Sing vooraf:
33:5, 6
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 103:1, 9
Geloofsbelydenis: Nicea
Na die wet bely ons voor
God ons sondeskuld en bid vir vergewing van ons sondes met Ps 19:4.
Wet
Psalm 19:4
Gebed
Doop: Daling-baba
Skrifberyming 8-1:1, 2. (14:1, 2)
Psalm 16:1
Skriflesing:
Matteus 3
Teks:
Matteus 3:8
Dra dan vrugte wat by die
bekering pas. (Matteus 3:8 AFR53)
Johannes het gepreek dat die mense gedoop moet word sodat hulle sondes
vergewe kan word. Kom ons kyk net vir die oomblik na die betekenis van
Johannes se doop.
- Hy het gepreek dat sy doop verband hou
met bekering.
- In die manier waarop hy sy doop uitgevoer het, was
bekering geteken (of voorgestel) in die onderdompeling as ’n
sterwe en opstaan.
- Verder was die inhoud van sy
doop ook die vergewing van sondes.
- Dit is geteken in die afwassing in die water, waarby
meteens duidelik is dat bekering en vergewing saamgaan, sodat in die
doop vergewing verkondig word vir die wat hulle bekeer en hulle verplig
tot voortdurende bekering.
- Die doop
hou verder ook verband met die Heilige Gees.
- Johannes doop in opdrag van God, en God gee aan ons
’n versekering in die doop.
- Daarom is dit ’n heilige sakrament wat
vooruitgesien het op dit waarop die Christelike doop terugsien.
Nou moet ons ook nog hierby onthou dat die werksaamheid van Johannes
die Doper ongetwyfeld sy hoogtepunt bereik het in die doop van die Here
Jesus Christus. Die doop was nie ’n losstaande gebeurtenis in
die Here Jesus se werk as Messias nie. Sy doop was onlosmaaklik
vasgemaak aan sy opstanding uit die dood.
Daarom moet ons kyk hoe die inhoud van Johannes die Doper se doop op
die Here Jesus Christus van toepassing is:
- Onderdompeling as bekering (afsterwing van die ou mens en
opstanding van die nuwe mens) kan nie op die Here Jesus Christus as
Sondelose van toepassing wees nie.
- Dit sien op die dood en die opstanding van die Here Jesus
Christus self.
- In Hom het ons gesterf vir ons sondes en opgestaan tot
’n nuwe lewe. So word dit in die Romeinebrief gestel.
Net so kan die doop as afwassing van sondes ook nie op die Here Jesus
Christus betrekking hê nie.
- Dit is waarom Johannes terugdeins.
- Maar die Here Jesus Christus wys hom daarop dat die doop as
verordening van God vervul moet word. Vers 15:
Maar Jesus het geantwoord en vir
hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om
alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.
(Matteus 3:15 AFR53)
Die woord geregtigheid
beteken in hierdie sin plekvervangend. Met ander woorde die Here Jesus
Christus se geregtigheid neem hier die plek in van ons geregtigheid (of
dan: Ons gebrek daaraan!).
- Jesus is gedoop ter wille van ons sondes om ons te laat
deel in sy geregtigheid.
- Hy sterf in ons plek.
- Hy dra die straf vir ons sondes in ons plek.
- Hy maak ’n pad oop uit die dood uit –
’n pad waarop ons Hom volg.
Dit is dieselfde gedagte wat ons in 2 Korintiërs 5:21 kry waar
daar staan dat God die Here Jesus Christus, wat geen sonde geken het
nie, sonde vir ons gemaak het sodat ons deur Hom deel kon kry in God se
geregtigheid.
Want Hy het Hom wat geen sonde
geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid
van God in Hom. (2 Korintiërs 5:21 AFR53)
Die Here Jesus het aan die geregtigheid van God voldoen deur aanvanklik
gedoop te word.
- Die doop was in sy geval ’n vooruitwysing daarna
dat Hy die geregtigheid van God volkome vervul het.
- Dit het Hy later gedoen toe Hy Homself aan die kruishout aan die dood
oorgegee het.
- Daarmee het Hy die wat aan God behoort, met God versoen.
- Maar versoening alleen beteken niks – daarom
staan Hy op uit die dood om met sy liggaam van die aarde af weg te gaan
na die hemel toe.
- Daarmee openbaar Hy fisies wat Hy met elkeen van ons gaan
doen wanneer ons sterf en Hy ons uit die dood opwek in ’n
nuwe en ewige lewe.
