Sing vooraf: Skrifberyming 16-1:1,
2 (15:1, 2)
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 68:15
Gebed
Psalm 46:1, 3
Skriflesing: Matteus
6:5–13; 1 Korintiërs 15:20–28
Teks:
Matteus 6:5 en 1 Korintiërs 15:20; Kategismus Sondag 48
En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos
die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die
hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word.
Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. (Matteus 6:5
AFR53)
Maar nou, Christus is opgewek uit die
dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. (1
Korintiërs 15:20 AFR53)
Laat U koninkryk kom. Die Here
Jesus Christus leer ons om aan te hou bid vir die koms van die koninkryk
van God.
- Ek moet dit bid en die Kerk – die strydende Kerk – moet dit bid.
- Solank die Kerk op die aarde is, sal die Kerk stry en bou aan die
koms van die koninkryk van God.
- Eers in die hemel as die Kerk oorwin het, sal hierdie gebed nie meer
gebid word nie, want dan sal die Kerk in die nuwe koninkryk van God wees.
Maar ons is nog nie in die hemel
nie. Ons is nog in die middel van die sonde en die stryd op die aarde waar
ons moet veg vir die handhawing van God se eer teenoor die magte van die
donker. Daarom moet ons bid vir die koms van die koninkryk van
God.
Wat is die koninkryk van God?
- Dit vergelyk presies met ’n aardse koninkryk.
- Dit bestaan uit ’n koning met ’n bepaalde koninkryksgebied.
- In hierdie koninkryk regeer hy (Hy) oor sy onderdane.
- Die Here is die Koning in sy koninkryk en ons is die onderdane.
- Die Here is die Koning van die Kerk deur al die eeue. Uiteindelik sal
die Kerk rondom God versamel word in die hemel.
- Dit is die koninkryk van God in sy vervulling.
- Ons lees in die Bybel self van die troon van die Here wat
onwankelbaar vasstaan in die hemel.
(45:7) U troon, o God, is vir ewig en
altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. (Psalms
45:6 AFR1953)
Maar dit is nog nie alles wat gesê kan word oor die koninkryk van die Here
nie.
- Sy ryksgebied oorspan meer as net die Kerk en die hemel.
- Alles word daarin ingesluit – selfs die engele en die duiwels.
- Nie eers die satan kan iets doen sonder dat die Here hom dit toelaat
nie.
- Die Here regeer oor alles.
Die Psalmdigter besing die koningskap van die Here met die volgende
woorde van Psalm 99:1, 2:
Die Here is Koning; Hy laat die volke
bewe; Hy troon op die gérubs; laat die aarde sidder! Die Here is groot in
Sion, en verhewe is Hy bo al die volke. (Psalm 99:1, 2 AFR53)
Ons is die onderdane van God se ryk. As ons dan bid Laat U koninkryk kom, dan bid ons in die eerste
plek met die oog op onsself –
- Want ek bid met die besef in my hart dat ek nooit in my eie krag
hierdie koninkryk van God sal sien nie.
- Daar is te veel slegte dinge in my wat eers afgebreek moet word.
- Maar ek bid ook met die besef dat God se krag hierdie koninkryk ook
vir my kan laat kom.
Daarom beteken hierdie gebed dat ek
die Here smeek om my so te regeer deur sy Woord en Gees dat ek my hoe
langer hoe meer aan Hom sal onderwerp.
Hierdie gedeelte van die gebed was onnodig by die skepping.
- Die mens was toe goed geskape, en in ’n volmaakte verhouding met die
Here.
- Maar toe het die sondeval gekom – die mens is van God vervreem.
- Ons het met daardie handeling ’n rigting begin inslaan wat nie in die
koninkryk van God eindig nie.
Nou is ons van nature dood in ons misdade. Ons is geheel en al
bedorwe.
- Nou moet ons tot die laaste oomblik wat ons lewe, stry teen die
sonde.
- Dit is met die besef van hierdie skuld en swakheid wat ons tot God
bid dat sy koninkryk sal kom.
Die engele kan nie hierdie gebed bid nie.
- Die engele by die Here is altyd by Hom.
- Die ander engele wat saam met die satan in sonde geval het, kry nie
vergewing vir die feit dat hulle God verraai het nie, want hulle het van
beter geweet.
Daarom is dit ’n besondere voorreg wat ons as kinders van God het om
te bid dat ons só deur Hom regeer sal word dat sy koninkryk ook in ons en
vir ons sal kom.
- Dit is waarom ons geleer word om te bid “Onse Vader”!
- Ons bid as gelowiges.
- Ons bid as mense wat ’n diepe begeerte het dat die koninkryk van God
moet kom.
Ons wil dit ervaar. Ons wil dit self belewe.
