Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 68:15.
Gebed.
Psalm 145:8, 9.
Skriflesing: Matteus 6
Teks: Matteus 6: 33
...
maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al
hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Broeders en susters, hierdie preek is 'n ernstige besinning oor ons
benadering of ons gesindheid oor materiële en wêreldse dinge
soos ons dit soms stel teenoor die Koninkryk van God.
Ons kyk na die volgende aantal dinge:
1. Wat is die fout?
2. Wat is die gevolg?
3. Wat stel die Here daarteenoor?
4. Toepassing.
1. Wat is die fout?
By die mense vir wie hierdie preek gelewer is, was daar 'n bepaalde
spanning. Hulle het geworstel met die vraag: Wat is die verhouding van
die aardse koninkryk tot die hemelse koninkryk? Daarom is hierdie preek
toe gelewer waarin hulle geleer word wat die verhouding van die burgers
van die koninkryk van God is tot die dinge wat op hierdie aarde is.
Dis nie 'n vreemde soort van spanning nie.
- Ons ervaar almal hierdie spanning wanneer daar 'n
botsing is tussen die dinge wat ons graag wil doen aan die een kant, en
ons beginsels aan die ander kant.
- Daar mag by ons geen twyfel wees nie: God en sy
Koninkryk kom voor alle aardse dinge.
Vers 19 begin om die probleem prakties aan te sny. Moenie aardse skatte
bymekaarmaak nie.
- Calvyn skryf by hierdie teks dat dit die dodelikste
pes is wat deur die hele wêreld heers, dat daar mense is wat met
'n onversadigbare begeerte om te besit deur die lewe voortsweep.
- Die waarskuwing dat mens verlei kan word om net
aardse dinge soos geld, besittings en rykdom bymekaar te maak, het nie
net in Calvyn se tyd gegeld nie. Dit geld deur alle tye. Daarom staan
die vermaning hier in die Bybel dat die versameling van aardse skatte
laat vaar moet word, en dat daar na hemelse skatte gesoek moet word.
As mens net vinnig oor hierdie gedeelte lees, dan lyk dit asof hier 'n
absolute teëstelling is tussen aardse besittings en die hemelse
koninkryk.
- Maar dit is nie so dat die Here Jesus hier die feit
dat 'n mens op die aarde ook materiële middele bymekaarmaak
veroordeel nie.
- Hy keur dit glad nie af dat mens mag geldmaak en
spaar, enal sulke dinge doen nie. Maar dan moet die manier waarop jy
dit in die hande kry, reg wees.
Ons lees bv. in Johannes 8: 3 dat daar 'n groepie vrouens was wat die
Here met hulle besittings gedien het. En hulle was ryk. Die feit dat
hulle ryk was, word nie deur die Here veroordeel nie, want hulle
verhouding met die Here was reg.
Die saak waaroor dit hier gaan, is dat daar by die mense 'n
klemverskuiwing oor hierdie saak kan wees. En dit is inderdaad so dat
hierdie verkeerde verskuiwing by sommiges van ons voorkom. Besittings
en geld is vir baie mense die hoofsaak van hulle lewe.
2. Wat is die gevolg?
Die saak is nie so eenvoudig nie, want dit is nie waar dat net geld
teenoor die koninkryk van God staan nie.
- Teenoor die koninkryk van die hemele staan daar
alle stelle lewenswaardes wat aardsgerig is.
- Dit kan dinge wees soos misplaaste
verantwoordelikheid, of verwaandheid, of selfs ambisie.
- In alle gevalle waar hierdie soort van ding
oorwaardeer word, en waar dit jou lewe beheers, op so 'n wyse dat jou
godsdiens skade ly, stel jy dit bo die koninkryk van God. Dit is
waarvan die Here hier praat. Dis sonde.
Die saak waaroor dit hier gaan, is nie onbelangrik nie.
- Waar hierdie dinge opduik in mense se lewens,
veroorsaak dit geweldige spanning. Want die dinge wat in hierdie lewe
belangrik is, bots dikwels met die dinge wat hule van die preekstoel af
hoor, en wat hulleself in hulle Bybel lees.
- Dit kan dikwels lei tot kerkvervreemding en
geloofsvervreemding.
Die hele saak lê in die hart en in die gesindheid van elke mens.
- Leef jy na God toe, en vir die Here, of het jy
dinge op die aarde wat vir jou so belangrik is dat dit tussen jou en
die Here kom staan?
- As dit so is, het bysake hoofsake in jou lewe
geword.
- As jy eers dinge het wat hier belangriker raak,
verloor jy die werklike middele wat rus aan jou gemoed gee.
Jesus Christus trek die konsekwensies van hierdie verkeerde
lewenshouding in sy diepte verder: Die koninkryk wat jy op die aarde
vir jou bou, is aan ontbinding blootgestel. Ons weet dit! Dis waar ons
spanning vandaan kom.
- Die Here se woorde het seker hard geslaan onder die
mense wat na Hom gestaan en luister het, want in hulle tyd was veral
klere baie kosbare besittings en dit word deur
die motte vol gate gevreet.
