Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 144:1.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 103:9.
Gebed.
Psalm 127:1, 2.
Skriflesing: Prediker 1:1-11 en Prediker 11:9 – 12:8.
Teks: Prediker 1:2
Alles tevergeefs sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!
Prediker 12:13
Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie, want dit geld vir alle mense.
Wat gaan jy op jou oudag van jou lewe onthou? Wat gaan julle jonges op julle oudag maak met die baie van die dinge wat julle nou doen?
Dit hang alles af van hoe ver jy kan sien!
- As jy net teen jou daaglikse lewe vaskyk, dan is die hele inhoud van die boek Prediker vir jou bedoel: Dan is alles tevergeefs!
- Dan is dit tevergeefs dat jy lewe, want met jou dood begin daar groter smarte as wat jy nou belewe het.
Kan jy so ver sien dat jy besef dat jou gewete jou op jou oudag gaan pla oor die onverantwoordelike dinge wat jy in jou jeug aangevang het?
- Jou gewete gaan jou pla omdat die dinge nie tot eer van God was nie!
- Jou gewete gaan jou pla omdat die oomblik wanneer jy voor God se troon gaan staan, vinnig nader kom en jy geen verskoning vir jou sondes sal kan aanbied nie!
Maar al die tevergeefsheid het nie betrekking op hom wat God werklik dien, en van harte vrees nie. Sulke mense begin die lewe eintlik eers na hulle dood. Hulle is dan deel van die lewe wat God in die hiernamaals beskik in sy heerlikheid.
Ons kan die betoog van die skrywer van Prediker ook nog van 'n ander kant af benader.
- Sy boodskap is dat dit tevergeefs is om op hierdie aarde te bou en te werk asof dit die enigste is wat moet bestaan tot in ewigheid.
- Dit is so dat daar baie mense is wat hulle hele lewe op die aarde aanbid – hulle aanbid nie God nie. Hulle aanbid die lewe.
- Daar is mense wat net werk omdat werk werk is. Daar is mense wat net geld bymekaarmaak, en dan nog meer geld wil hê. Hulle kan net nie genoeg kry nie.
- Dan is daar nog 'n groep. Die wat net altyd kla. Hulle werk dan nou so hard. Alles is tevergeefs, en daarom gee hulle hulleself nou aan die luiheid oor.
Aanvanklik lyk dit asof die boek Prediker met hulle saamstem. Die hele boek deur stem die Prediker saam met die mense dat alles tevergeefs is.
- Werk is tevergeefs.
- Geloof is tevergeefs.
- Hy noem die voorbeeld van die man wat sê dat dit tevergeefs is om te glo, want hy het gesien dat daar 'n regverdige en 'n onregverdige was, en altwee van hulle is deur die Here gestraf, en altwee is op die end dood.
- Die bedoeling is dat hierdie man nie geglo het nie, want hy het juis met hierdie redenasie probeer aantoon dat dit tevergeefs is om te glo.
- Waarom sal hy dan tyd mors met godsdiens as alles tevergeefs is?
Maar dan in die laaste paar verse ruk hy hierdie mense vreeslik hard tot die werklikheid terug! Julle lewe is tevergeefs omdat julle nie in God glo nie! Die hoofsaak van alles is dat julle alles moet hoor, en God moet vrees, want Hy is die Enigste Een wat die vergeefsheid uit die lewe wegneem. Ja, sê die Prediker, dit geld vir alle mense.
Die deurlopende gedagte in die Prediker is die tevergeefsheid.
Hoofstuk 1:2. Ons teksvers herhaal drie keer:
Alles tevergeefs, Alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs.
Hier sê hy nog nie waarom alles dan tevergeefs is nie.
In hoofstuk 2 het hy dit oor rykdom, en die plesier wat geld alles bring, dan staan daar in vers 1 en vers 11:
Maar kyk, ook dit was tevergeefs! Toe het ek gekyk na al die werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het - en kyk dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind! En daar was geen voordeel onder die son nie.
Hier begin die Prediker al die doel van sy skrywe te laat deurskemer. Dit gaan oor die woorde "onder die son." Hy praat in die twaalf hoofstukke dertig keer van "onder die son". En dan bedoel hy daarmee "op die aarde". Hy sê dus die volgende:
- As jy net kyk na wat jy alles op die aarde gedoen het, is al jou werke tevergeefs. Want, dan het jy niks vir die hemel gedoen nie.
- Jy het net rykdom onder die son bymekaargemaak, en wat van die dag as jy onder die son uit weggaan na die koninkryk van God toe?
- Hy waarsku dus al in hierdie woorde dat jou werke op die aarde op God gerig moet wees!
In hoofstuk 3:19 stel hy die siening van die ongelowige.
Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: Hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle het almal dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.
Natuurlik is alles tevergeefs as dit is wat jy glo!
- Jy kan nie anders verwag as jy nie jou koningskap oor die diere beoefen nie, en as jy jou godsdiens al so verwaarloos het dat jy vergeet het dat God die mens onsterflik geskape het!
- Dan sal jy mos dink dat jy en die diere geskape is vir dieselfde doel, en dan sal jy die beeldskap van God in jou nie raaksien nie!
Die boek loop geleidelik op na 'n hoogtepunt toe. Hoofstuk 3:22 verwys duidelik na die hiernamaals as daar geskryf staan:
want wie sal hom daartoe bring dat hy kan sien wat ná hom sal wees?
Ons moet dus kan sien wat ná ons sal wees. Iets moet ons beweeg om in die hiernamaals te sien, en te begryp dat die doel van ons lewe daar lê.
Die saak word steeds sterker gestel in hoofstuk 5:6.
Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!