- Daarom bid ons ook om gehoorsame en standvastige stryders te mag wees
in die koninkryk van God.
- Ons begeer om hand aan hand met die Here te mag stry teen alles wat
boos en verkeerd is.
Wanneer ons die verklaring van
hierdie gebed in die Kategismus lees, is dit merkwaardig dat die Kategismus
aanvaar dat ons onderdane van die koninkryk van God is – maar sulke slegte
onderdane op wie die verpligting rus om te verbeter.
- Daarom bid ons dat die Here ons só moet regeer dat ons ons hoe langer
hoe meer aan Hom onderwerp.
- Omdat ons besef dat dit die enigste manier is waarlangs ons van die
sondes af kan weggroei.
Die gebed eis ook verantwoordelikheid. God regeer in ons harte. Uit
die hart kom al die dinge wat ons beplan en doen – sê die Bybel.
Want uit die hart kom daar slegte
gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis,
lastertaal. (Matteus 15:19 AFR1953)
- Daarom moet ons lewe dit vertoon dat ons kinders van God is.
- Ons moet dit wys. Dis nie iets wat ons in die geheim kan wees nie.
Hierdie dinge moet aan ons gesien word waar ons werk.
- Watter beroep ons ook al het, moet dit in ons optrede en handewerk
gesien word.
- Net so ook in dit wat ons sê.
- Al doen ons watter soort werk, moet hierdie saak soos lig uit ons
persoon uitgaan, anders is ons vals.
- Elke duim van ons volle lewe word opgeëis vir die koms van God se
koninkryk.
In elke moontlike opsig van ons lewe
moet dit duidelik wees dat ons aan die Woord van die Here gehoorsaam is.
Ons moet God reg bely en ken as die Koning van alle tye, en van die wêreld
en van die skepping.
Die koninkryk van God kom ook deur hulle wat Hom bely – deur hulle
gehoorsaamheid as die Godsvolk.
- Deur ons getuienis en deurdat ons dit uitleef, is die koninkryk van
God nou reeds op die aarde aanwesig.
- Ons belydenis en ons geloof bepaal die krag wat ons betoon in die
koms van die koninkryk van die Here.
As ons vandag rondkyk in die lewe, is daar een saak wat onbetwyfelbaar
vasstaan, en dit is naamlik dat daar baie min van die koninkryk van die
Here in ons wêreld gesien kan word.
- Daar is baie min eerbied vir die gesag van die Here.
- Daarom is dit noodsaaklik dat ons moet aanhou bid dat die koninkryk
van God moet kom.
Hoeveel erken God werklik as die ewige Koning?
- Hoeveel van ons wat glo – u en ook ek – se geloof en belydenis gaan
nie juis veel dieper as die vel nie?
- Dis baie keer maar flou en oppervlakkig – ons praat baie geloof, maar
die daad getuig soms van niks.
- Ons kan nie eers die Tien Gebooie onderhou nie.
As ek dan in swakheid, maar in opregtheid, bid dat God se koninkryk
ook in my moet kom, dan bely ek soos wat dit daar staan in Filippense 2:13
dat dit God is wat in my werk om te wil en om te werk na sy welbehae!
want dit is God wat in julle werk om te
wil sowel as om te werk na sy welbehae. (Filippense 2:13 AFR1953)
Hierdie Onse Vader-gebed wat die
Here Jesus ons leer, is nie selfsugtig nie. Dit gaan nie net om onsself
nie.
- Die hart van die een wat bid, word so verruim – daar waar hy bid –
dat die hele Kerk in sy gesigsveld kom.
- Hy sien al God se heiliges, en hy bid ook vir hulle.
Dit kan ook nie juis anders nie, want die een wat bid, bid dan
Onse Vader!
- God het meer kinders as net ek.
- Ek het broeders en susters in die geloof.
- Die Kerk is tog die vergadering van hierdie gelowiges.
Maar die Kerk is ook meer as dit.
- Die Kerk is die strydende leër van die Here.
- Dit is die Kerk wat die volle wapenrusting moet aantrek, en wat op
alle fronte die stryd teen die satan moet voer.
Daarom bid ons dat die Here die Kerk moet bewaar, want die Kerk lewe
tussen gevare.
- Veral vandag, want die wêreldsituasie bewys tog dat dit in wese
daarom gaan dat dit ’n stryd is tussen die Lig en die duisternis.
- Die magte van die hel is in aantog teen die kerk en elke een wat glo.
- Hierdie magte trek in ons tyd op onder baie vaandels.
- In sekere gevalle kom dit onder die vaandel van valse evangelies
wat geleer word.
- En in ander gevalle kom dit onder die vaandel van politiek.
