Vooraf: Psalm 110:1, 2
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1, 10
Gebed
Psalm 73:9, 10
Skriflesing:
Psalm 110 en Openbaring 11:15-19.
Teks:
Openbaring 11:15; Kategismus Sondag 19
En die
sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel
wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van
onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in
alle ewigheid. (Openbaring 11:15 AFR53)
Die
Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat ek U
vyande ’n voetbank vir u voete gemaak het. U magtige septer sal die
Here uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande. (Psalm
110:1, 2 AFR53)
Daar is net een Hoof oor die Kerk, en dit is Jesus Christus die Here.
Ons almal wat glo, verwag Hom terug, en ons glo dat Hy op die oomblik
van sy koms, ons almal tot Hom sal neem.
Ons gee aandag aan die volgende twee sake wat die kerk raak:
1. Jesus die Koning van die kerk
2. Die nut van sy koningskap
1. Jesus die Koning van die kerk
Dawid sien profeties die verwagte Priester-Koning van Israel wat in
Sion regeer.
- Hy sien veral die
besondere deel van God se heerskappy waar die Messias saam met God in
sy regering en eer opgeneem word.
- Hy sien hoe die
Messias aan God se regterhand sy plek inneem en deel in die
wêreldbestuur.
- Verder sien hy hoe
die wêreldgeskiedenis met die Messias se troonsbestyging ’n
finale wending neem. Hy heers oor al sy vyande.
Intussen is Psalm 110 al vervul.
- Jesus Christus is
gebore en in sy omwandelinge op die aarde het Hy geleer dat Hy die
beloofde Messias is.
- Hy het ook
gesê dat Hy en die Vader een is, en dat Hy al sy vyande gaan
vernietig.
Die Here voorspel en belowe nie net nie ‑ Hy doen ook.
- Daarom beweeg Hy na
sy oorwinning oor die dood uit hierdie wêreld uit weg na die
troon van God die Vader. Die dissipels het dit gesien. Markus beskryf
dit so (16:19):
Nadat
die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel
en het gaan sit aan die regterhand van God.
Lukas beskryf ook hierdie geskiedenis en dan verwys hy na wat Dawid
gesê het in Psalm 110. Dit is dus baie duidelik dat die Here met
Psalm 110 die hemelvaart van die Here Jesus voorspel het:
Na Psalm 110 het ons inderdaad vyf verwysings na hierdie uitspraak in
Psalm 110. Almal van hulle verklaar die gedeelte dat dit verwys na die
Here Jesus Christus:
Matteus 22:44:
Die
Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u
vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? (Matteus 22:44 AFR53)
Markus 12:36:
Want
Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: Die Here het tot
my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het
’n voetbank van u voete. (Markus 12:36 AFR53)
Lukas 20:41-44:
Toe
sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die
Christus die seun van Dawid is? En Dawid self sê in die boek van
die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand
totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete. Dawid noem Hom
dan Here, en hoe is Hy sy seun? (Lukas 20:41-44 AFR53)
Handelinge 2:34:
Want
Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê:
Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand. (Handelinge
2:34 AFR53)
Hebreërs 1:13:
En aan
watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my
regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete?
(Hebreërs 1:13 AFR53)
Daar is vir ons nog meer verwysings na Jesus se koningskap in die
hiernamaals as net dié van die evangeliste. So ’n voorbeeld is
byvoorbeeld wat met Stephanus gebeur het: Hy was die eerste martelaar
in die kerk.
- Die oomblik toe hy
gesterf het, het hy die genade gekry dat hy kon sien wat in die hemele
gebeur.
- Daar staan geskryf
dat hy die heerlikheid van God gesien het, en Jesus Christus aan die
regterhand van God.
- Presies so het
Paulus Jesus ook gesien toe hy op pad na Damaskus toe weggeruk is in
die hemel in.
- Johannes het Jesus
op Patmos ook gesien as die Koning van hemel en aarde.
Jesus het opgevaar na die hemel om
daarmee sy goddelike mag te
openbaar, en sodat die gemeentes kan weet dat Hy hulle met hierdie
almagtige krag sal en kan bewaar. Hulle saligheid staan vas in die
hemelvaart van Jesus Christus.
Nou kan u miskien redeneer dat dit nie nodig was (of is) dat hierdie
dinge so spesifiek beskryf en bely word nie, want ons weet mos almal
dat Jesus God self is. Nee, so maklik is dit nie.
