Sing vooraf: Psalm 49:2,
6.
Ons begin hierdie ontmoeting met
God deur openlik teenoor mekaar en teenoor God te verklaar:
Ons
hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Skrifberyming
5-4:1-6(10)
Geloofsbelydenis:
Nicea
Na die
wet sing ons voor God van nuwe lewe met Ps. 20:1,
Wet
Psalm
20:1, 5
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes
van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm
32:1, 4.
Skriflesing:
Openbaring 12.
Teks: Openbaring 12:
7
En
daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het
oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog
gevoer; (Openbaring 12:7 AFR53)
Inhoud:
‘n Sagte aanval met harde gevolge!
Twee
tekens verskyn in die hemel:
- Die een word genoem ‘n groot teken: Die groot teken is
‘n pragtige jong swanger vrou wat besig was om ‘n
seun in die wêreld te bring.
Let
op na die heerlikheid waarmee die vrou - die kerk
van die Here - beskryf word:
En
‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou
wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op
haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre; (Openbaring 12:1 AFR53)
- Haar klere is die son - die volle heerlikheid van
God.
- Die maan en die sterre onder haar voete, want sy styg bo die skepping
uit.
- Sy dra ‘n kroon van twaal sterre: Sy is die kerk
– die volle getal van al die uitverkorenes van God .
Natuurlik
verskyn hierdie teken van die vrou (die kerk) in die hemel, want dis
waar God voor die skepping al die bestaan en die verloop en die
uiteinde van sy kerk beplan het.
- Die kerk eindig na die wederkoms van die Verlosser in die koninkryk
van God in die volle heerlikheid van God.
- Die feit dat die teken in die hemel verskyn, is dus om
daarmee aan te toon dat die hemel die plek is waarvandaan God met sy
ewige Raadsplan heers en bestuur.
Die
groot teken van hierdie vrou verskyn in die hemel, maar sy is deur God
bedoel en beskik om oor die aarde te heers.
- Die kerk se geskiedenis word uit die hemel uit beplan en beskik, maar
dit speel op die aarde af.
- Dit is hier waar die draak wat voorgee dat hy goddelik is, die kerk
probeer verlei, aanval en vernietig!
Die
tweede teken wat in die hemel verskyn, is ‘n vuurrooi draak.
- Die openbaring van die Here sê nie dat hierdie teken groot
is nie - inderdaad is dit magtig, maar nie Goddelik
magtig nie.
- Die Here
openbaar wel dat hierdie draak ‘n nabootser is wat iets van
homself wil voorgee wat nie waar is nie: Hy het sewe koppe en tien
horings en sewe krone op sy sewe koppe. Hy wil voorgee dat hy
magtiger - selfs sewe keer magtiger is as God self!
Die
groot vuurrooi draak verskyn ook in die hemel.
- Dis waar hy graag wil wees.
- Dis die plek wat hy as sy eiendom wil hê om daar te bly en
te heers en te maak wat hy wil.
- Daarom verskyn hy met sewe koppe en tien horings en sewe krone op sy
sewe koppe.
- Hy wil die indruk skep van hoe magtig hy is en hoe goed hy
regeer - maar hy is ‘n draak.
Dit
wat hy voorgee, verander nie sy wese nie – hy bly tot in sy
diepste wese sleg.
Daarom
val hy die kerk aan - die mooi vrou en haar Kind.
- Openbaring 12 beskryf die val van die duiwel en hoe hy tevergeefs
probeer het om Jesus te vernietig, maar toe deur die engele
verpletterend verslaan is.
- Daar was 'n geweldige oorlog in die hemel.
- Dit het plaasgevind onmiddelik na die hemelvaart.
- Toe Jesus opgevaar het, het die Satan besluit dat hy met die volle
mag van die hel die Here Jesus gaan aanval en Hom vernietig, sodat Hy
nie in die hemel sy plek kan inneem nie.
- Dit was 'n wanhoopspoging van die duiwel, want hy het goed verstaan
dat hy verslaan is.
Op
daardie stadium het Jesus die Satan al klaar beslissend verslaan.
- Daarom het die engele die duiwel met soveel gemak uit die hemel
uitgewerp dat hy en elkeen van sy engele tot vandag toe nooit weer daar
kon kom nie. Die Bybel sê: "Hulle plek was in die hemel nie
meer te vinde nie!"
- Die
engel Migael was meer as een keer in 'n geveg met die duiwel betrokke.
Ons lees byvoorbeeld in Judas vers 9 dat hulle twee in 'n kwaai rusie
betrokke was oor die bene van Moses.
- Ons lees ook dat Migael die groot vors is wat deur die Here aangestel
is om te sorg vir die Israeliete in Babel (Dan. 12: 1). Migael is dus
'n engel wat groot mag en aansien het. Daarom is dit glad nie verbasend
dat dit juis hy is wat die Satan en sy engele te lyf gaan en keer dat
hulle nie die hemel inval nie.
Die
Satan het vroeër dikwels in die hemel gekom. Hy was egter
nooit eerlik nie.