Te midde van al hierdie dinge moet ons bid dat die Here die Kerk moet
bewaar.
- Die Kerk moet groei in sy breedte en in sy diepte.
-
Laat U koninkryk kom! – Here,
laat u Kerk met sy volle wapenrusting uitgaan, en al die gevare
trotseer ter wille van u Naam.
- Ons bid dat die Kerk deur al die versperringe mag deurbreek en
uiteindelik as oorwinnaar die Nuwe Aarde mag bereik.
Dit is nie ’n leë gebed nie.
- Dit is moontlik dat dit kan gebeur, want
Jesus Christus bewaar, beskerm en onderhou die Kerk van die begin van die
wêreld af tot by die laaste dag.
- Dit is die wil van die Here Jesus Christus dat ons só moet bid, want
ná die belydenis van Petrus in Matteus 16:16 het die Here Jesus Christus
tog gesê dat Hy self sy gemeente sal bou op hierdie rots.
Daar is nie een van ons wat nie redelik goed besef hoe magtig die
satan en sy magte is nie.
- Daarom moet ons ook bid dat die koninkryk van God steeds meer en meer
in die wêreld vergestalting mag vind.
- Maar ons weet ook dat die koninkryk van die Here nie sonder ’n stamp
of ’n stoot sal kom nie – die slag van Armageddon lê dan nog voor!
Daar is ’n valse ryk langs die een van die Here.
- Die duiwel en sy engele het ’n ryk wat die koninkryk van God teëwerk.
- Hy probeer revolusie en opstand en uiteindelik selfs oorlog bewerk
teen die koninkryk van die Here.
- Die satan is ’n troondief. Die hele geskiedenis getuig daarvan.
- Pas na die skepping probeer hy al om die ryk van God te beskadig
deur die mens van die Here afvallig te maak.
- Later was Israel hoeveel keer in die moeilikheid omdat hulle
agter die satan se verleidinge aan die Here verlaat het.
- Vandag gaan dit erger as ooit!
Die genade van die Here is dat die volle krag van hierdie ryk reeds
deur die Here Jesus Christus gebreek is.
· Hy het gesterf in sy stryd teen
hierdie ryk.
· Maar Hy het as Oorwinnaar
opgestaan uit die dood, want die satan se mag was te beperk om Jesus
Christus in die doderyk te hou.
Dit beteken nou nie dat ons stryd in die koninkryk van die Here verby is
nie, want die satan het nog bewegingsvryheid. Die satan is nou soos ’n
brullende leeu wat alles verslind wat in sy pad kom.
Wees nugter en waaksaam, want julle
teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy
kan verslind. (1 Petrus 5:8 AFR1953)
Daarom bid ons vir die koms van die koninkryk, want dan sal die mag van die
satan in die wêreld finaal vernietig word. Dan bly daar slegs die regering
van God oor.
Daar is geskrywe:
En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan
sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp
het, sodat God alles in almal kan wees. (1 Korintiërs 15:28
AFR1953)
Die bidder hunker in sy gebed na hierdie dag, want op hierdie dag sal die
volheid van God se ryk kom.
- Dan is daar geen mag meer wat die Here se eer verdonker nie.
- Dan bly slegs die uitverkorenes en die Here oor om in volmaaktheid
saam te lewe tot in ewigheid.
Maar die dag wanneer die koninkryk finaal kom, lê nog voor as ’n
verskrikking vir sekere mense.
Daardie dag gaan die nasies geoordeel
word, en hulle sal geskei word soos wat ’n herder sy skape van sy bokke
skei (Mattheus 25:31 AFR53).
Die regverdiges sal die ewige lewe
ingaan, maar die vervloektes sal die ewige straf ontvang (Mattheus
25:46 AFR53).
En die satan wat hulle verlei het, sal
in die poel van vuur en swael gewerp word (Openbaring 20:10
AFR53).
Dan is die koninkryk van God volkome – ’n koninkryk waarin God alles
in almal sal wees.
Dan sal die tabernakel van God by die mens wees, en Hy sal by hulle
woon.
Dan het die eerste dinge verbygegaan, soos dit staan in Openbaring 21:3,
4:
En ek het ’n groot stem uit die hemel
hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle
woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle
God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood
meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees
nie, want die eerste dinge het verbygegaan. (Openbaring 21:3-4
AFR1953)
Kom ons lees saam wat ons Belydenisskrifte hieroor te sê het in die
Heidelbergse Kategismus Sondag 48:
Vraag 123: Wat is die tweede
bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit
is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan
U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke
van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne
wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk
kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).
(a)Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps
51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom 16:20. (d) Op 22:20;
Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor
15:28.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 145:1, 8
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 25 Februarie 2007 (aand)