Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 118:1, 9
Gebed
Skrifberyming 15-7:1 (43:1)
Skriflesing:
Matteus 18
Teks:
Matteus 18:35; Kategismus
Sondag 31
So sal
ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy
broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.
Jesus is Koning, maar op ’n ander manier as waarvan hulle Hom valslik
beskuldig het.
- Sy ryk is nie aards en wêrelds nie. Dit is
geestelik, hemels en ewig.
- Sy ryk ontstaan in sy genade en is bedoel om vir
ewig te bly bestaan.
- Dit is in die wêreld, maar tog is dit rein.
- Jesus is as ewige Koning deur God gesalf, tog kom
lewe Hy saam met ons as ’n dienskneg.
- Hy sterf aan ’n kruis, maar Hy lewe vir ewig.
- Sy onderdane kom uit alle volke, maar tog is hulle
een in sy bloed. Almal van hulle is uitvaagsels en afskraapsels as
gevolg van hulle sonde, maar tog is hulle hemelburgers.
Vir hierdie ryk het Jesus sleutels voorsien. Mense kan nie maar net
daar ingaan of uitbly soos wat hulle lus het nie.
Hierdie sleutels bevestig aan ons:
1. Die majesteit van die Koning
2. Die behoud van die onderdane
3. Die noodsaaklikheid van ons bekering
4. Die uitbanning van die onreines
1. Die majesteit van die Koning
’n Sleutel is die mag om ’n huis of ’n stad oop of toe te sluit. In
hierdie geval is dit die sleutel om die hele ryk van God oop of toe te
sluit.
- Jesus Christus het die sleutels en Hy gebruik dit
om in sy koninkryk toe te laat wie Hy wil, en uit te sluit wie Hy wil
(Openbaring 3:7).
- In die sleutels van die hemelryk sien ons die
majesteit van die Koning. Dit openbaar sy mag: Hy het by die Vader alle
mag in die hemel en op die aarde gekry.
Die Here het die mag om te heers uitdruklik nie aan die dissipels
oorgedra nie. Hy het hulle beveel om diensknegte te wees in in sy
koninkryk (Matteus 20:26). Dit geld ook van die dominee, ouderlinge en
diakens in elke kerk van die Here. Ons dienste wat ons beklee, is maar
net die voortsetting van die dienste wat die apostels verrig het, en
wat vir hulle waar was, is vir ons ook waar.
Onthou die woorde van die Here toe Hy die dissipels vermaan het:
Maar
Jesus het hulle na Hom toe geroep en gesê: Julle weet dat
die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en
dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen. Maar so moet dit onder
julle nie wees nie, maar elkeen van julle wat groot wil word, moet
julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet
almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom
om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys
vir baie (Markus 10:42-45; vgl. ook Lukas 22:25).
Dit moet ons egter nie mislei dat ons kan dink dat die kerkraad ons nie
in die Naam van die Here mag tug of selfs by verharding uit die kerk
uitban nie.
- Die Here het inderdaad aan sy diensknegte die mag
gegee om mense in sy gemeente te ontvang of om mense uit te sluit (1
Timoteus 3:1-9. 1 Korintiërs 4:1, 2.).
- Die opsieners en huisbesorgers van die Here moet sy
kudde laat wei, en vir hulle ’n voorbeeld wees, geen gesagvoerders asof
hulle wêreldse regeerders is nie (1 Petrus 5:2, 3; Hebreërs
13:17; Esegiël 3:17-19; 33:7-9).
Jesus is die Opperherder (1 Petrus 5:4). Hy maak sy kele kudde met sy
Gees getrou in hulle aanbidding en gehoorsaamheid aan die Here. Dit is
dieselfde as wat Jesus vir Petrus gesê het dat Hy sy gemeente sal
bou op die belydenis dat Jesus die Christus van God is.
2. Die behoud van die onderdane
Die Here bewaar sy onderdane deur hulle hulle sondes te vergewe.
- Natuurlik is hierdie vergifnis nie vir alle mense
nie, maar net vir dié wat ware onderdane van sy ryk wil wees.
Vir hulle ontsluit Hy die deure van sy ryk met sy bloed.
