Sing vooraf: Psalm 1:2.
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 92:2, 4.
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid vir vergewing van
ons sondes met Ps.19:4.
Wet
Psalm 19:4.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente
en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige wêreld,
asook die beroep op die beloftes van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van
die Woorddiens:
Amen.
Skrifberyming 14-2:1.
Skriflesing: Matteus 3.
Teks: Matteus 3:8.
Dra dan vrugte wat by die bekering pas. (Matteus 3:8 AFR53)
Johannes het gepreek dat die mense gedoop moet word tot vergewing van
sondes.
Kom ons kyk net vir die oomblik na die betekenis van Johannes se doop:
- Bekering, geteken in die onderdompeling as 'n sterwe en opstaan.
- Vergewing, geteken in die afwassing in die water, waarby meteens
duidelik is dat bekering en vergewing saamgaan, sodat in die doop
vergewing verkondig word vir die wat hulle bekeer en hulle verplig tot
voortdurende bekering.
- Die doop hou verder ook verband met die Heilige Gees.
- Johannes doop in opdrag van God, en God gee aan ons 'n versekering in
die doop - en daarom is dit 'n heilige sakrament wat vooruitgesien het
op dit waarop die Christelike doop terugsien.
Nou moet ook nog hierby onthou dat die werksaamheid van Johannes die
Doper ongetwyfeld sy hoogtepunt bereik het in die doop van Jesus
Christus.
Ons moet dus aandag gee hoe dit wat ons sopas van Johannes se doop
gesê het, op die Here Jesus Christus van toepassing is:
- Onderdompeling as bekering (afsterwing van die ou mens en opstanding
van die nuwe mens) kan nie op Jesus as Sondelose van toepassing wees
nie.
- Dit sien op die dood en die opstanding van Jesus self in Wie ons
gesterf het vir ons sondes en opgestaan het tot 'n nuwe lewe.
So sien Paulus dit in Romeine.
Net so kan die doop as afwassing van sondes ook nie op Jesus betrekking
hê nie.
- Dit is waarom Johannes terugdeins. Maar Jesus wys hom daarop dat die
doop as verordening van God vervul moet word.
Kyk hoe die Heilige Gees dit beskrywe:
Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek
het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het
geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want
só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy
Hom toegelaat. En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water
opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees
van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. (Matteus 3:14-16
AFR53)
Die woord geregtigheid – soos wat die Here Jesus dit hier
gebruik - is baie belangrik.
- Die betekenis van die woord geregtigheid hier is dat dit
plaasvervangend gebruik word.
- Christus se geregtigheid neem dus hier die plek in van ons geregtigheid.
- Die Here Jesus Christus is gedoop ter wille van ons sondes om ons sy
geregtigheid deelagtig te maak.
Dit is dieselfde gedagte wat ons in 2 Korintiërs
5:21 kry waar daar staan dat God die Here Jesus Christus, wat geen
sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak het, sodat ons deur Hom deel
kon kry in God se geregtigheid.
Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak,
sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. (2 Korintiërs
5:21 AFR53)
Die Here Jesus Christus het aan die geregtigheid van God voldoen deur
die doop, en later aan die geregtigheid van God deur die dood.
- Die doop sien juis op die dood van die Here Jesus Christus
- met ander woorde as ons gedoop word, beteken dit al dat ons
in die dood van die Here Jesus Christus deel kry.
- Ons doop is dus 'n doop in die dood van van die Here Jesus Christus tot
vergewing van sondes en tot bekering.
- Dit is waarom Johannes nadat hy Jesus gedoop het, preek dat Jesus die
Lam van God is wat die sonde van die wêreld wegneem.
Toe Johannes Jesus gedoop het, het die Heilige Gees op die
Here Jesus neergedaal soos ‘n duif.
- Hy word dus hier met die Heilige Gees gesalf om sy Messiaanse werk te
kan doen: van toe af is Hy Christus of Messias -
Gesalfde.
- Die Here Jesus Christus word hiermee ook bevestig as die Hoof van sy
Kerk.
Die betekenis daarvan is dat ons, wanneer ons gedoop word, met ons doop
ingelyf word, en toetree tot die liggaam (kerk) van Christus.
Tot op hierdie punt, geliefdes, kan hierdie preek klink na 'n klomp
moeilike teologie wat alles waar is, maar terselfdertyd ook
onverstaanbaar.
- Maar toe ons gedoop is, het die toekoms meteens in ons lewe hier en nou
ingegryp.
- Die toekoms het toe vir ons 'n werklikheid geword, want met ons doop is
ons juis verseker dat ons deel is van die koninkryk van God.
Ons is reeds verlos, maar juis daarom staan ons onder die bevel van Hom
wat ons verlos het.
- Dis waar die preek van Johannes pas: Bekeer julle, want die koninkryk
van die hemele het naby gekom.
- Ons is dus gebind aan die eis tot bekering, omdat ons gebind is aan
Jesus Christus.
God gee, maar God eis ook.
- In hierdie verlossingsverbond kan ons geen voorwaardes stel nie.
- Ons is slegs by magte om aan die eise te voldoen, en toe te tree tot
die koninkryk van God.
- Anders verbind ons ons aan die verskrikking van God se oordeel.
Daarom is die opdrag van Johannes aan die mense van sy tyd nog steeds
geldig vir ons tyd:
bekeer julle.
Daarmee saam:
Gaan dra dan in jou lewe
vrugte wat by die bekering pas!
