Sing vooraf: Psalm 27:2; Psalm
81:13
Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 84:1
Gebed
Psalm 73:11
Skriflesing: Psalm
139
Teks:
Psalm 139: 23, 24; Kategismus Sondag 44
Deurgrond my, o God, en ken my hart;
toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en
lei my op die ewige weg! (Psalms 139:23-24 AFR1953)
Die digter van Psalm 139 het ontdek hoe almagtig en alomteenwoordig God die
Here is.
- Daar is geen plek waar hy kan heengaan nie, of die Here is daar.
- In die hemel – en die Here is daar.
- In die doderyk – en die Here is daar.
- Elke dag wat hy op die aarde lewe is die Here ook daar!
En dan die ontstellende: Die Here deurgrond hom!
- Elke sonde wat selfs net in sy gedagtes mag ontstaan, daarvan weet
die Here!
- Selfs as hy net wil gaan sit of opstaan, dan het die Here al voor die
tyd daarvan geweet.
Nou nooi hy as ’t ware die Here uit om sy gedagtes te kom deursoek. Hy
staan bewend voor die Here, maar hy stel homself graag aan die Here bloot.
Hy het ’n begeerte om deur God getoets en gesuiwer te word, en om dan by
die Here vergewing van sy sondes te ontvang:
-
...en kyk of daar by my ’n weg van
smart is
- en lei my op die ewige weg.
Die ware gelowige kan so iets doen, want hy weet dat die Here hom in
sy sondige begeertes gaan ontdek – maar dis juis waarvan hy wil ontslae
raak!
(38:10) Here, voor U is al my begeertes,
en my gesug is vir U nie verborge nie. (Psalms 38:9 AFR1953)
Normaalweg is ’n mens se begeertes nie juis aanprysenswaardig voor die Here
nie. Dink maar aan die uitspraak van Psalm 140:8:
(140:9) Here, gee tog nie die begeertes
van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul
verhef nie. Sela. (Psalms 140:8 AFR1953)
Die Heilige Gees waarsku ons inderdaad dat ons begeertes in die geselskap
lê van totaal onverkwiklike dinge. Luister na Kolossense 3:5:
Maak dood dan julle lede wat op die
aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en
gierigheid, wat afgodediens is, (Kolossense 3:5 AFR1953)
Die Here wys ons daarop dat ons as uitverkorenes ons fisies en geestelik
moet afskei van verkeerde dinge – onder andere moet ons wegbreek van
begeertes:
Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners
en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer
teen die siel; (1 Petrus 2:11 AFR1953)
In Ou-Testamentiese taal is hierdie digter besig om berou te toon oor sy
sondes, en om sy oortredings voor die Here te bely.
- Hy besef dat ons net rein kan word as ons kennis dra van ons
oortredings.
- Ons sondes sal ons net ken as ons dit toets aan die gedagtes van die
Here – sy wet.
- Hy besef dat as ’n mens sy sondes ken en bely, die Here ons deur sy
Gees help in ons stryd om rein te word.
Dis presies ook wat elkeen van ons moet besef voordat ons in ons
geloof vorentoe kan gaan (Kategismus Sondag 44).
- Ons kan eers salig word as ons ons sondes besef.
- Eers wanneer ons besef hoe grof ons teen die gebooie van God oortree,
sal daar by ons die begeerte ontstaan om nie meer teen die Here sonde te
doen nie.
- Ons moet ’n punt bereik waar ons werklike vyande word van alles wat
verkeerd is, en aanhangers van elke vorm van geregtigheid.
Dit gebeur natuurlik nie so maklik nie, want ons ken ons sondes en ons
ellendes mos uit God se wet, en as ons met die wet werk sit ons met groot
moeilikhede. Dink maar net aan wat die apostel Paulus daarvan skryf in
Romeine 7: 7:
Inteendeel, ek sou die sonde nie anders
as deur die wet geken het nie. Want ek sou ook die begeerlikheid nie
geken het as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.
Al die sondes begin dus wesenlik by die tiende gebod, want jy kan letterlik
geen sonde doen voordat jy nie die begeerte daarvoor het nie. Dit
onderstreep ook weer die swaar van die wet.
- In jou lewe mag dit nooit jou eie lus wees wat tel nie, maar die wil
van God.