Nietige dinge is tevergeefs. Praatjies beteken niks. Die enigste saak wat die nietigheid sal oorleef, is die vrees vir die Here. Die Prediker stel die saak dus geleidelik al skerper: Alles is nietig, as jy God nie vrees nie!
In hoofstuk 5:9 skryf hy weer van die tevergeefsheid. Maar let op dat hy dit weer so stel dat die tevergeefsheid geleë is in 'n verkeerde benadering!
- Hy wat geld liefhet kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs!
- Natuurlik is jou rykdom tevergeefs as jy God nie daarin kan raaksien nie, en God ook nie daarmee dien nie. Laat die gierigaard dan tog weet dat sy rykdom saam met hom vergaan.
Hoofstuk 6:2 het dieselfde inhoud, maar daar word die smart van hierdie ongelowige ryke baie sterk gestel.
- Hy maak op die aarde bymekaar, en as hy doodgaan, dan kan hy nie sy geld saamneem nie, en ander mense neem dit vir hulle. Dit is vergeefse moeite en 'n bitter lyding!
- Met hierdie woorde teken hy dan ook die smarte wat vir so 'n mens wag anderkant hierdie lewe.
Hoofstuk 7:6 kondig aan dat dit nie net geld en werk is wat tevergeefs is nie. Ongeloof is ook tevergeefs. - Die dwaas - die ongelowige wat nie die wysheid van God wil ken nie - sy gelag is soos doringtakke wat onder die pot brand.
- Hierin is 'n dubbelde beeld.
- Die beeld van tevergeefsheid en vernietiging;
- en die beeld van die vertering in die hel.
U merk dus op dat hoe verder die Prediker gaan, hoe ernstiger word hy in sy aanspraak dat jy jou oë na God toe moet ophef, anders is alles tevergeefs.
Hoofstuk 8:13 waarsku al reguit en sonder huiwering:
- alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees, en dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng soos 'n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie.
Die Prediker begin dus om saam met die goddelose te redeneer, maar dan gebruik hy die goddelose se lewenshouding om hom te oortuig dat sy lewe juis tevergeefs is omdat hy God nie ken nie. Daarom eindig hy dan hoofstuk 12 (die einde van sy boek) met die woorde dat die hoofsaak van sy boek is dat God gevrees moet word, en dat dit vir alle mense geld.
Die einde van sy boek is daarom besonder treffend: Die ou mens se hele lewe is gedaan: Die bene wil nie meer nie (die sterk manne het krom geword) en die hande kan ook nie meer hulle funksies verrig nie (die wagters van die huis bewe). Die oë raak dof (die wat deur die vensters kyk) en die slaap gee pad en doofheid tree in (hy staan op as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof sal word). Medisyne help ook nie meer nie (die kapperkruid word nutteloos) en uiteindelik sterf die mens.
Maar - en dis die belangrike - hier is nie sprake van tevergeefsheid nie! Die mens gaan na sy ewige huis!
- Hierdie mens het naby God geleef en naby God gesterf - die kruik het by die fontein gebreek!
- Die kruik is die mens wat uiteindelik sterf en sy liggaam wat inmekaarstort.
- Die fontein simboliseer die ewige Lewende Water wat God gee.
- Die mens wat naby God leef, sterf na die doel van sy lewe toe - na God toe.
Die Christusprediking van die gedeelte is nou die volgende. Die mens se hele lewe is tevergeefs en op die nietigheid toegespits as dit van onsself afhang.
- Ons is in die sonde, en vermeerder daagliks ons sondes. Ons het van ons kant af geen toekoms nie.
- Daarom dra hierdie boek ‘n dubbelde boodskap:
- Jongeling! Wat word van jou as jy nou sterf?
- Wat gaan van jou lewe onthou word? (11:9, 10).
- Verdwaal jy so in die woestyn van jou sondes dat jou kruik ver van die Fontein af gaan breek?
- Oumens, is jou herinneringe op God gerig?
- Is jou verwagting om by die fontein te sterf?
- Het jy al by die Fontein aangekom?
Genadiglik het God die hele saak van ons sondes in Christus verander.
- In Christus word daar boete gedoen vir ons lewensleegheid.
- God straf hom omdat ons nie die doel van ons skepping nakom nie.
- En dan gee God daarmee saam 'n nuwe inhoud aan ons lewe.
Die inhoud is dat ons nie meer self hoef te werk nie. Ons moet net in Christus glo.
- Ons moet glo dat Hy 'n nuwe inhoud aan ons lewe gee, want Hy maak dit weer vir ons moontlik om God te kan vrees.
- En om die saak te kroon, woon God deur sy Gees in ons, om hierdie geloof aan ons te verkondig. En om ons te beweeg om dit te glo.
- Die effek daarvan is dat ons hele lewe volgemaak sal wees met dinge wat nie tevergeefs is nie.
- Dit sal volgemaak wees met baie dinge wat ons doen om God te dien en te verheerlik.
- Dit sal dinge soos selfsugtigheid en wellus en sinlike genietinge uitsny.
Daarom is die boodskap aan julle jongmense dat julle met krag en met blydskap, maar met versigtigheid moet lewe!
Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring. (Prediker 11:9 AFR1953)
Weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring! Moenie nou dinge aanvang wat maak dat jy tevergeefs sterf as jou draad deurgeknip word nie!
Laat ons dan hoor as die Prediker ons leer dat alles tevergeefs is as ons God nie dien nie. Laat ons doen soos die Heilige Gees ons beveel: Laat ons lewe loskom van die aardse, en laat ons lewe vir die ewigheid by God.
Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie, want dit geld vir alle mense.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 2:1, 2.
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 30 Junie 2002.