Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Psalm 8:1, 4.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 40:4
Gebed.
Skrifberyming 7:5 (wysie Psalm 147)
Skriflesing: Openbaring 5.
Teks: Kategismus Sondag
18. Openbaring 5:12
Die
Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en
wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.
Op Patmos is Johannes in die Gees in die hemel. Hy sien en hoor
onuitspreeklike dinge. Hy sien die Here Jesus Christus wat weggevaar het
van die aarde af in sy heerlikheid. Hy sien ook hoe die werk van Jesus
Christus in vervulling gaan.
Kom ons kyk in hierdie preek na die
volgende twee sake:
1. Die ewige Koning
in die hemel.
2. Die ewige Koning
se vertrek van die aarde af.
1. Die ewige Koning in die hemel.
Johannes sien dat daar op God se regterhand 'n merkwaardige boekrol lê.
- Gewone boekrolle is net aan die binnekant vol geskryf,
- Maar hierdie boekrol is aan die binne- en buitekant vol geskryf.
- Op die boekrol is God se beplanning van die wêreld en sy
geskiedenis neergeskryf.
- Die betekenis daarvan dat die boekrol aan albei kante vol beskryf
is, is om daarmee simbolies aan te toon dat die Here elke ding so
deeglik uitgewerk het dat daar geen tyd of ruimte vermors is nie.
Die boekrol veroorsaak spanning in die hemel. Enigeen in die hemel of
op die aarde word gedaag om die seëls van hierdie boek oop te breek.
Daar was niemand wat dit kon doen nie. Nie eers een van die magtigste
engele het dit gewaag nie.
Johannes het verstaan wat dit beteken.
- As hierdie boek se seëls nie gebreek word nie, kan die
wêreldgeskiedenis nie ontwikkel nie.
- Dit beteken dat die heerlikheid van God nie aan ons geopenbaar
kan word nie
- en dat die ewigheid na die dood, saam met die nuwe hemel en die
nuwe aarde, nie sal kom nie.
Een van die ouderlinge het Johannes se aandag daarop gevestig dat die
seëls tog gebreek gaan word.
- Daar was 'n Leeu wat dit gaan doen (v. 5).
- Toe Johannes opkyk, sien Hy dat dit nie 'n leeu is nie maar 'n
Lam wat daar in die middel staan asof Hy geslag is.
- Dit beteken dat hierdie Lam tekens aan Hom gehad het omdat Hy
gewelddadig doodgemaak is.
- Daarby het Hy nog 'n aantal ander merkwaardige eienskappe ook:
- Hy het sewe horings.
- Dit simboliseer volmaakte en Goddelike krag.
Die toepassing daarvan is dat Jesus Christus die Goddelikheid en krag
het om regering uit te oefen oor alles wat in tyd en ewigheid gebeur.
Daarom val almal in die hemel op hulle gesigte neer toe Hy die boek neem
om dit oop te maak.
Hulle sing dan ook 'n lied waarin die vermoë van die Lam bevestig word:
U is
waardig om die boek te neem
en sy seëls oop te maak,
want U is geslag
en het ons vir God gekoop
met U bloed
uit elke taal
en volk en nasie.
'n Praatkoor van al die engele en alle ander lewende wesens in die
Hemel sluit daarby aan:
Die
Lam wat geslag is,
is waardig om te ontvang
die krag en rykdom
wysheid en sterkte
heerlikheid en lof.
Aan Hom wat op die troon sit
en aan die Lam kom toe
die lof en die eer
en die heerlikheid en die krag
tot in alle ewigheid
Amen!
Al hierdie dinge wat daar in die hemel gebeur, vat die oorwinnig van
Jesus Christus saam:
- Die feir dat Jesus sy lewe afgelê het, opgestaan het uit
die dood en dat Hy daarna hemel toe gevaar het.
- Die Lam is op die aarde geslag, maar het toe na die hemel toe
gegaan en daar is Hy 'n Leeu wat met krag en mag regeer.
- Uit die hemel bepaal en regeer Hy nou oor die wêreldgeskiedenis.
- Sy almag word ondubbelsinnig en duidelik gestel deur die feit dat
almal in die hemel hom aanbid, en aan Hom as die God van die geskiedenis
die eer gee.
1. Die ewige Koning
se vertrek van die aarde af.
Die dinge in die hemel is meer as wat die mense kon sien tydens Jesus
se hemelvaart, want dit was so 'n eenvoudige gebeurtenis.
- Hy het voor die oë van sy dissipels opgevaar.
- 'n Wolk het tussen Hom en hulle ingeskuif.
Ons weet dat daar dinge was wat die mense nie gesien het nie, wat
verskriklik was, naamlik dat die duiwel en sy magte Jesus probeer aanval
en vernietig het nadat die wolk Hom van die dissipels geskei het,
en dat Migael en sy engele teen die duiwel uitgetrek het en hulle
verslaan het.
Psalm 47: 6 het al geprofeteer dat God opvaar met 'n gejuig;
Die Here vaar op met basuingeklank.