- Hulle geld kon roes, of deur diewe gesteel word en
dan het hulle weer niks.
- Hulle het dus goed verstaan dat die beste en
kosbaarste dinge wat hulle het, net 'n entjie in die tyd in kan hou, en
dan is dit
gedaan.
Eintlik moet die onder ons wat sulke uitermate hoë premies stel op
hierdie lewe en alles wat hier as prestasies in tel is, net onthou dat
die dinge alles maar deel uitmaak van 'n koninkryk wat vol geestelike
armoede is.
3. Wat stel die Here daarteenoor?
Teenoor die aardse strewes wat almal binne die beperktheid van
vernietiging val, stel die Here vir ons die hemelse koninkryk wat
onvernietigbaar is - een wat onslytbaar is en wat baie meer heerlikheid
bied as wat hierdie wêreld ooit kan bied.
Byna absoluut stel die Here dit: Soek die koninkryk van God!
- Die koninkryk van God word by implikasie voorgestel
as 'n groot rykdom om te besit maar 'n rykdom
wat heeltemal van die aardse vorme van rykdom verskil.
- 'n Rykdom wat nie deur motte verteer kan word nie,
en ook nie gesteel kan word nie.
- 'n Rykdom waar jy nie voortdurend gespanne hoef te
wees nie.
Soek die koninkryk van God!
- Dis 'n moeilike opdrag. want dis nie sommer enige
een wat aan die werk kan spring om God se koninkryk te bou nie.
- In die koninkryk van God gaan dit oor dinge wat ons
nie noodwendig met ons liggaamlike oë kan sien nie.
- Daarby kan alle mense die dinge van daardie
wêreld ook nie uitken en verstaan nie. Die Here gee hierdie
vermoë net aan sekere mense. Ons lees dit in hoofstuk 13: 11
Toe
antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om
die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan
hulle is dit nie gegee nie.
Sommiges kan die dinge wat belangrik is vir die koninkryk van God ken,
en ander kan nie, want hulle het nie die gawe daarvoor ontvang nie.
Wat die saak nog moeiliker maak, is omdat ons gereed moet maak vir 'n
koninkryk wat iewers in die toekoms lê.
- Ons is mense van hier en nou: Ek wil nou werk en
nou geld hê en nou 'n motor koop.
- En as en my werk deeglik doen, wil ek nou promosie
hê.
- Daarom moet ons salaris voortdurend verhoog word.
- Dis nie dinge wat onbepaald in die toekoms kan
lê en wag om waar te word nie.
Maar die koninkryk van die Here is nie so nie. Lees maar hoe staan dit
in die saligsprekinge (Matteus 5: 3 10):
- Die armes van gees sal die koninkryk van die hemele
beërf.
- Die wat treur sal vertroos word.
- Die wat honger en dors na geregtigheid sal daar
versadig word met die geregtigheid van God.
Ons lewe nie so vir die toekoms nie.
- Ons wil nie wag vir 'n koninkryk wat nog moet kom
nie.
- Ons wil die vrugte van ons denke en ons arbeid sien
so vinnig as wat ons dink en werk.
In die moderne tye waarin ons nou lewe, het ons hele lewe, ons denke en
ons kultuur 'n wysiging ondergaan. Dis ook waar van ons politiek.
- Ons het heeltemal gerig geraak op die oomblik!
- Onthou u nog die slagspreuke tydens een van ons
vorige verkiesings wat gelui het: Die man vir die uur! (the hour the
man) - nie dat die slagspreuk verkeerd is nie, ek noem dit net omdat
ons beskryf soos ons is. Ons is nie toekomsmense nie.
Dis waarom die Here Jesus so dringend kom waarsku teen die oorskatting
van materiële en wêreldse dinge in hierdie lewe.
- Ons lewe moet sy geestelike karakter behou.
- Ons moet altyd die koninkryk van God bou.
- Dis vir ons baie belangrik om dit weer te hoor,
want in ons tyd het hierdie geestelike lyn na die Here toe maar 'n baie
dun lyn geword.
Lewe u byvoorbeeld so dat u vra wat die Here wil hê dat u met u
salaris moet maak?
- Dikwels beweer lidmate dat hulle nie geld het wat
hulle kan bydra vir die kerk nie. Is dit nie dalk omdat hulle nie besef
dat hulle nie vir die kerk bydra nie hulle bydraes gaan vir
die Here. Hy vra dit!
- Dan is hulle argument dat hulle motorpaaiemente en
huishuur te hoog is, en talle ander argumente word bygelas.
- Maar die rook en drinkgeld en die fliekgeld word
nie oor gepraat nie. Met so 'n benadering dink en lewe ons aards i.p.v.
koninkryksgerig. Dit is die soort van dinge waarvan die Here hier praat.
Die Here Jesus stel ons met sy preek direk voor die Here. Ons wil
hê die ouderling en die dominee moet ons argument glo, maar dis
glad nie waaroor dit gaan nie. Die Here self stel die saak geweldig
absoluut in vers 21:
Want
waar julle skat is, daar sal julle hart ook
wees.
