Sing Vooraf: Psalm 139:4; Psalm 11:1; Psalm 22:2; Psalm 36:2;
Psalm 63:4; Psalm 91:2.
Ons begin hierdie ontmoeting met God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te verklaar:
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige
werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 146:1, 3.
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Na die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid om vergewing (nuwe lewe,
versoening, die wil van God) met Ps. 91:8
Wet
Psalm 91:8.
Gebed.
Ewige God, U is almagtig en goed. U is die Beskikker oor ons Lewens en die
onderhouer van die hele skepping!
Ons aanbid U alleen Daar is ook geen ander God wat aanbid kan word
nie. Aan U kom toe alle aanbidding - wat ons saam met die engelemagte aan U
toebring.
Ons verootmoedig ons uit die diepste grond van ons hart voor U. Ons bely dat ons
dikwels gruwelik sondig. Ons bely dat ons aangebore sondes ook nog in ons dra - en
daarmee saam die erfsmet wat eie is aan ons as sondegevalle mense. Ons erken ook dat as ons in U
gerig verskyn, ons niks anders as die ewige dood verdien nie.
Daarom smeek ons by U vir vergifnis van alles wat ons teen U verkeerd gedoen het.
U leer ons in U Woord dat U nie die dood van 'n sondaar begeer nie. Mag ons daarom van harte by U
smeek om ons genadig te wees, want ons glo en vertrou op die verdienste van ons Middelaar Jesus
Christus. Vergewe ons tog om sy ontwil.
Ons dank U vir die reën wat oor ons geval het in die afgelope tyd. Ons dank
U dat ons deur U genade nog steeds mag lewe en gevoed en gekleed mag wees. Ons dank U dat ons
mag saamkom om U te aanbid in die eredienste.
Ons smeek vir die nood van die gemeente: Bekeer ons almal daagliks dat ons
van ons sondes af mag wegbreek. Verander ons elkeen sodat ons elke dag meer met die beeld van
die Here Jesus bekleed mag word. En Here bekeer ons sodat ons toenemend die stem en die
inspraak van God die Heilige Gees in ons mag hoor en in gehoorsaamheid daarna luister.
Ons doen voorbidding vir die kerk oor die wêreld. Gee Here dat almal wat U
ken, U in waarheid en in eerlikheid sal aanbid en dien. Seën ook ons owerhede wat U oor ons
gestel het om in hierdie sondige wêreld oor ons te regeer. Ons verstaan nie altyd alles wat U
doen nie, Maar wil U gee dat U wil ook deur die besluite wat in ons raadsale van, geskied.
Ons smeek Here vir al die beloftes van God wat U in U Woord aan ons belowe:
Gee ons genade om Christus ontil.
Amen.
Doop: Markus van Wyk
Skrifberyming 8-1:1, 2. (14)
Psalm 91:2.
Skriflesing: Openbaring 12
Teks: Openbaring 12:13
En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy
die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; (Openbaring 12:13 AFR53)
Toe die draak sy neerlaag in die hemel gely het, het hy probeer om die Here van 'n ander kant af
aan te val. Toe hy op die aarde neergewerp is, het hy die kerk van die Here aangeval.
1. Die aanval op die kerk.
2. Die verantwoordelikheid van die kerk.
3. Die genade in Christus.
1. Die aanval op die kerk.
In die hoofstuk word die kerk uitgebeeld deur die vrou wat die seun in die wêreld gebring
het.
- Sy word aangeval.
- Dit beteken dat die duiwel in hierdie tyd waarin ons nou lewe sy volle aandag toespits op die
kerk van die Here, want hy wil soveel as wat hy kan die kerk verwoes.
- Die rede daarvoor is omdat die kerk lewend verbind is aan Jesus Christus en die duiwel haat
alles wat deel is van die Here.
Die aanval van die duiwel is baie hewig.
- In Lukas 22:31 sê die Here Jesus vir Petrus dat die duiwel vurig begeer het om hulle soos
koring te sif.
- Paulus het dit ervaar dat 'n engel van die Satan hom met die vuis in sy gesig geslaan het (2
Korintiërs 12:7).
- 2 Tessalonisense 2:9 openbaar dat die satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders
van die leuen op die mense sal toeslaan. In die Nuwe Vertaling staan dit so geskryf:
Deur die werking van die satan sal die verskyning van die
wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande valse tekens en wonders en met gruwelike
misleiding van die wat verlore gaan ..
- Hebreërs 2:15 openbaar dat die duiwel bepaalde mense hulle hele lewe lank in slawerny en vrees
vir die dood gehou het,
- terwyl 1 Petrus 5:8 vertel dat die duiwel hier op die aarde rondloop soos 'n brullende leeu om
alles te verskeur wat in sy pad kom.
Uit hierdie en nog meer plekke in die Bybel is dit duidelik dat die duiwel kwaai toeslaan op die
kerk, en dat hy niks ontsien om gelowiges dood te maak, te martel en te belieg nie.