- Hy openbaar dus waarop sy doop uitloop.
Ons doop sien juis op die dood en die opstanding van die Here Jesus
Christus, met ander woorde as ons gedoop word, beteken dit al dat ons
deel kry aan die dood en opstanding van die Here Jesus Christus.
- Ons doop is dus ’n doop in die dood van die Here
Jesus Christus tot bekering en vergewing van sondes.
- Dis ook ’n opstanding saam met Hom in die nuwe en
ewige lewe.
- Dit is waarom Johannes, nadat hy die Here Jesus gedoop het,
preek dat die Here Jesus die Lam van God is wat die sonde van die
wêreld wegneem.
Toe Johannes die Here Jesus gedoop het, het die Here Jesus ook die
Heilige Gees ontvang.
- Hy is dus met sy doop met die Heilige Gees gesalf om sy
Messiaanse werk te kan doen.
- Van toe af is Hy die Here Jesus Christus – of
Messias.
- Die Here Jesus word hier ook bevestig as die Hoof van sy
Kerk.
- Met ons doop is ons dus ingelyf, en het ons toegetree tot
die liggaam (kerk) van die Here Jesus Christus.
Kom ons kyk wat die betekenis van hierdie groot saak vir elkeen van ons
in ons lewe is.
- Toe ons gedoop is, het die toekoms meteens in ons lewe hier
en nou ingegryp.
- Die toekoms na die dood het toe vir ons ’n
werklikheid geword, want toe het die koninkryk van God in ons lewe
ingekom.
Ons, ek en jy, is reeds verlos, maar juis daarom staan ons onder die
bevel van Hom wat ons verlos het.
- Dit is waar die preek van Johannes pas: Bekeer julle, want
die koninkryk van die hemele het naby gekom.
- Ons is dus gebind aan die eis tot bekering omdat ons gebind
is aan die Here Jesus Christus.
God gee, maar God eis ook.
- In hierdie verlossingsverbond kan ons geen
voorwaardes stel nie.
- Ons is slegs by
magte om aan die eise te voldoen, en toe te tree tot die koninkryk van
God.
- Anders verbind ons ons aan die verskrikking van God se
oordeel.
Daarom is die opdrag van Johannes aan die mense van sy tyd nog steeds
geldig vir ons tyd:
- Bekeer julle.
- Die effek daarvan moet sigbaar wees: Ons moet in ons lewens
vrugte gaan dra wat by die bekering pas!
Mens moet vers 7 en vers 8 saam lees:
Maar toe hy baie van die
Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom,
sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te
vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering
pas. (Matteus 3:7-8 AFR53)
Baie Fariseërs en Sadduseërs het na Johannes se
doopplegtighede toe gekom.
- Die Sadduseërs en Fariseërs kon mekaar
nie vat nie. Hulle was twee godsdiensfaksies wat lynreg teenoor mekaar
gestaan het.
- Maar in hulle aanslag teen die Here Jesus Christus span die
twee groepe saam.
Dit is waarom Johannes hulle ook aanspreek as addergeslag. Ons
sê in Afrikaans iets soortgelyks: Ons sê iemand wat
sleg is, is ’n slang!
Daarna preek hy dat die toorn van God ontvlug kan word deur vrugte te
dra wat by die bekering pas.
- Die eis is baie skerp: daar moet ’n radikale
lewensverandering na vore kom by die Fariseërs en
Saduseërs.
- Hulle was in daardie omstandighede simbool van die
onbekeerlikes (ons?).
So erg moet dit wees dat ons soos ’n vrugteboom moet wees wat
baie vrugte dra – dis die beeld wat ons hier het.
- Maar dit is ’n baie spesifieke soort vrugte
– vrugte wat by die bekering pas.
- Ons is dus bekeringsbome – wat bekeringsvrugte
dra!
Kom ons toets onsself hieraan.
- Hoeveel van ons bekering kan gesien word? Bekering is niks
anders nie as die effek wat die opstanding van die Here Jesus op jou
lewe het.
- Die Here Jesus Christus wil tog hê dat ons dit
moet vertoon!
- Is dit nie dalk so dat baie van ons ten diepste nog
onbekeerd is nie.
Is dit nie dalk so dat die meeste van ons al die kennis van ons
verlossing het,
maar dit nie uitleef
nie?
