Sing vooraf: Psalm 89:7
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1, 7
Geloofsbelydenis: Apostolicum
Wet
Na die wet bely die grootheid van die
Here, en dat Hy alleen vir ons ’n ewige woning kan gee met Psalm.
84:2.
Psalm 84:2
Gebed
-
Doksologie:
-
Aanbidding:
-
Skuldbelydenis:
-
Dank:
-
Smeking vir die
nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk, owerhede en sondige
wêreld, asook die beroep op die beloftes van God
-
Algemene
bede:
-
Verligting van die
Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Psalm 24:4
Skriflesing: Openbaring
2; Lukas 16:19-31; 1 Tessalonisense 4:13-18
Teks:
Openbaring 2:10, 11
Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk,
die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op
die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê.
Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe
gee. (Openbaring 2:10 AFR1953)
Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die
Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen
skade ly nie. (Openbaring 2:11 AFR1953)
Teen die agtergrond van die aantal gesinne in ons gemeente wat die afgelope
tyd weer deur die dood besoek is en ook vrae wat daar rondom bestaan, gee
ons vandag aandag aan wat die Bybel leer van die dood.
Altyd deur het mense maar bekommernisse en spanning gehad wanneer daar van
hulle geliefdes doodgegaan het.
- Daarom het die Here hierdie gedeelte in 1 Tessalonisense 4 in sy
openbaring ingevoeg – nogal met ’n beroep op ons dat Hy nie wil nie hê
dat ons onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie.
- Hy openbaar aan ons dat ons juis moet weet wat met die ontslapenes
gebeur sodat ons nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.
Die Bybel is die enigste plek waar ons die Here se openbaring hieroor
kan kry, en waar ons oor die dinge getroos kan word. Daarom gaan soek ons
daar vir antwoorde.
Ons ondersoek die volgende:
1. Wat is
die eerste dood en die eerste opstanding waarvan die Bybel
praat?
2. Wat is
die tweede dood en die tweede opstanding wat geen houvas op die ware
gelowiges het nie?
1. Wat is
die eerste dood en die eerste opstanding waarvan die Bybel
praat?
Ons onverstaan oor die dood gaan reguit terug na die sondeval toe. Daar het
alles skeefgeloop. Daar het ons hierdie diep vrees ontwikkel dat die dood
die straf van die Here oor ons sondes is – en wie vrees nie die oordeel van
die Here oor sy sondes nie?
- Dit het begin toe die woorde van die Here geval het dat ons van die
sondeval af die doodstraf oor ons sondes het en dat die aarde vervloek is
om ons ontwil.
- Van daardie oomblik af het ons nie meer vrye toegang na die Here toe
gehad nie.
- Ons ongeregtighede moet nou eers gestraf word voordat ons vrede
met God kan hê.
- Daarby is ons ook tot die dood toe siek, want ons totale
geestelike ingesteldheid het ’n geweldige knou gekry met die
sondeval.
- Dit is ’n baie moeilike toestand waarin ons beland het.
Maar die Here het voorsien dat daar iets gebeur dat ons gesond kan
word, met ander woorde uit die ewige doodstraf wat op ons gelê is, kan
uitkom en weer kan lewe – hierdie keer tot in ewigheid.
- Dit is u troos: ons gaan opgewek word uit die dood. Luister hoe
reguit en helder word dit beskryf in Romeine 8:11:
En as die Gees van Hom wat Jesus uit die
dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode
opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in
julle woon. (Romeine 8:11 AFR1953)
- Dit gaan letterlik oor ons liggaamlike opstanding uit die dood:
...ook julle sterflike liggame lewend
maak...
Hoe werk die dood? Wat gebeur wanneer ek sterf?
Ons is deur die Here onsterflik geskape.
- Ons dood hier is net die aflegging van ons liggame.
- As ons liggame doodgaan, lewe ons onverpoosd, sonder om een oomblik
nie daar te wees nie van hierdie lewe af tot voor die troon van die Here.
- Ons noem dit die
eerste dood. Alle mense sterwe die eerste dood.