4. Toepassing.
Kom ons pas dit toe:
- As jy God aanbid, sal jou hart daar wees.
- As jy vir jouself en vir die oomblik lewe, sal jou
hart daar wees.
Hierdie vers bedoel met jou hart jou lewenshouding.
- As jy 'n ware gelowige is, sal jy die tydelike lewe
gebruik om God te dien en te verheerlik.
- Jy sal die onsienlike dinge
najaag want mettertyd sal dit al wees wat gaan
bestaan.
- Die Here sê dat Hy hierdie aarde met alles
wat daarop is gaan verbrand. Dan beskik die Here 'n nuwe hemel en 'n
nuwe aarde.
- Die wat hier op die aarde so gelewe het dat hulle
Hom van harte gedien het, hulle sal daar woon. Die ander is nie een
daar nie.
- Daarom beveel die Here Jesus Christus jou nou al om
dit te soek.
Ons spanning kom daarvandaan dat ons dikwels twee Here wil dien:
Hierdie lewe, en die toekomstige. Dis onversoenbaar.
- Die enigste oplossing is om hierdie lewe so in te
klee dat dit heeltemal in die teken van die komende een staan.
- Dis waarom die Here in vers 24 sê dat jy nie
God en Mammon saam kan dien
nie.
Daarom het die woordjie "liefhê" in vers 24 net so 'n radikale
betekenis.
- Liefde staan reg teen oor haat.
- Jy het die Here absoluut lief, of jy haat Hom
absoluut.
Daar is net hierdie twee moontlikhede volgens die Here.
Moenie dink die Here weet nie watter spannings ons in die lewe het nie.
Hy weet, maar Hy weet ook hoe krom ons soms dink en beplan.
Daarom staan daar in vers 25 geskryf:
Moenie
julle kwel oor julle lewe wat julle sal
eet en drink nie; of oor julle liggaam wat
julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die
liggaam as die klere nie?
Hierdie kwelling gaan baie duidelik oor kos en klere.
- Daarom stel die Here dit duidelik dat jy nie kos en
klere saamneem hemel toe nie.
- Soek die koninkryk van God, want dit sal jou laat
lewe.
Luister na die Here se genade:
- Die Here sorg vir die voëls sonder dat hulle
daarvoor moet werk.
- Jy is 'n kind van God. Dit is aan jou gegee om God
te ken, en God self het vir jou aan 'n kruis gesterf om jou sondestraf
te dra en jou met God te versoen. Hoeveel meer sorg sal God nie aan jou
bestee nie.
Jesus Christus het ook hierdie stryd van ons deurgemaak.
- Sy lewe op aarde het 'n stadium gehad waarin sy
menslike liggaam sonder klere en ook nog dors tussen die hemel en die
aarde gehang het.
- Hy kon 'n verdowingsmiddel gedrink het om sy lyde
te versag, maar Hy wou nie.
- Dit het nie in sy stryd gegaan oor liggaamlike
dinge nie: Hy wou die deur van die hemel vir ons oopmaak, en Hy het
besef dat die skande van naaktheid en die pyn van dors Hom nie deur die
graf kan volg nie.
Omdat sy mikpunt van sy lewe en sy dood die koninkryk van God is, lewe
Hy. Hy staan die derde dag op.
- Dis waarom juis Hy vir ons wat toe nog moes volg,
skryf: Soek die koninkryk van die hemele.
- Daar is lewe. Lewe wat Hy aan ons gee in sy
onkeerbare en onbeperkbare Goddelike krag.
- Hy maak nou nog die plek daar gereed, en sy Heilige
Gees skool ons om gereed te wees om daardie koninkryk te gaan bewoon.
- Maar dan moet ons die ingesteldheid hê van
die mense wat daar gaan bly.
Saam met die koninkryk van God, moet ons ook sy geregtigheid soek.
- Dit beteken dat jou regverdige lewensstyl al moet
vertoon dat jy op pad is na God toe.
- Jou lewe moet bewys dat jy onder alle omstandighede
sy wet gehoorsaam en positief onderhou - nie al klaende
nie, maar met vreugde.
Broeders en susters, ons leef in 'n tydsgleuf waarin die beloftes wat
God in Christus gemaak het, al grootliks vervul is.
- Christus lewe reeds in ons en ons in Hom.
- Sy Heilige Gees bly ook reeds in ons, sodat ons
baie deeglik kan onderskei tussen reg en verkeerd.
Ter wille van die Genade wat God aan ons bewys
kom ons dien Hom so dat Hy ons nie hoef te straf omdat ons verkeerde
dinge oorskat het nie.
Ons doen dit vir geen ander rede nie as net om Hom te dank vir sy
liefde in die verlossing wat ons het deur Jesus Christus.
Amen
Slotgebed.
Slotpsalm Psalm 9:1, 9, 10.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 4 Januarie 2004 (aand).