Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 33:1, 6.
Geloofsbelydenis
Wet
Psalm 16:2.
Gebed.
Psalm 62:4
Skriflesing: Prediker 9.
Teks: Prediker 9: 11
Weer het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie want tyd en lotgeval tref hulle almal.
Geen mens kan oor sy eie lot beskik nie. Sy lewe word bestuur en beheer deur 'n Mag van buite - die beskikking van ons almagtige God.
Die Prediker leer met hierdie gedeelte iets baie belangriks:
- Die mens en al sy kragte is maar uiters beperk.
- Die mens beplan en hy werk, maar oor sy beplanning heen beskik God oor hom en alles wat van hom gaan word.
Ons mense kan hierdie dinge nie altyd verstaan nie. Ons kan dit ook nie altyd verwerk nie. Maar dit gebeur met ons.
Hoeveel van ons het vir ons 'n toekoms uitgewerk oor hoe ons vooruit sal gaan en eendag goed versorgd gaan aftree. Dan gebeur daar iets waaroor ons nie kan beskik nie!
- Vanweë verskillende redes word van ons by ons werk afbetaal.
- Of moet vervroeg op pensioen gaan, en ly groot finansiële skades.
- Daarmee stort mens se hele wêreld om jou inmekaar, want sonder geld kan jy nie leef en en 'n dak oor jou kop hê nie.
- Hoe dikwels gebeur dit nie dat jou man of jou vrou op 'n baie kritieke stadium uit jou lewe weggeneem word nie?!
- En dan sit jy met baie hartseer en dikwels ook geweldige probleme wat net nie daar was nie, en wat jy ook nie voorsien het nie.
- Hoeveel mense se geldsake loop goed en meteens eendag loop een ding skeef, en die hele gesin stap kaal anderkant uit.
In al hierdie gevalle beteken dit nie dat ons nie beplan het nie. Die Here het net in sy beplanning dinge anders laat verloop as wat ons beplan het.
Wat dan? Die oplossing vir die saak is vasgevang in die soendood van die Here Jesus. Dit weet ons, maar die mense van die Ou Testamentiese tyd kon dit nog nie so presies sien nie.
- Die Prediker kon nie uit die Ou Testamentiese bedeling al die volle raad van God sien nie.
- Asaf kon ook nie. In Psalm 73 verwyt Asaf die Here dat hy tevergeefs probeer om goed te doen, die Here straf hom net soveel as die goddeloses.
- Hierin het ons dieselfde gedagte as die van die Prediker, naamlik dat alles hier tevergeefs is. Daar is geen verskil tussen die lewe wat gelowiges en ongelowiges lei nie.
- Uiteindelik sê die Here vir Asaf en vir Prediker dat hy nie moet kyk hoe mense hier lewe nie.
- Hy moet kyk na hulle uiteinde.
- Dit gaan nie oor wat in hierdie lewe gebeur nie. Dit gaan oor wat van die mense word in die hiernamaals.
Dis hier waar die oplossing vir die saak lê.
- Dit is inderdaad so dat die Here ingryp in ons lewens.
- En dit is ook so dat ons menslike beplanning nie noodwendig met die van God ooreenkom nie.
- Dis omdat die vertrekpunt van ons beplanning in onsself en in ons sondes rus.
- God se beskikking is nie daarop gerig om mense te vernietig nie.
- Dis daarop gerig om mense te red.
Die Here het die mens goed en na sy beeld geskape.
- Maar hulle het in hulle hoogmoed ander planne gehad as wat die Here aan hulle opgedra het.
- Toe is hulle deur God gestraf. En van daardie dag af beleef die mens dat sy beplanning nie weer reg werk nie.
- Van toe af is daar altyd dinge wat buite sy beheer gebeur en wat hom dikwels benadeel.
Die Here het egter uit hierdie mense wat hulleself so in die boosheid ingestort het, sekere mense uitgekies wat Hy nie verlore wil laat gaan nie.
- Sy raad beskik dat daar vir elkeen van hulle in Jesus Christus verlossing bewerk gaan word.
- Die verlossing bestaan dan daarin dat die Here hulle verkeerde werk en pogings in Jesus Christus vergewe omdat Hy Hom daarvoor straf.
- Dit beteken ook dat die Here soveel genade aan die mens sal bewys dat Hy kragtens die soendood van die Here Jesus met sy goddelike raad jou menslike beplanning sal oorheers - sodat alles in jou bestaan vir jou ten goede gaan uitwerk.
God se raad beskik dus dat hierdie verlossingsraad van die Here oor die uitverkorenes sal deurgaan wat ookal hulle in hulle menslike lewens beplan.
- Daarom sal dit gebeur dat 'n mens bepaalde planne maak, maar dat die Here met sy lotsbeskikking, soos die Prediker dit stel, dit sal oorheers omdat dit mag indruis teen die Here se verlossingsraad.
Verder is dit ook so dat die Here aan hierdie verlostes 'n bepaalde roeping uitmeet.
- Elke keer wanneer jou eie beplanning teen jou beplande roeping deur God indruis, is dit vanselfsprekend dat jou eie beplanning tog nie kan deurgaan nie.
