Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:5 en 6
Geloofsbelydenis Apostolicum
Na die wet bid ons vir
vergewing van ons sondes en vir die bewaring van die Here met Psalm
133:1 en 2.
Wet: Eks 20 en Rom 13:8-10
Psalm 133:1 en 2
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking
vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en
sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene
bede:
- Verligting
van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 23:1
Skriflesing:
Matteus 25:31-46
Teks:
Matteus
25:34-36
(34) Dan sal die Koning vir
dié aan sy regterkant sê:
'Kom, julle wat deur my Vader geseën is!
Die koninkryk is van die begin van die skepping van die
wêreld vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in
besit, (35) want
Ek was honger, en julle het My iets gegee om te
eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te
drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My
gehuisves; (36) Ek was sonder klere, en
julle het My klere gegee; siek, en julle
het My verpleeg; in die tronk, en julle het My
besoek.' (1983 AV)
Geliefde broeder en suster;
Elkeen van ons ken die
beeld van ‘n “herder”.
Ek is seker ons jong kinders ken ook al hierdie beeld van ‘n
skaapwagter of herder vanuit die Bybel.
Koning Dawid was mos ‘n skaapwagter voordat God hom geroep
het en hy het Psalm 23 gedig wat julle goed ken en ons herinner dat God
ons Herder is.
Die beeld van ‘n “Herder” roep in jou
gedagtes die beeld van versorging op.
Jy hoor in die beeld die woorde van Jesus Christus wat
verklaar: Ek is
die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die
skape. (Joh 10:11vv)
Hy gee om vir sy skape,
ken sy skape by die naam en sorg vir sy skape.
Maar in hierdie gedeelde
gebruik Jesus hierdie selfde beeld van ‘n “Skaapwagter”
as beeld vir God se oordeel.
God het Jesus, die
Herder van sy skape aangestel as sy Regter oor alle mense.
Wanneer Hy kom gaan dit wees soos wat ‘n skaapwagter met sy
skape doen.
‘n Skaapwagter het in die tyd van Jesus nie net skape opgepas
nie, maar het die kleinvee opgepas.
Julle onthou mos vir Moses wat die kleinvee van sy skoonpa
“Jetro” opgepas het.
Kleinvee is meer as net skape...
Skaapwagters was mense in die veld wat skape en bokke en selfs nog
ander kleinvee opgepas het.
In die winter het hierdie veewagters die skape van die bokke geskei,
sodat die bokke in ‘n grot, beskut teen die koue kon oornag
en die skape met hulle dik wol in ‘n kraal die nag kon
deurbring.
Jesus gebruik dit as die
beeld van skeiding... die skape van die bokke skei... as
beeld van sy ewige oordeel.
Die skape word aan sy regterhand geplaas en die bokke aan sy linkerhand.
Hierdie beeld van skeiding verkondig aan ons dat Jesus weer gaan kom as
die Regter van hemel en aarde.
En as Hy as Regter verskyn kom Hy in sy volle heerlikheid as Koning.
JOU
BEDIENING VAN NOOD IS VIR JOU KONING BESLISSEND
Geliefde;
Dieselfde Jesus wat as
Herder “omgee
liefde” vir ons het, sal ook kom as
die Regter in die diens van God.
Let op! Jesus noem Homself hier die “Seun
van die mens” wat op sy koninklike troon gaan sit.
“Seun
van die mens” sê: Hy het vir
ons sy heerlikheid afgelê en het vir ons mens geword en onder
ons kom woon het.
Hy is die Herder wat vir ons Lam geword het en Homself as offer vir ons
sondes gegee het.
Hy het ons met sy bloed gekoop om die skape van sy weide te wees.
Maar Jesus is ook deur
God verheerlik en gaan weer kom as Regter.
En hier word vir ons
gesê in watter heerlikheid Hy as Regter sal kom.
Hy sal in majesteit kom saam met sy engele wat sy heerlike verskyning
sal aankondig en voor alle mense sal verklaar dat Hy God se aangestelde
Regter is.
En hy sal met
heerlikheid gaan sit op sy Koninklike troon.
