Sing vooraf: Skrifberyming 8:1, 4, 5 (5-3:1, 4, 5); Skrifberyming 7:5
(5-2:5) (wysie Psalm 147); Skrifberyming 37:2 (2-7:2)
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 2:4
Gebed
Skrifberyming 9:4 (18-1:4)
Skriflesing:
Openbaring 5
Teks:
Openbaring 5:13
En
elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en
wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom
wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die
heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! (AFR83)
Op Patmos is Johannes in die gees in die hemel.
- Hy sien en hoor onuitspreeklike dinge.
- Hy sien die Here Jesus Christus wat weggevaar het
van die aarde af in sy heerlikheid.
- Hy sien ook hoe die werk van Jesus Christus in
vervulling gaan.
Kom ons kyk in hierdie preek na die volgende twee sake:
1. Ons ewige Koning se vertrek van die
aarde af
2. Ons ewige Koning regeer uit die
hemel
1. Ons ewige Koning se vertrek van die
aarde af
Die dinge in die hemel is meer as wat die mense kon sien tydens Jesus
se hemelvaart, want dit was so ’n eenvoudige gebeurtenis.
- Hy het voor die oë van sy dissipels opgevaar.
- ’n Wolk het tussen Hom en hulle ingeskuif.
Ons weet dat daar dinge was wat die mense nie gesien het nie, wat
verskriklik was, naamlik dat die duiwel en sy magte Jesus probeer
aanval en vernietig het nadat die wolk Hom van die dissipels geskei
het, en dat Michael en sy engele teen die duiwel uitgetrek en hulle
verslaan het.
- Psalm 47:6 het al geprofeteer dat God opvaar met ’n
gejuig; die Here vaar op met basuingeklank.
- Die basuin is in die Ou Testament geblaas om die
aankoms van ’n koning aan te kondig, maar ook om oorlog en die aanval
van die vyand aan te kondig. Psalm 47 het altwee geprofeteer.
- Die oorlog was tussen Michael die aartsengel en die
duiwel, terwyl die hoogste Koning in die hemel aangekom het waar die
engele en die geestesmagte gejuig en gejubel het oor sy oorwinning.
Die Bybel openbaar daarmee hoe die lyde van Jesus oorgegaan het in sy
oorwinning. Van die spot van die kruis af het Hy vertrek en sy plek
gaan inneem as die ewige God en Regter wat oor almal en alles gaan
oordeel.
- Voordat Hy kom as Regter doen Hy nog eers iets
anders: Hy berei in sy koninkryk plek voor vir dié vir wie Hy aan die
kruis die ewige lewe verwerf het.
- Dit is waarom ons in ons belydenisskrifte bely dat
Jesus ons ten goede in die hemel is.
In die koninkryk van God word die seën van Jesus Christus oor ons ten
volle waar.
- Tydens sy aardse lewe het ons oral brokstukke
daarvan gesien.
- Hy het gedurig sy seën oor gelowiges – en daarmee
oor die kerk – uitgespreek.
- Dink aan wat Jesus alles gesê het: “Salig is hulle
wat glo” en “Jou sondes is vergewe.”
- Lukas sluit sy evangelie met ’n beskrywing van die
hemelvaart waarin die volgende staan: “En Hy het sy hande opgehef en
hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in
die hemel opgeneem (Luk. 24: 50, 51 AFR53).
- Die seën van Christus is dat ons soos Hy uit die
dood opgewek sal word sodat ons met ons liggaam en siel in sy koninkryk
sal ingaan met sy wederkoms.
Ons leef in ’n tyd waar mense alles met die wetenskap wil verklaar. Tot
elke wonder wat deur die Here gedoen is en in die Bybel opgeteken is,
moet verklaar word. Dinge wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie,
word normaalweg verwerp. Daarom is daar in ons tyd weer allerhande
dinge aangaande Jesus wat in die spervuur kom.
- Die maagdelike geboorte word verwerp.
- Die opstanding uit die dood word nie aanvaar nie.
- Met die hemelvaart en Jesus se bestemming het die
wetenskap geen raad nie. Daarom is daar groeiende ongeloof hieroor
onder die mensdom oor die algemeen.
Dit is natuurlik so dat mens die liggaamlike opstanding en hemelvaart
van Christus net in die geloof kan aanvaar en verstaan.
- Daarom het dit ook net vir die gelowiges betekenis.
- Dit is net vir die gelowiges wat dit belangrik is
om te weet wat met hulle gaan gebeur na hulle dood:
- Hulle liggame gaan net soos Jesus s’n uit die dood
opgewek word.
- Hulle gaan met liggaam en siel – soos Jesus – in
die koninkryk van God ingaan.
Die hemelvaart is ’n bewys van God se almag.
- Voor die oë van mense het Hy met sy liggaam van die
aarde af na die hemel toe gegaan.
- Dit is die bewys dat Hy alle liggame – ook ons s’n
– so van die aarde af na die hemel toe kan laat gaan.
Die feit dat Jesus met sy liggaam hier weg is, beteken nie dat Hy
daarmee van ons afgesny geraak het nie.
