Sing vooraf:
Psalm 2:5
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 42:1, 5
Gebed
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Vergifnis:
- Dank:
- Smeking
vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en
sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene
bede:
- Verligting
van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 66:4
Skriflesing:
Matteus 25
Teks:
Matteus 25:10; Kategismus Sondag 31
En onderwyl hulle gaan om te
koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom
ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. (Matteus
25:10 AFR53)
Die deur van die bruilofsaal van die hemel word gesluit. Onherroeplik.
- Niemand maak dit ooit weer oop vir dié wat buite
is sodat hulle kan inkom nie.
- Hulle het nie gehoor gegee aan die prediking van verlossing
deur Jesus Christus en die roeping deur die Heilige Gees dat hulle
getrou moet bly en standvastig in hulle geloof nie.
- Daarom was hulle nie gereed om saam met die Here Jesus in
te gaan toe Hy gekom het nie.
Vir wie is die deur gesluit? Die antwoord is: vir die wat
onverantwoordelik is en wat in hulle kwaad volhard.
- Ons hoor dikwels dat ’n gelowige sê dat
hy nog sal regmaak met God.
- Hy weet hy doen sekere dinge wat God haat, maar hy sal
vorentoe afstand doen daarvan.
Daar was vyf dwase
maagde wat ook nie op datum was nie. Toe hulle vorentoe gaan regmaak
het, het die Here hulle buitekant sy koninkryk toegesluit. Vir ewig.
Die Here het vir sy kerk die opdrag gegee om in die Naam van Jesus
Christus op die aarde sekere mense uit die kerk uit te sluit. Lees die
gedeelte wat verhaal word in Matteus 16:13 vv. Jesus vra vir die
dissipels wie hulle sê dat Hy is. ’n Paar antwoorde
word gegee en dan sê Petrus:
U is die Christus, die Seun van
die lewende God.
- Jesus sê dan dat hy salig is, want die Vader wat
in die hemele is, het dit aan hom geopenbaar.
- Maar verder sê die Here Jesus dat Hy sy kerk sal
bou en dat Hy die sleutels van die hemelryk aan die kerk gee sodat
alles wat die kerk op die aarde bind, ook in die hemele gebind sal wees
en wat hier ontbind – dit is uitgesluit – word, sal
ook in die hemel uitgesluit wees.
Dit gaan dus daaroor dat die mense wat aan die kerk behoort, Christus
werklik as die Seun van die lewende God moet bely.
- ’n Belydenis nie net met die mond nie, maar ook
met die hele lewe.
- Jakobus sê mos dat iemand nie vir hom moet kom
sê dat hy glo nie; hy moet dit vir hom bewys met sy werke.
Kyk na die baie belangrike punt van hierdie gelykenis wat Jesus
Christus maak. Daar is tien maagde wat vir die Bruidegom wag.
- Dus: tien lidmate van die kerk – die koninkryk
van die hemele gaan dus gesluit word vir mense wat voorgee dat hulle
gelowiges is.
- Hulle is gedooptes, en belydendes:
- Mense wat behoort kerk toe te kom.
- Mense wat saam behoort te werk en te stry in die
koninkryk van God.
- Mense wat gemeenskap met mekaar behoort te beoefen
– wie se olie dan opraak.
Ons dink ook hier aan ’n ander gelykenis wat Jesus vertel
het, naamlik die een van die onkruid op die land.
- Daar vertel die Here van die verkeerdes wat dwaal, omdat
daar ander waardes aangelê word as die Woord van God.
- Dis mense wat dan nie dieselfde vrugte gee as die saad wat
deur die landbouer gesaai is nie.
Die profeet Jeremia het dit baie goed gestel (Jeremia 8:9):
Die slim mense kom in die skande,
is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die Here verwerp,
en watter wysheid sou hulle hê? (Jeremia 8:9
AFR53)
Die Bybel bedoel hier sekere kerklidmate.
- Anders gestel – lede van God se volk wat met
hulle eie slimmighede alewig anders doen as wat God van hulle vra.
- Hulle verskonings waarmee hulle hulle verhardheid teenoor
God bedek, is onberekenbaar. Hulle selfregverdiging van hulle sondes is
niks anders nie as ongeloof!
Wanneer word daar toegesluit vir die ongelowige?
- Wanneer ’n ongelowige wat lidmaat is van die
kerk, met sy sondes volhard, dan word hy met die tug, en later die ban,
uit die kerk van Christus uitgesluit.
Dit gebeur dus nie onmiddellik nie. ’n Mens sondig nie vandag
en môre word jy uit die kerk geban nie.
- Ons lees in Matteus 18:16 vv dat jy eers jou medegelowige
alleen moet gaan vermaan.
- As hy nie hoor nie, dan gaan jy later weer, maar hierdie
keer neem jy ’n getuie saam.
- As hy vir julle nie hoor nie, dan gaan julle kerkraad toe.
- En as hy vir die kerkraad – dus die gemeente
– nie hoor nie, dan moet hy vir jou wees soos ’n
heiden en ’n tollenaar. Dan word hy uit die gemeenskap van
God en sy kerk uitgeban.
Al wat die Here Jesus Christus hier sê, is dat ’n
mens tydsaam met ’n sondaar moet werk.
- Almal sal nie ewe lank vermaan word nie, want die aard van
alle sondes is nie dieselfde nie.