U onthou nog vir Paulus toe hy voor koning Agrippa en Bernice moes
verskyn?
Toe het Agrippa met groot vertoon en met al die belangrikste personeel
die raadsaal binne gekom.
Dit is maar ‘n klein beeld van wat sal gebeur as Jesus
Christus in sy heerlikheid in volle reg en geregtigheid kom.
Jesus gaan in sy volle
heerlikheid kom vir almal om te sien.
Sy engele sal as sy diensknegte alle nasies voor sy troon bymekaar maak.
Niemand sal gemis word in hierdie oordeel nie en die oordeel gaan ook
nie in die algemeen oor groepe mense wees nie, maar oor
elkeen..., oor elke individu uit elke volk en taal en nasie.
En Hy gaan hulle dadelik van mekaar skei... die skape van die
bokke.
Jesus het ook nog ander beelde gebruik vir hierdie skeiding:
Die kaf van die koring Matt 3:12 en die goeie visse van die
onbruikbare visse Matt13:47.
Daarmee wou Jesus hierdie skeiding tussen mense in sy oordeel vir
duidelik maak.
Maar hier word die beeld van skape en bokke gebruik wat die vervulling
van ‘n Skrifgedeelte in die Ou Testament vir ons aandui.
Eseg 34:17
"En wat julle betref, my
kleinvee,” sê die Here my God, “Ek gaan
regverdig oordeel tussen skaap en skaap en tussen skape en bokke.
Dan sal Jesus as Koning
en Regter vir die skape aan sy regterkant sê: Julle wat deur die Vader
geseën is.
En wie van ons wil nie dit graag hoor nie: Geseënd is jy....
En dan nog al met die seën van ons Hemelse Vader en hoor hoe
ryk is daardie seën wat Hy aan die aan sy regterkant wil
skenk: Die Koninkryk van God.
Daarmee word alles verwoord wat God van die begin van die skepping af
reeds beplan het en gereed gemaak het vir die wat Hy deur Jesus
Christus wou verlos.
‘n Heerlikheid sò groot dat dit nog nooit in ons
gedagtes opgekom het nie.
Hoe graag sal ons dit nie wil hoor nie: Geseënd is
jy...., jy dra jou hemelse Vader se seën saam met
jou..., hartlik welkom, baie welkom in
die Koninkryk van God.
Jy wat deur die wet eintlik ‘n vervloekte moes gewees
het, dra deur Jesus Christus nou die seën van die
Vader met jou saam.
Kom binne en neem sy ewige seën... sy Koninkryk vir jou as
erfenis in besit..... nimmer eindigende saligheid.
Maar dan volg daar iets
baie belangrik wat Jesus jou wil laat hoor en as jy dit goed lees dan
hoor jy dat dit gaan oor ons barmhartigheid.... of ons kan
ook sê ons warmhartigheid.
En dit gaan nie oor geld nie..., daardie rand of twee wat jy
vir die boemelaar gee wat aan jou deur klop of die man met die bordjie
by die robot nie.
Nee, dit handel oor alle soorte nood van mense.
Luister maar: Ek
was siek..... die nood wat siek-wees in iemand
se lewe bring; Ek
was honger... Ek was dors.... die nood aan
versorging in daaglikse behoeftes; Ek was ‘n vreemdeling...,
die nood van eensaamheid en afsondering; Ek was in die gevangenis...,
die nood wat sonde in jou lewe bring; Ek was sonder klere...,
die nood aan die basiese behoeftes van ons as mense.
Jesus stel hier alles soorte nood voor ons oë.
En daarmee verklaar
Jesus dat die bediening van die nood van mense in hierdie
wêreld vir Hom geweldig belangrik is.
Ons hoor dit in die woorde verpleeg, versorg,
gevoed, gehuisves en besoek.
Die nood van mense moet bedien word.
Vir die Here is ons omgee vir mekaar as mense sò geweldig
belangrik... soveel sò... dat Hy dit die getuienis
maak van jou geloof..., van jou band met Hom.
