AS IEMAND ‘N OOR HET, LAAT HOM HOOR  

Skriflesing: Openbaring 13:1 - 10

Teksvers; Openbaring 13:9  

As iemand ‘n oor het, laat hom hoor.

Broeders en Susters, dit is die Here self wat hierdie opdrag gee. Hy beklemtoon hiermee aan ons hoe dringend noodsaaklik dit vir ons is om met heilige erns en ontsag te luister wat Hy aan ons deur sy Woord bekend maak. Trouens, die opdrag om te luister na wat Hy sê kom dikwels in die Bybel voor. Ons verwys meer net na die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 . Elke  brief sluit af met die opdrag:”Wie ‘n oor het ,laat hom hoor wat die Gees vir die gemeentes sê.”

Ons mag dus nie onverskillig en ligtelik met die Bybel besig wees nie, want die hele Skrif is die Here se Woord waarna ons met oorgawe moet luister.

Die Woord van die Here word deur Homself die “Evangelie” genoem, wat “blye boodskap” beteken.

Maar, broeders en susters, die benaming “blye boodskap”, is vir ons nie altyd wat ons ‘n blye boodskap sal noem nie. Baie gedeeltes in die Skrif klink vir ons gladnie na ‘n blye boodskap nie.

As Jesus bv. Die blye boodskap in sy profetiese rede volgens Matt. 24 verkondig, dan klink dit vir ons gladnie na ‘n blye boodskap nie. Inteendeel, Hy maak hiermee aan ons bekend wat alles moet gebeur voor Hy weer kom: “Daar sal oorloë en gerugte van oorloë wees, en aardbewings en hongersnode, en pessiektes en valse profete wat ons wil mislei. En nog die ergste: ‘n verdrukking vir ons soos daar nog nooit was en nooit weer sal wees nie.

Maar dan gee Hy tog ook vir ons die opdrag: “Oppas, moenie julle hierdeur laat afskrik nie. Die dinge moet nog gebeur voordat Hy weer kom. As die Here ons dan beveel: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor”, dan verwys Hy hiermee na die skrikwekkende gesig wat Hy Johannes laat sien het van die afskuwelike ondier uit die see: Dit is nie sommer net ‘n droom, ‘n nagmerrie nie. Dit is die werklikheid en dit sal beslis gebeur. Die Here sê hiermee vir ons hoe die goddelose wêreld lyk  waarin ons as sy kerk ons bevind.
 
Dit wat ons hier gelees het, kan ons werklik bang maak as ons nie daarvan bewus was dat die Here self , ten spyte van dit alles , steeds in volle beheer oor alles is nie.

Laat ons dan nou mooi luister wat die Here hier aan ons bekend maak.
 
Hierdie gedeelte volg op Openbaring 12 wat handel oor die draak, dit is die Satan, en oor die skrikwekkende vervolging van die Kerk van die Here hier op aarde.
 
In hoofstuk 13 maak die Here nou aan ons bekend hoe die Satan die antichristelike  wêreldmag as sy bondgenoot gaan inspan teen ons as gelowiges hier op aarde.

Volgens Openbaring 13:1 het Johannes ‘n skrikwekkende gesig gesien. Dit was ‘n afgryslike monsterwat besig was om uit die see op te kom. Om die betekenis hievan te begryp, moet ons egter weet wat in die Bybel simbolies met die see bedoel word.

In Openbaring 17 :5 word o.a. hiervan gesê : “Die water wat jy gesien het, is volke en menigte en nasies en tale.” Die see waaruit Johannes hierdie monster sien opkom het, is in werklikheid die antichristelike wêreldvolke. Hierdie dier is dan ‘n simbool van die antichristelike wêreldmag wat deur die Satan teen die gelowiges op aarde ingespan word.

In die Ou Testament, in Daniël 7, het Daniël ook so ‘n visioen gehad soos Johannes. Maar Daniël het vier verskillende diere gesien: ‘n leeu, ‘n beer, ‘n luiperd en toe ‘n onbeskryflike monster. Die vier diere is simbolies van vier wêreldryke van daardie tyd, nl. die Babiloniese Ryk, die Meders en Perse, die Grieks -Masedoniese Ryk en die Romeinse Ryk.
 