Die basuin is in die Ou Testament geblaas om die aankoms van 'n koning
aan te kondig, maar ook om oorlog en die aanval van die vyand aan te
kondig. Psalm 47 het altwee geprofeteer.
- Die oorlog was tussen Michael die aartsengel en die duiwel,
Terwyl die hoogste Koning opgevaar het.
- Terselfdertyd het die hoogste Koning in die hemel aangekom het,
waar die engele en die geestesmagte gejuig en gejubel het oor sy
oorwinning.
Die Bybel openbaar daarmee hoe die lyde van Jesus oorgegaan het in sy
oorwinning. Van die spottery van die kruis af het Hy verander in die
ewige Regter wat oor almal en alles gaan oordeel.
Voordat Hy kom as Regter doen Hy nog eers iets anders: Hy berei in sy
koninkryk plek voor vir die vir wie Hy aan die kruis die ewige lewe
verwerf het. Dit is waarom ons bely dat Jesus ons ten goede in die hemel
is.
In die koninkryk van God word die seën van Jesus Christus oor ons ten
volle waar.
- Tydens sy aardse lewe het ons oral brokstukke daarvan gesien.
- Hy het gedurig sy seën oor gelowiges - en daarmee oor die kerk
uitgespreek.
- Dink aan wat Jesus alles gesê het:
- "Salig is hulle wat
glo."
- "Jou sondes is vergewe."
- Lukas sluit sy evangelie met 'n beskrywing van die hemelvaart
waarin die volgende staan:
En Hy
het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën het Hy van
hulle geskei en is in die hemel opgeneem. (Lukas 24: 50, 51).
Die seën van Christus is dat ons soos Hy uit die dood opgewek sal word
sodat ons met ons liggaam en siel in sy koninkryk sal ingaan met sy
wederkoms.
Ons leef in 'n tyd waar mense alles met die wetenskap wil verklaar. Tot
elke wonder wat deur die Here gedoen is en in die Bybel opgeteken is,
moet verklaar word. Dinge wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie,
word normaalweg verwerp.
Daarom is daar in ons tyd weer allerhande dinge aangaande Jesus wat in
die spervuur kom al die dinge wat tydens sy lewe en net daarna ook
in die spervuur was!
- Die maagdelike geboorte word verwerp.
- Die opstanding uit die dood word nie aanvaar nie.
- Met die hemelvaart en Jesus se bestemming het die wetenskap geen
raad nie. Daarom is daar groeiende ongeloof onder die mensdom oor die
algemeen.
Dit is natuurlik so dat mens die liggaamlike opstanding en hemelvaart
van Christus net in die geloof kan aanvaar en verstaan.
- Daarom het dit ook net vir die gelowiges betekenis.
- Dit is net vir die gelowiges wat dit belangrik is om te weet wat
met hulle gaan gebeur na hulle dood:
- Hulle liggame gaan net soos Jesus s'n uit die dood opgewek
word.
- Hulle gaan met liggaam en siel - soos Jesus - in
die koninkryk van God ingaan.
Die hemelvaart is 'n bewys van God se almag.
- Voor die oë van mense het Hy met sy liggaam van die aarde af na
die hemel toe gegaan.
- Dit is die bewys dat Hy alle liggame - ook ons s'n -
so van die aarde af na die hemel toe kan laat gaan.
Die feit dat Jesus met sy liggaam hier weg is, beteken nie dat Hy
daarmee van ons afgesny geraak het nie.
- Ons moet altyd onthou dat Jesus en die Vader en die Heilige Gees
een Wese is. Een God.
- Omdat Hy en die Heilige Gees Eenswesens is, is Jesus deur die
Heilige Gees nog steeds by ons.
- Dit is waarom daar in ons belydenis staan:
..dat
Hy ons sy Gees as teëpand stuur, deur Wie se krag ons soek wat daarbo
is, waar Christus is aan die regterhand van God en nie wat op die aarde
is nie.(Kategismus vraag 49).
Kom ons gaan vir 'n oomblik terug na die gedeelte wat ons in
Openbaringe gelees het. Wat moet ons met die beeld van die Leeu en die
Lam maak?
- Die Leeu kom om te verskeur, want die tyd van genade gaan verby.
- As Christus op die wolke terugkom, gaan Hy beslis geen weerstand
teen Hom duld nie.
- Dan voltrek Hy die eindoordeel en maak Hy die finale skeiding
tussen alle magte in die hemele en op die aarde.
- Die Lam het die versoeningswerk gedoen.
- Hy het genade gegee aan almal wat glo.
- Hy bid elke dag vir ons en Hy maak plek gereed waar Hy ons in
die hiernamaals gaan ontvang.
Ons verwag nie meer die Lam nie. Sy werk is gedoen. Ons wag nou vir die
Leeu wat die ewige lewe oor ons gaan laat aanbreek.
Amen.
Slotgebed.
Skrifberyming 9:1, 2 (wysie Psalm 66)
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 31 Mei 2003.