge verwys.
- Hy het gepreek dat die koninkryk van die hemele naby gekom het.
- En toe preek hy die Here Jesus Christus:
- Ek doop
julle met water tot bekering, maar Hy wat na my kom . . . Hy sal julle
doop met die Heilige Gees en met vuur.
- Die doop
van Johannes was ’n heenwysing na die doop van Jesus.
Volgens die getuienis van Markus (1:8) en Johannes (1:33) sal die Here
Jesus met die Heilige Gees doop. Matteus (3:11) en Lukas (3:16) praat
weer van ’n doop met vuur.
- Die twee moet met mekaar verbind word, want die kombinasie van
Gees/wind en vuur kom al in die Ou Testament voor (vergelyk Jesaja
29:6; 30:27vv).
Vanweë die Here van die leërskare sal jy in genade
besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm
en die vlam van ’n verterende vuur. (Jesaja 29:6 AFR53)
- Die bediening van die Heilige Gees en die bediening van die vuur aan
die dopeling is presies dieselfde bediening, daarom laat twee van die
evangeliste die woord vuur weg.
As dit dan dieselfde is, waarom word die woord vuur dan deur twee saam
met die Heilige Gees genoem?
- Die vuur sien op die reinigende werking van die Gees van God:
- Die Gees
brand die sonde weg en reinig die hart.
- Doop met die Heilige Gees en doop met vuur is dus dieselfde
gebeurtenis, maar met tweërlei werking.
Die Messias kom om twee dinge te doen:
- Hy kom met Geesteswerking.
- En Hy kom met oordeelsvoltrekking.
- Hy is die
Redder en Regter,
- maar Hy
is ook Gerigsdraer en Gerigsvoltrekker.
Die doop met vuur wys na die laaste oordeel toe.
- Toegepas beteken dit dat elke mens wat gedoop word, fisies die Heilige
Gees ontvang sodat Dié hom kan voorberei op die laaste
oordeel.
Die Heilige Gees wat by die doop aan die mens bedien word, werk
bekering in die dopeling se lewe. Dit is waarom Johannes ook bly preek
het dat die mense tot bekering moet kom.
- Bekering is om rein te word.
- Jesus se doop met vuur is ook die simbool van reiniging, want in die Ou
Testament is daar hoeveel voorbeelde van die vuur van God se
teenwoordigheid wat onrein mense weggebrand het.
- Net so brand die Heilige Gees die mens wat in Jesus se Naam gedoop is
skoon met bekering.
- Alle bekering word deur die Heilige Gees gewerk.
Jesus se doop word ’n doop met die Heilige Gees en met vuur
genoem. Die doop met die Heilige Gees wys na Pinkster toe. Ons lees in
Handelinge 1:4, 5 die volgende:
En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van
Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader,
wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het
wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word
nie lank ná hierdie dae nie. (Handelinge 1:4-5 AFR53)
Let op hierdie woorde: . . . julle sal met die Heilige Gees gedoop word
nie lank ná hierdie dae nie.
- Met die uitstorting van die Heilige Gees het die doop van die apostels
volledig geword.
- Dit beteken glad nie dat die Heilige Gees net (eers) uitgestort kan
word wanneer iemand gedoop word nie.
- Die Heilige Gees werk selfs voordat iemand gedoop is reeds in Hom.
- ’n Duidelike voorbeeld is volwassenes wat tot bekering kom en
belydenis van hulle geloof aflê en dan eers gedoop word.
- Alles wat
gebeur het voordat hulle gedoop word, is reeds deur die Heilige Gees
bewerk.
Waterdoop en Geestesdoop beklemtoon al twee dieselfde saak:
- Die een beklemtoon dit positief en die ander een beklemtoon dit
negatief.
- Die waterdoop beklemtoon die negatiewe: Die sondes word afgewas.
- Die Geestesdoop beklemtoon die positiewe: Dit wys op die oorvloedige
skenking van die nuwe lewe.
2. Die Heilige Gees volg my van my doop af in my lewe
Let daarop dat Johannes die Doper sy aankondiging dat Jesus Christus
die Doper met die Heilige Gees is, geplaas het in die raamwerk van sy
verkondiging van die koninkryk van God (Matteus 3:2vv).
- Die doop met die Heilige Gees is dus niks minder nie as die aankoms van
die koninkryk van God in die dopeling se lewe.
- Die doop is dus van God se kant af ’n bevestiging dat ek deur
sy genade oorgaan van ’n lewe van sonde en verlorenheid af na
die lewe van ewige heerlikheid by God.
Let daarop dat Jesus self ook gedoop is met die Heilige Gees, sodat
daarin die verhouding tussen die koninkryk van God en die doop met die
Heilige Gees duidelik geopenbaar kan word.
Om hierdie gebeurtenis goed te kan verstaan, moet ons die woorde van
Johannes 1:33 baie goed verstaan. Daar word vermeld dat die Heilige
Gees nie net op Jesus neergedaal het nie, maar ook op Hom gebly het.
En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te
doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en
op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. (Johannes 1:33
AFR53)
Dit is presies ook wat die betekenis van Pinkster is.
- Met die uitstorting van die Heilige Gees het die koninkryk van God
gekom.
- Van die doop met die Heilige Gees af is die koninkryk van God by al die
koninkryke op die aarde teenwoordig.
Ons lees in Handelinge 19 dat Paulus in Efese gekom het en daar
dissipels van Johannes die Doper raakgeloop het.
- Hy het toe vir hulle gevra of hulle al die Heilige Gees ontvang het.
- Hulle antwoord was dat hulle nie eers geweet het dat daar ’n
Heilige Gees is nie.
- Hulle is toe gedoop in die Naam van Jesus Christus, en daarna het hulle
die Heilige Gees ontvang.
