Sing vooraf: Psalm 146:1, 8
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 145:1, 10
Geloofsbelydenis: Nicea
Na die wet bely ons voor God ons
sondeskuld en bid vir ’n nuwe lewe en versoening met Hom met die sing van
Psalm 119:10.
Wet
Psalm 119:10
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Vergifnis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God:
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 98:4
Skriflesing: Psalm 67
en Openbaring 1
Teks:
Openbaring 1:7 en Psalm 67:2, 8
Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog
sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die
aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen! (Openbaring 1:7 AFR1953)
(67:2) Mag God ons genadig wees en ons
seën; mag Hy sy aangesig by ons laat skyn! Sela. (Psalm 67:1
AFR1953)
(67:8) God sal ons seën, en al die
eindes van die aarde sal Hom vrees. (Psalms 67:7 AFR1953)
Ons is gelowiges wat nie die wederkoms van die Here uit die oog moet
verloor nie.
- Die wederkoms van die Here moet ’n bepaalde plek in ons gelooflewe
hê.
- Ons moet met ’n bepaalde verwagting daaroor lewe.
Die feit is bloot:
- Die Here Jesus Christus kom!
- Nog ’n feit is dat ons geloofslewe elke oomblik so op die merk moet
wees dat ons gereed is as die Here kom – die Here Jesus wat God is en wat
genade gee aan sy gemeentes.
In hierdie gedeelte in die Bybel word ’n baie belangrike beskrywing
van die Here gegee:
Hy wat is en wat was en wat kom.
Hierdie beskrywing moet opgebreek word in twee dele:
- Hy wat is en wat was
- Hy wat kom
U hoor baie duidelik dat die Here Homself hier bekendstel met
dieselfde woorde as waarmee Hy Hom aan Moses bekendgestel het:
Gaan sê vir Farao Ek is het jou
gestuur. Ek is wat Ek is!
- Dit is die betekenis van die Godsnaam Jhwh: Dit beskryf God in
sy ewige bestaan.
- Dit is die Naam wat die Here gebruik elke keer wanneer Hy ’n verbond
sluit.
- In hierdie bekendstelling van die Here dat Hy is en was, het ons dus
duidelik ’n sinspeling daarop dat Hy die God van die Verbond is.
In die woorde en wat kom dui
die Here vir sy kerk aan dat Hy nie ’n verbond met sy kerk gesluit het en
toe daarvan vergeet het nie.
- Die beloftes van sy genadeverbond is besig om in vervulling te gaan.
- Hy kom om dit met die volmaakte af te rond.
- Hy toon met hierdie woorde die voortgang van sy werk aan: Hy kom,
onkeerbaar in sy krag!
Die woorde wat is en wat was en wat
kom dui dus die wese van die Here Jesus Christus aan:
- Dit beskryf God die Almagtige in sy krag, en in die vervulling van sy
verlossingsbelofte oor sy uitverkorenes.
- Die woorde dui verder aan dat God onveranderlik is:
- Hy is nog steeds wat Hy altyd was!
- Die God van die Nuwe Testament is dieselfde as die God van die Ou
Testament.
Hierdie woorde openbaar ook die finaalheid van God se genade en van sy
oordeel:
- Hy kom in sy heerlikheid! Hy gaan sy genade ’n volmaakte werklikheid
maak oor die gelowiges.
- Maar terselfdertyd gaan Hy sy dreiging en oordeel beslis en afgemete
uitvoer oor die wat Hom verwerp en gehaat het.
Watter mens lewe daar wat nie troos nodig het nie? Daar is een troos
wat so groot is dat dit vir al hierdie dinge verligting gee.
- Toe u gedoop is, het God al hierdie troos aan u gegee: U behoort aan
die Drie-Enige herskeppende God. Hy is die alleensaligmakende God.
Saamgevat:
- Die Here van die toekoms is ook die Here van die verlede.
- Hy is die Hoof van sy kerk, wat sy kerk hier seën en wat aanstons al
sy weldade oor sy kerk gaan openbaar.