- Ons moet altyd onthou dat Jesus en die Vader en die
Heilige Gees een Wese is – een God.
- Omdat Hy en die Heilige Gees Eenswesens is, is
Jesus deur die Heilige Gees nog steeds by ons.
- Dit is waarom daar in ons belydenis staan:
. . . dat Hy ons sy Gees as teëpand
stuur, deur Wie se krag ons soek
wat daarbo is, waar Christus is aan die regterhand van God en nie wat
op die aarde is nie. (HK Sondag 18 vraag 49).
2. Ons ewige Koning regeer uit die
hemel
Johannes sien dat daar in God se regterhand ’n merkwaardige boekrol lê.
- Gewone boekrolle is net aan die binnekant vol
geskryf.
- Maar hierdie boekrol is aan die binne- en buitekant
vol geskryf.
- Op die boekrol is God se beplanning van die wêreld
en sy geskiedenis neergeskryf.
- Die betekenis daarvan dat die boekrol aan albei
kante vol beskryf is, is om daarmee simbolies aan te toon dat die Here
elke ding so deeglik uitgewerk het dat daar geen tyd of ruimte vermors
is nie.
Die boekrol veroorsaak spanning in die hemel. Enigeen in die hemel of
op die aarde word gedaag om die seëls van hierdie boek oop te breek.
Daar was niemand wat dit kon doen nie. Nie eers een van die magtigste
engele het dit gewaag nie.
Johannes het verstaan wat dit beteken.
- As hierdie boek se seëls nie gebreek word nie, kan
die wêreldgeskiedenis nie ontwikkel nie.
- Dit beteken dat die heerlikheid van God nie aan ons
geopenbaar kan word nie,
- en dat die ewigheid na die dood, saam met die nuwe
hemel en die nuwe aarde, nie sal kom nie.
Een van die ouderlinge het Johannes se aandag daarop gevestig dat die
seëls tog gebreek gaan word.
- Daar was ’n Leeu wat dit gaan doen (v. 5).
- Toe Johannes opkyk, sien Hy dat dit nie ’n leeu is
nie maar ’n Lam wat daar in die middel staan asof Hy geslag is.
- Dit beteken dat hierdie Lam tekens aan Hom gehad
het omdat Hy gewelddadig doodgemaak is.
- Daarby het Hy nog ’n aantal ander merkwaardige
eienskappe ook:
- Hy het sewe horings.
- Dit simboliseer volmaakte en Goddelike krag.
Die toepassing daarvan is dat Jesus Christus die Goddelikheid en krag
het om regering uit te oefen oor alles wat in tyd en ewigheid gebeur.
Daarom val almal in die hemel op hulle gesigte neer toe Hy die boek
neem om dit oop te maak.
Hulle sing dan ook ’n lied waarin die vermoë van die Lam bevestig word:
U is
waardig om die boek te neem
en sy seëls oop te maak,
want U is geslag
en het ons vir God gekoop
met U bloed
uit elke taal
en volk en nasie.
’n Praatkoor van al die engele en alle ander lewende wesens in die
Hemel sluit daarby aan:
Die
Lam wat geslag is,
is waardig om te ontvang
die krag en rykdom
wysheid en sterkte en eer en
heerlikheid en lof.
Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam kom toe
die lof en die eer
en die heerlikheid en die krag
tot in alle ewigheid Amen!
Al hierdie dinge wat daar in die hemel gebeur, vat die oorwinning van
Jesus Christus saam:
- Die feit dat Jesus sy lewe afgelê het, opgestaan
het uit die dood en dat Hy daarna hemel toe gevaar het.
- Die Lam is op die aarde geslag, maar het toe na die
hemel toe gegaan en daar is Hy ’n Leeu wat met krag en mag regeer.
- Uit die hemel bepaal Hy die wêreldgeskiedenis en
regeer Hy nou daaroor.
- Sy almag word ondubbelsinnig en duidelik gestel
deur die feit dat almal in die hemel Hom aanbid, en aan Hom as die God
van die geskiedenis die eer gee.
Kom ons gaan vir ’n oomblik terug na die gedeelte wat ons in die
openbaringe aan Johannes gelees het. Wat moet ons met die beeld van die
Leeu en die Lam maak?
- Die Leeu kom om te verskeur, want die tyd van
genade gaan verby.
- As Christus op die wolke terugkom, gaan Hy beslis
geen weerstand teen Hom duld nie.
- Dan voltrek Hy die eindoordeel en maak Hy die
finale skeiding tussen alle magte in die hemele en op die aarde.
- Die Lam het die versoeningswerk gedoen.
- Hy het genade gegee aan almal wat glo.
- Hy bid elke dag vir ons en Hy maak plek gereed waar
Hy ons in die hiernamaals gaan ontvang.
Ons verwag nie meer die Lam nie. Sy werk is gedoen. Ons wag nou vir die
Leeu wat die ewige lewe oor ons gaan laat aanbreek.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 68:15
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: Hemelvaart 20 Mei 2004