Ook sal hy bang wees vir ’n hoogte, en
verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei
staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die
kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die
rouklaers sal op die straat rondgaan. (Prediker 12:5 AFR1953)
Daardie oomblik is dit die finale skeiding tussen die mense – en dan is ons
ook by die laaste omdraaipunt van glo of nie glo nie, verby.
- Onmiddellik is ons op daardie oomblik óf in die hemel óf in die hel.
- Hiervoor kyk ons na die gelykenis van die ryk man en Lasarus wat
elkeen onmiddellik by hulle finale blyplek aangekom het. Dink ook aan wat
die Here vir die rower langs hom aan die kruis gesê het:
En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê
vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (Lukas
23:43 AFR1953)
- Dit is die eerste opstanding.
Hierdie toestand duur nie lank nie – dit hou net solank as wat die
aardse tyd aangaan.
- Die oomblik wanneer die Here kom, verander alles meteens. Niks is dan
meer dieselfde nie.
- Die verandering en alles wat daarmee saamgaan, word aan ons
geopenbaar in 1 Tessalonisense 4. Dan gebeur die tweede
opstanding.
- Ons het sopas saam daarvan gelees in 1 Tessalonisense 4:16:
Want die Here self sal van die hemel
neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van
die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste
opstaan. (1 Tessalonisense 4:16 AFR1953)
Wanneer die bevel gegee word en die stem
van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self
uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het,
uit die dood opstaan; (1 Tessalonisense 4:16 AFR1983)
Daar is niemand wat hierdie oomblik misloop nie.
- Die Here gaan ’n bevel gee dat alle dooies se liggame uit die grond
of waar hulle ook al is, moet opstaan en herskep word.
- Natuurlik word almal nie herskep om by die Here op die nuwe aarde te
wees nie. Party gaan reguit hel toe – met hulle liggame en siele wat dan
weer verenig is met mekaar.
En ek het die dode, klein en groot, voor
God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van
die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf
is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en
die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is
geoordeel, elkeen volgens sy werke. (Openbaring 20:12-13 AFR1953)
Wat word van die mense wat dan nog nie doodgegaan het nie?
- Hulle word op dieselfde oomblik deur die Here verander: Hulle word
dan net so volmaak en verheerlik soos die gelowiges wie se siele saam met
die Here Jesus teruggekom het van die hemel af en met hulle liggame
verenig is.
- Ons het gehoor dat die Here vir ons gesê het:
Daarna sal ons wat in die lewe oorbly,
saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en
so sal ons altyd by die Here wees. (1 Tessalonisense 4:17 AFR1953)
Die dood word gevolg deur die opstanding. Daarvan is die opstanding van
Jesus u bewys.
Ons lewe na die dood is so seker deur God gewaarborg dat ons beskou word
asof ons nou al reeds in die hiernamaals is.
- Daar staan nie dat ons eers eendag daar sal kom nie.
- Die feit is so oorweldigend sterk dat die Bybel leer dat ons reeds
saam met Christus daar is.
Salig en heilig is hy wat deel het aan
die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar
hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as
konings regeer duisend jaar lank. (Openbaring 20:6 AFR1953)
2. Wat is
die tweede dood waarvan die Bybel praat – dit wat geen houvas op die ware
gelowiges het nie?
Ons lees van hierdie verskriklike gebeurtenis in onder andere die volgende
Bybelgedeeltes:
Openbaring 20:14: En die dood en die
doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
Openbaring 21:8: Maar wat die
vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en
hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel
is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede
dood.
U het opgelet dat die Bybel ’n paar keer sê dat die gelowiges eerste
opstaan.
- Hulle liggame word op God se bevel eerste opgewek en met hulle siele
verenig.
- Hulle gaan die Here dan tegemoet in die lug – hulle word dus deur Hom
weggeneem van die aarde af.
Dan gaan die opstanding verder: Die res van die mense staan ook op op
God se bevel. Hulle liggame en siele word ook met mekaar verenig. Maar
hulle eindbestemming en hoe hulle hanteer word om daar te kom, is heeltemal
’n ander saak.
Ons lees in Openbaring14 dat die Here hierdie oordeel opdra aan ’n engel –
en hy werk rof met daardie mense.