- As ons die bekende Johannes 3:16 vinnig lees, dan
lyk dit asof die Here die wêreld so lief gehad het dat Hy sy Seun
vir almal gestuur het. Maar dit is nie so nie, want dieselfde vers leer
ons dat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie.
- Dit is hierdie mense van wie die Bybel leer dat
hulle die regverdiges is wat deur hulle geloof sal lewe (Habukuk 2:4;
Romeine 1:16, 17).
Die Bybel leer dus self dat daar mense is wat nie in Jesus Christus glo
nie, en dat hulle almal verlore gaan.
Dit beteken nie dat die mense vir wie Jesus sterf en hulle opneem in sy
koninkryk toe hulle op die aarde gelewe het nie sondes gedoen het nie.
- Natuurlik het hulle sondes. Dawid is een van hulle.
Hy skryf in Psalm 32 dat die een wat hoor dat sy sondes hom vergewe is,
welsalig is.
- Wat Hy nie sê nie, maar wat diep bly vassteek
as ons Psalm 32 lees, is dat daar baie is wat nie bid vir vergewing van
sondes nie, en wat nooit die vrede daarvan smaak dat hulle die Here se
stem hoor dat hulle sondes vergewe is nie.
Die bewaring van die wat gered word, is suiwer uit genade. Christus het
dit verwerf en vir hulle gegee. Dit staan baie duidelik in Romeine 3
geskryf:
. . .
want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid
van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig
deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Hierdie genade is so groot dat die Here dit al in die ewigheid voor die
skepping vir ons bepaal en oor ons wat gered moet word, vasgestel het
(Efesiërs 1:4). Die saak is by die Here so sterk en seker dat Hy
in Efesiërs 2:6 skryf dat ons reeds saam met Jesus Christus
opgewek is, en dat Hy ons reeds saam met Hom in die hemel laat sit.
3. Die noodsaaklikheid van ons bekering
Die hemel bly vir die ongelowiges en mense wat hulle nie met hulle hele
hart bekeer nie, gesluit. Daaroor is die Bybel baie reguit en duidelik,
want dit staan presies so geskryf in 1 Korintiërs 6:9.
Sulke onbekeerdes sal die Here nie kan verwyt dat Hy onregverdig
teenoor hulle was nie. Hulle eie sondes en moedswilligheid is die
direkte oorsaak daarvan dat hulle nie in die hemel sal kan ingaan nie.
Onthou maar net die woorde van Johannes die Doper:
Hy wat
in die Seun glo, het die ewige lewe; maar Hy wat die Seun
ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly
op hom (Johannes 3:36).
Onbekeerlikheid is by die Here skandelik (1 Korintiërs 5:11).
Daarom bekragtig die Here die uitsluiting van ongelowiges in sy Naam
presies soos wat Hy die verlossing in Jesus Christus bekragtig.
- Om dit te doen, gebruik die Here die kerkraad. Hy
openbaar dat wanneer ’n kerkraad iemand uitsluit vanweë sy sondes,
dit inderdaad God self is wat dit doen, omdat hulle bedienaars is van
Christus en van die verborgenhede van God (1 Korintiërs 4:1; 2
Korintiërs 5:20).
Die kerkraad is die Here se wagters op die muur. Hulle moet waarsku as
die vyand kom. Maar hulle moet ook die hekke van die stad sluit om die
vyand uit te hou.
Onthou die opdrag van die Here aan hulle:
. . .
verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê,
bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd
wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat
hulle in die gehoor gestreel wil wees, hulle vir hulle ’n menigte
leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal
afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in
alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n
evangelis; vervul jou bediening (2 Timoteus 4:2-5).
4. Die uitbanning van die onreines
Mense wat volhard in verkeerde dinge is nie by die Here welkom nie. Hy
beskou hulle as verhardes teen Hom en as mense wat onboetvaardig is –
met ander woorde mense wat nie weet wat dit is om berou te hê
nie. Daarom laat Hy hulle nie in sy koninkryk toe nie.