Maar tog bly daar deurentyd 'n struikelblok in die satan se pad.
- Dit is die koningskap van Jesus Christus oor sy kerk.
- Die satan kry reg om die gelowiges te laat ly, maar nie om hulle hulle geloof te laat
verloor nie.
- So bly die satan 'n doodgewone verloorder:
-
- Hy het tydens sy sondeval in die hemel teen God verloor.
- Toe het hy teen Jesus Christus aan die kruis en in die graf en met die hemelvaart verloor.
- Daarna het hy teen Migael en die engele verloor.
- Nou verloor hy teen die ware gelowiges ook weer 'n keer.
2. Die verantwoordelikheid van die kerk.
In die tyd wat die kerk so verdruk word, het die Here aan die kerk middele gegee waarmee sy haar
uit die mag en die geweld van die satan kan onttrek. Die Here het aan die kerk twee vlerke
gee.
- Nie gewone vlerke nie: twee groot arendsvlerke. Letterlik staan daar in die Grieks dat sy
die twee vlerke van die groot arend gekry het.
- Die groot arend is die Here. In die Ou Testament is daar verskillende verwysings hierna.
-
- Een so 'n plek is waar die Here verwys na die deurtog deur die Rooi See (Exodus 19:4). Die Here
sê dat die volk gesien het hoe Hy die Egiptenare verwoes het, maar dat Hy hulle (die volk) soos op
arendsvlerke gedra het, en veilig na Hom toe gebring het.
- Die arendsvlerke verwys dus na die almagtige beskerming van die Here oor die mense wat syne
is.
- Dan is daar ook nog daardie baie bekende gedeelte in Deuteronomium 32:11, 12 waar die Here sê
dat Hy en Hy alleen sy volk gelei het soos 'n arend wat oor sy kuikens sweef en hulle op sy vlerke
vang en terugdra nes toe as hulle nie kan vlieg nie.
- Die twee vlerke wat aan die kerk gegee word dat sy kan wegvlieg van die duiwel af, verwys dus
baie duidelik na hierdie plekke in die Ou Testament waar die ewige en almagtige beskerming van die
Here oor sy volk uitgebeeld word.
Maar so eenvoudig is die saak darem nou ook nie. Die kerk het 'n plig.
- Die kerk moet haar van die satan onttrek deur hierdie twee vlerke te gebruik.
- Daarmee stel die kerk haarself terselfdertyd voortdurend in diens van die Here.
Wat moet die kerk doen om haarself van die duiwel af te onttrek?
- Ons moet nugter wees in ons geloof en in ons gebede.
- Daarby moet ons ook baie skerp waaksaam wees in ons geloof en gebede.
- Glo ons regtig in die Here? Geloof is baie belangrik. Die Here leer ons op baie plekke in die
Bybel dat die gelowige letterlik enige ding sal kan doen as hy werklik glo (Matteus 17:20; Markus
9:23; 1 Johannes 5:4).
In die gedeelte wat die apostel Paulus skryf oor die wapenrusting wat die ware gelowige moet
aantrek, skryf hy dat jy die skild van die geloof moet dra, want daarmee kan jy die vurige pyle
waarmee die satan jou aanval, blus.
Die betrokke vers leer eintlik twee dinge:
* Die eerste is dat die satan ons geweldig gaan aanval, en die tweede is dat ons
hom in die geloof sal kan verslaan as ons ons geloof reg gebruik.
* Die tweede saak van belang is die gebed.
o Ons moet biddend lewe, want die Here gee
baie uitdruklik aan ons die belofte dat Hy ons gebede sal verhoor.
o Saam daarmee is ook die belofte dat die
Here ons ons sondes sal vergewe (Jakobus 5:15, 16; Johannes 14:13, 14; Markus 11:24).
o Daarmee is die kerk beveilig teen die
aanvalle van die satan.
Let Wel: Die kerk het 'n groot verantwoordelikheid in hierdie dinge.
Die gelowiges moet werklik die beeld van die Here weerspieël. Kom ons gaan vir 'n oomblik terug na
die beeld van die arendsvlerke. Luister net na wat in Jesaja 40:31 geskryf staan:
- ... die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
- Hulle vlieg met arendsvlerke
- hulle hardloop en word nie moeg nie
- hulle loop en raak nie afgemat nie.
Vlieg ons gemeente werklik met die vlerke wat die Here ons gee?
- Is dit nie dalk tyd dat elkeen van ons vandag moet huis toe gaan en baie diep gaan dink oor ons
verhouding met die Here nie?
- Het dit nie in hierdie moderne tyd raadsaam geword dat ons moet voor begin en van nuuts af
besin oor geloof en watter vereistes die Here aan geloof stel nie?
En dan dink ons ook sommer aan ons gebedslewe.