- In sy agterbaksheid wou hy God self wees, en in sy aanslag om dit te
wees, het hy ontsettende skade in die hemel onder die engele aangerig.
- Daarna het hy gewoonlik daar gekom en gemaak asof hy die Here se saak
wil dien. (Job 1 en 2).
- Hy
het gewoonlik baie skynheilig gekla oor gelowiges; so asof hy
die geregtigheid en heiligheid van die Here op sy hart het.
Maar
die dag toe Migael hom aangeval het, het hierdie saak heeltemal in die
reine gekom.
- Die duiwel is op so 'n ondubbelsinnige manier aan die kaak gestel dat
hy op geen manier ooit weer toegang tot die hemel sal kry nie.
- Trouens hy is letterlik daar uitgesmyt.
- Die resultaat van hierdie oorwinning word dadelik aangekondig.
- In die hemel gaan daar 'n groot gejuig op. Johannes hoor die
jubelsang van die hemelkore.
- Die rede word ook gegee: die duiwel wat altyd die gelowiges by God
gaan verkla het, is neergewerp.
- Die saak word baie sterk gestel: Hy is nie verslaan nie. Hy is
neergewerp. Hy is plat op die aarde neergegooi.
Vers
11 sê baie duidelik watter wapens die engele gebruik het.
Hulle het geveg teen die duiwel gewen:
- Deur die bloed van die Lam
- En deur die woord van hulle getuienis
- En omdat hulle hulle eie lewe tot die dood toe nie liefgehad het nie.
Geliefdes,
besef u dat dit wapens is wat ons ook besit? Deur die kruisdood, die
opstanding en die hemelvaart van Jesus Christus en die daaropvolgende
inwoning (en inwerking) van die Heilige Gees, besit ons al hierdie
dinge!
Waarom
is dit nodig dat ons daaraan moet dink en dit moet weet? Die Here
openbaar dit in die gedeelte:
- Daar het oorlog in die hemel gekom. Daar in die hemel is
die duiwel verslaan.
- Die
gevolg van hierdie oorwinning is dat hy op die aarde
neergewerp is. Dit is die gebied waar die kerk beskik is om
te heers! Ons blyplek.
- Hier op die aarde het die Here Jesus hom ook al
verslaan - maar die kerk het nog sy deel
om te doen tot die wederkoms!
Hoe
lyk die draak vir ons? Waarvoor moet ons versigtig wees? Wat
weet ons van hom, want jy moet tog jou vyand ken as jy teen hom wil en
moet veg?
Ons
kyk van twee kante af:
Eerste van God se kant af:
En
‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was
‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op
sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre
van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het
gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar
kind sou verslind sodra sy gebaar het. (Openbaring 12:3-4 AFR53)
God
openbaar die duiwel as ‘n draak: moorddadig.
- Sy vuurrooi kleur is ook die kleur van bloed en haat.
- Dis sy wese - hy is ‘n vernietiger,
‘n skepsel wat tweespalt en dood veroorsaak. Hy is
venynig
God
openbaar die duiwel as iemand wat voorgee wie hy nie is nie, tien keer
magtiger en sewe keer goddeliker as God self.
Nou
kyk ons in die tweede plek weer na die duiwel, maar van ons gesigspunt
af. Wat sien ons?
- Ons sien ‘n wese wat groot en groots is.
- Ons sien ‘n wese met (sover ons kan sien!) –
volmaakte wysheid (Dis die tien koppe).
- Ons sien ‘n mag wat weet hoe om te regeer en mense en
skares te beheer. ‘n Wese wat wette het wat goed
uitwerk en wat werklik sy mag vestig (dis die sewe krone en die tien
horings).
Dit
is waarom ons so moet smeek dat ons die gawe van onderskeiding moet
hê onder die leiding van God die Heilige Gees.
- Alles wat vir ons en die wêreld reg is en reg lyk, is nie
noodwendig vir die koninkryk van God reg nie.
- Hier is ‘n baie mooi voorbeeld van alles wat die
wêreld van ons tyd met oop arms gaan verwelkom, want dit is
wat almal soek.: Iemand met gesag wat insig het wat werk: ‘n
wêreldleier van formaat.
- Die Here openbaar dat dit inderdaad hierdie magtige skerp leier is
wat die enigste grootste vyand van Hom en sy koninkryk is wat aan die
werk is!
Daar
is ander plekke in die Bybel waar dit geopenbaar word dat die antichris
ook onder andere met politiek en sosiale strukture werk.
- Maar hier openbaar die Here dat hierdie draak met die kerk
werk.
- Dit is nou die ding wat aandag vra: Hoe werk die draak met die
kerk? Werk hy met openlike geweld? Hoe doen hy sy
ding?
Openbaring
12 is daaroor duidelik: Die draak probeer die Here Jesus Christus
jag: hy staan voor die vrou om haar kind te verslind.
Dit
sou ons sê, is mos maklik herkenbaar. Ons kan die
duiwel daarop teenstaan en beveg.
Maar
dit gebeur anders.
