Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 36:2.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 48:5.
Gebed.
Psalm 97:1.
Skriflesing: Nahum 1.
Teks: Nahum 1: 7
Die
Here is goed, 'n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat
by Hom skuil. (NAV: Die Here is goed, Hy is 'n toevlug in tyd van nood,
Hy sorg vir die wat by Hom skuil.)
Die kern van hierdie profeet se prediking is dat die Here te midde van
die kwaaiste stryd en verdrukking nog vir sy kinders sorg. Hy verkondig
heil. Nie net vir Juda nie, maar ook vir ons. Met die vergesig van 'n
profeet sien Nahum die voete van God op die berge, die God wat die
goeie boodskap bring.
1. Die wederkoms en Juda.
2. Die wederkoms en ons.
1. Die wederkoms en Juda.
Die profeet Nahum profeteer na die wegvoering van die Tienstammeryk. Hy
is 'n tydgenoot van Sefanja. En net soos Sefanja profeteer hy ook oor
die val van Nineve.
- Nineve is die bloedstad. Dit is 'n stad wat net vol bedrog is.
Geweld in sy strate.
- Hierdie ongeregtige stad Nineve was nog altyd 'n bedreiging vir
Juda. Maar die Here is goed. Hy gaan hierdie stad vernietig, en sy
regverdigheid daarin laat sien, sodat die wat Hom ken, sonder vrees kan
lewe.
Die profesie begin om die gedugtheid van God aan te kondig.
- Hy is jaloers en daarom is Hy 'n Wreker. Hy is vol grimmigheid.
- Al hierdie dinge gaan teen sy vyande.
- Die Here se toorn oor sy vyande koel nie af nie.
- Sy toorn is 'n absolute verskrikking waarteen nie die mens nie,
en ook nie die natuur enige weerstand het nie.
Tog is daar ook genade in die toorn van God. Die dag wanneer die Here
kom om sy toorn te openbaar oor sy vyande, is terselfdertyd 'n dag van
heil en verlossing van Juda. Daarin lê die waarskuwing dat hulle
ook gereed moet wees vir die verskyning van die Here.
Al is die Here toornig en al is Hy almagtig in sy krag, Hy is ook
lankmoedig.
- Daar is genade vir sy volk wat in hulle geloof volhard. Hy gaan
al die gelowiges wat verdruk word, verlos.
- Die profesie is toe ook inderdaad so vervul oor Juda, want daar
het toe 70 jaar later 'n groep van hulle uit die Ballingskap
teruggekeer Palestina toe.
- So gebeur dit dat die Here hand aan hand met sy
oordeelsaankondiging ook genade aankondig.
- Om die genade van die Here so helder as moontlik te belig in sy
profesie, beskryf die profeet die dag van die Here en alles wat dan
gaan gebeur.
- Hy sien hoe die Here as 'n gedugte Wreker verskyn.
- Selfs die natuur verstom as Hy verskyn.
Die vyande van die Here het Hom nie aanbid nie. Hulle het hulle eie
afgode aanbid, en daaroor in konflik gekom met God se volk. Dit het toe
die gevolg gehad dat die volk van die Here verdruk en vervolg is.
Hierdie toestand kan nie langer toegelaat word nie en daarom kondig die
Here aan dat die oordeel aan die kom is. Die oordeel soek egter uit -
dit brand nie oor almal nie, want die Here is baie genadig.
Hierdie was juis die punt waarop die vyand ontspoor het. Hulle het die
lankmoedigheid en genade van die Here as swakheid gesien. Hulle kon nie
sien dat die lankmoedigheid en geduld van die Here die oordeel oor
hulle net uitgestel het nie.
- Daarom is die ontstellende hierin juis dit dat diegene wat die
mag en krag van die Here onderskat het, nie net wreed ontnugter word
nie. Hulle het totaal ondergegaan onder die krag van die Here.
- Die profeet stel dit so: Die Here is groot van krag, en die Here
laat nooit ongestraf bly nie. Die ongelowiges in die wêreld kan
nie vir altyd die oordeel van die Here bly ontvlug nie. Mettertyd haal
die oordeel hulle in.
Verse 3 tot 6 beskryf hoe verskriklik die krag van die Here is wanneer
Hy in sy toorn aankom.
- Die hele natuur is ontredderd. Verwoestende natuurmagte begelei
die Here by sy koms, en hulle is elke oomblik tot sy diens. Die Here
gebruik hulle ook om sy vyande te straf!
- Vers 4 beskryf die optrede van die natuur: Die see droog op voor
die dreigende aangesig van die Here. Die riviere doen dieselfde: hulle
droog dadelik op.