En ’n ander engel het uitgekom uit die
tempel wat in die hemel is, en hy het ook ’n skerp sekel gehad; en ’n
ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom
en met ’n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê:
Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die
aarde in, want sy druiwe het ryp geword. En die engel het sy sekel oor
die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit
gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. En die parskuip
is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan
die tooms van die perde, twee honderd myl ver. (Openbaring
14:17-20 AFR1953)
Feit is:
- Die Here Jesus Christus openbaar Homself as ’n lewende Redder, wat
meegevoel het met ons pyn, en ook self daarmee moet meelewe.
- Hy openbaar Hom as die Een wat reeds die dood oorwin het, en wat ons
ook oor die dood gaan laat oorwin – dit is die betekenis van hierdie
brief.
- Die Here weet van al ons smarte, maar Hy bemoedig ons.
- Hy wil hê ons moet weet en glo dat die smarte ’n grens het wat
dit nie kan oorsteek nie, maar ons gaan deur sy verdienste daardie
punt verbysteek, en dan gaan ons sonder hartseer en smarte by Hom
wees in ewigheid.
Kan u dink hoe dikwels ’n gemeentelid homself afgevra het:
- “Is dit alles die moeite werd?”
- Is ek nie dalk gek om deur soveel pyn te gaan ter wille van Jesus
Christus nie?”
Nou kom ons by die saak waaroor dit hier gaan. Is geloof in die Here
Jesus Christus die moeite werd?
- Dit is geen geheim dat Christenwees in hierdie lewe baie ellendes oor
ons bewerk nie.
- Daar kom nie net dinge soos die dood waaroor ons spanning en pyn het
nie.
- Daar is ook baie ander dinge wat in wese dieselfde ellendes as dood
op die aarde in hulle dra.
Die Here Jesus belowe ons uitkoms uit al hierdie ellendes deur die
versoening wat Hy aan die kruis bewerk het.
Hierdie uitkoms klink nou so maklik, maar
dit het nie so maklik gebeur nie, want die Bybel openbaar dat Jesus in die
versoenings- en verlossingsproses deurboor is.
- Hy is ook verbrysel en Hy is gestraf.
- Uiteindelik was Hy vol wonde.
Die Nuwe Testament beskryf dit so volledig: Alles het uitgeloop op
Jesus se dood en op sy opstanding.
- Die Here leer dat Hy self gaan sterf het omdat Hy oor ons bewoë is.
Die dood van die Here Jesus Christus was om die straf te dra.
- Sy opstanding was om die lewe te verwerf en uit te deel en om ons ook
uit die dood te laat opstaan.
- Sy wederkoms is om te vervul wat Hy beloof het.
Jesaja sê dit was sodat ons gesond kon word. Luister hoe stel Jesaja
dit (53:5):
Maar Hy is ter wille van ons oortredinge
deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat
vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons
genesing gekom. (Jesaja 53:5 AFR1953)
Die Here vereis van ons om dit te glo. 1 Tessalonisense 4:14.
Ons het saam gelees wat ons moet glo:
-
Want as ons glo dat Jesus gesterwe en
opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam
met Hom bring. (1 Tessalonisense 4:14 AFR1953)
- Hier is natuurlik ’n probleem met die handskrifte wat aan ons
oorgelewer is. Daarom sal u oplet dat die 1983AV effens anders lees:
Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar
ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die
ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.
Die een lesing leer dat die Here Jesus die dooies na Hom toe neem en
die ander een leer dat die Here Jesus hulle saambring wanneer Hy weer kom.
Wesenlik leer beide dat die dooies by die Here eindig!
Luister wat God leer:
- Romeine 6:6, 8 leer dat God ons liefhet.
- Daarom wou Hy ons nie in die hande van die Satan laat, waar ons
onsself beland het met die sondeval nie.
- Hy het sy Seun gestuur om die dood vir ons te oorwin sodat ons weer
God se genade kan ervaar.
Toe ons nog swak was, het Jesus op die regte tyd vir die sondaars
gesterf. Daarom staan daar in Romeine 14:9 dat Jesus gesterf het, en
opgestaan het om oor die dooies en die lewendes te regeer.
