Skriflesing:
Matteus 18:21-35
Sleutelverse:
v21+33
Tema: Vergifnis – wonderlik
om te ontvang....moeilik om te gee.....
Inleiding
Vergewe...miskien, maar vergeet...nooit!! Voel ons nie soms so
nie!? Heel waarskynlik het meeste van ons iemand met wie ons
worstel om te vergewe. Ons hoef nie hard te dink aan hierdie mense
nie, juis omdat ons soveel seer het.
Om te vergewe is beslis nie maklik nie. Dit is ek seker weet elkeen
van ons. Maar hoe werk vergifnis presies? God se vergifnis van my,
vergifnis tussen mense, en selfs vergifnis van myself?
In hierdie gelykenis leer ons dat dit broodnodig is om ‘n goeie
begrip te hê van God se vergifnis van ons, voordat ons iets kan
verstaan van vergifnis tussen mense. En waar daar geen vergifnis is
nie, is daar nagevolge.
God en vergifnis
Die joodse rabbi's het die mense geleer dat dit net nodig is om
drie maal te vergewe. Jesus reageer waarskynlik hierop wanneer hy
in vers 15 begin om te verduidelik hoe vergifnis moet werk tussen
Christene.
Maar Jesus se beskrywing van vergifnis het vir Petrus bietjie te
wyd geklink. Daar moet sekerlik ‘n einde aan wees, mens moet tog
verdien om vergewe te word – waar kom Jesus nou hiermee vandaan!!
En daarom vra hy: “Hoeveel keer moet ek vergewe - Self sewe
keer!!?”
Jesus het geantwoord: “Sewentig maal sewe”. Wat Jesus bedoel het is
nie 490 keer maar “Soveel as wat dit nodig is”. En so verduidelik
Jesus dan deur hierdie gelykenis hoe vergifnis werk vir
koninkryksburgers.
Die koning in die gelykenis het besluit om sy rekeninge in orde te
kry. Hy het nie maar net vergeet nie, en was ook nie van plan om
maar alle skuld af te skryf nie. Elkeen moes voor Hom kom
verantwoording doen.
Aan die een kant dien dit as waarskuwing: Die Here sal kom om jou
te vra waarmee jy besig was in jou lewe. Hy sal nie maar net
vergeet nie. Maar aan die ander kant is dit ‘n groot troos. Want hy
sal ook nie vergeet van al die skade wat ons aangedoen is deur
ander nie. Elke liewe mens sal verantwoording moet doen.
En daarby sal die Here ook regverdig wees in sy bevindinge. In die
gelykenis is ‘n man ingebring wat die koning miljoene geskuld het.
Die Grieks sê 10 000 talente. Een Romeinse provinsie se jaarlikse
belasting was maar 200 talente. Die slaaf se skuld was dus
onbetaalbaar – en hy is daarvolgens gestraf. Hy en sy familie moes
verkoop word – dit was as ‘n wettige straf beskou.
So is God ook regverdig wanneer Hy ons sonde straf. Hy is die
Regter bo alle aardse regters maar met ‘n verskil: Hy kan in ons
harte inkyk en selfs dinge raaksien waarvan ons nie bewus is nie.
En wanneer ons oor die dinge eerlik is, vergewe Hy ons.
Die Griekse woord vir vergewe beteken: Om iets uit te los, Om ‘n
plek te verlaat, Om nie maar aandag aan ‘n saak te gee nie, Om te
ignoreer.
Hy vergeet en ignoreer ons sondes asof ons dit nog nooit gehad het
nie!!
Maar hoe kan ek as mens dit regkry om soveel seer te vergewe? Jy
kan slegs ander mense heeltemal vergewe, as jy maar die kleinste
begrip het van jou eie skuld voor God en hoe Hy jóu' vergewe
het.
En as jy dalk op die oomblik worstel om iemand te vergewe is dit
tyd dat jy weer gaan stilsit en dink aan hoeveel kere jy al
God gesmeek het om jóu' te vergewe!! En wanneer ons dit besef moet
ons geduld hê met ander se foute.
Wonderlik om te ontvang, lekker om te hoor.....maar moeilik om te
gee.
Die mens se vergifnis lyk inderdaad anders as God se
vergifnis!!
Die mens en vergifnis.
