Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus
deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 19:1.
Gebed.
Psalm 118:
Skriflesing:
Teks: Kategismus Sondag 32; Matteus 7: 16, 17
Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. 'n Mens pluk tog nie
druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke boom goeie vrugte;
maar 'n slegte boom dra slegte vrugte.
Die uitlewing van ons geloof is 'n baie fyn en sensitiewe saak. 'n Mens kan maklik in twee uiterstes verval.
- Daar kan baie maklik gedink word dat die geloof alleen by die Here
tel en dat jy dus nie aan jou werke (lewensstyl) aandag hoef te gee nie.
- Die ander kant is ook moontlik, naamlik dat iemand die indruk kan
hê dat geloof nie so belangrik is nie, solank jou lewe (werke) net
van hoogstaande gehalte is.
Altwee hierdie uiterstes is verkeerd.
- Die regte toestand is 'n kombinasie van 'n lewende geloof en goeie werke.
- Jou geloof moet spontaan tot uiting kom in jou goeie werke.
- Die een kan nie sonder die ander nie, en die een kan ook nie losgemaak word van die ander nie.
Ons kyk vanaand in hierdie preek na die volgende sake:
1. Goeie werke word gedoen deur mense wat tot die beeld van Christus vernuut is.
2. Goeie werke as Evangelisasiemiddel.
3. Goeie werke ontbreek by mense wat die Here nie ken nie.
1. Goeie werke word gedoen deur mense wat tot die beeld van Jesus Christus vernuut is.
In die Heidelbergse Kategismus is daar 'n vraag wat vra waarom ons nog steeds
goeie werke moet doen as ons reeds uit genade verlos is. Is dit nie so dat
as iemand weet dat hy "uit genade alleen" verlos is, hy dalk kan voel dat
hy van alle verantwoordelikheid onthef is nie?
- Die antwoord is: Nee.
- Dis waar dat ons met die bloed van Jesus vrygekoop en vrygemaak is.
- Maar dis ook waar dat ons deur die Gees van God tot sy ewebeeld vernuut is.
As ons wil verstaan waarom ons goeie werke doen, en die regte verhouding
waarin dit tot die geloof staan, moet ons eerstens gaan kyk na die goeie
werke van die Here Jesus Christus.
- Jesus se goeie werke was almal gerig op die eer van God, en die verlossing van die gelowiges.
- As jy tot die ewebeeld van Christus vernuut is, beteken dit dat jy
nie onverskillig staan teenoor die verlossing nie, en dat jy uiteraard jou
verantwoordelikheid teenoor jou Verlosser sal besef.
- Dit beteken dat jy die Here Jesus ook in die doen van goeie werke sal navolg.
Daarom sê die Here dat 'n goeie boom goeie vrugte dra.
- Die goeie boom is tog sekerlik hier tekenend van 'n ware gelowige,
en sy goeie vrugte is die spontane goeie werke wat uit sy geloof in die Here
voortvloei.
- Kyk weer na die beeld, want iets word baie skerp gestel: Die goeie boom dra goeie vrugte.
- Die goeie vrugte kom voort omdat die boom goed is
- Dis nie so dat die boom dalk 'n slegte boom is en nou gaan dra hy goeie vrugte sodat hy kan goed word nie.
- Dis nie so dat die boom iets wil verdien nie.
- Sy vrugte is 'n weerspiëling van dit wat hyself is. In Johannes
15: 8 stel Jesus dit duidelik dat God die Vader verheerlik word deur die
feit dat ons vrugte voortbring.
Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. (Johannes 15:8 AFR1953)
Christus het met sy goeie werke en lewe nie net mense verlos nie. Sy sondelose lewe was heel eerste gerig op die eer van God.
- As Christus dan met sy lewe en sy dood behalwe vir die
feit dat Hy ons van ons sondes verlos het die Here verheerlik
het, moet ons dieselfde doen, want ons word juis deur die werk van Christus
hiervoor bekwaam gemaak.