As jy ‘n band
met Jesus Christus het, dan moet in jou hart presies
dieselfde gesindheid leef wat in ons Herder se hart geleef het.
En jy ken die gesindheid van ons Herder toe Hy hier op aarde
was: Hy het siekes gesond gemaak, lammes laat
loop, blindes laat sien....
Hy het omgegee vir die mens in nood... alle soorte
nood... Hy het alle mense in nood innig lief gehad en hulle
nood met dade van liefde bedien.
Trouens, Jesus
het in hierdie wêreld gekom vir ons grootste nood:
Sonde.....
Want wat maak dat daar soveel nood in die wêreld
is? Sonde het dit in die wêreld gebring!
Jesus kom in sy omgee liefde uit sy hemelse heerlikheid in hierdie
wêreld om vir sondaars te sterf.
En Hy neem daarmee die wortel van ons kwaad weg, Hy sterf vir
die sonde.
En daarmee sê Jesus vir jou dat Hy jou grootste nood van jou
weggeneem het: Jou skuld is vergewe en jy is met
God versoen.
Deur Sy lyde en sterwe het God jou aangeneem as sy kind en is Hy die
Herder van jou lewe.
En daarom moet hierdie gesindheid ook in jou lewe....:
Dieselfde barmhartigheid wat Jesus Christus oor ons gehad het en
dieselfde liefde wat Hy aan ons bewys het moet sigbaar word in ons
omgee vir die wat in nood verkeer.
En nou moet u dit maar
goed hoor: Vir Jesus is ons bediening van hulle in nood
beslissend.
Vir Hom is dit die
getuienis dat ons werklik in ‘n band met Hom geleef het.
Die fynste detail van ons barmhartigheid teenoor ander is vir Hom
belangrik.
Die kleinste daad van liefde aan die kleinste, die onbelangrikste van
sy mense hier op aarde sien Hy raak.
Al was dit ook net ‘n glas water vir die een wat dors het of
‘n broodjie vir die een wat honger het.
Al was dit dat u iemand in die gemeente wat eenkant staan maar net
vriendelik gegroet het; of ‘n huisgesin wat nie die
aandag van baie in die gemeente kry nie, genooi het vir
‘n koppie tee en koffie.
Al was dit daardie hospitaal besoek van jou aan iemand wat jy glad nie
eens goed ken nie, of die kort rukkie wat jy aandagtig na
iemand met probleme gestaan en luister het.
Elke daad van jou
warmhartigheid, die heel nietigste daarvan neem die Here as die
getuienis van jou geloof in Hom.
Dit red jou nie...., nee, jou band met Jesus Christus red
jou, maar jou dade van liefde teenoor hulle in nood getuig van jou
vertroue in Jesus Christus se verlossingswerk.
Geloof wat deur dade van liefde werk is die alles in alles bewys van
ons geloof in Jesus Christus.
Jakobus vra jou die vraag: Goed, wys dan vir my jou geloof
wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof uit my dade
wys. Jak 2:18b
Ons omgee liefde is vir Christus so belangrik dat Hy dit die getuienis
maak voor sy regterstoel dat jy werklik God se kind is.
Mag ons maar so nederig
wees soos die gelowige wat vra: Wanneer... Wanneer
het ons dit gedoen?
Hierdie vraag dui eintlik op die begrip van hoe nietig ons dade van
dankbaarheid eintlik maar is.
Vir ons moet ons dade van barmhartigheid eintlik maar ‘n
nietigheid wees.
Ons moet kan sê: Ek kan dit nie goed
onthou nie....
Wat ons gedoen het is sò klein teenoor die geweldige en
onbegryplike groot barmhartigheid wat ons van God deur Jesus Christus
ontvang dat dit eintlik as niks gereken kan word.
Ons grootste daad omgee is eintlik maar nietig, sò nietig
dat ons kan vra: Wanneer het ons dit aan U gedoen?
En dan antwoord Jesus
ons: ‘Dit
verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van
hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My
gedoen.’
Elke daad barmhartigheid en “omgee” tel as dit uit
die geloof gedoen is..., as dit vir die Here gedoen
is..., as dit gedoen is omdat jy die Here liefhet en dien.
