Sing vooraf: Skrifberyming
1-1:2, 6 (24:2, 6)
Ons hulp is in die Naam van
die Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
18:1, 11
Geloofsbelydenis Nicea
Na
die wet bely ons voor God ons sondeskuld en bid om vergewing van ons
sondes met Ps. 4:2
Wet
Psalm
4:2
Gebed
Psalm 139:1
Skriflesing:
Psalm 139
Teks:
Psalm 139: 23
Deurgrond my, o God, en ken my
hart; toets my en ken my gedagtes; (Psalms 139:23 AFR53)
Wie
is die Here wat ons aanbid, en hoe naby is Hy werklik aan ons?
Dié psalm gee aandag aan twee soorte mense en veral aan die
verhouding tussen hierdie twee groepe mense en die Here.
- Die een is die regverdige – en daar beskryf Dawid sy eie
omgang met die Here.
- Die ander is die onregverdiges – en daar beskryf Dawid hulle
veragting van die Here, en die gepaardgaande skeiding tussen hulle en
die gelowiges.
Ons
kyk vanoggend na die verskil in die verhoudings wat daar bestaan tussen
die Here en die regverdiges en tussen die Here en die onregverdiges.
1.
Die Here en die regverdiges
2. Die Here en die
onregverdiges
3. Die genade van die Here Jesus
Christus
1.
Die Here en die regverdiges
Die mens wat naby
die Here lewe, ken die Here in sy grootheid en dien Hom in die rykdom
van sy heerlikheid. Daarteenoor is dit ook so dat die mens wat die Here
nie naby en persoonlik ken nie, met sy woorde en werke die Here haat,
en uiteindelik verlore gaan.
Die
digter van die psalm het gevoel dat hy baie naby God staan.
- So naby dat die lig van die Here se Gees oor sy siel skyn.
- Vol verwondering aanbid en vereer Hy die Here.
- Sy lofsang besing die ewige gedagtes van die Here.
Hy
besef die naby persoonlike verhouding tussen hom en die Here.
- Daarom begin hy die psalm met ’n belydenis: Here, U deurgrond
en ken my.
- Die Here is persoonlik teenwoordig in sy lewe.
- In hierdie persoonlike verhouding is die Here die Almagtige vir wie
niks verberg kan word nie, en wie se insigte onbeperk deur elke mens se
liggaam en siel sien.
Die
psalm begin met ’n belydenis dat die Here alwetend en
albeskikkend is.
- Die Here se alwetendheid is nie iets vaags wat net bely word nie.
- Die digter ervaar dit dat die Here se alwetendheid hom as persoon
blootlê.
- Selfs die dinge wat hy graag in die donker sou wou laat bly
lê, die bring die Here in die lig van sy teenwoordigheid in.
- Die ware gelowige besef dat daar geen manier is waarop die mens iets
vir die Here kan wegsteek of waarheen hy kan vlug om die Here te
ontduik nie.
- Die Here neem tot die omhulsel om jou denke weg sodat dit vooruit aan
Hom bekend is.
Die
Here openbaar die verhouding tussen die Here en die mens:
- Die Here is altyd by die mens – nie ver nie.
- Hy beskerm hom volkome – van agter en van voor met sy hand
van beskerming oor die mens.
Die
besef van hierdie dinge laat die digter letterlik duisel.
- Wie kan opklim tot by die Here om Hom te begryp en te verstaan?
- Hy raak soveel meer in verwondering as Hy begin dink aan die
alomteenwoordigheid van die Here.
Let
op hoe prakties Dawid die dinge sien en ervaar.
- Hy filosofeer nie oor die alomteenwoordigheid van die Here nie.
- Hy het dit aan sy lyf ervaar in al die gevegte en oorloë
waarin hy al was dat jy nêrens vir die Gees van die Here kan
wegvlug nie.
- Hoeveel keer wou hy in ’n geveg ’n bepaalde
beplanning uitvoer en dan het die Here hom verbied en beveel om iets
anders te doen. Dink byvoorbeeld aan die keer toe hy Jebus ingeneem het.
Dit
is waarom hy sê dat daar nêrens ’n plek
in die skepping is waar hy nie voor die gesig van die Here is nie.
- Die Here is in die hemel, want dit is sy woonplek.
- Maar al sou hy sterf, sal die Here nog steeds in die doderyk oor hom
regeer – tot die doderyk is binne die Here se teenwoordigheid.
2.
Die Here en die onregverdiges
Wat van die
onregverdiges?
- Hulle glo dat die donker hulle wandade sal wegsteek.
- Daarom vra Dawid die vraag: As dit donker is, of as die dag nag sou
word, sal hy dan kan sonde doen sonder dat die Here dit sien?
- Hy kom baie vinnig tot die slotsom dat donker nie vir die Here
’n probleem is nie, want waar die Here opdaag, verander sy
teenwoordigheid die donkerste nag in daglig.
- Dawid motiveer die saak baie prakties. Hy sê dat die Here Hom
in sy moeder se liggaam gemaak het. Dit was vir die Here lig genoeg om
daar sy liggaam en siel tot stand te bring.
Dawid
noem dan nog ’n voorbeeld om te bewys dat die Here nie deur
donker beperk word nie.
- Voordat die dae daar was, het die Here al elke dag en alles wat elke
dag sou gebeur in sy boek opgeskryf.
- Onder andere het die Here ook sy vorming en geboorte beskryf.
- Die Here regeer dus inderdaad alomteenwoordig van ewigheid tot ewigheid.
Meteens
besef Dawid wat die konsekwensies hiervan vir die mens is.
