Oggenddiens.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 73:11.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 40:4.
Gebed.
Psalm 8:1, 2.
Skriflesing: Matteus 5
Teks: Kategismus Sondag 44; Matteus 5:48
Wees julle dan volmaak, soos julle Vader in die hemele volmaak is.
Die laaste gedeelte van Matteus 5 is 'n herhaling van sommige van die Tien Gebooie. Die klem val op die liefdesgebod:
- moenie mense ronddwing nie
- moet niemand afwys nie
- julle moet julle vyande liefhê.
Die Here maak 'n baie merkwaardige uitspraak t.o.v. die liefdesgebod.
- Hy sê ons moet liefhê sodat ons kinders van God kan word.
- Hy wys daarop dat ons niks bereik wanneer ons die mense liefhet
wat ons liefhet nie. Ons liefde presteer eers wanneer ons ons vyande
liefhet.
- As ons dit nie kan doen nie, is ons niks beter as die verwerplike
tollenaars nie, want hulle het die gebruik gehad om net die lief te
hê wat hulle liefhet.
Die Here Jesus sluit hierdie gedeelte af met die woorde:
Wees dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.
Dit het alles te doen met die laaste gebod dat ons nie mag begeer nie.
- Om volmaak te wees soos God, beteken dat ek nie een van die Here se gebooie mag oortree nie.
- Dit wat dieper liggend is, is dat ons gebooie net kan oortree wanneer jy vooraf die lus ontwikkel het om die gebod te oortree.
- Dit is tog 'n oortreding van die verbod op begeerte.
Die Tien Gebooie gee inderdaad self ook hierdie ritme aan:
- Die gebod rakende die erediens volg na die verbod van beeldediens:
Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.
- Dit is onmoontlik om in verkeerde aanbiddingspraktyke te verval as jy nie eers begeer om dit te doen nie.
- Dit geld van al die ander gebooie ook:
- Jy sal die Sabbatdag ontheilig wanneer daar iets anders is wat jy in die plek van Sabbatsheiliging wil stel.
- Iemand steel tog nie normaalweg iets en wonder na die tyd wat
hy daarmee gaan doen nie. Hy wil eers iets hê (begeer) en dan
gaan steel hy dit.
- Oneer aan ons ouers en verset teen gesag kan eers gebeur
wanneer ons 'n ander toestand of optrede begeer as om ons te onderwerp
aan die reëls en gesag wat oor ons gestel is.
So sou ons elke gebod kon deurwerk om aan te toon dat die tiende gebod
die eis t.o.v. al die gebooie saamvat. Daarom is hierdie gebod een van
die gebooie waaroor ons baie diep en ernstig moet besin.
In hierdie verbod op begeertes onderskei ons verskillende soorte
begeertes. Ons moet nie net die woord "begeertes" hoor en dan daarmee
op loop gaan nie.
- Ons lees in Lukas 15:16 van die begeertes van die verlore seun.
Hy het begeer om sy maag te vul met die peule wat die varke eet.
- Lukas 16:21 vertel van die bedelaar Lasarus wat vol swere voor
die hekke van die ryk man se huis lê en begeer om van die
krummels te eet wat van sy tafel afval.
- Jesus het ook sulke begeertes gehad, daarom vra Hy vir die Samaritaanse vrou water.
Sulke soort begeertes is natuurlike begeertes wat nie sonde is nie. Ons
moet nie die verbod op begeertes so gaan verdraai dat ons dinge sonde
maak wat nie sonde is nie, want daar is ook iets soos heilige
begeertes.
- Ons lees in Galasiërs 6: 11 van die heilige begeertes wat
die gelowiges moet hê om heilig te kan lewe. Hulle moet
byvoorbeeld begeer dat God in hulle woon.
- Wie van ons begeer nie om in die hemel te wees nie? Of: wie van
ons begeer nie dat die Here ons moet seën nie? In die brief aan
die Filippense (1:23) skryf Paulus van sy heilige begeerte om te sterf:
- Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.
Teen sulke soort begeertes is die Here nie. Maar Hy is wel teen sondige begeertes.
- Die soort begeertes wat die Here verbied, het almal te doen met sondige luste.