En die slang het uit sy bek
water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te
laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te
hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk,
wat die draak uit sy bek uitgegooi het. En die draak was
vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar
ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van
Jesus Christus hou. (Openbaring 12:15-17 AFR53)
Kyk
wat vertel die beeld: die woestyn is ‘n
droë plek. Daar is hitte en droogte en nie water
nie. Meeste plante en mense gaan in woestyne dood van die
dors.
Daarom spoeg die duiwel ‘n
stroom water soos ‘n rivier water uit. Natuurlik moet die
water die vrou vernietig, maar hoe? Moet sy daarin verdrink
of moet dit haar wegspoel?
Daar
is nogal verskillende verklarings vir die gedeelte.
- Sommige Skrifverklaarders beweer dat die stroom water beteken
dat die draak ‘n weermag soldate agter die vrou aanstuur,
maar dat ‘n sandstorm die soldate net so toewaai in
‘n kort rukkie se tyd. (Die Skrif openbaar mos dat die aarde
die vrou te hulp gekom het en die rivier ingesluk het)
- Ander Skrifverklaarders verstaan die beeld so dat die water die
verleiding waarmee die duiwel werk (sy slinksheid/agterbaksheid)
voorstel.
- Baie aanloklik bied die draak iets vir die vrou en die kind aan wat die
hardheid en die geweld van hulle vlug versag: water.
- Daar is water om te drink - dan is hulle binne
bereik van die draak.
- Dan vlug hulle nie meer vir hom nie. Trouens dan het hy hulle
in sy mag, want hulle is dan van sy genade afhanklik.
Daarom
beskik die Here dit so dat die vrou en haar kind hulp kry. In
die beeld van die openbaring gebruik die Here selfs die natuur om die
kerk te help: die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy
mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek
uitgegooi het.
Wanneer
dit gebeur, val die duiwel al die gelowiges oor die
wêreld aan met volle geweld en sonder enige
pretensies. Dan is hy woedend.
En die
draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer
teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die
getuienis van Jesus Christus hou.
Wat
is die punt wat hier geopenbaar word? Dit::
- Die satan hou nie van God nie.
- Hy hou ook nie van die kerk van God nie.
- Hy hou niks van enige mens wat glo nie. Hy stel nie belang
om ons vir hom te werf om enige iets positiefs met ons te bereik nie.
Verstaan
goed:
- Die
satan is nie skeppingsmagtig soos God wat die hemel en die aarde
geskape het en met die wederkoms ‘n herskepping gaan en kan
laat gebeur en ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde
tevoorskyn laat kom nie.
- Hy wil net die hele koninkryk van God hê
- en dan breek hy dit en vernietig hy dit. Hy kan
niks in stand hou nie.
- Die
oomblik toe hy onder die genade van God uitbeweeg het, het hy alles wat
mooi in hom was, verloor en het hy in sy wese sleg geword.
Ons
behoud lê juis in die Kind van die vrou: Die Here Jesus
Christus.
- Dit
is omdat die duiwel van die sondeval af al weet dat sy vernietiging
juis in hierdie Kind is wat ons met dieselfde daad gaan verlos, dat die
duiwel so hatig is op Jesus.
- Hy was daar in die Paradys toe God destyds ons en sy straf uitgedeel
het.
- En hy was daar toe
God uitdruklik gesê het:
En Ek sal
vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.
Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. (Genesis 3:15 AFR53)
- Die satan het veral met groot verbystering en ontsetting geluister na
die woorde: Hy gaan jou kop vermorsel!
- Hy het sy eie grafskrif gestaan en aanhoor: Verslaan en
vermorsel deur die Christus wat God is wat uit ‘n vrou gebore
is.
Daarom
moet ons glo en stry in die bloed van hierdie Kind wat so geweldig deur
die draak gehaat word.
- Ons het reeds in sy kruisverdienste die oorwinning.
- Ons moet net hierdie oorwinning bevestig met ons werke!
- Ons moet nie verdraagsaam raak teenoor sonde nie.
- En ons moet dink voordat ons iets doen of besluit.
- Ons moet met groot onderskeiding inkyk in elke gebeurtenis en sien of
dit vir God voordelig is, en of dit bloot verloklikheid van die draak
is wat op die lang duur ons begrafnis saam met syne in die hel
reël.
Ons
is gereddes van God in die bloed van sy Seun, Jesus Christus die Here.
Daarom moet ons glo dat die bloed van Jesus Christus teen die kruishout
af tot ons verlossing was, en moet ons hele lewe ook daarvan getuig dat
ons hierdie boodskap uitdra en uitlewe.
Ons
moet besef dat, van die hemelvaart af, die duiwel glad nie so magtig is
as wat geredelikerwys deur ons aanvaar word nie. Die Here Jesus
Christus het die duiwel klaar verslaan en al wat ons moet doen, is om
deur die bloed en regverdigheid van Jesus oor die versoekings van die
duiwel te heers.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming
7-1:1 (31)
Die
genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 24 Julie 2005 (oggend)