- Almal van ons kan goeie antwoorde gee op al die moeilike
vrae rondom ons geloofslewe.
- Ons weet van sonde, en van beginsels, en van gehoorsaamheid.
- Maar ons gaan leef baie keer presies die teenoorgestelde.
Die bedoeling van hierdie preek is nie om te kere te gaan oor sondes en
hoe verskriklik die hel en God se oordeel daaroor gaan wees nie. Daarom
benader ons hierdie saak positief:
- Eerste sluit ons aan by Johannes die Doper.
- Daarna sluit ons aan by die Here Jesus Christus.
Eerste dan Johannes die Doper:
- Johannes die Doper het gepreek dat ons vrugte moet dra wat
by die bekering pas.
- Dit is nie oordeel nie.
- Dit beteken bloot dat ons die saak van ons verlossing
moet deurdink, en dan werklik besef wat gebeur in hierdie hele
aangeleentheid.
- Johannes die Doper het ook gepreek dat die byl al teen die
wortel lê.
- Dit beteken dat die bome wat nie vrugte dra nie, uitgekap
en buitekant die tuin gegooi gaan word.
- NB Die wat nié vrugte dra nie.
- Dit
beteken tog dat al die bome in die geleentheid gestel word om vrugte te
dra.
- Johannes het ook verder gepreek dat die koninkryk naby
gekom het.
Die Here Jesus las al hierdie dinge vir ons bymekaar. Dan kry ons die
volgende:
- Ons is as gevolg van ons sondes buite die koninkryk van God.
- Maar
deur die Here Jesus Christus word ons binne die koninkryk geplaas.
- Omdat Hy ons klaar daar geplaas het, daarom eis Hy dat
ons ons moet bekeer.
- Ons moet hierdie bekering vertoon.
- Die bekering moet so radikaal wees dat dit duidelik
sigbaar word in my doen en late!
Dit is ’n baie groot mondvol om sommer net so maklik kwyt te
raak.
- Nie een van ons beteken in onsself iets voor God nie
– met ander woorde nie een van ons is soveel werd dat die
Here oor ons verleë is nie.
- Inteendeel ons besoedel meestal die eer van God met ons
lewens – ons beteken werklik niks.
- Ons is inderwaarheid afstootlik langs die heerlikheid van
God.
- Enige iemand wat dit nie besef nie, het ernstige
geloofsprobleme, want dan verstaan hy nie die grootheid en heerlikheid
van God en die sondigheid van die mense nie.
MAAR God het juis sy genade aan ons geopenbaar in die feit dat ons
gedoop is.
- In die Here Jesus Christus het God besluit dat ons nogtans
deur Hom aanvaar word.
- Die Here Jesus Christus lig ons dus met sy sondevrye lewe
uit ’n vuil lewe uit in die heerlikheid van God in.
- Hy het dit aan ons bevestig in die openbaar, voor almal in
die gemeente as getuies, toe ons in die Naam van die Drie-Enige God
gedoop is.
Maar
nou kom die verantwoordelikheid waarmee God ons belas aan die beurt.
- Ons moet nou lewe soos sulke mense wat so ’n
groot ding oorgekom het.
- Ons moet dus knaend onder die indruk bly van wat God vir
ons gedoen het.
- En ek moet aanhou dankbaar wees.
- Ons mag nie, en kan ook nie, bekostig dat ons dankbaarheid
vir een enkele oomblik verswak nie.
Prakties gaan dit die effek hê dat ons verkeerde dinge
doodeenvoudig uit ons lewens gaan verwyder.
- Om dit te kan doen, begin ons by ons gesindheid. Ons moet
eers reg ingestel word op hierdie groot saak.
- ’n Verkeerde gesindheid kan verander word
– dit is ’n feit, want dit is presies waarvoor die
Here Jesus Christus gesterf het.
- ’n Ander woord vir gesindheidsverandering, is
bekering. En ons kan dit doen in die krag van die Heilige Gees.
Moenie twyfel nie. God het u verseker dat u ingesluit is in die
genadeverbond.
- Hy het u gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die
Heilige Gees.
- Daarmee verseker Hy u dat u betrokke is by die koninkryk
van God.
- Laat ons dan ons lewe ’n bekeringslewe maak
– in die woorde van Johannes: Dra vrugte wat by die bekering
pas.
- Moenie dit doen om verlos te word nie – doen dit
omdat u reeds verlos is.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 20:1-4
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 16 April 2006
(oggend)