Sing vooraf: 18-7:1, 9, 10, 11, 12 (45: 1, 9, 10, 11, 12)
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 47:1, 4 (240)
Gebed
Psalm 68:9 (334)
Skriflesing: Matteus 28 en
Johannes 16
Teks:
Matteus 28:20 en Johannes 16:33
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die
wêreld. Amen. (Matteus 28:20 AFR53)
Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan
hê. In die wêreld sal julle verdrukking
hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
(Johannes 16:33 AFR53)
Waarom hierdie eienaardige uitsprake van die Here Jesus aan ons?
- Ek is met julle!
- Hou goeie moed!
Moedeloosheid is ’n baie sterk bedreiging vir elke gelowige.
In ons tyd het depressie ’n baie ernstige siekte geword.
- Depressie ontstaan wanneer ons moedeloos word oor ons omstandighede.
- Soms twyfel ons oor die genade van die Here – veral wanneer
ons ’n keer sleg tweede gekom het teen die sonde.
- Ons wonder soms of die liefde van die Vader so groot is soos wat ons
geleer word.
- Ons wonder soms waar die Here met ons wil heen.
Kyk na die tydstip wanneer dié dinge deur die Here Jesus
gesê is. Sien elkeen teen sy eie agtergrond:
- Jesus se uitroep dat die dissipels goeie moed moet hou, is die aand
voordat Hy gesterf het.
- Sy versekering dat Hy met ons is, was weer nadat Hy toe hierdie dood
oorwin het.
Jesus het presies geweet wat vir Hom en vir sy dissipels gewag het.
- Hy het geweet dat Hy daardie nag gegesel gaan word.
- Hy het geweet dat Hy bespotting sal moet verduur wat oor ’n
mens se grense gaan.
- Hy het geweet dat Hy ’n oneindige lyding gaan deurmaak.
Die kruisiging was net so verskriklik.
- Dit het helder oordag donker geword.
- Die Seun van God het dit uitgeroep dat God Hom verlaat het!
Maar Jesus het ook sy eie krag geken, en geweet dat Hy al hierdie
lyding sou verduur, en dat Hy weer uit die dood sou opstaan.
- Dit was nie ’n saak waaroor Hy enige twyfel gehad het nie.
- Daarom kon Hy voor sy dood al ’n uitspraak maak wat verder
gesien het as sy graf.
Die Here Jesus het by sy eie lyding verbygekyk en die lyding van sy
dissipels gesien:
- Vorentoe het daar vir hulle donker tye gewag – vervolging,
verdrukking en regbanke.
- Hulle sou dikwels voor regters staan – om verhoor en met slae
gestraf te word.
- Dikwels sou hierdie dissipels in die gevangenis gegooi word –
en van hulle sou ook in gevangenisskap sterf.
Meer nog – die Here Jesus het ook geweet dat die duiwel se
aanslae by ons ook gaan uitkom.
- Daarom het Petrus onder die aanslag van die duiwel daardie selfde nag
al die Here Jesus verloën.
- Maar Jesus het ook geweet dat Petrus in daardie krisisoomblikke sou
onthou dat Jesus vooraf gesê het dat Hy
- vir hom
sou bid,
- en dat Hy
met hom sou wees,
- en dat Hy
die wêreld oorwin het – ook vir Petrus en vir ons.
Die Here Jesus se troos aan ons is dat ons nie moedeloos moet word nie.
- Sy aansporing om goeie moed te hou, sal veral sy betekenis hê
wanneer ons in ’n pynlike oomblik beland.
- Dit sien ons baie duidelik as ons kyk na watter kere die Here Jesus
hierdie uitspraak gemaak het. Dit was elke keer in ’n
krisissituasie!
En hulle het ’n verlamde man wat op ’n bed
lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien,
sê Hy aan die verlamde: Seun, hou goeie moed, jou sondes is
jou vergewe. (Matteus 9:2 AFR53)
En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie
moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword
van daardie uur af. (Matteus 9:22 AFR53)
Maar Jesus het dadelik met hulle gespreek en gesê: Hou goeie
moed, dit is Ek! Moenie vrees nie. (Matteus 14:27 AFR53)
. . . want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy
dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek;
moenie vrees nie.
