Sing vooraf:
Psalm 19:3.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 84:1, 6.
Geloofsbelydenis: Nicea
Na die wet bely ons voor
God ons sondeskuld en bid vir
vergewing van ons sondes met Psalm 16:1.
Wet
Psalm 16:1.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking
vir die nood van die gemeente
en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige wêreld,
asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene
bede:
- Verligting
van die Gees ter wille van
die Woorddiens:
Amen.
Psalm 45:9.
Skrilfesing:
Matteus 19.
Teks:
Kategismus Sondag 41. Matteus 19: 6b
Wat God dan saamgevoeg het, mag
geen mens skei nie.
Die Here het in sy skepping baie dinge saamgevoeg, wat maak dat die een
nie sonder die ander kan voortbestaan nie.
- Daar is byvoorbeeld 'n onlosmaakbare
eenheid tussen Christus en sy kerk.
- Net so is daar 'n onverbreekbare band
tussen die gelowige en die Heilige Gees.
Dis alles dinge wat God ingestel het dat dit vir altyd so sal wees. Dit
is verhoudinge wat die grootheid van God in sy werke verkondig.
As ons gaan kyk na die verhoudinge wat die Here tussen mense ingestel
het, kry ons daar die verhouding waarvan die Here Jesus in hierdie
gesprek van Hom met die Fariseërs praat: Die verhouding tussen
man en vrou - die huweliksverhouding.
- Dit is die een verhouding wat die Here ingestel het met die
uitdruklike
bevel dat hierdie verhouding nie weer opgebreek mag word nie.
- Hierdie verhouding tussen man en vrou word deur die Here
ingestel om 'n
hele reeks funksies te vervul,
waarvan die belangrikste is dat dit die
verhouding tussen Hom en sy uitverkorenes moet weerspieël.
Kom ons kyk wat die doel van die huwelik is:
- Die huwelik moet
lewe bewaar, want deur die huwelik word die voortgang van die
mensgeslag onderhou.
- Dit bring ons by
die tweede aspek van die huwelik ‑ die geestelike
aspek daarvan. Die huwelik se eerste en hoogste doel is dat God twee
mense saamvoeg om Hom te verheerlik.
- Die derde aspek
van die huwelik is dat dit ‘n verhouding is van hoop en
vertroue.
- Die vierde aspek
van die huwelik is dat dit as basis van God se kerk getroetel moet word.
1. Die huwelik moet
lewe bewaar, want deur die huwelik word die voortgang van die
mensgeslag onderhou.
Eerste kyk ons na die aardse
beginsel van die huwelik: Die Here het
voorsien dat mense op 'n heel ander beginsel voortplant as diere.
- In die mensdom moet elke man en vrou vir hom/haar een
lewensmaat
uitkies uit wie die Here kinders gebore laat word. So gaan die
mensgeslag voort.
- Daarby is die doel van die huwelik om die lewe vir die mens
aangenaam
te maak, omdat mense as lewensmaats aan mekaar toegewys word wat mekaar
moet verryk en mekaar se laste moet dra.
Ons lees van die eensaamheid wat Adam deurgemaak het. Dit was so erg
dat hy onder die diere vir hom ’n lewensmaat gesoek
het - maar niks gekry het nie.
- Die Here het toe vir hom 'n lewensmaat gemaak, en haar na
hom toe
gebring.
- God het hulle dus as man en vrou vir mekaar bestem.
- Nou glo ons nog al die eeue dat die Here vandag nog elke
man en vrou in
die huwelik saamvoeg dat hulle in hulle saamwees die heerlikheid van
God kan (en moet) verheerlik.
Uit die skeppingsgeskiedenis is dit duidelik dat die huwelik nie iets
is wat deur 'n menslike brein uitgedink of uitgevind is nie.
- Dit is 'n instelling van God. Daarom
is dit vir die Here 'n moet dat mense wat eenkeer getroud is, met
mekaar getroud moet bly.
- Al sou ons as mense watter rede ookal
uitdink waarom 'n huwelik in die skeihof beland, vir die Here bly dit
'n oortreding om te skei.
- Die Here verwag dat alle huweliksgenote op die basis van
berou en
bekering van hulle sondes sal afstand doen en in Hom vernuut word.
- As alle getroudes dit doen, sal elke huwelik altyd vars
en nuut bly.
2. Dit bring ons by
die tweede aspek van die huwelik ‑ die geestelike aspek
daarvan. Die huwelik se eerste en hoogste doel is dat God twee mense
saamvoeg om Hom te verheerlik.
In die Ou Testament sê die Here al dat hierdie twee mense wat
Hy in ’n huwelik verbind, een vlees sal wees.
- Hulle word dus deur die Here tot 'n eenheid saamgevoeg ‑
- nie net
liggaamlik nie,
- maar
veral ook ten opsigte van hulle geloof en aanbidding.
In ons huwelikslewe moet ons altyd in gedagte hou dat die Here leer dat
ons liggaam sy tempel is. Dit beteken dat daar 'n dubbele
gemeenskapsverhouding in die huwelik is.
- Die een is die verhouding van
liefdesgemeenskap tussen man en vrou.
- Die tweede een, is die verhouding van
geloofs- en aanbiddingsgemeenskap met God.
As ons dit in gedagte het, dan gaan kyk ons na watter dinge alles in
ons huwelike moet voorkom.