- Ons het sowel
hierdie profesie as sy vervulling nodig sodat ons kan glo, want sonder
die bewys van die Here se hemelvaart en sonder die getuienis dat Hy aan
die regterhand van God is, kon ons geloof moontlik sy krag verloor het.
- Dan sou kettery nog
makliker tot stand gekom het deur die mense wat al klaar die Here Jesus
se Godheid bestry.
Ons kan dus duidelik sien dat die Here sy raad aan ons openbaar wanneer
al hierdie dinge neergeskryf word, sodat dit ons geloof kan versterk,
en ons kan weet dat ons onder die bewaring en heerskappy van Jesus
Christus is.
2. Die nut van Jesus se koningskap
Die hemelvaart van Jesus en die feit dat Hy plek inneem aan die
regterhand van God die Vader, is ’n daad waarin Jesus verhoog word.
Daarom is dit goed dat ons met groter noukeurigheid gaan ondersoek
instel na die betekenis van die regterhand in die Bybel. Daar is ’n
hele klomp dinge wat alles met die regterhand saamgaan.
- Een is eerbetoon.
Dit was van baie vroeg af die hoogste eerbetoon wat ’n hooggeplaaste
persoon iemand anders kon aandoen as hy die persoon aan sy regterhand
laat sit het.
- ’n Voorbeeld hiervan kry ons in 1
Konings 2:19 waar Batseba Salomo gaan spreek het oor Adonia. Die koning
het, nadat hy haar gegroet het, vir haar ’n stoel aan sy regterhand
laat neersit. Dit was nie die normale gebruik dat enige persoon wat die
koning gaan spreek het, aan sy regterkant gaan sit het nie, daarom
verhaal die Bybel hierdie gebeurtenis as ’n uitsondering.
- Nog ’n voorbeeld waar die
regterhand en eerbetoon saamhang, kry ons in die Nuwe Testament waar
Salome vir die Here Jesus gaan vra het dat haar twee seuns eendag in
die hiernamaals die een aan sy regterkant en die ander een aan sy
linkerkant moet sit.
- Daarby is die
regterhand natuurlik ook ’n teken van liefde.
- Ons het so ’n voorbeeld in
Matteus 25:33 waar die Here Jesus sê dat Hy met die laaste
oordeel die skape aan sy regterhand gaan bymekaarmaak, en die bokke aan
sy linkerkant. Die skape aan sy regterhand is die uitverkorenes wat die
ewige lewe ingaan, en die bokke aan sy linkerhand is die mense wat hel
toe gaan.
- Die regterhand word
ook gebruik om versorging en onderhoud uit te beeld.
- Psalm 16:11 stel dit treffend dat
ons van die Here versadiging en vreugde ontvang, en dat dit uit sy
regterhand ons toekom !
- Die regterhand is in
die Bybel ook die simbool van krag, omdat die meeste mense regs is, en
sy regterhand dus sterker as die linkerhand.
- Daarom is die beeld van die
regterhand in die Bybel ook beeld van God se mag.
- Dit is ’n troos vir die gelowiges
omdat hulle weet dat daardie sterk hand hulle gaan beskerm, maar
terselfdertyd is dit ’n dreigement vir die ongelowiges, omdat daardie
selfde regterhand hulle in die hel gaan gooi.
Jesus Christus het dus al hierdie mag, want Hy sê die dag van sy
verhoor dat hulle almal van daardie dag af die Seun van God sal sien
sit aan die regterhand van God se krag, en dat hulle Hom ook sal sien
kom met die wolke (Markus 14:62; Lukas 22:69; Handelinge 7:56).
Let net daarop dat die Bybel die saak nie altyd eenders beskryf nie.
- Op ander plekke
sê die Bybel weer dat Hy aan die regterhand van God sit.
- Soms sê die
Bybel dat Christus aan die regterhand van God is, bv. Romeine
8:34.
- Op ander plekke, bv.
Handelinge 7:56, dat Jesus aan die regterhand van God staan.
Elke keer het die saak ’n ander betekenis.
- Wanneer Jesus aan
die regterhand van God sit, word daarmee Jesus die Regter bedoel.
