Om oppad te wees na die nuwe Jerusalem
Lees: Openbaring 21: 9 - 27
Teks :Openbaring 21:10
Sing: Ps 121:1,4 Skb. 33:1,3 Ps.22:1,2
“ En
Hy het my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem wat uit die
hemel van God neerdaal:”
Broeders en susters, die gesig wat Johannes van hierdie geweldige groot
stad gesien het, moes vir hom aangrypend en baie mooi gewees het.Dit is
‘n stad groter as die hele Suid-Afrika: - 2500km by 2500km (nuwe
vertaling) . Dan is die mure ook nog so hoog. En Johannes kon die hele
stad sien: die buitekant sowel as die binnekant. Dit is die heilige
stad, die nuwe Jerusalem. So word dit in vers 2 genoem.
Maar broeders en susters, daar is tog iets wat ons hinder. En dit is
dat Johannes juis ‘n stad gesien het.
Baie van ons wil tog nie eendag in die hiernamaals in ‘n stad woon nie.
Hier op aarde het ons al genoeg gehad aan die neerdrukkende en gejaagde
stadsatmosfeer. En ons wonder : Gaan ons eendag werklik in so ‘n
geweldige stad met strate van goud woon? En as dit dalk nie so is nie,
wat word dan met hierdie stad bedoel?
Die antwoord word vir ons in vers 9 gegee: Die engel sê vir
Johannes : “Kom hierheen , ek sal jou
die bruid toon , die vrou van die Lam.” En in vers 2 staan daar: “ Die stad was gereedgemaak soos ‘n bruid
wat vir haar man versier is.”
Die stad, die vrou en die bruid is dus dieselfde. En die betekenis van
die vrou is vir ons algemene kennis. In die Bybel word op verskillende
plekke na die vrou of die bruid verwys as die volk van die Here , die
ware gelowiges.
Hierdie stad is dus simbool van die voltooide kerkvolk van die Here in
hulle volkome heerlikheid en saligheid.
Die heilige Jerusalem is niks anders nie as al die gelowige uitverkore
kinders van God van Adam af tot op die dag van Christus se wederkoms.
En hulle sal nie in ‘n stad woon nie, maar op die nuwe aarde.
In Openb. 21:3 word dan ook vir ons gesê hoe gelukkig en tevrede
ons sal wees. Hier is die Here self aan die woord : “Kyk , die woonplek
van God is nou by die mense.” Hy sal by hulle woon. . En hulle sal Sy
volke wees. En God self sal by hulle wees as hulle God.
In hierdie aangrypende gesig wat Johannes gesien het, word vir ons
vertel van die volkome heerlike, innige, liefdevolle gemeenskap tussen
God en Sy kinders op die nuwe aarde vanaf die wederkoms van Christus.
Die skone heerlikheid hiervan word nou vir ons in Openb. 21: 10 - 27
met beelde beskryf. As ons nou hieruit bymekaar sit wat bymekaar pas,
sal ons agterkom dat daar sewe uitstaande kenmerke is wat die besondere
verhouding tussen God en ons uitbeeld. En sewe is die volheidsgetal wat
wys op ‘n volkome verhouding.
Ons gaan nou na elkeen van die 7 kenmerke afsonderlik kyk. U kan dit in
u Bybels volg.
1. Die eerste belangrike kenmrk van
die verhouding is : By wie het die geweldige stad ( die uitverkorenes)
sy oorsprong?
Dit staan in vers 10 : “ Die heilige
Jerusalem wat uit die hemel van God neerdaal.”
