Sing
vooraf: Psalm 33:7, 8.
Ons
hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
8:1, 2, 4.
Gebed.
- Doksologie:
- Aanbidding:
- Skuldbelydenis:
- Dank:
- Smeking vir die nood van die gemeente en voorbidding vir die kerk,
owerhede en sondige wêreld, asook die beroep op die beloftes
van God
- Algemene bede:
- Verligting van die Gees ter wille van die Woorddiens:
Amen.
Skrifberyming
1-1:6.
Skriflesing:
Prediker 7
Teks: Kategismus Sondag
3. Prediker 7:29
Kyk, net dit het ek
uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim
planne gesoek. (Prediker 7:29 AFR53)
Die
Bybel openbaar die Wese en die werke van ons almagtige God.
Natuurlik openbaar die Bybel nie alles nie - dit
openbaar net dit wat die Here dink wat ons nodig het vir ons saligheid
Die
Here openbaar ook dinge oor ons:
- Dinge wat ons dalk verkeerd kan voorstel
- of verkeerd onthou
- of
dalk glad nie meer onthou nie omdat dit baie lank terug gebeur het.
Ons
weet mos dat baie feite verlore raak oor jare omdat die een geslag dit
nie meer vir die volgende geslag leer nie! Ons bly veral stil
oor die dinge wat ons diepste dinge oopvlek en ons skaam voor God laat
staan.
Die
begin van ons geskiedenis is baie belangrik
- om die Here te ken
- en om
onsself te ken en verstaan,
- maar ook om die duiwel te ken en te weet hoe gevaarlik hy is.
Die
Here begin sy openbaring aan ons in die Bybel om op die werk van vier
verskillende weses te wys. Twee daarvan is sy eie werk as God
en die ander is die werk van die duiwel en die optrede van die
mens. Ons kyk in die preek na die volgende:
1.
God se werk in die skepping
2.
Die duiwel se werk in die versoeking
3.
Die mens se werk in die sondeval
4.
Die Heilige Gees se werk in die wedergeboorte
1.
God se werk in die skepping
Die
Here se werk is duursaam.
- Die hemel en die aarde wat Hy gemaak het, is nou nog daar.
- Met die wederkoms van die Here Jesus Christus gaan Hy self dit met vuur
verbrand, maar dan gaan Hy hulle albei weer nuut maak.
Die
laaste skeppingsdag maak die Here die twee mense. Dis
‘n wonderlike gebeurtenis.
- Hy maak die twee mense beter as die res van die skepping.
- Hy maak hulle heerliker as enige iets wat Hy tot nou toe geskep het,
want Hy maak die twee mense volgens sy beeld: eers die man en
daarna die vrou uit die man se liggaam.
Daarom
kan die mensdom die ellendes wat nou onder ons voorkom en ons beheers,
nie aan die Here toeskryf nie. Hy is nie daarvoor
verantwoordelik nie.
- God is nie ‘n skepper van boosheid nie
- daarom maak Hy ons na sy beeld: ‘n beeld van
heerlikheid.
- Hy maak die
twee mense op so ‘n wyse dat hulle goed toegerus is om God te
kan dien en aanbid. Hulle was geestelik so sterk dat hulle
die Here se opdragte volmaak kon uitvoer.
- Die Here maak hulle so dat hulle in elke opsig bo die res van die
skepping uitstyg en letterlik verhewe is bo die res van die skepping.
Daarmee
het iets baie baie belangriks gebeur!
- Meteens was daar vir die eerste keer ‘n wese in die
skepping op die aarde (God is nie deel van die skepping nie
- Hy was van ewigheid af daar!) wat wysheid en gawes gehad
het.
- Daar was twee mense
wat heilig was, want hulle was volmaak en aan God gewy.
- Die twee was ook onsterflik! Hulle kon in ewige
geluksaligheid met God saamlewe.
Hierdie
twee mense kon net soos die engele die Here verheerlik en lof toesing:
En
die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig,
heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy
heerlikheid vol! (Jesaja 6:3 AFR53)
Loof
Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare! (Psalms 148:2
AFR53)
In die
Nuwe Testament leer ons dat die Here Jesus ons weer maak soos wat ons
in die begin was. Dink maar net aan die volgende uitsprake
van die apostel Paulus:
en julle jul met die
nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy
Skepper, (Kolossense 3:10 AFR53)
as
julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die
waarheid is in Jesus: (Efesiërs 4:21 AFR53)
en
julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware
geregtigheid en heiligheid. (Efesiërs 4:24 AFR53)
Die
Here het dus nie slegte en sondige mense gemaak nie. Hulle
was goed, mooi en ordentlik:
(92:15) In die
gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen
wees, (92:16) om te verkondig dat die HERE reg is, my rots,
en in Hom is geen onreg nie. (Psalms 92:14-15 AFR53)
2.