Johannes sien egter hierdie vier diere as ‘n eenheid. Dit wat hy dus gesien het, wys op die samegroei van volke en tale tot een groot monsteragtige wêreldvolk.Die verskillende wêreldvolke tree dus gesamentlik op as een groot antichristelike  wêreldmag.

Ons mag nou miskien  wonder wanneer dit gaan gebeur. Die antwoord word vir ons in vers 5 gegee: “Aan hom (die dier) is mag gegee om godslasterlike dinge te sê en te doen vir 42 maande.”
 
In hoofstuk 12 word na hierdie periode verwys as 1260 dae, en 1260 dae is gelyk aan 42 maande. Verder word in Openbaring 20, en dit is merkwaardig, na dieselfde  periode verwys as die duisendjarige vrederyk. Hierdie tydperk, broeders en susters, dui op die volle  periode vanaf pinkster met die uitstorting van die Heilige Gees, tot met die wederkoms van Christus.
 
Dit wil sê die saamgroei van wêreldvolke tot een wêreldwye  antichristelike mag,  het vanaf Pinkster reeds begin. Satan het vanaf Pinkster dus begin om die goddelose  wêreld teen die kerk van die Here te mobiliseer. Maar eers teen die  einde sal hy skynbaar volkome daarin slaag om die volkere van die wêreld as ‘n moordadige mag vol haat teen die kerk saam te snoer.  

Waarom kan ons so sê? Die antwoord  word  vir ons gegee in die beskrywing van die opkoms van die monster uit die see en sy sewe koppe en tien horings en dit wat daarmee gebeur.
 
Wat sien Johannes dan eerste? Hy sien heel eerste hoe daar tien horinga met ‘n kroon op elkeen uit die volkeresee opkom. Dan sien hy die sewe koppe  waarop ‘n naam van godslastering staan. Dan kom die dier in sy hele monsteragtige gedaante te voorskyn. Hy lyk soos ‘n luiperd, het pote soos ‘n beer en ‘n bek soos ‘n leeu.

Die geleidelike opkoms van die monster uit die volkesee  wys  dan op hierdie periode van 42 maande.
 
Ons moet ook onthou dat elke liggaamsdeel van hierdie monster ‘n besondere betekenis het.  

Volgens die Bybel dui horings op ‘n uitsonderlike mag. In vers 2 word ook gesien dat die satan aan die dier besondere mag gegee het. Die tien horings getuig dan ook van hierdie mag. Die  krone op die horings dui weer op heerskappy. Hy soek na algehele heerskappy oor die wêreld.  

Die sewe koppe dui dan ook op algehele godslasterlike  wêreldoorheersing (sewe is ‘n volkomenheidsgetal.)
 
Die feit dat die dier soos ‘n luiperd lyk, wys weer op die slinksheid en sluheid van ‘n luiperd wat blitsvinnig en onverwags op sy prooi spring. Sy pote soos die van ‘n beer wys daarop dat hy alles wat in sy pad kom, genadeloos vertrap. Sy bek soos ‘n leeu wys daarop dat hy wreed en sonder genade sy prooi verskeur.
 
Hierdie monsteragtige dier as simbool van die antichristelike  wêreldmag het dus geen genade vir die kerk van die Here hier op aarde nie. Hy strewe na volkome alleenheerskappy oor die hele  wêreld.

 

Maar, broeders en susters, dan sien Johannes hoe een van die sewe koppe dodelik verwond is asof dit met ‘n swaard oopgekloof is. Op een of ander wyse is die dier se magswellus om oor die ganse aarde te heers, met ‘n dodelike swaardhou teen een van die sewe koppe gestuit. Die dier het dus nou net ses koppe - ons moet onthou dat die getal sewe op volkome heerskappy oor die wêreld dui.

Die vraag is egter: Wie of wat was verantwoordelik  vir die dodelike swaardwond wat die antichristelike wêreldmag vir ‘n tyd lank verhinder het om volle heerskappy te kry?  