- Dit beteken dat ons nou ook deur Hom regeer word.
- Dan kan die dood en die graf nie die laaste sê oor ons hê nie, want
Jesus lewe dan, en Hy regeer uit die hemel oor sy gelowiges.
Jesus het mos gesê dat Hy lewe en ons sal lewe (Johannes 14:19).
- Dit beteken dat ons lewe inderdaad eers in sy volle werklikheid na
hierdie aardse lewe begin.
- Dit word ook baie sterk onderstreep deur Efesiërs 2:4-6 waar daar
geskryf staan dat ons al reeds saam met Christus opgewek is, en reeds
saam met Hom in die hemel is.
Teen hierdie agtergrond klink die Here Jesus se woorde in Openbaring
22:13 waar Hy Homself aan ons bekendstel:
Ek is die Alfa en die Oméga, die begin
en die einde, die eerste en die laaste. (Openbaring 22:13 AFR1953)
Hy is die Eerste en die Laaste.
- Hy het mag oor lewe en dood, want Hy het die dood oorwin.
- Hy het dus ook die krag en mag om ons in ons lewenstryd te laat
oorwin.
Ons moet in al ons ellendes net na die Here toe kyk.
- Hy voer ons by ons stryd en lyding verby, na die ewige lewe toe waar
Hy is.
- Hy het aan die kruis al ons wat opreg glo, se smarte en die dood
omskep in ewige lewe, vreugde en heerlikheid vir sy kerk.
Dit is die groot troos waarvan die Here praat in hierdie
gedeelte.
- Ware kinders van die Here; werklike liefhebbers van God en sy Woord,
word deur die Here Jesus bemin en beskerm, sodat hulle by die tweede dood
nie die hel in die gesig kyk nie, maar in die hemel ingaan deur God se
genade.
- Daarom is daar groot rykdom daarin as jy al die verdrukking wat oor
jou kom, tot eer van God kan hanteer.
Daarom spreek die Here in vers 10 sy genade oor die ware gelowiges
uit:
Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk,
die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op
die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê.
Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe
gee. (Openbaring 2:10 AFR1953)
Kyk net wat gaan hier aan: Die Here gaan nie die dinge wat die lyding
veroorsaak verwyder nie.
- Trouens, die Here onderstreep dit dat daar baie lyding oor die
gelowiges gaan kom, en Hy lê klem op die bewerker van alles: die duiwel.
Kyk die duiwel gaan sommiges van julle
in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan
word,...
Die duiwel is die bewerker van alles wat met lewe en geluk en vrede in
kontras staan. Ons moet natuurlik nie die genade in die saak miskyk
nie.
- Die Satan kon nog nooit iets duursaams bewerk nie. Hierdie gedeelte
preek dit veral sterk.
- Aan die kruis verwoes die Here Jesus die duiwel se werk.
- Hy vernietig al die ellendes wat die duiwel bewerk – veral die
dood en alles wat daarmee saamgaan.
- Hy vervang dit met die kroon van die ewige lewe wat Hy aan ons
gee. Ons oorleef die tyd van verderf.
- Dit wat God ons in die Here Jesus Christus gee, is langer en meer
duursaam as die Satan se werke en hulle gevolge.
- Daar staan ook dat die tydperk van vervolging 10 dae is.
- Die getal is simbolies, en dui bloot aan dat die Satan
heeltemal beperk is – hy is so begrens deur die Here dat hy nie
eers self kan besluit hoe lank hy die gelowiges wil verdruk nie.
Die vervolging word afgesluit met die kroon van die lewe wat ons van
die Here Jesus ontvang. Dus: koningskap om met lewe te regeer oor die dood
en verderf. Wat meer kan ’n mens vra?
Gemeente van die Here, die Here se boodskap aan u is dat u geen lyding moet
vrees nie, want alle lyding oor ons is tydelik en begrens. Dit breek nie
saam met ons deur in die ewigheid in nie. Wees getrou tot die dood toe,
want met die dood verander ons stryd en hartseer in die lewe van ’n koning
wat saam met God leef in volmaaktheid.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 47:4
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 10 Desember 2006 (oggend)