- Ons staan dus teenoor die groot gebooie van die Here, terwyl ons ’n
uiters beperkte vermoë het om die gebooie van God uit te voer – ook die
gebod wat ons verbied om verkeerde dinge te begeer of te wil hê.
- Ons weet dat ons in Jesus Christus moet glo tot saligheid, want Hy
het die wet vir ons volbring en daarmee saam die straf gedra vir ons
onvermoë om die wet te kan onderhou.
- Ons glo dus dat ons eendag voor die regterstoel van God volkome
vryspraak vir al ons sondes sal ontvang op grond van hierdie verdienste
van Jesus Christus.
Nou glo ons verder – soos die Bybel ons leer – dat ons nie die wet
sommer net opsy kan skuif of verwerp nie:
- Ons moet dit uit dankbaarheid onderhou omdat Jesus dit vir ons
volbring het.
- Die Bybel leer ook dat ons al in hierdie lewe die uitverkorenes sal
kan uitken omdat hulle in hulle lewens die vrugte van die wedergeboorte
sal voortbring.
- Die Heilige Gees maak hulle bekwaam om as gelowiges hierdie vrugte
voort te bring.
Dan is die saak meteens nie meer so eenvoudig nie, want kyk hoe lyk
ons lewens!
- Dit lyk nie altyd soos die lewens van mense wat deur die Heilige Gees
bekwaam gemaak is nie.
- Dis duidelik dat ons hele lewe nie altyd in diens van die Here is
nie.
- Ons bekommernis vergroot wanneer ons eerlik ons eie harte deursoek.
Ons kry lelike dinge daar – en dit word ’n verskrikking as mens besef dat
God in sy alwetendheid ook al hierdie dinge weet!
Die feit is dat daar by ons begeertes is om byna elke gebod te
oortree. En dit bly nie net by begeertes nie – ons voer baie keer ons
begeertes uit. Dit raak al die gebooie van die Here.
- Die eerste vier gebooie handel oor ons verhouding met God. Kyk net
wat maak ons daarmee.
- Ons begeer nie altyd om die Here te dien nie, want ons optredes
bewys dit!
- Luister hoe baie van ons ontken die almag van God wanneer ons
praat van toeval en toevallig!
Ons kry skaam as ons eerlik is, want dis nie so dat ons geen lus het
om teen die Here te sondig nie.
- Daar is ook nie die sterk geloofskrag wat ons al teen hierdie tyd
moes gehad het nie.
- Dis nogal skokkend, veral omdat die Bybel ons ook leer dat jou geloof
soos fiksheid is – jy moet dit oefen.
- Ons lyk maar dikwels baie geloofsonfiks, want beproewinge mors met
ons, terwyl ons dit in die Naam van die Here en met sy majesteit moet
hanteer.
Ons stryd teen die sonde self vertoon ook nie baie lewenskragtig nie,
want ons sukkel nog maar op presies dieselfde vlak as waar Israel in die
woestyn was.
- In baie opsigte lyk dit eerder asof ons agteruitgegaan het as ons
gemeet word aan die standaard wat die gelowiges in die Bybeltyd gehad
het.
- Dis nie so dat ons werklik vyande van die sonde is nie. As die sonde
en ons smaak saamval, dan bedryf ons die sonde teen die heerlikheid van
God is. Dit hoort nie so nie. Ons hele hart is nie in ons godsdiens nie.
Die feit is net dat ons baie keer skuldig staan voor die Here omdat
ons die Here se gebooie oortree.
- Daar is te veel kere by ons die lus om sonde te doen, en te min kere
die lus om teen die sonde weerstand te bied om die heerlikheid en die eer
van die Here te handhaaf.
- Dink nou daaraan dat al die engele wat die Here in die hemel
teëgestaan het, uitgewerp is. Waar gaan ons heen? Besef ons wat ons doen
as ons verkeerde dinge doen?
Kom ons pas die hele saak op onsself toe. Ons besef ons eie
onbekwaamheid as ons eerlik na onsself kyk. Maar die Here is nie sonder
genade nie. By die Here is die genade meer as oorvloedig, want dis die
inhoud van die Christusevangelie.