Die ontstellende optrede van die amptenaar wat nie sy mede
amptenaar wou vergewe nie is baie treffend in die gelykenis. “Hoe
kan hy!?” wil ons uitroep. Net soos Dawid maak wanneer Natan hom
vertel van die ryk man wat die arm man se bokkie gevat het. So maak
ons wanneer ons van die amptenaar lees.
Soveel kere staan ons op waar ons sopas gebid het vir vergifnis net
om in die volgende situasie waar ons verontreg word nie te wil
vergewe nie. Wonderlik om te ontvang...moooeeiilik om te
gee!!!
Goed. Ek sal Vergewe, dink ons dalk, maar vergeet is darem te veel
gevra!! En dit is waar!! Vergewe is nie ‘n sinoniem van
vergeet nie. Ons moet eerlik hieroor wees – om dinge te vergeet wat
my bitterlik seer gemaak het is as mens byna onmoontlik.
Vergifnis het eintlik niks met vergeet uit te waai nie – maar alles
te doen met wat jy doen as jy onthou. EK HERHAAL!!!
Elke keer wanneer ons onthou kan ons óf van voor af kwaad en
hartseer word totdat die woede en hartseer ons hele lewe beheer en
uiteindelik meer skade aanrig as die oorspronklike saak. Óf ons
kan, elke keer wanneer ons dit onthou ons seer, woede en hartseer
vat en vir God gee. Hom vra om dit vir ons te hanteer, om ons
daarvan vry te maak.
OM ONS DIESELFDE VERMOË TE GEE OM TE VERGEWE SOOS WAT HY ONS
VERGEWE HET!!!
En dan moet ons dit daar los. Ons móét Hom vertrou om regverdig te
oordeel, miskien nie hier en nou in hierdie wêreld nie – maar Hy
sal.
Slegs God weet wat tussen Hom en die ander persoon aangaan – net Hy
kan oordeel. Die koning in die gelykenis het sy boeke nagegaan en
regverdig geoordeel. Maar ons kan nie in ander mense se harte inkyk
nie. Daarom moet ons dit aan God oorlaat
Ons moet mooi let op wat die Here ons hier leer: As ek worstel om
iemand te vergewe moet ek gaan sit en dink aan hoeveel kere ek God
oor en oor gesmeek het om my te vergewe, self vir dieselfde
saak!!!
Die laaste saak wat ons in hierdie gelykenis leer is dat die gebrek
aan vergifnis besliste gevolge het.
Die gevolg van
onvergifnis
Daar is ‘n definitiewe band tussen ons wat ander nie wil vergewe
nie, en God se vergifnis van ons.
Kom ons lees Mat 6:12,14,15 saam. Ons moet mooi lees. Ons bewerk
nie vergifnis vir onsself as ons ander vergewe nie. Dit is
nie wat Jesus hier wil leer nie. Die punt is, wanneer ons ander nie
vergewe nie is dit asof ons sê: "Ek het self nie vergifnis nodig
nie, ek is nie swak nie!" En so draai ons ons rug op God se
genade. Ons sal gemeet word met dieselfde maat as waarmee ons ander
meet!!
As ons dus nie bereid is om ander se swakheid te vergewe nie, kan
ons nie van God vra om ons swakheid te vergewe nie – eenvoudig soos
dit.
Die koning was nie kwaad oor die miljoene wat hy verloor het
nie, maar oor die feit dat die genade wat hy bewys het geen
effek gehad het nie. Ons Here voel dieselfde oor ons wat weier om
ander te vergewe, maar nog ewe gerieflik in sy genade wil
deel.
Die punt hier is: Wanneer ons lyne trek en sê: "Dis onvergeeflik"
sal Hy ook vir ons lyne trek – want dan verstaan ons in elk geval
niks van geloof en genade nie.
Slot
God se genade is daarom totaal anders as mense se genade
Sy genade is nie ‘omdat’ genade nie, maar ‘n ‘ten spyte van’
genade.
Wanneer ons worstel om te vergewe is die antwoord om te dink aan
hoe nodig ek God se vergifnis nodig het. Ons sal gemeet word met
dieselfde maat waarmee ons meet!!
Laat ons daarom, in navolging van Christus, stadig wees om kwaad te
word en ryk wees in ons genade en geduld met ander.
Amen
Ds Griffel van Wyk (predikant Geref Kerk
Kaapstad)
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 2 Julie 2006
(aand)