Uit al hierdie geleenthede is dit duidelik dat die Heilige Gees elke
keer wanneer iemand in die naam van Jesus Christus gedoop word, op die
persoon gekom het.
- Ons lees nie in die Bybel dat dit verder in die geskiedenis weer so
duidelik was soos by die eerste paar geleenthede nie.
- Dit is ook nie nodig nie, want die eerste geleenthede het dit juis
duidelik gemaak dat dit in die toekoms altyd so sal wees, al word alles
nie gesien wat gebeur nie.
Die gedeelte in die Evangelie volgens Johannes 1:29-34 is belangrik.
- Daar toon Johannes aan dat die Lam van God die Seun van God is en dat
daar ’n band is tussen die wegneem van sonde en die doop met
die Heilige Gees.
- Ons kan inderdaad die doop met die Heilige Gees aandui as die gee van
’n nuwe lewe deur die vergewing van sondes.
Baie prakties gestel beteken dit dat iemand wie se sondes vergewe is,
in die Heilige Gees sal lewe.
- Hy kom dan los van sy ou lewe.
- Die ou
lewe van elke mens is wanneer hy in sondes volhard.
- Dink maar
aan dinge soos moedswilligheid, roekeloosheid en bakleierigheid. Soms
is ons agteraf. Dit gebeur dat ons steel en graag goed wil hê
wat nie ons s’n is nie. So sou ons kon aangaan.
- Teenoor hierdie dinge is daar die nuwe lewe wat God die Heilige Gees in
ons bewerk:
- Ons bid
meer, ons leef in vrede met ander mense, ons probeer om goed te doen en
om mense wat hulp nodig het by te staan, ons bevorder ander mense se
eer eerder as om hulle te beskinder.
- En ons
probeer om elkeen in sy eie lewe al heiliger te word – ons
probeer om met elke sonde wat ons doen, te breek.
Ons het pas Nagmaal gevier. Nou moet ons onsself vra:
- Waar pas die Geestesdoop in in my lewe nadat die Here my aan die
heilige Nagmaaltafel van my verlossing en van vergifnis van al my
sondes verseker het?
- Die antwoord is eenvoudig: Die Heilige Gees lê beslag op ons
hele lewe.
- Maar die uitvoering van ’n Geesvervulde lewe is nie so
eenvoudig nie. Ons doen baie keer sonde omdat ons aanlewe sonder om te
besef dat ons in diens van God se eer staan.
Kom ons kyk na voorbeelde:
- Baie van ons veg ons getroude lewens om. Ons weet meer van rusiemaak as
van saambid en beeld van God wees.
- Ander bring kinders in die wêreld, maar maak hulle nie tot
eer van God groot nie. Ons los hulle so soort van in hulle eie hande.
- Ons werk elke dag soos wêreldmense – ons brou en
werk onnet.
- Ons lê soms rond op plekke waar Christene nooit gesien
behoort te word nie.
In kort: Die styl van God die Heilige Gees is vir groot gedeeltes van
ons lewens nie sigbaar nie omdat ons die teenwoordigheid van die
Heilige Gees in ons ignoreer.
Wat moet ons maak van die inwoning van die Heilige Gees?
- Ons moet met ons hart en met ons verstand God loof en prys, want die
Heilige Gees werk met al twee.
- Ek moet my hele lewe berekend beplan sodat dit in elke opsig die eer
van God verkondig.
Natuurlik moet ons nou nie daarmee oorboord gaan en weer na die ander
kant toe sonde doen met dinge soos geesdrywery en emosionele opwellings
nie.
- Daar is mense wat hulle laat herdoop na sogenaamde bekerings of
herbekerings.
- Voordat so iets kan gebeur, moet jy baie duidelik antwoord op hierdie
vraag: Wat word van die eerste toekenning van die Heilige Gees?
- Kan
’n mens die toekenning van die Heilige Gees verwerp?
- Kan
’n hertoekenning van die Heilige Gees hoegenaamd plaasvind?
- Kan die
doop met die Heilige Gees beheer of aan menslike voorwaardes onderwerp
word? – want dit is wat gebeur met oordoop.
Die probleem is dat sonde teen die Heilige Gees nooit vergewe word nie.
- Mens moet dus oppas om nie eers naby die terrein te kom waar jy teen
die Heilige Gees oortree nie.
- Luister na wat in Matteus 12:31-32 geskryf staan:
Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense
vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie
vergewe word nie. En elkeen wat ’n woord spreek teen die Seun
van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die
Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en
ook in die toekomende nie. (Matteus 12:31-32 AFR53)
Enige mens kan baie maklik in ’n situasie beland waar hy teen
die Heilige Gees sondig.
- Dink aan Ananias en Saffira wat oor hulle kerklike bydrae gelieg het,
en al twee dood neergeval het omdat hulle vir die Heilige Gees gelieg
het – so sê die Bybel (Handelinge 5).
Die regte riglyn vir ’n suiwer lewe lê reeds in
Johannes die Doper se preek. Die koninkryk van God het gekom. Die Here
Jesus is hier.
- Hy ken kragtens sy almag sy (nuwe) verbond aan elkeen van ons toe.
- Hy maak dus die woorde wat God gesê het toe Hy die verbond
met Abraham opgerig het waar: Ek sal my verbond oprig tussen My en jou.
- God rig sy verbond met ons op. Vandag nog. Die oomblik wanneer ons in
die Naam van die Here Jesus gedoop word, doop Hy ons ook met die
Heilige Gees.
Onder die leiding van die Heilige Gees groei ons op en kom ons elke dag
tot bekering van ons sondes. So word ons heiliger totdat ons eendag in
die hiernamaals is.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 66:7
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 10 September 2006
(oggend)