Hierdie groot gemeenskap van verlostes het die almagtige Verbondsgod
uit genade vir sondaars vir Hom bymekaar gebring. Hy is die bouer van
hierdie glansryke stad. En dit is ook nie iets wat eendag skielik sal
gebeur nie. Inteendeel, Hy het hierdie stad van verlostes reeds begin
bou direk na die sondeval in die Paradys. Trouens , nog voordat die
wêreld geskape is, was sy planne vir die bou hiervan reeds
gereed. Ons lees dit in Ef. 1:4 : “Nog
voordat die w êreld geskep is, het Hy ons in Christus uitverkies
om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”
In Jesus Christus het Hy ons verlos uit die slawerny van die Satan en
die sonde en al ons oortredinge uit genade op grond van Christus se
versoeningswerk aan die kruis vergewe. Deur Sy Woord en Gees herskep Hy
ons nou al om lewende stene in die goudglansende stad van verlostes te
wees. Hy maak alles, ook ons, nou nuut. So staan dit in vers 5. Dit
lees ons ook in Fillipense 1:6 : “
Dit is God wat die goeie werk in julle begin het, en dit enduit sal
voer en dit voleindig op die dag van Jesus se wederkoms.”
Daarom, broeders en susters, is hierdie wonderlike gesig wat Johannes
gesien het, nie net ‘n toekomsgesig nie. Nee, inteendeel, hierdie gesig
raak elke ware gelowige hier en nou, asook ons verantwoordelikheid
hierby.Die Here betrek ons ook by die bouwerk. Ons lees dit in 1 Petrus
2:5: “Laat julle as lewende stene
opbou tot ‘n geestelike huis en om geestelike offers te bring wat deur
Jesus Christus vir God welgevallig is.”
Die eerste kenmerk van hierdie gesig is dus dat hierdie stad sy
oorsprong by die Here het. Hy is die bouer en Hy betrek ons hierby.
2. Die tweede kenmerk is dat die stad,
volgens vers 10, die heilige Jerusalem genoem word.
In vers 16 en 18 word in beelde beskryf wat hiermee bedoel word.
Die woord “heilig “ wys immers op ‘n liefdevolle en rein gemeenskap met
mekaar en met die Here. In vers 18 staan daar: “Die stad was gebou met suiwer goud soos
met suiwer glas.” Suiwer goud beteken dat ons volkome gereinig
is, skoon gewas van elke vlek van die sonde. Suiwer glas wys weer op
volkome deursigtigheid.
Hierdie gemeenskap van gelowiges sal eendag vir mekaar heeltemal
deursigtig wees. Selfs ons gedagtes is dan deursigtig sonder enige
teken van vlek of sonde. Eers dan sal ons gemeenskap met God volkome
wees. Maar ons word ook almal hierby betrek. Ons lees dit in 1 Johannes
3:2,3: “ Elkeen wat hierdie
verwagting in verband met Jesus koester,( nl. dat ons eendag wanneer Hy
kom soos Hy sal wees,) hou homself rein soos Jesus rein is."
In vers 16 word die woord “heilig” met ‘n ander beeld vergelyk. Dit is
die lengte, breedte en hoogte van die stadsmure. Die mure is elk 12 000
stadia lank, breed en hoog. Die nuwe vertaling se 2 500 km neem
ongelukkig die beeld se betekenis weg. Twaalf-duisend is die som van 3
x 4 x 10 x 10 x 10.
Drie wys op die Goddelike Drie-eenheid en vier verteenwoordig die
skepping. Dit wys dan ook op die heilige verbintenis tussen God en ons.
Die 10 x 10 x 10 beeld uit dat hierdie gemeenskap volkome en volmaak
sal wees. Die kubus - vorm van die stad se mure wys ook op die volkome
en volmaakte heilige gemeenskap.
Ons word egter nou al by hierdie volmaakte, heilige gemeenskap met God
betrek.
Ons word nou al opgeroep om heilig te lewe. Daarom gee die Here aan ons
die opdrag: “Wees heilig want Ek is heilig.” ( 1 Petr.1:16 en
Lev.19:2). In Sy Wet gee die Here aan ons die voorskrifte oor wat ons
moet doen om heilig te lewe.
Vgl. Ook Fipippense 2:12 en 13.