Die duiwel se werk in die versoeking
Hy
is die groot versoeker. Hy het ‘n baie
eienaardige geaardheid, want hy is magteloos teen God en tog bly hy
teen God in verset en opstand kom.
- Omdat hy niks aan God self kan doen nie, neem hy wraak op alles wat
God gemaak het en op die mense wat die beelddraers van die Here is.
- Hy haat enige iets wat die Here verheerlik.
Dit
is waarom die Satan die mens versoek het, sodat hulle deur sonde te
doen, aan hom verslaaf kan word. Inderdaad is die sondeval
‘n baie groot vernedering omdat ons verander is tot slawe van
die duiwel.
Die
werkswyse van die duiwel is dat hy lieg en moor. Die Here
Jesus vat dit saam in ‘n uitspraak wat Hy maak in Johannes
8:44 waar Hy die duiwel ‘n leuenaar en ‘n
mensemoordenaar noem:
Julle het die duiwel as
vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was
‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die
waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy
leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is
en die vader daarvan. (Johannes 8:44 AFR53)
Ons
leer hom in elk geval in Genesis 3:3-5 ook so ken. Hy lieg
onbeskaamd vir Eva terwyl hy baie goed geweet het dat die Here sy woord
gaan hou en die twee mense met die dood straf as hulle ongehoorsaam is.
Toe
sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe
nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle
oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en
kwaad te ken. (Genesis 3:3-5 AFR53)
Die
duiwel is dus absoluut gewetenloos.
In
sy lis gebruik hy instrumente wat nie deur die twee mense gewantrou is
nie en waarmee hulle goed vertroud was: ‘n dier
- die slang.
- Meteens is die slang duiwels en hy word ‘n werktuig in die
duiwel se mag.
- Dis ook nie
vreemd nie, want ons lees dat die duiwels ook in die trop varke by
Gadara gevaar het en hulle oor die kranse in die see in laat hardloop
het om Jesus skade aan te doen.
- Die duiwel is dus in staat om diere te gebruik om met hulle kwaad
teen God en teen mense te doen.
In
die gesprek wat daar in die Paradys gevoer is tussen Eva en die slang
is dit duidelik dat die duiwel bepaalde feite van God se openbaring
ken, maar dat hy dit verdraai om dit teen God en teen die mense te
gebruik. Die duiwel en mense wat duiwels is, doen dit vandag
nog presies net so.
Die
gevaar bestaan vandag nog dat die duiwel ons insigte kan verbuig, sodat
ons die waarheid skeef trek en verkeerde dinge dink en doen.
Onthou maar net wat die Heilige Gees neerskryf in 2 Korintiërs
11:
Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva
deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan
raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. (2
Korintiërs 11:3 AFR53)
3.
Die mens se werk in die sondeval
Dis
altyd so maklik om te sê: “Ons voorouers het in
sonde geval.” So al asof dit ‘n ding is
wat hulle van buite af oorval het.
- Die volle waarheid is dat hulle op aansporing van die duiwel die
gesag van God die Here verag het.
- Hulle het letterlik die duiwel se aansprake geglo en hulle eie gemaak.
- Dit was dus ‘n baie moedswillige en verwaande stukkie
ongehoorsaamheid en verset teen God.
Jare
later verwyt die profeet Hosea vir volk omdat hulle godsdiens so swak
was. Toe laat die Here hom die volgende uitspraak maak:
Maar
hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen
My gehandel. (Hosea 6:7 AFR53)
Die
Here het die twee mense in ‘n posisie gestel waarin hulle
deur die werkverbond die hoogste saligheid sou bereik.
- Maar hulle verwerping daarvan deur ‘n kortpad daarnatoe te
wou vat soos wat die duiwel aanbeveel het, was niks anders nie as
onbeskofte ondankbaarheid.
- Dink net hoe moeilik vergewe ons iemand wat skandelik teenoor ons
optree - daarom kon God se volmaakte heiligheid nie
toelaat dat hierdie onbesonne optrede deur twee volmaakte mense
ongestraf verbygaan nie.