Om sulke mense op die aarde al uit die ewige koninkryk van God uit te
sluit, is natuurlik ’n geweldige saak. Kan u dink wat die Here met ’n
kerkraad en ’n gemeente gaan doen wat iemand verkeerdelik uit die
gemeenskap van die heiliges uitgesluit het?
Daarom vertrou die Here so ’n taak nie aan een mens of net aan ’n paar
alleen toe nie. Ons kry die beginsel in Matteus 18.
- Daar beveel die Here ons om eers alleen met iemand
te gaan praat.
- As hy nie hoor nie, dan neem ons getuies saam.
- As hierdie persoon daarna nog steeds volhard in sy
sondes, gaan ons na die gemeente toe. Dan doen die hele gemeente die
uitbanning – as die sondaar steeds bly volhard in sy sondes en niks
berou betoon nie.
- Die kerkraad doen inderdaad die aksie, maar u moet
onthou dat hulle niks anders is as die verteenwoordigers van die
gemeente nie.
Matteus 18 maak die beginsel baie duidelik dat die tug by die gemeente
begin, en deur hulle almal saam afgehandel word.
Ons kerk is so versigtig met die tug dat ons selfs die hulp van
naburige kerke en van die klassis inroep om te kom help oordeel wanneer
iemand onder die tug moet kom.
- Die doel is dat die ander kerke bygeroep word om
saam seker te maak dat ons nie teen die Here en (moontlik) ’n
medegelowige oortree as ons so iemand onskuldig onder die tug plaas en
uit die kerk uitban nie.
- Die skande vir so ’n persoon is natuurlik ook
groter omdat meer mense direk bewus is van sy sondes.
Die straf van die Here is in hierdie lewe nie liggaamlik nie. Dis
geestelik.
- Sondaars wat in hulle sondes volhard, word van die
Nagmaal af weggehou, sodat hulle die eensaamheid moet beleef dat die
Here nie gemeenskap met hulle wil beoefen as hulle in hulle sondes
volhard nie.
- Indien hulle glad nie tot bekering wil kom nie,
word hulle uit die kerk van die Here uitgeban.
Dit beteken dat hulle deur die Here uit sy koninkryk uitgeban word – as
hulle nie weer iewers tot bekering kom nie, beteken dit dat hulle vir
ewig uitgeban is. Dan is hulle in die hiernamaals in die hel.
In die hel is die straf van die Here nie net geestelik, soos hier op
aarde nie.
- Daar is dit geestelik en fisies, want die liggame
van die mense wat daar is, ly ook geweldig.
- Die Bybel sê dit is soos ’n wurm wat krioel
op ’n ashoop, en dat die mense daar kners op hulle tande.
Solank ons net besef dat bekering moontlik is, selfs nadat ’n persoon
uit die kerk uitgeban is.
- Na bekering word so ’n persoon weer opgeneem in die
volle gemeenskap met die ander gelowiges met vreugde en dank aan God.
- Dit geskied ook sonder wantroue deur die ander
gelowiges.
Die beginsel wat ons moet onthou wanneer iemand na bekering weer
opgeneem word, is dat die Here Jesus sy koninkryk oopsluit vir almal
wat Hom as die hoogste Koning eer, en wat dit met hulle lewens
bevestig.
Kom ons gee almal aandag daaraan dat ons die kudde van die hoogste
Herder bly.
Kom ons lees Kategismus Sondag 31 saam.
Vraag 83: Wat is die sleutels
van die koninkryk van die hemel?
Antwoord: Die verkondiging van
die heilige evangelie en die Christelike
tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir
die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.
Vraag 84: Hoe word die
koninkryk van die hemel deur die verkondiging
van die heilige evangelie oop- en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van
Christus word aan die gelowiges
gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle
sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus
vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n
ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en
huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op
hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie
getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die
toekomstige lewe oordeel.
(a)Joh 20:21-23; Matt 16:19.
Vraag 85: Hoe word die
koninkryk deur die Christelike tug toe- en
oopgesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van
Christus word die wat die naam Christen
dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra
eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle
dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente
of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word.
As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word
hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die
Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus
uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente
aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).
(a)Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 38:1, 17
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 11 Januarie 2004 (aand)