(Markus 6:50 AFR53)
Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle
roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op!
Hy roep jou. (Markus 10:49 AFR53)
En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou
gered. Gaan in vrede. (Lukas 8:48 AFR53)
En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou
goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig
getuig het, so moet jy in Rome ook getuig. (Handelinge 23:11 AFR53)
Vir ons lê die krag van die saak daarin dat Jesus na sy
hemelvaart hierdie bemoediging herhaal het:
Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die
wêreld . . .
Dink aan wat dit beteken:
- Die Here is elke oomblik by ons totdat die wêreld se tyd
verby is.
- Sy krag versorg ons.
- Hy vergewe ons ons sondes.
As ons teruggaan na die tyd en die omstandighede van die eerste
uitspraak van Jesus, moet ons onthou dat Jesus se dissipels baie benoud
was. Ons lees in Johannes 16 dat die Here vir hulle gesê het
dat die tyd nou aangebreek het dat hulle vervolg gaan word!
- Hulle moes na Jesus se dood die evangelie uitdra en kerke plant oor die
hele wêreld.
- En hoe gaan hulle dit regkry?
- Daarom is daardie uitspraak ook ’n deel van hulle laaste
onderrig, sodat hulle die kennis en die moed het om die werk te doen
wanneer Jesus nie meer daar is nie.
Later is die dissipels weer bymekaar. Dit was na die opstanding
– met die hemelvaart.
- Hulle word uitgestuur om twee dinge te gaan doen:
- Hulle
moet die kerk uitbou.
- Dan moet
hulle die kerk onderhou.
Dit kry ons in Jesus se opdrag dat hulle die mense moet bekeer en doop
en dat hulle dan die saak van bekering en doop moet opvolg deur die
mense te leer om dit alles te onderhou.
Daarna word die Heilige Gees met Pinkster oor die dissipels uitgestort.
- Toe is die gebedslewe en die kennis van die dissipels grootliks verryk.
- Die toepassing van die uitstorting van die Heilige Gees was juis dat
die Heilige Gees aan hulle die moed gegee het wat Christus beloof het
toe Hy gesê het: Hou goeie moed.
- Wanneer hulle eie kragte yl geraak het, was die besef dat Christus met
hulle is, daar.
Die Heilige Gees het hulle verder laat bou aan die werk van Christus.
- Hy het aan hulle gesê dat Jesus die wêreld oorwin
het.
- Dit is waar, want Jesus het die sonde, die dood en die duiwel volkome
verslaan.
Dit het aan die dissipels die krag gegee dat hulle nie net hulle eie
lewens verbeter het nie, maar dat hulle met die evangelie die destydse
wêreld binnegegaan het, en oraloor kerke gestig het.
- Oraloor is hulle werk baie keer bevraagteken.
- Hulleself is baie maal vervolg.
- Tog het hulle onstuitbaar voortgegaan om die evangelie te verkondig.
Daarom kan ons ook verwag dat hierdie geloofsgemeenskap met Christus
nie vrede op die aarde beteken nie.
- Net soos vir die dissipels beteken gemeenskap met die Here vir ons
dikwels die haat en verwerping van die wêreld.
- Dit sal rus beteken na binne toe – maar stryd na buite toe.
- En dikwels wanneer die satan ons siel sy slagveld maak, ook stryd na
binne toe.
Jesus stel die teëstelling baie skerp:
- In die wêreld wat deur die Satan en die ongelowiges beheers
word, word die gelowiges en die kerk bestry.
- In die wêreld ken die kerk kwalik iets anders as ongeluk.
- Dink maar
net aan al die dinge wat die duiwels oor die gelowiges bewerk: dinge
soos siekte, spanning, onderlinge haat.
- Dink net
aan die wreedheid van die dood!
- Dink aan
al die smarte wat ongeloof, en struikeling in die sonde dikwels oor ons
bewerk.
Dit mag egter nie rede wees vir moedeloosheid of neerslagtigheid nie!
Hou goeie moed, want Christus het die wêreld met sy dood en
opstanding oorwin.
Hy gee die volle voordeel daarvan aan ons.