Die
Here verklaar van sy kant af dat mense sukkel om die dinge wat hulle
sien, nie te wil hê nie. Hy openbaar ook dat dit
die ding was wat die aanleidende rol gespeel het in die sondeval:
Toe
sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy
‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat
‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy
vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het
geëet. (Genesis 3:6 AFR53)
Want
alles wat in die wêreld is - die
begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en
die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader
nie, maar is uit die wêreld. (1 Johannes 2:16 AFR53)
Die
fout vir die sondeval lê dus by die mens self. Hy
kan niemand anders as net homself verwyt vir al die ellendes wat na
daardie dag op hom en sy nasate geval het nie!
Laat
niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God
versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self
versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur
sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as
die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot
volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. (Jakobus
1:13-15 AFR53)
4.
Die Heilige Gees se werk in die wedergeboorte
Die
duiwel het egter ‘n baie groot fout gemaak wat bitterlik teen
homself tel.
- Hy het die liefde van God uit die oog verloor.
- Hy het gedink dat die reg van die Here die hele mensgeslag
vernietigend sal straf soos wat die Here hom met die ewige dood en
verwerping uit die hemel gestraf het.
Dis
vanselfsprekend dat die duiwel die fout sou maak, want hy het nie
liefde in hom nie en die liefde van die Here het hy nie geken nie.
Maar,
al is ons nou in alle opsigte uit onsself onbekwaam en net in staat tot
groot verkeerde dinge (Matteus 12:36; Efesiërs 5:4;
Galasiërs 5:19-21; Hosea 6:7; Jakobus 4:17, ens) het God self
ingegryp. Hy maak dit moontlik dat ons deur ‘n
proses wat Hyself voorsien, wedergebore kan word en verlos word.
Eerste
laat Hy sy Seun sterf tot versoening van al ons sondes. Deel
van die versoening is dat die Here Jesus die Heilige Gees van God
gestuur het om in en met ons te werk terwyl Hy gereedmaak vir die
wederkoms.
Maar Ek sê julle die
waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie
weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan,
sal Ek Hom na julle stuur; (Johannes 16:7 AFR53)
En
Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee
om by julle te bly tot in ewigheid: (Johannes 14:16 AFR53)
…
maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal
stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek
vir julle gesê het. (Johannes 14:26 AFR53)
Maar
as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die
Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.
(Johannes 15:26 AFR53)
Die
Heilige Gees is God wat self geestelik in ons werk. Hy werk
met ons verstand en met ons emosies.
- Die Heilige Gees werk die genade in ons dat ons die almagtige God se
werk kan sien en verstaan en dat ons in Hom glo.
- Hy werk dit in ons dat ons die duiwel se werke ook kan sien en dit
vermy.
- Hy bewerk in ons
‘n wedergeboorte.
- Dit is ‘n proses wat gebeur wanneer ons opstaan uit al die
wêreldlike maniere van dink en doen (dis die manier van dink
en doen van die duiwel).
- Die inwerking van God die Heilige Gees laat ons besef en verstaan hoe
die Here dink en wat vir Hom belangrik is.
- Die Heilige Gees gee ons die moed en die oortuiging om presies dit te
gaan doen.
Dis
belangrik dat ons die dinge weet en glo, anders lewe ons in
‘n wêreld van selfbedrog en gaan ons verlore.
Enige
mens wat hom steur aan die inwerking van God die Heilige Gees leer die
Here ken. Hy dien die Here meer en beter soos sy lewe
aangaan. Hy hoop op die ewige lewe met God.
Kom
ons kyk saam wat ons belydenis hieroor te sê het in die
Heidelbergse Kategismus Sondag 3:
Vraag
6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?
Antwoord:
Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b).
Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God
sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom
in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
a)Gen
1:31. (b) Gen I:26, 27. (c) Ef 4:24; Kol
3 2 Kor 3:18.
Vraag
7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?
Antwoord:
Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in
die paradys (a). Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat
ons almal in sonde ontvang en gebore word (b).
(a)Gen
3; Rom 5:12, 18, 19. (b) Ps 51:7; Gen 5:3
Vraag
8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets
goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord:
Ja (a), behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (b).
(a)Gen
8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35; Joh
3:6; Jes 53:6. (b) Joh 3:3, 5;1 Kor 12:3;
2 Kor 3:5.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
147:4.
Die
genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 22 Januarie
2006 (aand).