Ons kry die antwoord uit die Bybel self. In 2 Tess 2:7 lees ons die volgende:  

 “Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk . Maar die een wat die wettelose (die antichris) teehou , moet eers uit die weg wees, en dan sal die wettelose self op die toneel verkyn.
 
In die boek Handelinge word dan ook aan ons duidelik gemaak wie die Persoon is wat die antichristelike  wêreldmag nog teëhou. Dit is die Heilige Gees self. En die swaard wat die Heilige Gees gebruik om daardie een kop so dodelik te wond, is die Woord van God. En sy medewerkers is hulle wat die Woord  onvervals verkondig.  

Daarom word daar ook in Openbaring 20:3 verklaar dat die Satan vir 1000 jaar gebind sal wees sodat hy nie die nasies kan verlei tot ‘n algehele goddelose wêreldmag nie.
 
Broeders en susters, dit het alles na Pinkster gebeur toe daar begin is om die Evangelie aan al die volke en tale en nasies te verkondig. Ons lees in Handelinge hoe daar oral in die heidenwêreld heidene gelowig geword het. Oral is daar kerke gestig. Hierdie afskuwelike monster wat Johannes uit die volkeresee sien opkom het, was nie in staat om ‘n volkome godslasterlike  wêreldmag te verkry nie, want een van sy sewe  koppe was dodelik  verwond deur die verkondiging van die Evangelie, die swaard van die Gees. Daarom het daar in die plekke  van afgodstempels christelike kerke gekom.. In die plek van algehele heerskappy deur antichristelike  wêreldmagte, is die heerskappy van Christus as koning in die wêreld  verkondig en deur baie aanvaar. Volke het tot bekering gekom. Tot nou

toe nog kon ons as  ware  kerk van die Here, vrygekoop deur die bloed van Christus, onder Sy heerskappy deur die swaard van die Heilige Gees - dit is die Woord van God - behoue bly. Daarom word hierdie periode ook die duisendjarige vrederyk genoem.

Natuurlik het dit in hierdie  wêreldgeskiedenis nie altyd maklik gegaan nie.Die antichristelike  mag het nog ses koppe gehad. Daarvan getuig die wrede vervolgings van christene en valse leraars  wat dwalinge  verkondig om die gelowiges te mislei sodat hulle  nie  meer die waarheid sal aanhang en glo nie.
 
Maar, broeders en susters, toe sien Johannes iets wat vir ons baie ontstellend is; iets wat ons baie bang kan maak. Hy sien hoedat daardie dodelike wond aan die sewende kop besig is om gesond te word sodat die kop weer lewend kan funksioneer saam met die ander ses. Dit is werklik ‘n wonderbaarlike genesing.  

En nou weet ons wat dit vir ons as gelowiges gaan beteken. Die duiwel gaan volgens Openbaring 20:7 weer losgelaat word. Hy gaan geleendheid kry om die verlore terrein wat hy aan Christus en sy kerk moes afstaan weer terug te kry.

Volgens Openbaring 20:8,9 gaan hy al die nasies verlei en versamel vir die groot verdrukking van die gelowiges op aarde.

Ons merk dit reeds aan ‘n wêreldwye tydsgees wat besig is om ook nes te skop in die hedendaagse teologiese denke. Dit word die post-modernisme genoem. Hiervolgens bestaan daar nie meer ‘n absolute waarheid nie. Sommige predikante vertolk nie meer die Woord van God nie. Hulle interpreteer die Woord volgens hulle eie denke. So gebeur dit dat daar verskillende interpretasies van die Skrif gegee word. En dan word verklaar dat die waarheid veelkantig kan wees.

Maar, broeders en susters, let nou op hoe groot hierdie dwaling kan wees. Jesus sê tog van homself in Johannes 14:6 “Ek is die Weg en die Waarheid.” As die waarheid dan veelkantig is, dan moet Christus wat self die Waarheid en die Woord is, ook veelkantig gesien kan word. Dit beteken dat daar verskillende beelde van Christus geskep word. Maar Jesus waarsku tog  uitdruklik teen hierdie dwaling in sy profetiese rede in Matt. 24:23: “As iemand in daardie tyd vir julle sê: “Kyk, hier is die Christus”, of “kyk, daar is Hy”, moet julle dit nie glo nie”.