- Dit mag wees dat een se sondes so erg is dat hy van Nagmaal
tot Nagmaal deur die kerkraad bearbei word en dan afgesny word.
- Dit mag selfs wees dat dit jare duur voordat die ban
toegepas word.
Maar ons lees ook in Johannes 20:21-23 dat Jesus die opdrag aan die
dissipels gee om te oordeel oor die mense se sondes – of dit
teen hulle gehou moet word of nie.
- Die dissipels was in daardie stadium die kerkraad, want
daar was nog nie ’n kerk gestig en ouderlinge en diakens
verkies nie.
- Die beginsel is egter duidelik: die kerk moet oordeel of
iemand volhard in die kwaad, en of hy bewys lewer dat hy hom nie wil
bekeer nie.
Hoe word die koninkryk van God gesluit vir dié wat volhard
in hulle sondes?
- Nie met leedvermaak nie.
- Ook nie met haat nie.
- Ook nie luidrugtig en met ’n groot geskreeu nie.
Die gelykenis toon baie mooi aan dat die sondaar homself as
’t ware uitsluit.
- Die dwase maagde was nie daar toe die Here die ander laat
ingaan het nie. Toe hulle kom, was die deure klaar gesluit.
Die klem lê dus baie swaar op die lidmaat se
verantwoordelikheid en waaksaamheid.
- Hy moet so wakker en hardwerkend wees dat hy elke oomblik
saam met die kerk beweeg na die wederkoms toe wanneer die Bruidegom kom.
- Anders raak hy weg langs die pad.
Die lidmaat wat in sy sondes volhard, word dus uitgesluit om die eer
van God te handhaaf in die kerk.
- Daarom moet die gemeente dit ook op so ’n wyse
doen as wat waardig is aan die eer van God.
Ons lees in Galasiërs 6:1 hoe dit gebeur:
Broeders, as iemand ewenwel deur
een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een
reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat
jy ook nie versoek word nie. (Galasiërs 6:1 AFR53)
Ons moet dus:
- Eerstens die ander persoon bearbei sodat hy van sy sondes
kan afstand doen.
- Die tweede is dat ons sagmoedig moet wees.
- Baie bedaard moet ’n sondaar vermaan word, van
die eerste tot die laaste trap van sensuur.
- In die grootste liefde moet daar aan hom gesê
word dat dit hyself is wat die kwaad oor hom bewerk en dat hy ter wille
van die eer van God en die behoud van die kerk getug – en in
die uiterste gevalle selfs met die ban uit die kerk geban moet word.
Al hierdie Skrifgedeeltes leer die geweldige verantwoordelikheid wat
elkeen van ons teenoor Christus het.
- Dit leer die eis wat God aan sy kerk stel, naamlik om die
eer van God en die behoud van die kerk te handhaaf.
- As een sondaar geduld word in sy kwaad, sal die res van die
lidmate in hulle sondes ook wil doen soos hy doen.
- Hulle sal dan ook soos hy verdra wil word, en dan verander
die koninkryk van God in ’n koninkryk van onheiliges
– mense wat die eer van God nie werd is nie.
Die Here Jesus Christus het gesterf tot vergifnis van sondes.
- Daarmee het Hy gesorg dat die laaste dag op die aarde
afgesluit sal word met die bruilof van die Lam – die bruilof
wanneer die Here Jesus weer kom.
- Dan gaan dié wat gereed is saam met Hom in die
bruilofsaal tot in ewigheid.
- Die ander word uitgesluit in die swart verlorenheid van die
hel.
Die dood van die Here Jesus Christus stel ons dus in die volle lig van
God se genade.
- Maar dit stel ons ook ten volle in ons verantwoordelikheid
teenoor Hom.
- Hoe wag ons vir die wederkoms? Hoe glo ons? Met die mond of
met woord en daad?
- Hoe paraat is ons? Sy dood stel ons ook voor ’n
absolute beslistheid. Dan is daar nie meer tyd vir oliekoop nie. Dan is
regmaak te laat.
Geliefdes, werk en glo. Want die Here Jesus Christus plaas ons in die
tyd –
- juis sodat ons die tyd moet uitkoop om God te verheerlik;
- juis om ons geloof te verdiep; en
- juis om te sorg dat ons gereed is wanneer die Bruidegom kom
en dat ons saam met Hom ingesluit kan word wanneer Hy die poorte van sy
koninkryk sluit.
Die inhoud van hierdie preek kry ons saamgevat in ons belydenis
Kategismus Sondag 31.
Vraag 83: Wat is die
sleutels van die koninkryk van die hemel?
Antwoord:
Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met
albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die
gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.
Vraag 84: Hoe word die
koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie
oop en toegesluit?
Antwoord:
Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en
afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle
waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is
so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ’n
ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en
huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op
hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie
getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die
toekomstige lewe oordeel.
(a)Joh 20:21, 23; Matt
16:19.
Vraag 85: Hoe word die
koninkryk deur die Christelike tug toe en oopgesluit?
Antwoord:
Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en
tog ’n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra
eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle
dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente
of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê
word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie,
word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit
die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus
uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente
aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).
(a)Matt 18:1517; 1 Kor
5:4, 5, 11; 2 Kor 2:68.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 118:9
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 6 Augustus 2006
(aand)