Die natuur het al vantevore so opgetree, dink maar aan die uittog uit
Egipteland. Psalm 106: 9 beskryf die betrokke gebeurtenis met woorde
wat sterk herinner aan Nahum 1: 4:
En Hy
het die Skelfsee gedreig, sodat dit opgedroog het, en hulle deur die
watervloede laat gaan soos deur 'n woestyn.
Die verskil is dat die gebeurtenis by die uittog nie 'n oordeelsdaad
was oor die skepping nie, terwyl dit hier in Nahum wel die geval is.
Dit roep ook Openbaring 20: 11 by mens op. Daar staan geskryf dat die
aangesig van die Here so is dat sowel die aarde en die hemel sal
wegvlug as die Here verskyn met die wederkoms.
In die boek Openbaring staan dit in die verlede tyd geskryf, omdat
Johannes die vervulling van die einde sien:
Toe
het ek 'n groot wit troon gesien, en die Een wat daarop sit. Die aarde
en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle
nie. (Die OAV vertaal "padgegee" met "weggevlug.")
Lees dit nou saam met Nahum se profesie, dan sien u daarin die
verwoestende werking van God se toorn.
- Nahum beskryf dat op die aarde ook berge verskrik is voor die
toorn van die Here: Basan en Karmel kwyn weg.
- Vir die mense van Juda was dit van groot betekenis:
- Basan was die berg met die weivelde en die eikebosse.
- Karmel het bekend gestaan as die berg met die digte boombosse
teen sy hange.
- Libanon se naam word ook genoem. Die sederwoude en groenigheid
van hiedie berge verwelk meteens.
- Die berge en die heuwels smelt weg. Niks is in staat om voor
die toorn van die Here te bly staan nie.
Die grondgedagte is dat daar niks is wat teen die Here se toorn bestand
is nie. Dit gaan nou hier vir die aandag van die Here se vyande, en vir
die volk wat sy uitverkorenes verdruk.
2. Die wederkoms en ons.
Die saak is dringend en ernstig. Die dag van die Here kom. Sy weg is in
'n warrelwind en storm, en die wolke is die stof van sy voete. In
hierdie beskrywing word die onmeetbare majesteit van God geteken.
- Wat gaan dan van ons mense word, want ons is maar klein in
verhouding met die wolke, en die is maar soos stof rondom die Here se
voete?
- Die profeet beskryf hier baie duidelik die mens se onvermoë
teen die Here.
- Hierdie beskrywing gee die indruk dat die profeet sien dat die
Here al op pad is.
Ons kry dieselfde saak in Psalm 114: 4, 5:
Die
berge het rondgespring soos ramme en die heuwels soos lammers. Wat is
dit met jou, o see, dat jy vlug?
Die hoofgedagte van Nahum se profesie sover is dat die koms van die
Here gaan wees om te oordeel, en dat dit die grootste verskrikking van
alle tye gaan wees. Die verskrikking vergroot as ons besef dat hierdie
profesie leer dat die Here nie net buite die grense van sy land gaan
skoonmaak nie.
Nahum voorspel dit baie duidelik dat die Here binne sy land en binne sy
kerk skoonmaak.
- Nineve gaan val, maar Karmel en Basan en die Libanon verwelk en
bewe en vlug ook voor God weg!
- Die oordeel van God gaan ook 'n suiwering binne Juda tot gevolg
hê.
Die betekenis vir ons is dat die Here met die wederkoms die hele
wêreld met al sy volke gaan suiwer.
- Dit gaan 'n oomblik van verskrikking wees in alle opsigte.
Daardie dag kom beslis, al kan ons nou nog nie sien dat die
wêreld en sy mag gebreek en in angs voor God staan nie.
- Wat belangriker is vir ons is dat die Here ook 'n suiwering binne
die kerk gaan laat plaasvind. Libanon is mos deel van die beloofde land!
- Die vyande van die Here wat in die kerk wegkruip en maak asof
hulle gelowiges is, gaan ook hierdie verskrikking deel.
Vers 9 vra die vraag wat deur die tyd staan: Wat beplan julle teen die
Here? (NAV maak dit 'n stelling dat wat ookal teen die Here beplan
word, tot niet gemaak sal word.)
- Dink nou mooi: Onder watter omstandighede sal iemand iets teen
die Here beplan? Net wanneer hy ongelowig is en hom teen God verset.
- En ons pas in hierdie situasie in, want ons sal 'n saak moet
uitmaak waar ons staan.
- Waar staan ons t.o.v. leersuiwerheid?
- Nie noodwendig die dinge wat in ons belydenisskrifte staan nie -
wat glo u met u praat en lewe?
- Is ons geloofslewe so onberispelik as wat dit behoort te wees?