Die tweede kenmerk van hierdie stad wys ons op ons volkome rein en
heilige gemeenskap met God en met mekaar. Ons moet ons nou al elke dag
hiervoor inspan.
3. Die derde besondere kenmerk word
aan ons bekend gemaak in verse 11, 23 en ook 22:5.
In hierdie verse word vir ons gesê dat die heerlikheid van God en
van die Lam
hierdie stad verlig sodat sonlig of maanlig of enige kunsmatige lig nie
meer nodig sal wees nie. Daar sal ook geen nag meer wees nie.
Broeders en susters, ons het lig nodig om te kan sien en te lees. So
kan ons kennis verkry. Maar Jesus Christus, die Lam van God is die
enigste ware Lig wat in hierdie wêreld gekom het. Sy Woord is die
ware Lig op ons lewenspad. Nou al maak Hy deur die Heilige Gees en die
Woord die saligmakende reddende kennis aangaande God se verlossende
genade en liefde aan ons bekend.
Ons ken nou nog maar net ten dele, maar eendag, in die lig van die Lam,
Jesus Christus, sal ons oor volkome kennis beskik oor hoe geweldig
groot God se liefdevolle en reddende genade is. Dan sal ons die heilige
God ewig kan loof en prys.
Maar ons mag nie uitstel tot op daardie dag nie. Die Here gee ons in
Ef. 4:12 en 13 die opdrag dat ons ons nou al moet toelê daarop om
uit sy Woord toegerus te word. So sal ons uiteindelik kom tot die
werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God.
Dan sal ons so volmaak en volwasse wees soos Christus.
Hiedie kenmerk beklemtoon aan ons die volwasse kennis van God se liefde
en genade in Christus om aan Sy beeld gelyk te word. Dit begin hier en
nou.
4. In hoofstuk 21:22 word ons op die
vierde kenmerkvan die stad gewys. “Die Here God en die Lam is die
tempel van die stad.”
In die Ou Testamentiese tyd moes Israel na die tempel toe gaan om die
Here daar te ontmoet. Vanaf Pinkster is ons as kerk in Christus deur
die Heilige Gees die tempel van God. Daarom kom ons as gelowiges op
gereelde plekke en tye bymekaar vir ‘n persoonlike en besondere
ontmoeting met die Here. Ons samekomste Sondae is egter nog maar net ‘n
voorspel van daardie ewige volkome ontmoeting met die heilge God om in
‘n ewige gemeenskap met Hom en met mekaar te lewe.
Verder nog; Elkeen van ons se ligame is tempels van die Heilige Gees.
Daarom moet ons nie onsself besoedel met die sonde nie. Nee, ons moet
soos dit in Galasiërs 5: 16 staan, ons lewens deur die Gees laat
beheers. Dan sal ons nooit swig voor die begeertes van ons sondige
natuur nie. So sal ons nou al begin om die teenwoordigheid van God in
ons eredienste en in ons persoonlike lewenswandel te belewe met die oog
op die dag wanneer die Here kom. Dan sal die teenwoordigheid van God by
ons volkome wees.
Die vierde kenmerk handel dus oor die volkome teenwoordigheid van God
by ons. Dan is die woonplek van God vir altyd by Sy kinders.
5.Die volgende blywende kenmerk van
hierdie stad word in vers 17 en 18 aan ons geopenbaar.
Die stad het ‘n geweldige muur. In vers 17 lees ons dat die muur gemeet
is. Dit is 144 el. Net dit. Verder is die boustof van die muur Jaspis (
O.V.) Of opaal (N.V.).
Ook hier val die klem op die 144. Jerusalem het ook destyds ‘n muur
rondom gehad. In Sagaria 2:5 hoor Sagaria in ‘n naggesig die opdrag dat
Jerusalem se muur nie weer herstel moes word nie. God self sal ‘n
vurige muur rondom sy volk wees. Met hierdie muur wat Johannes gesien
het, word dieselfde bedoel. Die boustof, Jaspis, wys eintlik op ‘n
skitterende kristalhelder boustof soos diamante. Met die wederkoms van
Christus sal die Here ons deur Sy skitterende heerlike heiligheid en
liefde omring. En hulle wat so deur Hom omring sal word, is die 144 el
van die muur.