- Dit is elke keer sy regterlike
mag wat so uitgebeeld word, want wanneer ’n koning op sy troon sit,
spreek hy reg oor ’n saak. In die volgende twee gedeeltes luister ons
hoe Jesus in die Ou Testament al profeties beskryf word as die Regter
wat in die finale oordeel oor reg en onreg gaan oordeel. Dink aan
Spreuke 20:8 wat sê:
’n
Koning wat op die regterstoel sit, wan met sy oë alles uit wat
sleg is. (Spreuke 20:8 AFR53)
of Jesaja 16:5:
En
opgerig is deur goedgunstigheid ’n troon, en daarop sit een in
getrouheid in Dawid se tent, ’n regter wat die reg soek en gou is in
geregtigheid. (Jesaja 16:5 AFR53)
- Kyk nou na die betekenis daarvan
dat Jesus aan die regterhand van God gaan sit het. Daarmee word Hy aan
die Vader gelyk, omdat Hy die eer en die gesag van die Vader deel.
- Die betekenis
daarvan dat Jesus aan die regterhand van God die Almagtige Vader is,
beteken dat Hy as een Persoon van die Drie-Eenheid oor die kerk en die
wêreld regeer. Hierdie woord Almagtige beteken in Grieks die
natuurlike krag of outoriteit of bekwaamheid om werke te doen en af te
rond.
Voorbeelde kry ons in die volgende twee aanhalings:
Wie is
dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer
nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook
vir ons intree. (Romeine 8:34 AFR53)
(Jesus Christus) . . . wat heengegaan het na die hemel en
aan die
regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom
onderwerp is. (1 Petrus 3:22 AFR53)
- Die verhoging van
Jesus en sy mag om te kan regeer, word geteken daarin dat Hy aan die
regterhand van God staan. Hy staan aan die hoof van alle regering. Hy
staan sodat Hy bo-oor die kwaad kan troon. Sy vyand is ’n voetbank voor
sy voete. Hy is dus inderdaad so magtig dat Hy sy kerk kan bewaar teen
die swaarste beproewinge en aanslae van die duiwel.
’n Voorbeeld kry ons beskryf tydens die steniging van Stephanus:
En toe
hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom
op die tande gekners. Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die
oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus
wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek
sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van
God staan. (Handelinge 7:54-56 AFR53)
Ons kan dus gerus wees, want:
- Ons het ’n Goddelike
Koning wat ons versorg, en ons lewe beplan.
- Hierdie
Priester-Koning gaan weer op die wolke verskyn, net soos die dag toe Hy
weggevaar het uit hierdie wêreld.
- Die dag van sy
wederkoms gaan Hy die regverdiges onder die onregverdiges uit verwyder,
en ons sal Hom tegemoetgaan in die lug.
- Dan gaan Hy dat ons
die nuwe hemel en die nuwe aarde betrek, terwyl Hy dan die kwaad vir
ewig uit die weg ruim.
’n Groter troos as dit sal mens moeilik vir iemand kan aanbied.
- U sien almal hoe lyk
die gees van ons wêreld, en die gees van die mense wat in hierdie
wêreld leef. Alles staan skeef en siek.
- Maar daar kom ’n dag
wanneer al hierdie dinge gaan end kry. Die vloek van die sondeval gaan
opgehef word wanneer die verhoogde Christus op die wolke verskyn.
- Daarom moet ons
steeds bly glo dat Jesus opgevaar het na die hemel toe, en dat Hy sit
aan die regterhand van God die almagtige Vader.
Hierdie deel van ons belydenis is die krag van ons geloof vir die
toekoms. Die krag van God self, omdat dit sy genade aan ons openbaar.
Dit openbaar ook die liefde wat Hy vir ons gee, totdat Hy ons soos sy
kudde aan sy regterhand vergader tot in ewigheid.
Kom ons lees Kategismus Sondag 19 saam.
Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg:
en sit aan regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die
hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die
Hoof van sy Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles
regeer (b).
(a)Ef 1:20-23; Kol 1:18. (b) Matt
28:18; Joh 5:22.
Vraag 51: Watter nut bring hierdie
heerlikheid van ons Hoof Christus
vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy
deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in
ons, sy lede, uitstort (a). Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle
vyande beskerm en bewaar (b).
(a)Hand 2:33; Ef 4:8. (b) Ps 2:9;
110:1, 2; Joh 10:28: Ef 4:8.
Vraag 52: Hoe word jy getroos deur die
wederkoms van Christus om die
lewendes en die dooies te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle
droefheid en vervolging dieselfde Persoon met
gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore
in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my
weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige
verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na
Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).
(a)Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit
2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt
25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.
Amen.
Slotgebed
Skrifberyming 12-2:2, 3 (27:2, 3)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 31 Oktober 2004 (aand)