Hy ag elke daad wat jy in die diens van Hom gedoen het as melding
waardig.
Solank jy dit aan een van die geringstes van My broers gedoen het, het
jy dit aan My gedoen.
Tien keer kom die woorde “Ek” en
“My” in die gedeelte voor..., om vir ons aan te dui
dat wie sy liefde vir Christus in dade sigbaar maak, Christus
as sy Here eer.
Ons word daardeur gevra om al meer soos Christus te word deur nie
langer vir ons self te leef nie maar deur Christus vir ander.
Die geheim van Christen wees lê daarin om die nood van mense
raak te sien en te bedien.
Maar onthou die
geweldige waarskuwing van ons Koning wat kom om te oordeel.
As jy nie ‘n band het met die Herder, Jesus
Christus nie.... en jy is koud en hard en jy leef net vir
jouself..., ‘n selfsugtige lewe wat nie baie vir
ander omgee nie..., dan staan jy aan die linkerhand van God se troon.
Selfsugtige mense staan onder die oordeel van God...
En dit is verskriklik om
onder die oordeel van God te staan.
Jy is dadelik geskei van hulle wat weet: Ons is God se skape, ons is sy
kudde en ons gaan sy liefde ontvang in sy oordeel.
Die verskrikking is jy weet dadelik jy is aan Sy linkerkant, aan Sy
oordeel kant, aan die bokke kant van sy troon.
Nog verskrikliker is dat hulle wat die liefde van Christus nie geken en
bedien het nie, sal hoor: Gaan weg van My af....
Vir altyd sal jy nie meer kontak met Christus kan hê nie....
jy sal verwyder word van Hom wat genade is, wat liefde is,
wat vrede is, weg van alles wat jy in Jesus
Christus kan vind..., weg van elke moontlikheid tot bekering
en berou en vergiffenis.
Die ergste is,
jy word nie weggestuur met ‘n seën
nie, maar met ‘n vloek.... vervloek is jy
deur God.
En asof dit nie genoeg is nie, gaan jy in die geselskap van
jou grootste vyand wees... saam met die bose geeste en die duiwel.
Vir ewig sal hulle wat jou met lis in die wêreld weg van God
af gehou het, jou lewe regeer en terroriseer.
Dit gaan hel wees.... ‘n koue en harde lewe waar alles
skeurend, pynigend, seer en swaar sal wees omdat selfsug daar
sy uiterste en duiwelse vorm sal aaneem.
Die Skrif vergelyk dit met die selfde lyde as wat vuur in mens se lewe
bring.
En die rede:
Die hardheid en koudheid van mense se harte, sonder die
liefde van Christus.
Mense wat net vir hulle self omgegee het en net vir hulle self geleef
het.
By hulle het daar geen omgee liefde bestaan nie, behalwe as dit hulle
self pas nie.
Vir hulle staan daar
geskryf: En hierdie mense sal die ewige straf van
God ontvang.
Hulle gaan nie maar net ‘n kort tydjie gestraf word en as
hulle die straf gedra het is alles weer goed nie...
Nee, hulle gaan vir altyd onder die straf van God wees.
Vir die wat die wil van
God gedoen het....
Diè wat geregverdig is in die bloed van Christus en daarom
regverdig lewe... en die wil van Christus doen deur die wet van liefde
in sy hart te neem...,
Van hulle staan geskrywe: Hulle sal die ewige lewe ontvang.
Mag
die oordeel van God dan vir ons vanoggend weer ‘n geweldige
heenwysing wees van hoe belangrik “omgee” liefde
vir ons Here Jesus Christus is.... vir Hom is dit
deurslaggewend.
Kom ons bedien dit aan mekaar, want die Herder en Regter van
ons lewe is vir ons lief en sy wil vir ons lewe is: Die wet
van liefde.
Amen.
Slotgebed.
Diens van Barmhartigheid
Slotpsalm 18:12 en 13
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Ds. D. Bakker
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 12 Augustus 2006
(oggend).