- Hy het Hom in die verlede al bewys in sy almag en Hy gaan dit in die
toekoms ook doen.
Die Here het nêrens sy houvas en sy
krag oor die voortgang van die geskiedenis verloor nie. Die Here is die
Bron van ons voortbestaan in die tyd en in die ewigheid.
Die sewe Geeste van wie Openbaring 1 getuig, is God die Heilige Gees. Die
Heilige Gees is nie werkloos in die kerk in hierdie laaste tye nie.
- Die Heilige Gees word hier geopenbaar in sy werking in die gemeente
van die Here.
- Hy bewerk die genade en vrede wat die Vader beskik het en wat deur
die Seun ’n werklikheid gemaak is in die kerk.
Die Naam van God die Seun word ook bygevoeg. Daar is ’n lang
beskrywing in vers 5 van wie die Seun is, maar die doel van die hele
beskrywing is om aan te toon hoe die Seun die verlossing werk in die
kerk.
. . . en van Jesus Christus, die getroue
getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van
die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het
in sy bloed (Openbaring 1:5 AFR1953)
Jesus is die Getroue Getuie!
- Hy het getrou die raad en Woord van God meegedeel aan die kerk.
- Hy het dit ook beseël met sy dood.
- Hy is verder die Eersgeborene uit die dood:
- Hy het nie in die dood gebly nie.
- Hy is die eerste Een wat uit die dood uit opgestaan het.
- Hy oefen nou heerskappy uit oor die dood, daarom word die Seun
die Owerste van die konings genoem.
- Selfs die allerhoogstes in die hemele en op die aarde moet voor Jesus
buig.
Dan word die verhouding beskryf tussen ons en die Drie‑Enige
Here:
Hy het ons konings en priesters vir God gemaak.
(102:14) U sal opstaan, U oor Sion
ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd
het gekom. (102:15) Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met
sy puin. (Psalms 102:13-14 AFR1953)
Maar daarom is aan my barmhartigheid
bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid
sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die
ewige lewe. (1 Timoteus 1:16 AFR1953)
Hy gaan meteens in sy volle majesteit verskyn: in die luister van lig en
heerlikheid en majesteit soos wat geen mens ooit beleef het, of hom kan
indink nie. Elke oog gaan Hom sien.
Die majesteit van die Here se wederkoms het sy strale ver
vooruitgestuur:
- Johannes het dit al vir ons gesien en geboodskap.
- Die Here Jesus Christus is in sy skitterende majesteit in aantog.
Daarom moet ons ernstig wees met hierdie saak! Is ons voorbereid op
die koms van die Here? Ons is kinders van die Here – omdat Hy ons sy
kinders gemaak het – sy kinders wat sy koms moet inwag.
Wat is die inhoud daarvan dat ons kinders van God is?
- Die Here Jesus Christus het ons liggame en ons siele van die doderyk
en van die mag van die Satan verlos en vrygemaak.
- Terselfdertyd het Hy met sy kruisdood ons met God die Vader versoen.
- Daar staan geskryf dat God sy eie Seun vir ons in die dood oorgegee
het sodat ons deur hierdie daad al God se genade kan kry.
Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het
nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons
ook alles genadiglik skenk nie? (Romeine 8:32 AFR1953)
Want so lief het God die wêreld gehad,
dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie
verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Johannes 3:16
AFR1953)
- Op hierdie manier het ons kinders van God geword.
Noudat die Here se toorn oor al ons sondes gestraf is, is die
verhouding heeltemal anders tussen ons en Hom.
- Na die sondeval was ons doodgewoon sondaars wat die beeld van God in
hulle geskend het, en wat hulle aan die sondes oorgegee het.
- Nou is daar as gevolg van die versoening deur die bloed van Jesus
Christus so ’n teer verhouding tussen God en ons dat Hy ons sy kinders
noem.
ie Here Jesus het nog meer met ons gedoen as om ons net kinders van
God te maak.
- Jesus het ons van die Satan verlos en Hy het ons ook van onsself
verlos.
