Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm : 89:1
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 40:4
Skrifberyming : 45:1,12
Gebed.
Skriflesing: Openbaring 2
Teks: Openbaring 2: 10c
Wees
getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.
Let op hoe die Here Hom hierdie keer aan sy kerk bekendstel: Hy is die
Here wat
- eerste is en laaste sal wees
- en wat dood was maar weer lewendig geword het.
In hierdie groet is daar nie net vir Smirna 'n boodskap nie. Daar is
vir ons ook 'n boodskap, want hierdie boodskap word gerig aan die kerk
wat lewe in die laaste dae.
- Dit is 'n tyd waarin dit nie sal goed gaan met die kerk nie, want
dit sal 'n tyd van vervolging wees.
- Die vervolging sal so erg word dat van die gelowiges martelare
gaan word.
Daarom hierdie brief van bemoediging aan 'n kerk wat met die swaard en
die dood gekonfronteer gaan word:
- Moenie moed verloor as jy met die dood gekonfronteer word nie,
want die dood het nie die laaste sê oor jou nie.
- Hou altyd jou oë op die Here Jesus Christus.
- Hy was ook dood.
- Maar Hy het nie in die dood gebly nie.
- Hy het teruggekom in die lewe in.
- As iemand jou gaan doodmaak moet jy verder kyk as die angs van
die oomblik: kyk na Jesus Christus wat jou in jou lyding gaan bystaan
en wat jou uit die dood gaan laat opstaan sodat jy weer lewe.
Die gemeente in Smirna was verdruk. Daar was nie baie rykes in
die gemeente nie. Die minagting druk en vervolging deur die gemeenskap
waarin hulle gelewe het, het daartoe gelei dat die Christene hulleself
afgesonder het.
Die Here wys twee troosvolle dinge aan die kerk uit:
- die een is dat die mense wat hulle aanstellerig hou en wat vir
die hartseer verantwoordelik is, self nie is wie hulle voorgee dat
hulle is nie.
- die tweede is dat 'n gelowige - 'n kerk - se rykdom nie in die
eerste plek bestaan uit materieële dinge nie.
- Dit bestaan in die besit van die Here as die Heiland van die
kerk.
- Smirna was ryk, want hulle was die besit van die Here en saam
met Hom erfgename van die hele wêreld (vgl. Romeine 8: 17).
Die Here openbaar dat 'n groot deel van die kerk se lyding sal ontstaan
uit kwaadstokery. Hierdie kwaadstokery dra 'n bepaalde karakter.
- Die duiwel verstig homself in die kerk en gebruik lidmate om die
eer van die Here te dwarsboom.
- Hy doen dit deur mense wat voorgee dat hulle glo, te gebruik om
die wat waarlik glo te verdruk en belaster.
Die Here noem hierdie mense 'n sinagoge van die Satan.
- Dit wys dat hierdie mense die wese van kerkwees nie verstaan nie,
en daarom in allerhande fisiese uitlikhede uitvlak.
- Die eindpunt van hierdie hele aangeleentheid is dat hierdie mense
direk duiwels is in hulle optrede.
- Daarom word die uitspraak van die Here dat hierdie mense 'n
sinagoge van die Satan is, opgevolg met die aankondiging dat die duiwel
sommige van ons in die gevangenis gaan gooi.
In die tronk gaan dit sleg gaan, want van die ware gelowiges gaan
doodgemaak word. Die Here sê dit:
- Wees getrou tot die dood toe.
- Die Here sê dit binne die konteks daarvan dat Hy doodgemaak
is en weer lewend geword het.
- Ons moet dus lewe deur die bril van die dood.
Daarom openbaar die Here dat daar tien dae lank verdrukking sal kom.
Dit is 'n simboliese aankondiging wat doodgewoon beteken dat die duiwel
se aanvalle en verdrukking oor ons deur God beperk word.
- Die duiwel kan nie in sy aanslae op ons doen wat hy wil nie.
- God beheer die kwaad dat dit binne perke oor ons kom.
En as ons sterf moet ons sterf met die oog op die lewe daarna. Ons moet
onthou dat die Here Jesus Homself bekendgestel het as die sleuteldraer
van dood en lewe.
Die Here bevestig ook hierdie boodskap aan ons met die gebruik van die
Nagmaal.
- Hy het die Here se toorn oor al ons sondes gedra.
- Dit beteken juis dat Hy ook gesterf het vir enige vorm van lyding
wat oor ons mag kom.
- U moet onthou dat Jesus se dood voorafgegaan was deur die
verskriklikste lyding en pyn.
- Trouens, sy hele lewe was 'n lewe van veragting en verwerping
deur sy mense.
Die Here het uit die dood lewendig geword en 'n pad oopgemaak in die
ewige lewe in.
- Op hierdie pad neem Hy almal saam wat Hom tot hulle dood toe
getrou dien.
- Hy laat hulle nie net opstaan uit die dood nie - Hy
gee aan hulle die kroon van die lewe.
Kom gebruik nagmaal, en besef dat hierdie opstaan uit die dood tot die
ewige lewe waar ons as gekroondes van die Here Jesus sal wees tot in
ewigheid die eindbestemming is deur die liggaam en bloed van ons Here
Jesus wat vir ons gebreek en vergiet is.
Amen.
Gebed.
Skrifberyming 8:1..
Nagmaalsformulier
Aan Tafel: Psalm 118
Psalm 116
Skrifberyming 24: 1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 18 November 2001.