Die getal 144 is die som van 12 x 12. Dit wys op die ou Testamentiese
(12 stamme van Israel ) en die Nuwe Testamentiese ( 12 apostels van
Jesus). Dit is die volle getal van uitverkorenes.
Die Here sal nie net eendag ons met Sy heerlikheid omring soos ‘n
vurige muur nie. Ons lees bv. hiervan in Romeine 8:31 en verder: “ God
is vir ons, wie kan teen ons wees?” Dan sê Paulus verder : “Hiervan is ek oortuig dat niks ons kan
skei van die liefde van God wat daar in Jesus Christus ons Here is nie.”
Broeders en susters, as ons dan hiervan oortuig is sal ons ons mos
gedurig daarop toelê om die gemeenskap met God te beoefen deur Sy
Woord en deur ons gebede.
Die vyfde kenmerk van die stad openbaar dus aan ons dat ons nou al
omring is deur God se skitterende teenwoordigheid. Eendag sal ons dit
volkome belewe.
6. In verse 14, 19 en 20 kom ons by
die sesde kenmerk van die stad nl. sy 12 fondamente. Die name
van die 12 apostels is hierop geskrywe. Die 12 fondamente het uit 12
verskillende edel gesteentes bestaan. Dit wys op die geweldige
kosbaarheid en heerlikheid van die fondamente.
Dit wat hiermee aan ons bekend gemaak word, is dat die Here Sy 12
apostels gebruik het as fondamentleggers van sy kerk hier op aarde.
In Matt. 28:18 beveel Hy sy apostels:
“Gaan heen en maak dissipels van al die nasies.”
Hulle moet Jesus Christus gaan verkondig, want Hy is die fondament op
wie reeds in hierdie wêreld gebou sal word. Toe Petrus volgens
Matt. 16 bely het:” U is die Christus
die seun van die lewende God”, het Jesus geantwoord: “Op hierdie
belydenis sal Ek my gemeente bou.”
Jesus is self die fondament van Sy kerk. Die twaalf edelstene verwys
eintlik na Hom. Dit is baie kosbaar want Hy het ‘n geweldige prys
betaal om ons los te koop met Sy bloed. Hy laat ons ook deel in die
heerlikheid van Sy oorwinning oor die duiwel en die dood. Dit is ‘n
heerlikheid wat ons uit genade ontvang het om kinders van God te wees -
lewende stene wat gebou word op die ware fondement, Jesus Christus.
Maar ons wat op hierdie fondament gebou word,is nou al geroep om
medewekers van Christus in hierdie bouwerk te wees .
Paulus sê bv. in 1 Kor. 3:19: “
Deur die genade van God het ek soos ‘n goeie boumeester die fondament
gelê.,maar ander bou daarop.”
Daarom raak die 12 fondamente van die nuwe Jerusalem elkeen van ons.
Hoe bou ons ons lewens en die lewens van ander op die ware fondament
Jesus Christus. Die Here gee hiervoor aan ons Sy Woord as waterpas. En
die Heilige Gees onderrig ons deur die Woord, maar dan moet ons in
liefde by die Waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.
(Ef. 4:15)
Die sesde kenmerk handel dus oor die kosbaarheid en heerlikheid van die
fondament Jesus Christus waarop ons gebou is om volkome volk van God te
wees.
Die sewende en laaste kenmerk is die twaalf poorte:
Die twaalf poorte het weer ‘n ander en besondere betekenis met
betrekking tot die nuwe Jerusalem, die bruid van die Lam. Ons lees
hiervan in die volgende verse nl. 12,13,21,24,25en 27.
Daaris twaalf poorte, drie in elke muur in al vier die windrigtings.