Die punt is dat ons geroep is om met ons koningsbeeld die hele lewe te
beheers, en om ook daarmee die eer aan God te gee. Ons koningskap moet
ook sodanig wees dat dit wyer beoefen word as om net te lewe vir ons
aardse bestaan. Ons moet nou al leef en bou vir die hiernamaals.
As dit nie so is nie, dan verloor ons tred met die tyd. Die regte tyd
is dat die Here aan die kom is, Nahum het al die stof om die Here se
voete gesien.
- Die Here moet dus al byna hier wees, al kan ons Hom nie sien nie.
Daarom moet ons voorbereid lewe op sy koms.
- Dis waar hierdie profesie ons raak - die Here gaan met die
eindoordeel alle nalatigheid op hierdie harde manier tot verantwoording
roep.
- Net soos vir Juda, is die profesie ook bedoel om ons tot bekering
te vermaan op elke punt waar ons teen die Here oortree.
U hoef nie die oordeel te vrees nie, want die Here leer dat Hy 'n
toevlug is in die dag van benoudheid.
- Die ware gelowiges het nie probleme nie.
- Hy ken die wat by Hom skuil.
- God ken hulle nie net by die naam nie. Hy ken hulle ook omdat Hy
hulle uitverkies het, soos dit in Efesiërs 1 staan.
- Maar meer nog: God ken hulle ook deur die verlossing van Jesus
Christus.
- Daar is vir die ware gelowiges verlossing voorsien in die
kruisverdienste van die Here.
- Hy is geslaan en gekruisig. In die laaste oomblikke van sy lewe
het Hy in dieper smaad en eensaamheid verval as wat ons ooit kan wees.
- Sy kruisdood simboliseer dit ook, want Hy hang tussen hemel en
aarde. 'n Totale verwerpte, want nie die aarde of die hemel ontvang Hom
in daardie oomblikke nie.
So word Nahum se profesie 'n werklikheid. Jesus Christus het die volle
toorn van God gedra.
- Die oomblikke was so ontsettend dat selfs die natuur verstom het,
soos wat Nahum ook voorspel het: die son het donker geword, rotse het
geskeur en graftes het oopgegaan.
- Nahum se profesie het nog verder waar geword, want toe Jesus die
toorn van God gedra het, het daar vir ons vrede aangebreek.
- Terwyl die straf oor Hom losgebreek het, het daar genade oor
ons neergedaal.
- So goed is die Here, en so het Hy 'n toevlug gereedgemaak vir
ons wat in nood is oor ons sondes.
Ons ken spanning en druk.
- Ons lewe seker in die tyd in die geskiedenis waar
wêreldspanning die grootste is van alle tye.
- Ons lewe in ‘n tyd waarin baie mense in oorloë hulle lewens
verloor, terwyl dit deur 'n onregverdige mensdom as reg en billik
beskou word.
- Terselfdertyd is dit ok die tyd waarin ons die grootste
geloofsverval denkbaar beleef.
Hierdie dinge is besig om ons ook in te maal. Geen mens kan oor hierdie
dinge nugter dink en nie 'n gevoel van beklemming om sy hart beleef
nie. Maar sodra ons in die geloof daarna kyk, besef ons dat die
gelowige nie deur hierdie dinge die noute ingejaag kan word nie, want
die Here versorg ons. In noodtye sorg Hy vir die wat Hom vrees.
Ons is al besig om voor te berei vir ons eerste Nagmaalviering van die
jaar.
- Die Here en Verlosser van Golgota roep u om aan sy tafel te kom
aansit sodat Hy u van alles kan verseker wat Nahum geprofeteer het.
- Jesus verseker u aan die Nagmaaltafel dat Hy weer kom, en dat Hy
kom om te oordeel oor die wat op daardie tydstip nog lewe en oor die
wat dan alreeds dood is.
- Hy leer u ook dat sy oordeel geweldig en verskriklik gaan wees
oor diegene wat Hom en die verlossing wat Hy bewerk het, nie gelowig
aanvaar het nie.
- Maar Hy verkondig ook aan u dat die oordeelsoomblik vir u 'n
oomblik van genade gaan wees, omdat Hy u sondes volkome met God versoen
het. Wanneer die ongelowiges in die geweld van God se toorn verdwyn,
spreek God u vry en verklaar Hy u regverdig kragtens die
verlossingsdaad van die Here Jesus Christus.
Die Nagmaal is dus 'n maaltyd waar die Here u van sy goedheid verseker.
'n Sakrament waar die Here weer aan ons bevestig dat Hy deur Jesus
Christus vir ons 'n toevlug is. Omdat die Here die ken wat by Hom
skuil, daarom roep Hy u na die Nagmaal toe. Berei uself biddend voor
sodat ons as genadelinge aan die tafel van die lewende God sy genade
vir elkeen van ons persoonlik mag proe.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 119:62
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 27 Januarie 2002.