Mens moet vers 7 en vers 8 saamlees:
Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na
sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle
aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan
vrugte wat by die bekering pas. (Matteus 3:7-8 AFR53)
Baie Fariseërs en Sadduseërs het na Johannes se
doopplegtighede toe gekom.
- Die Sadduseërs en Fariseërs kon mekaar nie vat nie,
hulle was twee godsdiensfaksies wat lynreg teenoor mekaar gestaan het.
- Maar in hulle aanslag teen Christus vind ons beide groepe verenig.
- Johannes noem hulle addergeslag - slanggeslag. Daarmee bedoel
hy dat hulle slu en agterbaks is.
Daarna preek hy dat die toorn van God ontvlug kan word deur vrugte te
dra wat by die bekering pas.
- Die eis is baie skerp: daar moet 'n radikale lewensverandering na vore
kom.
- So erg moet dit wees dat jy soos 'n vrugteboom moet wees wat baie
vrugte dra - dis die beeld wat ons hier het.
- Maar
sekere vrugte - vrugte wat by die bekering pas.
- Jy is dus
'n bekeringsboom wat bekeringsvrugte voortbring.
Kom ons toets onsself hieraan: hoeveel van my of van jou bekering kan
gesien word? Christus wil tog hê dat ons dit moet vertoon!
- Is dit nie dalk so dat ons kort-kort trekke daarvan vertoon dat ons ten
diepste dalk nog onbekeerd is nie?
- Is dit nie moontlik dat die meeste van ons al die kennis van ons
verlossing weet, maar nie leef nie.
Almal van ons kan goeie antwoorde gee op al die moeilike vrae rondom
ons geloofslewe.
- Ons weet van sonde, en van beginsels, en van gehoorsaamheid.
- Maar ons gaan leef somtyds presies die teenoorgestelde dinge uit.
Hierdie preek gaan nie te kere oor sondes en hoe verskriklik die hel en
God se oordeel daaroor gaan wees nie. Kom ons probeer hierdie saak
positief benader: Ons sluit eers aan by Johannes die Doper, en dan by
Christus.
- Johannes het gepreek dat ons vrugte moet dra wat by die bekering
pas - dit is nie oordeel nie.
- Dit beteken bloot dat ons die saak van ons verlossing moet deurdink, en
dan werklik besef wat gebeur in hierdie hele aangeleentheid.
Johannes die Doper het ook gepreek dat die byl al teen die
wortel lê.
- Dit beteken dat die bome wat nie vrugte dra nie, uitgekap en buitekant
die tuin gegooi gaan word.
- Nie alle bome nie - die wat nié vrugte
dra nie.
- Dit beteken tog dat al die bome in die geleentheid gestel word om
vrugte te dra.
Johannes het ook verder gepreek dat die koninkryk naby gekom het. Las
al hierdie dinge bymekaar, en dan kry ons die volgende:
- Ons was buite die koninkryk van God as gevolg van ons menslike sondes
en oortredinge.
- Maar deur die Here Jesus Christus word ons binne die koninkryk
geplaas - deur Hom en op sy voorwaardes: ons moet
ons bekeer.
- Ons moet hierdie bekering vertoon.
- Die bekering moet so radikaal wees dat dit duidelik sigbaar word in my
doen en late!
Dit is 'n baie groot mondvol om sommer net so maklik kwyt te raak.
- Nie een van ons beteken iets voor God nie.
- Inteendeel ons besoedel die eer van God met ons lewens.
- Ons beteken werklik niks.
- Ons is inderwaarheid afstootlik langs die heerlikheid van God.
- Enige iemand wat dit nie besef nie, het ernstige geloofsprobleme.
MAAR die genade is juis dat ons gedoop is.
- In Christus, het God besluit dat ons nogtans deur Hom aanvaar word.
- Christus lig ons dus met sy sondevrye lewe uit 'n vuil lewe uit in die
heerlikheid van God in.
- Dis waarom Hy vir ons sonde word.
- Hy het dit aan ons bevestig in die openbaar, voor almal in die gemeente
as getuies, toe ons in die Naam van die Drie-Enige God gedoop is.
Maar nou kom die probleem: God belas ons met verantwoordelikheid.
- Ons moet nou lewe soos sulke mense wat so 'n groot ding oorgekom het.
- Ons moet dus knaend onder die indruk bly van wat God vir my gedoen het.
Ons moet aanhou dankbaar wees. Ons mag nie, en kan ook nie, bekostig
dat ons dankbaarheid vir een enkele oomblik verswak nie.
- Prakties gaan dit die effek hê dat ons verkeerde dinge
doodeenvoudig uit ons lewens gaan verwyder.
- Om dit te kan doen, begin ons by ons gesindheid -
Ons moet eers reg ingestel word op hierdie groot saak.
'n Verkeerde gesindheid kan verander word - dit is 'n feit, want dit is
presies waarvoor Christus gesterf het.
- 'n Ander woord vir gesindheidsverandering, is bekering.
- Ons kan dit doen in die krag van die Heilige Gees.
Moet nie twyfel nie.
- God het u gedoop sodat u hierdie versekering kan hê dat u
betrokke is by die koninkryk van God.
- Kom ons maak dan ons lewe daaglikse 'n bekeringslewe - in die woorde
van Johannes: dra vrugte wat by die bekering pas.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 121: 1
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 3
September 2006 (oggend).