- Hulle kan ook maklik uitgegeken word, omdat hulle almal tot skade/oneer van God en ons naaste is.
Kom ons kyk na voorbeelde hiervan wat baie direk aansluit by die tiende gebod.
Matteus 5:28
Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na 'n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
Handelinge 20:33. Paulus praat oor dinge wat hy gelukkig nie gedoen het nie, en dan sê Hy:
Niemand se silwer, goud of klere het ek begeer nie.
Ons lees in Romeine 1:24 dat daar begeertes in die mense lewe wat vir hulleself baie gevaarlik is:
Daarom het God hulle ook aan die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer.
Ons lees in Titus 2:11 dat die wêreldse begeertes direk teenoor
die genade van God staan. Omdat hierdie soort van begeerte-sondes almal
van die duiwel af kom, vernietig dit die mens. Ons kan dus tereg
sê dat die Here ons met hierdie gebod wil beskerm.
Die Bybel gee soms 'n volledige beskrywing van iemand se geskiedenis om
daarmee die ontstaan en die gevolge van sonde wat iemand gepleeg het,
aan te toon. Kom ons kyk na een so 'n volledige voorbeeld.
- Koning Agab begeer Nabot se wingerd. Die begeerte word gebore uit
afguns en hebsug. Daarmee doen hy al klaar twee verkeerde dinge.
- Omdat hy nie sy begeerte eerbaar tot bevrediging kan bring nie, is daar spanning in die paleis.
- Die uiteinde van sy onbevredigbare begeerte is die moord op Nabot.
Dit is hoe sonde in die gedagtewêreld begin, maar eindig in 'n
fisiese daad: die regverdige Nabot verloor sy lewe en die onregverdige
Agab en sy familie word deur God vervloek.
Ons belydenis waarsku ook dat ons hierdie onsigbare geboorteplek van
die sonde moet uitroei: dat ook die geringste lus en gedagte teen enige
gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie. Dit is presies volgens
wat die Bybel ons leer, want daar staan in Jakobus 1:4
Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikhede weggesleep en verlok word.
NB: Ons het dus inderdaad beheer oor ons begeertes, hulle ontstaan nie, en bly nie lewe as ons hulle nie vertroetel nie.
Verkeerde gedagtes is ook sondes.
- Ons moenie dink dat ons nog nie sonde gedoen het as ons nog net
verkeerde begeertes gehad het, maar dit nog nie in dade omgesit het
nie.
- Wanneer ons 'n onheilige gedagte gehad het, het ons klaar 'n sondige daad voor die Here gedoen.
Die bedoeling is dat ons hierdie gebod positief moet benader.
- As ons nie negatiewe of wellustige begeertes mag hê nie, beteken dit dat ons positief teen sulke dinge moet veg.
- Ons moet positief en aktief dink en doen tot eer van God.
- Om net te sorg dat ons niks verkeerd doen nie, is nie reg nie,
want passiwiteit is ook sonde. Daarom word die Tien gebooie afgesluit
met hierdie geweldige gebod.
Doen wat Jesus Christus aan ons opdra met hierdie gebod en volg in sy voetspore:
- begeer die heil van jou naaste
- bid vir hom en sorg vir hom.
- dien God met letterlik alles in jou vermoë.
Let op Hoe Jesus die versoening wat Hy bewerk het, ingeklee het:
Jesus het gesterf omdat Hy begeer het om ons in die ewige hiernamaals saam met Hom te hê.
- Hy het gesterf omdat Hy die Vader wou dien en gehoorsaam.
- Hy het die raad van sy Vader uitgevoer omdat dit sy grootste begeerte is.
- Hy het die Satan oorwin omdat Hy dit wou doen.
- Hy maak nou plek reg omdat Hy begeer om ons te ontvang wanneer ons lewe hier verby is.
- Hy stuur sy Gees na ons toe, omdat Hy ons wil versorg en omdat Hy
wil hê dat die Heilige Gees by ons begeertes moet opwek om heilig
te wees voor God en ons medemens, en omdat die Heilige Gees ons wil
laat volhard tot die einde toe.
Dit is die verlossing wat ons van die Here Jesus het, kom ons loop daarin.
Kom ons lees Kategismus Sondag 44 saam.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 4:1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 16 Februarie 2003.