1 Johannes 1:8 leer ons die volgende:
As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself, en die waarheid
is nie in ons nie. As ons ons sondes
bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van
alle ongeregtigheid te reinig.
Wanneer ons die sonde besef, en ons luister na die leiding van die Heilige
Gees, dan groei daar nuwe begeertes by ons.
- Ons wil dan nie meer die gebooie van God oortree nie, maar ons wil
hulle juis onderhou.
- Ons het ’n klein beginsel van heiligheid – dis om die sonde te ken as
ons dit sien.
- Ons het verder die Heilige Gees wat uitgestort is in die kerk, en wat
ons ook lei.
Moet nou nie in hierdie saak in ongeloof verval nie.
- Dit kom by lidmate voor dat hulle vra waarom die Here hulle so min
krag gegee het dat hulle nie goed genoeg uit die hande van die sonde kan
bly nie.
- U moet weet dat ons genoeg krag het om te gehoorsaam – as ons net
wil. Ons moet net aandag gee aan die leiding en vertroosting van die
Heilige Gees.
Die Heilige Gees verseker ons dat God meer as genoeg genade vir ons
het.
- Hy verseker ons dat, ondanks al die onheilighede wat aan ons kleef,
ons nogtans deur die Here verkies is, en dat hierdie verkiesing in die
dood van die Here Jesus vasstaan.
- Niks kan jou van jou verlossing beroof nie.
Dit bring ons by nog ’n probleem: as die genade van die Here dan vir
ons genoeg is, waarom moet ons dan nog die wet preek en onderhou ?
- Die antwoord is dat selfs die allerheiligstes onder ons maar net ’n
klein beginsel van gehoorsaamheid het solank as wat hulle in hierdie lewe
is.
- Maar hulle het ’n ernstige voorneme om volgens al die gebooie van God
te lewe.
Dis waarom die wet gepreek moet word.
- Ons sal die eise van God nie verstaan as ons die wet nie hoor nie.
- En ons sal ook die genade van God nie verstaan as ons die wet nie
hoor nie omdat ons nie sal besef waarvan Hy ons verlos het as ons die wet
nie ken nie.
Die wet leer ons wat alles in Christus te kry is.
- Dit leer ons bid vir genade, en om te dank vir al die seën wat ons
reeds ontvang het.
- Die wet vervang ons onkunde met insig, en saam met insig kom die
begeerte tot geloofsvernuwing.
Dan kom ons uit die aard van die saak in ’n situasie waar ons:
- weer gemeenskap met God beoefen.
- In ’n omstandigheid waarin ons weer ons geloof geniet, en werklik ’n
plesier vind in ’n streng en Christelike lewe.
- Dan sal ons ook ervaar hoeveel krag die Here werklik aan ons gee.
Kom ons strek ons dan uit na dinge wat ons wel mag begeer – die
heiligheid en aanbidding van God. Laat ons ons beywer om goed en reg te
lewe totdat ons hierdie aardse bestaan verwissel met die ewige en sondelose
bestaan by God.
Kom ons lees Kategismus Sondag 44 saam.
Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van
ons?
Antwoord: Selfs die geringste
begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom
nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ’n begeerte
tot alle geregtigheid hê (a).
(a) Rom 7:7.
Vraag 114: Maar kan die wat tot God bekeer
is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?
Antwoord: Nee, want selfs die
allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ’n geringe
begin van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog so dat hulle met ’n ernstige
voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die
gebooie van God te lewe (b).
(a) 1 Joh 1:8; Rom 7:14, 15; Pred 7:20; 1
Kor 13:9. (b) Rom 7:22; Ps 1:2.
Vraag 115: Waarom laat God die Tien
Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe
kan onderhou nie?
Antwoord: Ten eerste sodat ons
gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer
ken (a), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die
geregtigheid in Christus kan soek (b). Ten tweede moet ons ons sonder ophou
beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer
en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe
die volmaaktheid as doel bereik (c).
(a) Rom 3:20; 1 Joh 1:9; Ps 32:5. (b)
Matt 5:6; Rom 7:24, 25. (c) 1 Kor 9:24; Fil 3:12-14.
Amen.
Slotgebed
Slotpsalm 25:2, 6
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen.
Dr MJ du Plessis
Gereformeerde Kerk
Bellville
Datum: 5 November 2006 (aand)