Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 150:1.
Gebed.
Psalm 40:4
Skriflesing: Prediker 7.
Teks: Kategismus Sondag
03. Prediker 7:29
Kyk, dit het ek uitgevind: dat God die
mens reg
gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.
Ons het almal die Bybel tot ons volle beskikking. Alles wat nodig
is vir ons saligheid, asook alles wat ons nodig het om die Here
behoorlik te kan eer, is in ondubbelsinnige taal in die Bybel
neergeskryf. Daarom is daar nie 'n enkele een van ons wat daarop kan
aanspraak maak dat hy nie in staat is om uit te vind hoe en waarom die
almagtige Here die hele skepping tot stand gebring het nie. Dit word
baie duidelik en in volle waarheid geopenbaar hoe die Here alles tot
stand gebring het - ook die mens.
Wanneer ons egter met die opregte begeerte om verlos te word, ons eie
wese en die werke van God uit die Bybel ondersoek, vind ons met
beskaming die gebrokenheid van ons eie werke. Maar terselfdertyd
vind ons ook uit van die verlossing en hoop wat ons het in die Here
Jesus Christus.
Ons kyk vanaand na vier verskillende sake in hierdie preek:
1. Die werk van God in die skepping
van die mens.
2. Die duiwel se werk en die
versoeking.
3. Die mens se werk in die sondeval.
4. Genade: die wedergeboorte deur die
werk van die Heilige Gees.
1. Die werk van God in die skepping
van die mens.
Toe Adam geskape is het hy alles in sy vermoë gehad wat hy nodig
gehad het om God te verheerlik.
Die gedeelte openbaar dat daar geen ander skepsel in die hele skepping
is wat so verhewe geskape is soos ons nie.
- Daarom was daar geen rede waarom die slang
Adam en Eva kon verlei nie - soveel te meer omdat hy onder hulle gestel
was.
- Daar was nie eers gelykheid tussen hulle,
sodat hy met hulle sou kon redeneer oor reg en verkeerd nie.
Die hoogtepunt van God se skeppingswerk was toe Hy die mens gemaak het.
- Die Here het die mens gemaak met die
grootste skoonheid, want hy is die beelddraer van God.
- As die Here die mens boos of gebrekkig
geskape het, dan beteken dit dat die Here se beeld ook kwaad bevat en
iewers gebroke is.
- Ons weet dat God volmaak is. Hy het nie die
boosheid geskape soos wat Hy die res van die skepping geskape het
nie.
Die Here verklaar die skepping ook so:
Alles
het die Here gemaak vir sy doel... (Spreuke
16:4).
- Die paradysmense het heiligheid en
geluksaligheid gehad t.o.v. hulle liggaam en hulle siel.
- Hulle het soveel wysheid gehad dat die Here
die hele aarde aan hulle toevertrou het.
- Met sy verstandelike vermoëns kon hy
beslis oor reg en verkeerd.
- Verder het die mens geregtigheid
gehad.
- Adam en Eva het dus heeltemal genoeg verstand gehad
om sake te kon beredeneer.
- Die mens se saak is soveel sterker as ons
daarby in berekening bring dat hy volkome in onskuld was.
- Daar was geen sonde of invloede wat hom vooraf al
beïnvloed het nie.
Tel dit alles bymekaar:
- Die eerste twee mense het die krag en die
lus, die wil en volmaaktheid gehad om God te kan dien soos wat dit
behoort.
- Uit al hierdie dinge is dit baie duidelik
dat God ons goed geskape het: baie goed en sonder enige gebrek.
Uit al die dinge wat die Bybel oor die doel van ons skepping openbaar,
is dit duidelik:
- Die hoogste doel van die mens is om God te
verheerlik.
- Ons moes met God gemeenskap hê soos
wat die engele in die hemel dit doen.Ons lees in Psalm 148:2 en Jesaja
6:3 dat hulle die Here dag en nag verheerlik.
- Die hoogste doel van die mens is nie om die
aarde te bewerk nie, want as die Here wou, kon Hy die diere ook gebruik
het om dit te doen.
Die doel van ons skepping het ook nie met die sondeval tot niet gegaan
nie. Dit is nog steeds dieselfde - dit is nou net baie
swaarder om dit te doen, omdat die Satan ons teëwerk om dit te
doen.
2. Die duiwel se werk en die
versoeking.
Die duiwel is ons grootste vyand. Hy is ook openlik God se vyand.
- Hy is magteloos teen God, maar hy gee nie
bes en gedra hom nie.
- Toe hy by Adam en Eva aangekom het, was die
opstand in die hemel, waar die Satan en sy volgelinge hulle teen God
verset het, al iets van die verlede.
- Die Here Jesus Christus openbaar dat die
Satan 'n mensemoordenaar is. Vir ons saligheid is dit belangrik dat ons
dit moet onthou. Die Here Jesus het ons eenkeer verwyt omdat ons nie na
Hom wil luister nie, en toe het Hy die volgende gesê:
- Julle het die duiwel as Vader, en die begeertes van
julle Vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af
en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is
nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n
leuenaar is, en die vader daarvan. (Johannes 8:44)
Omdat die Satan nie die mas teen God kon opkom nie, beskadig hy uit
wraak alles wat aan God behoort.