- Die goddeloses wat hulle dade so in die donker probeer wegsteek, gaan
groot probleme met die Here hê.
- Hoe groter en aanbiddeliker die Here is, hoe groter is die ergernis vir
die wat die werkinge van die Here in hulle eie lewens nie wil sien en
erken nie.
- Sulke mense doen hulle soms voor as gelowiges, maar in werklikheid is
hulle goddeloses.
Dawid
noem hulle ook so.
- Hulle is slegte mense en misdadigers wat onskuldige bloed vergiet.
- Hulle deins nie terug daarvoor om opstandelinge teen die Here te wees
nie.
- Hulle is mense wat weier om hulle aan die wet van die Here te onderwerp.
- Hulle doen dit nie openlik nie. Dawid sê dat hulle voorgee
dat hulle die Here aanbid, maar in werklikheid gebruik hulle die Here
se Naam op so ’n manier dat dit duidelik is dat hulle die
Here nie vrees nie.
Dawid
vind hierdie mense se teenwoordigheid baie steurend (v. 19).
- Hy is vervul met ’n heilige weersin teen hierdie mense, en
daarom roep hy dit ook uit dat hulle van hom af moet weggaan.
- Met sulke mense kan hy die pad nie loop nie. Hulle versteur die
sielevrede en die harmonie van die mense wat die Here wel liefhet.
- Dawid ervaar dat sy liefde vir die Here hom verplig om posisie teen
sulke mense in te neem: Hy kan nie die pad met hulle loop nie. Mense
wat vyande van die Here is, is ook sy vyande.
3.
Die genade van die Here Jesus Christus
Maar wat
van Dawid self? Is sy lewe so onberispelik soos wat dit moet wees? Kan
hy mense sommer net so veroordeel asof hy goed bekend is met die
oordeel van die Here?
Daarom
die besinning. Dieselfde besinning wat daar nou by ons teenwoordig moet
wees by elke ware gelowige wat ’n lewende verbintenis met God
het.
- Dawid het stil geword en in homself gekeer en gevra dat die Here
’n maatstaf moet aanlê om sy binnekant te toets.
- Hy wil nie soos die Here se vyande wees nie. Hy wil nie op ’n
pad beland waar sy lewenseinde in smarte (die hel) eindig nie.
Die
psalm eindig met ’n beroep op dit wat Dawid in die begin van
die psalm bely het.
- Die Here is almagtig en alomteenwoordig en die Here kan deur niks
uitgesluit word nie.
- Sy gebed is dat die Here asseblief met hierdie alomteenwoordigheid
en met hierdie ewige insig van Hom sy gedagtes moet kom toets
en deurgrond. Die Here sal ’n korrekte en ware antwoord gee.
Wat
wil Dawid met die antwoord maak?
- Hy wil in hierdie naby verhouding tussen hom en die Here sy saak
regmaak en reghou.
- Hy wil op die pad van die ewige lewe met sy Skepper bly.
Kan
ons vanself op die ewige pad met ons Skepper bly?
- Die antwoord is: Nee, ons kan nie. Ons is presies soos Dawid!
- Dawid se eie lewe is vol growwe sondes wat daarop wys dat selfs hy nie
net in die dinge van die ewige lewe kon bly nie.
- Dit beteken egter nie dat ons nou in dieselfde groep as die Here se
vyande val nie.
Dawid
besin oor al die dinge.
- In hierdie proses bely Hy die Here se alomteenwoordigheid en almag.
Daarna bid hy vir insig en bekering.
- Ons moet ook so lewe – veral omdat ons deur die Here Jesus
self versoen is van al ons sondes en nog meer omdat Hy sy Gees oor ons
uitgestort het.
- Dit is nie net voor Nagmaal dat ons moet besin oor ons verhouding met
die Here nie. Ons moet dit ook in die tyd tussen Nagmaalvierings doen.
Ons
verlossing vereis juis dat ons voortdurend moet besin oor hoe ons opreg
voor die Here lewe.
- Dit vereis ook volharding in die geloof dat ons deur die Here Jesus se
versoening deel het aan God se genade.
- Omdat ons vanself neig om op te tree soos die vyande van die Here in
Dawid se psalm, het die Here sy Seun gestuur om hierdie sondes van ons
met Hom te versoen.
- Aan die een kant beteken dit verseker dat Jesus die straf vir ons
sondes gedra het, sodat ons met God versoen kan word.
- Maar aan die ander kant beteken dit ook dat sy dood ons innerlik
verander. Die Heilige Gees lei ons gedagtes en ons geloof, sodat ons
ook in groot verstomming die mag en majesteit van die Here kan bely.
Na
die Seun se hemelvaart het die Here deur sy Gees intrek geneem in die
kerk.
- Baie prakties beteken dit dat geen ware gelowige nie deur die Heilige
Gees gelei word nie.
- In Hom is die Here baie naby aan elkeen van ons.
Ons
moet nou voluit ’n dankbaarheidslewe vir die Here lewe.
- Ons moet besef dat die Here ons binnekant en ons buitekant ken en dat
daar vir Hom absoluut niks weggesteek kan word nie.
- Maar ons moet ook besef dat dit beteken dat die Here ons nie ken om ons
te veroordeel nie: Hy ken ons in sy genade omdat Hy ons verlos het van
die ewige dood.
Leef
in hierdie genade en ervaar die naby teenwoordigheid van die Here, en
daarmee saam sy ewige vrede.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm
8:1, 2, 4
Die Here sal jou seën en jou
behoed;
Die Here sal sy aangesig oor jou laat
skyn en jou genadig wees;
Die Here sal sy
aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 11 Desember 2005 (oggend)