- Dit is van dinge soos ons willoosheid teen die sonde en ons
skuldgevoelens wanneer ons sonde gedoen het. Die Here Jesus het ons ook
vrygemaak van die geweld van die sonde (want elke sonde het in homself
die geweld van die hel) en die daarmee gepaardgaande oorheersing deur die
duiwel. Ons is verder ook vrygespreek van die skuld waarmee ons as gevolg
van al hierdie dinge voor God staan. Hierdie verlossing deur die Here
Jesus is nie gedeeltelik asof ons ook iets moet bydra nie. Dit is ook nie
voorwaardelik nie. Hy het dit uit vrye wil gedoen in die volle sterkte
van sy almag. Psalm 116: 2:
Om my was bande en strikke van die dood;
en angste van die hel het my laat bewe;
ek was benoud, vol droefheid was my lewe;
maar ek het die Heer gesmeek in al my nood:
Die Here kom in sy krag – in sy Drie-Eenheid.
- Hy gaan tyd en weerstand voor Hom wegvee.
- Sy koms is een daad van oordeel en genade.
- Daarom waarsku die Here ons: ons gaan Hom almal sien.
- Ons en ook die wat al dood is.
- Tot die wat die Here gekruisig het!
- U sal nie twyfel nie – dit sal onmiskenbaar die Here wees!
Kyk na die genade: Die brief begin daarmee dat die Here sy genade en
vrede oor die gelowiges uitspreek.
- U moet volhard in die geloof, want die genade en vrede van die Here
is aan die kom.
- Wanneer die Here self kom, is dit meteens ’n volmaakte werklikheid.
U sal nie twyfel oor daardie oomblik nie.
- Dankbaarheid en vreugde sal u deurspoel, want elke oog sal die Here
sien wanneer Hy verskyn: Die wat Hom gekruisig het, maar ook ons wat
verlangend gewag het op sy koms.
Die aarde het sy opbrings gelewer; God,
onse God, sal ons seën. (67:8) God sal ons seën, en al die eindes van die
aarde sal Hom vrees. (Psalms 67:6-7 AFR1953)
. . . die Here sal sy aangesig oor jou
laat skyn en jou genadig wees; (Numeri 6:25 AFR1953)
Wat gebeur met ’n mens wat elke dag lewe met die vaste besef van hierdie
troos dat die Drie-Enige God hom beskerm en bewaar?
- So ’n mens raak rustig.
- Sy lewe gee ook geloofsvrugte, want hy lewe met sy hart en verstand
verlig deur die Here self.
Kom ons stel dit nog anders: Die Heilige Gees vestig die raadsplan van
die Vader en die versoening deur Jesus Christus in die mense vir wie dit
bedoel is. Luister na die Here Jesus se eie woorde:
En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle
’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:
(Johannes 14:16 AFR1953)
. . . maar die Trooster, die Heilige
Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal
julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. (Johannes
14:26 AFR1953)
- Deur sy getuienis, sy krag en sy inwoning in ons maak die Heilige
Gees ons bereid en gewillig om aanhoudend teen die sonde te stry.
- Waar dit gebeur dat ons in sonde geval het, laat Hy ons weer opstaan
uit die kwaad.
- Hy maak ons gewillig om ons onbekwaamhede te beveg en vir die Here te
lewe.
- Dit staan mos in Romeine 8:15, 16 dat die Heilige Gees ons lei om te
bid en om te weet dat ons God se kinders is (vgl. ook 1 Korintiërs 02:
12).
Want julle het nie ontvang ’n gees van
slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van
aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self
getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; (Romeine
8:15, 16 AFR1953)
- Die Heilige Gees lei ons so dat ons deur alle teëspoede, armoede,
siekte, smaad onreg of wat ookal oor ons mag kom, moed bly hou en God van
harte bly liefhê en dien.
- Die Heilige Gees lei ons om God Drie-Enig te dien, en om getroos te
wees.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 103:10
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 11 Maart 2007 (oggend)