Kyk vir ’n oomblik na die betekenis van die woorde goeie moed.
- Normaalweg dink ons dat dit beteken dat so iemand baie moed het, en dus
dapper moet wees.
- In hierdie toeroep van Jesus beteken dit dat ons die REGTE MOED moet
hê.
- Dit beteken dat ons moed moet hê om voort te lewe vir die eer
van God en die beloftes van die werk van Christus.
- Dit beteken dat ons die moed het om dit te glo wanneer die Heilige Gees
hierdie versekeringe in ons harte bewerk.
Toe die Here Jesus Christus sy dissipels beveel het om moed te hou, het
Hy aan hulle gewaarborg dat hulle deur die swaarste beproewinge die
moed sal hê om dit te verduur, omdat Hy die wêreld
oorwin het.
Ons ervaar hierdie pynlike aanvalle op ons geloof daagliks:
- Ons geloof is baie kere in ’n krisis, en die duiwel val ons
ook persoonlik met sy verleidinge aan.
- Verder gebruik hy ook nog mense om dit vir ons moeilik te maak om ons
beginsels uit te leef.
Petrus het eenkeer ’n beskrywing gegee van die tyd waarin ons
nou lewe.
- Hy het gesê dat die duiwel in hierdie tyd soos ’n
brullende leeu rondloop om alles te verskeur wat in sy pad kom.
- Die duiwel weet goed dat die koms van Christus baie naby is, en dat hy
inderdaad al klaar die stryd verloor het.
- Daarom
probeer hy nou net om alles te breek wat hy in die hande kan kry.
- Hy weet dat hy nie meer ’n kans teen God het nie, en nou doen
hy net skade so goed hy kan.
- Die mense
wat deurloop onder hierdie woede-aanslag van die Satan, is ons!
Hierdie preek verkondig’n baie groot troos aan ons.
- Ons sukkel soms met naasteliefde en menseverhoudinge.
- Dit is
’n kenmerk van die verwoestingswerk van die duiwel dat hy
menseverhoudings versuur.
- Ons moet
egter teen alle grein in nie kop verloor nie, maar by die
liefdesbeginsel bly – want ons besit die vermoë om
liefde te gee en skuld te vergewe omdat Jesus se oorwinning oor die
wêreld dit ook insluit.
- Baie van ons sukkel met ons huwelikslewens.
- In
Christus se oorwinning en in die waarborg van sy teenwoordigheid
behoort ons verhardheid teenoor mekaar te vermurwe – veral as
ons aanspraak dat ons uitverkorenes is, waar is.
- As ons
leef met die bewustheid van Christus se persoonlike teenwoordigheid en
sy krag rondom ons, is dit ondenkbaar dat man en vrou in onvrede kan
saamleef.
- Ons is bekommerd oor die toekoms van ons en ons kinders – nie
net ons almal se fisiese toekoms as landsburgers nie, maar ook ons
geloofstoekoms.
- Dit is
ongetwyfeld waar dat ons bekommerd is en moet wees – maar ons
weet mos dat die Here Jesus klaar die wêreld oorwin het.
- Ons weet
mos dat hierdie stukkie van ons geskiedenis maar net die afloop van die
wêreldgeskiedenis is, wat die Here Jesus se finale ryk
voorafgaan.
- Ons weet
verder ook dat in die Here Jesus Christus se oorwinning en sy
teenwoordigheid ons verlossing vasstaan – niks kan dit van
ons af wegneem nie.
Met ons toekoms kan niks anders gebeur as wat die Here vir ons beplan
het nie.
Ons kry by die Here genade vir alles – van sterwensgenade tot
opstandingsgenade.
Ons moet ons lewe inrig met die kennis van, en vertroue in hierdie
oorwinning en teenwoordigheid van Christus.
- Hy het hemel toe weggevaar om weer daarvandaan te kan terugkom.
- Hy het gaan plek gereedmaak, sodat sy koninkryk in sy volmaaktheid kan
kom.
- Hierdie koninkryk is die resultaat van, en ook die afronding van
Christus se oorwinning oor die wêreld.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 12-2:1, 2, 3 (27:1, 2, 3)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: Hemelvaart, 25
Mei 2006