Jesus verwys dan ook self na hierdie dinge as ‘n tyd van verdrukking soos daar nog nooit was en nooit weer sal wees nie.
 
“ As iemand ‘n oor het, laat hom dit hoor”., sê die Here dit ook vir ons vandag. Hierdie dinge moet gebeur.
 
Broeders en susters, dit wat die Here aan ons bekend maak , dit gebeur reeds. Ons hoor dit. Ons sien dit. Daar is vandag nie meer sprake van ‘n christelike wêreld nie. Inteendeel, die afvalligheid onder christene neem wêreldwyd met rasse skrede toe.
 
Nie eens baie lank gelede nie is daar na die Westerse wêreld. verwys as die bakermat van die christendom. Daardie tyd is verby. Van Suid-Afrika is daar nog tot onlangs verwys as die land waar die christendom nog ‘n invloedryke rol gespeel het.

Kyk ons na die Ooste dan word daar gepraat van die groot opbloei in die christelike geloof onder oosterse volke . Maar ook daar lyk die prentjie baie donker. Christene word veral in Islamitiese lande en China  gladnie geduld  nie. Hulle word wreedaardig vervolg en voor die vot vermoor. Christene leef in daardie lande in die grootste ellende denkbaar.  

Daardie tye toe gelowiges nog gesê het: “Ons moet ons daarop toelê om die wêreld vir Christus te wen “, is aan die verbygaan.  

Die Here  wys ons eerder op die teendeel. In vers 3 staan daar dat die hele wêreld agter die dier sal aangaan. Ons sien reeds hoe die opmars agter die antichristelike  wêreldmag al hoe groter word. Alles wat goddeloos is kry toestemming van regeerders deur wette, bv. aborsie en dobbel. En in vers 8 staan daar dat die bewoners van die aarde hierdie  dier sal aanbid.
 
‘n Antichristelike  wêreldgodsdiens sal die enigste erkende godsdiens wees. En dit is reeds besig om te gebeur, broeders en susters. Wêreldwyd  word daar geywer vir die gelykstelling van alle godsdienste tot een wêreldgodsdiens. Hierdie  aksie se doel is om die christendom uit te roei.Suid -Afrika se minister van Onderwys is ywerig besig om deur wetgewing die handhawing van ons geloof in Christus op skool en aan die Potchefstroomse Universiteit te verbied. Dit sal teen die wet wees om die skooldag met Skriflesing en gebed te open.

Dan lees ons in verse 5,6 hoe aan die antichristelike  wêreldmag geleentheid gegee is om teen God en teen sy kerk godslasterlike  uitsprake te maak. Ons hoef hiervan nie eens voorbeelde te soek nie. Dit gebeur daagliks in ons huise oor die TV en in baie geskrifte, selfs deur sommige teoloë, dat die Heilige wese van God gelaster word, en dat Sy kerk hier op aarde verneder word.  

Een ding is vir ons as gelowiges egter duidelik sigbaar. Daardie sewende kop van die antichristelike wêreldmag is besig om vinnig gesond te word.  

“As iemand dan ‘n oor het, laat hom dit hoor”, sê die Here. Dit wat hy vooraf aan ons geopenbaar het, is besig om in vervulling te gaan.
 
Die antichristelike wêreldmag is reed besig om die kerk van die Here hier op aarde te probeer doodwurg.  

Dit laat ons miskien vra: Maar wat bly daar dan vir ons oor? Watter toekomsverwagting het ons nog?

Alles wat die Here vooraf aan ons bekend gemaak het, moet gebeur en dit is inderdaad besig om te gebeur. Ons kan nie meer ons oë daarvoor sluit nie.  