- Die Here sê nie hier dat die kerk na 'n plek toe gaan waar die duiwel ons nie kan sien
nie.
- Die Here sê dat Hy aan ons vlerke gee sodat ons kan vlug uit die sonde uit:
-
- Die Here stel ons in die vermoë dat ons met 'n streng en reguit lewe sober kan bly.
- Ons moet biddend wegsny van enige vorm van sonde af sodat ons onbevlek aan die Here alleen kan
behoort. Al bly ons op die aarde, ons moet nooit deel word van die wêreld nie.
- Die duiwel gee nooit in sy lewe moed op nie.
-
- Die Here werp hom vir twee en veertig maande of 1260 dae lank op die aarde neer.
- Die tydperk word in hierdie gedeelte herhaaldelik genoem (11:2, 3; 12:6; 13:5).
Hierdie hele tyd is die duiwel saam met die kerk op die aarde. Toe die Here vir die kerk die
arendsvlerke gee dat sy kan wegvlieg buite die bereik van die satan, toe maak die duiwel 'n nuwe
plan.
- Daarom, beskryf die Bybel, spoeg die duiwel toe water soos 'n rivier agter die vrou aan:
Hierdie water simboliseer allerhande verleidinge.
- Onthou, die woestyn is juis 'n plek waar daar nie water is nie, en waar mense dors ly, en nou
voorsien die duiwel water.
-
- Hy wil die kerk verlei om daarvan te drink.
- Toe die duiwel nie die kerk in die wêreld kan insleep nie, toe probeer hy om die wêreld in die
kerk in te kry.
- Dis waarom die water agter die vrou aan uitgegooi word.
In ons tyd is dit 'n groot probleem, want die ware kerk sal moet keer dat hy nie wêreldgelykvormig
raak nie.
- Ken ons nog die verskil tussen die vreugde van die Here en ander verleidinge wat ook die hart
en die gees bly maak, maar wat nie die eer van God dien nie?
- Ons sal hieroor moet dink, want die duiwel wil sulke soort van dinge gebruik om ons van die
Here af te trek.
3. Die genade in Christus.
Die Here sê hier dat die ware gelowiges kon vasbyt en in hulle sober streng lewenswyse kon
volhard.
- Hulle het nie geval vir die begeerlkikhede van die wêreld waarmee die satan hulle wou oorval
nie.
- Op hierdie punt raak die satan se eie beplanning ook goed deurmekaar, want sy eie werke
vernietig mekaar, sodat die aanslag daarvan nie by die gelowiges uitkom nie. Dit staan hier geskryf
dat die woestyn die water opgedrink het voordat dit by die vrou uitgekom het.
Daarna probeer die satan nog 'n laaste poging. Hy val die gelowiges een-een aan.
- Maar altyddeur bly sy oorlog gerig op die dood.
- Hy val die mense ook baie selektief aan. Hy soek net die wat die gebooie van God bewaar en die
wat die getuienis van Jesus Christus vashou.
- Dis nie twee verskillende groepe mense nie. Dis dieselfde mense. Dis net die wat in Christus
lewe wat terselfdertyd die gebooie van God ook onderhou.
- Weet ons dat die duiwel ons soek? Besef ons dat hy ons van Christus wil aftrek, sodat ons saam
met hom verlore kan gaan.
Ons het die een groot troos: ons lewe in God se genade.
- Daarom het God sy vlerke gegee dat ons kan wegvlug van die satan af weg.
- Die saak is so geweldig groot dat God voor die tyd al sy Seun gegee het om 'n mens te word, en
om as 'n mens voor die volle felheid van sy toorn te kom buig.
- Jesus is geweldig gestraf vir elke sonde wat deur elkeen van die gelowiges gedoen is.
- Toe moes Hy self die duiwel verslaan, sodat Hy die almag kon hê om vir die gelowiges vlerke te
gee, sodat hulle van die satan af kan padgee.
- En natuurlik ook om die satan van die gelowiges af weg te hou wanneer hy hulle probeer
aanval.
Uiteindelik breek die oomblik van die Here se wederkoms aan.
- Dan gaan die Here Jesus op die wolke verskyn en die satan vernietig.
- Hy gaan die duiwel en alles en almal wat aan Hom behoort in die ewigheid van die hel
weggrendel.
- Dis die vergesig van ons geloof en ons hoop. En ons moet ook bid dat daardie dag vinnig
naderkom.
In die tussentyd, moet ons glo en bid.
- Lewe so dat ons gebede en geloof gestalte kry in ons onberispelike lewe.
- Dan sal die Here wanneer Hy kom, ons kry waar ons behoort te wees: op sy vlerke buite die
bereik van die verleidinge van die satan.
- En as die duiwel ons sou aanval en diep seermaak - laat ons Here ons dan op ons
knieë kry waar ons steeds sy verlossing bely en sy gebooie hou.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 68:1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees
bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 13 Maart 2005 (oggend)