- Die eerste is dat man en vrou saam 'n geloofsverhouding met die Here
moet hê, soos wat die Here dit in sy Woord eis.
- Man en
vrou moet die Here saam aanbid.
- Ons kan
nie in 'n huwelik ingaan en maak asof ons gelowiges is, terwyl ons
inderdaad valse of halwe gelowiges is nie.
- Die Here
se Woord moet leef in ons getroudes se omgang met mekaar en met die
Here.
- Daarom is dit logies dat die tweede verhouding 'n liefdesverhouding
volgens God se Woord moet wees.
- Die Here
wil hê dat die liefdesverhouding in die huwelik die
verhouding tussen Hom en sy kerk moet uitbeeld.
- Daarom
moet 'n man en vrou mekaar hulle hele lewe lank liefhê, omdat
die trou van die Here daarin weerspieël moet word.
- Egskeiding is vir die Here 'n simbool daarvan dat ons liefde onopreg is
omdat dit rondval.
- Dit is
ook waarom die Here nie wil hê dat mense onkuis of losbandig
moet lewe nie.
- Eintlik vra die Here meer as dit: Hy wil nie hê dat ons ons
moet skuldig maak aan enigiets wat aanleiding kan gee tot onkuisheid
nie.
3. Die derde aspek
van die huwelik is dat dit ‘n verhouding is van hoop en
vertroue.
Soos wat man en vrou mekaar vertrou en op mekaar se steun hoop in
donkerder tye, so moet ons hoop gerig wees op die getrouheid en krag
van die Here om ons te dra in die donkerste oomblik wat daar is: die
oomblik van ons dood.
- Daardie oomblik verwag ons dat die
getrouheid van sy liefde ons van die ewige dood sal vryspreek en in die
ewige lewe sal vestig.
- Ons kan nie daardie getrouheid van die
Here verwag as ons eie liefde nie ook daardie eienskap dra nie.
Opgesom beteken dit alles dat die Here 'n man en vrou saambind in 'n
huwelik
- sodat hulle hulle saam kan oefen in
die Godsaligheid.
- Sodat hulle saam kan bid, en saam kan
dank.
- Dat hulle die Here saam kan loof
wanneer Hy hulle seën,
- maar dat hulle ook saam kan smeek
wanneer hulle beproef word.
Hierdie fisiese gemeenskap tussen man en vrou moet dus 'n middel wees
wat die geestelike gemeenskap moet ondersteun:
- Tussen hulle onderling
- Maar ook met God.
As ons al hierdie dinge weet, besef u meteens waarom die Here die
ernstige eis aan ons stel dat ons nie mag skei nie. Hy het
huweliksmaats saamgevoeg om sy raad tot sy eer uit te voer, en wat Hy
saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.
As ons teen hierdie agtergrond kyk na redes waarom ons mense soms
huwelike opbreek, word ons diep, diep bang.
- Die Here waarsku dat ons nie oor enige rede mag skei nie
‑ want Hy weet dat Hy met hierdie "enige rede" bedoel "enige
soort sonde."
- Daar is geen saak moontlik waaroor mense uitmekaar sal gaan nie,
behalwe wanneer sonde hulle verhouding vertroebel.
- Die algemeenste dinge wat huwelike laat verbrokkel, is
- ongeloof,
- liefdeloosheid,
- die feit
dat ons mekaar geen lewensruimte gee nie - ons noem dit selfsug.
- Dan is
daar natuurlik ook nog losbandigheid.
Die probleem is dat waar sonde in die huwelik posvat, die eenheid
tussen man en vrou verbreek word en daarmee saam is die beeld van die
eenheid tussen God en sy kerk verlore.
4. Die vierde aspek
van die huwelik is dat dit as basis van God se kerk getroetel moet word.
Daarom moet ons ons huwelike oppas en troetel as 'n groot kleinnood.
- Ons moet altyd waak en bid dat die sonde ons nie oorval, en hierdie
grootse instelling van die Here in ons lewens skade ly nie.
- Onthou dat Jesus Christus se dood 'n versoeningsdaad was om die gebroke
huwelik tussen God en sy kerk te herstel.
- Hy het die straf gedra daarvoor dat die verhouding tussen die mensdom
en God vertroebel is, en selfs verbreek geraak het, omdat die mens
homself aan sonde oorgegee het.
Die een groot saak wat hieruit duidelik is, is dat die Here hiermee
aantoon dat Hy 'n bepaalde werksmetode het:
- Dit is dat wanneer daar skade kom tussen Hom en die mense wat Hom
liefhet, Hy nie hierdie verhouding verbreek nie, maar herstel.
- So gesteld is die Here daarop dat Hy met die dood hierdie verhouding
herstel.
Ons moet in ons getroude lewens daarmee erns maak dat ons saam ons
kragte ingooi om die eer van God te verheerlik. Waar ons kortkom, daar
moet ons met 'n bekeringslewe biddend die saak met God en in ons
huwelik regstel, sodat ons huwelik kan wees wat die Here vra dat dit
moet wees.
Kom ons lees Kategismus Sondag 41 saam.
Vraag 108: Wat leer die sewende gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom
moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis
en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).
(a)Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess
4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net
egbreuk en sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die
Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig
bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde
(a), gedagtes, luste (b) en alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c).
(a)Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27,
28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 7-2:2.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 8 Oktober 2006
(oggend)