Maar , broeders en susters, dit is nie die Here se bedoeling om ons moedeloos te maak nie, want in hierdie gedeelte is daar ook nog die anderkant wat ons ook moet hoor.
 
Het u opgelet hoe dikwels daar gesê word : Aan hom, (dit is die dier), is daar gegee? Dit staan twee maal in vers 5 nl. “ ‘n Mond is aan hom gegee om teen God te laster,” en “..aan hom is mag gegee.”

Ook in vers 7: “ Dit is aan hom gegee om oorlog teen die heiliges te maak en te oorwin”.  

Hierdie dier, die antichristelike  wêreldmag, het nie die mag uit homself nie. Hy is van die Here alleen afhanklik. Hy kan net sover gaan soos die Here hom sal toelaat. Die Here bepaal vir hom die grense. Hy sal wel daarin slaag om die heiliges, die kerk te oorwin, maar hy sal nie die kerk kan vernietig nie.
 
Hiermee verseker die Here ons dat Hy in absolute beheer van alles is.

Hierdie goddelose wêreld moet gereed gemaak word vir die groot oordeel wat kom. Daarom lees ons ook in Openbaring 22:11 : “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen.”

Dit wat egter van die grootste belang is, is om van die Here te hoor dat hierdie aanslag eintlik teen Hom gemik word. Ps. 2 sê die goddelose wêreld haat God. Daarom moet Sy Naam, Sy heilige Wese, gelaster word. Maar die Here lag vir die nasies uit sy woning. Hy spot met hulle. En omdat hulle die Here nie kan bykom nie, probeer hulle maar sy kerkvolk op aarde verdelg.

Jesus self het mos gesê: “Die wêreld het My gehaat. Hulle sal julle ook haat.”

En wat so merkwaardig is, broeders en susters ,is  dat dit van geen ander godsdiens gesê kan word nie. Daarom probeer hulle, dit is Satan en die antichristelike  wêreld, om ons christelike godsdiens te verlaag tot die peil van ander wêreldgodsdienste.

Aan die ander kant, moet ons wat ons betref die volgende hoor. En dit staan ook vas: Almal  wie se name in die Boek van die Lewe geskryf is, ontvang ‘n nuwe toekomsverwagting, ‘n hemelse toekomsverwagting.

Op grond van die Lam wat geslag is, en dit is Jesus Christus  wat ter wille van ons gekruisig is, en uit die dood as oorwinnaar opgestaan het, gee die Here aan ons die sekerheid dat ons nie vir ewig verlore sal gaan nie. Deur Jesus Christus se lyde, sterwe en opstanding, het ons die onbetwisbare eiendom van God geword. Hiedie dinge wat ons sien gebeur verkondig: Die koms van die Here is naby - voor die deur.

Daarom word vir ons in vers 10 gesê: “Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges...” Met hierdie  uitspraak word ons as gelowiges dit op die hart gedruk om nie moedeloos te word nie. Maar ons moet in alles wat oor ons mag kom in geduld en in geloof enduit volhard, en mekaar in die geloof ondersteun. Die Here is immers in beheer oor alles. Hy sal self met die goddelose verdrukker van sy  uitverkore kinders finaal  afreken. Vreeslik is die oordeel van God wat hulle gaan tref.

Vir ons wag daar egter ‘n heerlike toekoms. Ons burgerskap is immers reeds in die hemel waar ons Here Jesus Christus is. Ons sal op die dag wanneer Jesus weer kom bewoners word van die nuwe aarde wat God uit die ou aarde herskep het.

Op die nuwe aarde sal ons vir ewig in vreugde en vrede en liefde by die Here woon as sy volk en Hy by ons as ons God.

As iemand ‘n oor het, laat hom dit hoor. Laat ons na die toenemende goddeloosheid en haat teenoor God en sy kerk  kyk deur die bril van sy Woord. Dan word hierdie skrikwekkende gebeure wat die Here aan ons bekend gemaak het vir ons die verkondiging van die Blye Boodskap:

Maranatha!   Die Here kom!

AMEN

Ds. H.P.Prinsloo
4 November 2001 (oggenddiens)
Bellville