- Dit is waarom hy met lis gegaan het en die
Here vals voorgestel het aan die twee mense in die Paradys.
- Hy het genoeg van God se raad geweet om 'n
wanvoorstelling by die mens te skep en die mens ook te beweeg om
hoogmoedig te raak en oneerlik te word en teen God in opstand te kom.
Dit verklaar waarom die straf van die Here so onverbiddelik oor die
duiwel en die wat hom volg, is.
3. Die mens se werk in die sondeval.
Die mens, wat letterlik alles tot sy beskikking het om weerstand te kan
bied teen die duiwel, kom toe in verset teen die Here en verkneg hom
aan die Satan.
- Adam en Eva het bewus en moedswillig
oortree.
- Hosea 6:7 sê dat ons troueloos
opgetree het. Troueloosheid is absoluut onverskoonbaar.
Kom ons stel dit maklik en prakties:
- Ons was skandelik ondankbaar teenoor God.
Meteens het ons ontevrede geword om die Here te dien soos wat ons was.
- Ons het sy verbond verbreek. Ons wou meteens
van die doel van ons skepping ontslae wees, en self soos God wees.
- Ons het sy gebod verag.
- Ons het God werklik gewantrou. Hierdie
versoeking is nie deur God bewerk nie, want ons lees in Jakobus 1:3 dat
God niemand versoek nie en dat Hy ook nie versoek kan word nie.
Saam met Adam en Eva het alle mense daardie dag in sonde geval, want
dit was die ooreenkoms wat God met hulle gehad het.
- Van daardie oomblik af het ons die sondes
van ons voorouers geërf en ons eie daarby gevoeg.
- Dink maar aan Dawid se woorde waar hy
sê dat hy in sonde ontvang en on ongeregtigheid gebore is (Psalm
51:7).
Die effek van hierdie gebeurtenis is baie erg, want van daardie oomblik
af het ons liggaam en ons siel 'n knak gekry. Inderwaarheid het ons ons
eer verloor, want dit is waarom die Here ons wegjaag uit die plek van
sy liefde.
4. Genade: die wedergeboorte deur die
werk van die Heilige Gees.
In die verlorenheid van die hele sondevalgebeurtenis gaan die Here se
genade by die Satan verby.
- Vir die duiwel is daar nooit verlossing
moontlik nie. Die duiwel en sy makkers kan nooit weer as God se engele
in die hemel kom nie.
- Maar vir die mens het God genade: Hy troos
die mens.
- Jesus Christus sal gebore word. Die Seun uit die
vrou se saad.
- Hierdie Seun gaan die Satan nie net oorwin nie -
dit is 'n straf wat te lig is vir die Satan:
- Hy gaan die slang se kop vermorsel.
- Die duiwel moet totaal vernietig word.
So bewerk Jesus die pad terug hemel toe vir elke mens wat in Hom glo.
Dit is waar bekering ter sprake kom. Hoe ken ek Jesus Christus as
Verlosser en hoe luister ek na God die Heilige Gees?
- Deur Jesus aanbiddend te gehoorsaam.
- Deur te weet wat Hy vra, en dit dan on my
lewe nougeset te gaan doen.
- Ons gedagtes en ons besluite moet so wees
dat die duiwel geen plek daarin het nie. Ons optrede moet so afgerond
wees dat dit vry is van sonde en van die invloed van die Satan.
Die Heilige Gees beweeg ons om Jesus Christus as ons Verlosser te ken.
- Daarom roep die Here Jesus ons almal vanaand
en tydens elke erediens saam rondom sy Woord.
- Daar verseker Hy ons dat Hy ons volkome
verlos uit hierdie toestand van dood en chaos waarin ons onsself laat
beland
het.
Adam moes dit ook gedoen het, maar hy het hom oopgestel vir vreemde
oortuigings.
- Dit moet ons laat besef dat daar net sekere
dinge is waarvan 'n mens nie oortuig mag word nie.
- Dit is al die dinge wat God se eer raak.
Maar die troos is dat ons in al hierdie dinge die leiding het van die
Heilige Gees.
- Die troos is dat, waar ons foute maak en
sonde doen, die Here ons dit heeltemal vergewe wanneer ons berou het
daaroor.
Dit is waaroor die Woordverkondiging en die Evangelie van verlossing in
ons Here Jesus Christus gaan. Dit is 'n geleentheid wat ons het om met
ware berou na die Here toe te kom, en te hoor dat Hy van sy kant af nie
die liefdesband met ons deursny nie.
Kyk,
dit het ek uitgevind: dat God die mens reg
gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.
(Prediker
7:29)
Toe was die moeilikheid vir ons in blom, maar Jesus kom ons tot hulp.
Hy verlos ons in sy bloed en beloof aan ons 'n heerlike toekoms in sy
koninkryk.
Amen.
Slotgebed.
Leer ons U regte weë, Here. Wys ons die regte pad. Bekeer ons
hart, sodat ons met blydskap die pad van saligheid mag bewandel. Lei
ons gedagtes op hulle swerftogte. Weer die kwaad daaruit. Laat ons
altyd ons heil van U alleen verwag.
Om Christus ontwil.
Amen.
Slotpsalm 25:6.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 27 Julie 2003.