Die Here lê in hierdie gedeelte in Prediker 'n aksent op 'n bepaalde deel van die mens se geskiedenis.
- Die Here beskryf hier dat mense allerhande dinge beplan, maar dat hulle planne baie keer nie uitwerk nie, omdat daar onverwagte teëspoed oor hulle kom, wat dan al hulle planne verongeluk.
- Hierdie teëspoed wat hulle oorval, is totaal buite hulle beheer, en word beskik deur 'n Mag wat baie groter is as hulle self.
Nou pas die skrywer die saak in by die temá van die boek prediker in sy geheel:
- Alles is tevergeefs.
- Al die mens se geswoeg op die aarde is tevergeefs.
- Met al sy eie menslike beplanning is daar weinig voordeel wat hy kan behaal, want 'n mens se vermoë (kapasiteit) is te gering om alle invloede en kragte te beheer.
God bepaal die doel van die mens se lewe - en die krag van God is nie beheerbaar of beperkbaar deur dinge soos menslike beplanning of 'n mens se strewe nie.
- Daarom bevind die mens hom elke keer in die situasie dat hy sy beste krag en inteligensie aanwend as hy iets wil doen.
- En dan gebeur dit dat die mens ondanks al hierdie deeglikheid en alles wat hy insit in die saak homself skielik kry waar hy vasgevang sit in teëspoed.
- Hy beleef dit dikwels in sy lewe dat al sy verwagtings deur onverwagse gebeure tot op die grond platgeslaan is.
Die Prediker vertel dat hy sekere dinge onder die son gesien het. Daarmee skets hy iets wat as 'n reël in die lewe geld:
- Die normale lewensorde is dat die deurslaggewende faktor vir sukses in die lewe nie in die mens self is nie.
- Hy het gesien dat wanneer daar 'n wedloop is almal verwag dat die persoon met die grootste snelheid die resies gaan wen, maar tydens die wedloop is dit nie altyd die vinnigste persoon wat die wedloop wen nie.
- Daar duik dikwels omstandighede op wat die saak vir die deelnemer varander. Dan gebeur dit dat in die wedloop iets gebeur wat veroorsaak dat die vinnigste atleet nie die prys behaal nie.
- Dit is ook nie elke keer die dapperste soldate wat die oorwinning behaal nie.
- Of daar gebeur iets dat die dapperste soldaat in die geveg doodgeslaan word en glad nie deel in die oorwinning nie.
- Dieselfde geld ook van die wyses en slimmes en verstandiges.
Vers 12 rond hierdie saak af.
- Hy vertel van die visse wat swem - en meteens word hulle in 'n net gevang en doodgemaak.
- Hulle kan goed swem en hulle is tuis in die water, maar tog vang die mense hulle en kan hulle die dood nie ontsnap nie.
- Dieselfde geld van voëls wat in 'n strik beland.
- Hulle beplan nie om gevang te word en om dood te gaan nie, maar dit gebeur met hulle.
Dan kom hy by sy slotsom: Daar is 'n lotsbeskikking.
Die Prediker maak die saak baie duidelik:
- Hierdie lotsbeskikking is nie iets soos blinde toeval nie.
Daar was al mense wat hierdie plek in die Bybel wou gebruik om te bewys dat daar negatiewe magte is wat dinge ten kwade oor mense laat gebeur.
- Die Prediker stel dit baie duidelik dat daar glad nie iets soos blinde toeval of blote toevalligheid is nie.
- Hierdie lotsbeskikking is oorskry die vermoëns van mense.
- Die lotsbeskikking kom op 'n bepaalde oomblik oor iemand en dan is dit duidelik dat dit deur 'n hoër en groter Mag beheer word.
- Hierdie lotsbeskikking is die wil van God.
- Op 'n bepaalde tyd beskik God dat iets sal gebeur. God beskik ook wie by hierdie gebeurtenis betrek sal wees.
Wanneer dit gebeur dat jy op die een of ander tyd in 'n beproewing beland, weet dan dat die Here dit beskik het.
- Weet dan ook dat jy nie teen die Here in kan beplan nie.
- Beplan dan jou sake só dat dit gevestig is op die eer van die Here.
- Beplan dat jy lewe en ook oorleef in die versoening van die Here Jesus Christus.
- Rig jou hele lewe op die eer van God.
Ons sal nie vir ewig op hierdie aarde bly nie. Almal van ons gaan nie net beproef word nie - ons gaan ook sterf.
- Daarom staan daar: tyd en lotgeval tref hulle almal.
- Vir elkeen van ons gaan die tyd aanbreek dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus voor die troon van God te staan - as verlostes!
Dan staan ons in 'n lewe waar alles nie weer altyd verkeerd loop soos hier nie omdat daar net die volmaakte beplanning van God geld. Daardie dag sal ons verstaan waarom dinge met ons gebeur het en sal ons die insig hê in elke gebeurtenis wat ons deur die beskikking van God oorgekom het.
Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. (1 Korintiërs 13:12 AFR1953)
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 94:9,12
Die HERE sal jou seën en jou behoed;
Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 28 Julie 2002.