2. Goeie werke en evangelisasie.
Goeie werke het nog 'n kant: dit is ook gerig op die mense rondom my. Ons
moet daarmee ons naaste vir die Here Jesus Christus wen. Ons kan dus sê
dat die doel van goeie werke tweeledig is:
- Eerstens doen ons hulle tot God se eer.
- Tweedens doen ons hulle tot behoud van ons naaste.
Ons bewys ons geloof met ons werke teenoor die ander mense.
- Ons geloofseerlikheid kom in ons werke na vore.
- As jy in jou hart oortuig is van jou geloof, gaan dit spontaan in jou lewensstyl na vore kom.
- Die Kategismus sê dat daar 'n lus by jou gewek word om die wet na te streef.
- Jy ervaar dan 'n bepaalde wil om die geregtigheid van God uit te leef.
- Hierdie spontane lus om te doen wat vir die Here aangenaam is, is niks anders nie as gehoorsaamheid.
- Hierdie eerlike lewenshouding word dan deur die Heilige Gees gebruik om ander mense ook te vernuut en tot bekering te lei.
- Ons lewens word dan rigtingwysers aan 'n krom en verdraaide geslag. Dink maar aan die woorde van Filippense 2:15
…sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek
te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte
in die wêreld, (Filippense 2:15 AFR1953)
- Dit is waarom ons glo dat ons goeie werke ook evengeliserend kan wees, want hulle kan ons naaste trek om tot bekering te kom.
3. Goeie werke ontbreek by mense wat die Here nie ken nie.
Die Bybel praat op baie plekke van afgodsdienaars, egbrekers, gierigaards,
dronkaards, lasteraars, rowers en sulke mense wat met die oordeel van God
te doen gaan kry.
- Dit is omdat hierdie mense met so 'n lewensstyl bewys dat die ware beeld van God in hulle ontbreek.
- Hulle lewe as dankoffer aan God vertoon 'n algehele gebrek aan dankbaarheid
– om die waarheid te sê: hulle lewens staan meestal in die teken van
sonde en verset.
- Ons kan dit Bybels so sê:
- Die heiligwording ontbreek by hulle.
- Hulle lewe dra dus die merke daarvan dat hulle met God gebreek het.
Die ware gelowige moet hierdie dinge raaksien, want dit sal hom in sy eie dankbaarheidslewe weer opskerp.
- Daarom behoort elke gelowige by selfondersoek vir homself te vra: Glo ek werklik?
- En as hy antwoord: Ja, dan moet sy lewe dit bewys. Dan moet sy geloof gedra word deur sy werke.
Ons is almal mense wat gelei word deur die Heilige Gees. Een van die dinge
wat God die Heilige Gees doen, is dat Hy ons verstand so lei, dat ons onsself
ontdek in ons sondes.
- Die Heilige Gees laat ons besef dat ons nie volmaak is nie, en dat ons 'n Verlosser bitter nodig het.
- Elke preek wat gemaak word onder die leiding van die Heilige Gees bevestig
weer op sy beurt die genadekant van hierdie saak, naamlik dat Christus met
sy soenverdienste ons sondes met die toorn van God versoen het. Ons het volkome
vergifnis vir al die foute wat ons maak.
Die Heilige Gees is deur die Here Jesus na ons toe gestuur om onder andere al die volgende dinge te doen:
- Hy bevestig altyd aan ons dat Hy ons lei en regeer om voortdurend vernuut te word tot die beeld van Christus.
- Hy bevestig dus dat ons van nuuts af 'n bekeringslewe sal lewe waarin ons breek met die sondes wat daar nog by ons vassteek.
- Hy bevestig ook dat ons ook sal volhard met goeie werke, waarmee ons die Here loof en dank vir sy verlossing.
Jakobus sê: Toon my jou geloof uit jou werke (2: 18):
Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke.
Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. (Jakobus 2:18 AFR1953)
Kom ons lees Kategismus Sondag 32 saam.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 99:4, 5.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 13 Oktober 2002.