Die name van die twaalf stamme van Israel is daarop geskryf. By elke
poort staan ‘n engel. Elke poort is ook uit ‘n enkele pêrel
gemaak.
Niks onreins sal daardeur in die stad ingaan nie.
Wat beteken dit?
Hierdie 12 poorte beteken dat daar vir ons oorvloedige geleentheid is
om toegang te kry tot die volle heerlike gemeenskap met God. Die poorte
wat toegang verleen is elkeen uit ‘n enkele pêrel gemaak. Dit is
verbasend. Hierdie massiewe pêrelpoorte openbaar egter aan ons
hoe oneindig groot God se liefde en genade in Jesus Chrisrus is om aan
ons toegang tot Hom te gee.
As dit nie vir Jesus Christus was nie, sou daar vir ons geen
geleentheid gewees het om weer met God versoen te word nie.
Daarom staan daat ‘n engel by elke poort om te keer dat niks wat vuil
en onrein is in die stad kan kom nie. Ons moet eers rein wees,
skoongewas deur die bloed van die Christus om onbevlek voor die
aangesig van die Here te verskyn.
Verder, die twaalf poorte , drie in elke windrigting, oos, wes ,noord
en suid, openbaar aan ons dat die hele wêreld geleentheid van
toegang tot volle gemeenskap met God ontvang. Daarom lees ons in vers
24: “Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die
aarde bring hulle skatte daarheen.
Die name van die twaalf stamme van Israel op die poorte beteken nie dat
net Israel toegang ontvang nie: Hier word verwys na die nuwe Israel,
die volle getal uitverkorenes uit alle volke, tale en nasies
wêreldwyd. Net hulle wie se name in die Boek van die Lewe geskryf
staan sal deel hê aan die volle gemeenskap met God.
Maar die wat bang en ontrou geword het, die losbandiges en moordenaars
en onsedelikes, die bedrieërs en afgodedienaars en al die
leuenaars sal nooit tot hierdie volle gemeenskap met God toegelaat word
nie. Hulle bestemming is die ewige verderf van Godverlatenheid. (21:8)
Verder word ons verseker dat die poorte nooit gesluit sal word nie.
Dit geld nie net vir eendag in die nuwe Jerusalem nie. Dit geld veral
vir nou en elke dag. Daardie kosbare poorte van genade in Christus is
reeds vir ons wawyd oopgemaak na die sondeval. Dwarsdeur hierdie
wêreldgeskiedenis sal daar genoeg geleentheid wees vir die volle
gemeenskap met God.
Hy is nie ver van ons af nie. Inteendeel, Hy praat met ons deur Sy
Woord soveel keer as wat ons daarna wil luister. Deur die Heilige Gees
het Hy in ons kom woon. Die Heilige Gees vertroos en vermaan ons deur
die Woord om in die geloof te volhard. Hy maak ons gewillig en stel on
in staat om as verlostes te doen wat God wil. Hy bewaar ons tot op die
dag van Christus se wederkoms.
Die twaalf poorte staan vir ons wawyd oop, broeders en susters, maar
wat maak ons daarmee. Trouens, wat maak ons met elkeen van die sewe
kenmerke van die heilige stad, Jerusalem. Hierdie sewe kenmerke is nou
al op ons van toepassing om eendag volkome deel te hê aan die
heerlike en blywende gemeenskap met God.
Op die dag van Christus se wederkoms sal dit dan ook ons werke wees wat
bepaal of ons deur die oop poorte van die nuwe Jerusalem sal ingaan tot
ewigdurende, heilige en onbeskryflik heerlike gemeenskap met die Here
as sy bruid
Dan sal ons vol verbasing en vreugde en dankbaarheid nie kan ophou sing
nie:
“Heilig,
Heilig, Heilig is die Here God almagtig.
Aan Hom kom toe alle lof en eer en danksegging tot in ewigheid.”
AMEN
Ds. H.P. Prinsloo (emeritus)
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 3 Februarie 2002