Sing vooraf: Psalm 25:5, 6,
7.
Ons hulp is in die Naam van die
Here wat die hemel en die aarde geskape het.
Geliefdes,
genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur
die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm
25:1, 2, 4.
Gebed.
Psalm
86:6
Skriflesing:
Psalm 25
Teks: Psalm 25:16
Wend
U tot my en wees my genadig, want ek is eensaam en ellendig. (Psalm
25:16 AFR53)
Alle
mense ervaar eensaamheid.
- Soms is ons tussen ’n skare van mense, maar nog steeds
eensaam.
- Ander kere is
die omstandigheid so dat ’n mens van ander mense afgesny
word, deur byvoorbeeld swaarkry of siekte.
- Soms is ons eensaam omdat die dood die een wat die naaste aan ons is,
weggeneem het en nou moet ons ’n alleenpad as gevolg van die
gemis aan die geliefde, deur die res van ons lewens loop
Dawid
het hierdie Psalm waarskynlik geskryf nadat Ussa deur die Here
doodgeslaan is toe die ark op ’n nuwe wa vervoer is.
- Die geweldige skok van die gebeurtenis
- en die ontsteltenis van die volk oor die jongman se dood -
- en die gepaardgaande verwyte dat dit die koning se fout is wat dit
veroorsaak het, kom alles in die Psalm na vore.
Dit
was een van die min kere wat Dawid nie die Here vooraf geraadpleeg het
en gaan vra het hoe hy hierdie saak moet aanpak nie.
- Dit het toe inderdaad op chaos uitgeloop.
- Daarom is hy soos ’n verwerpte en vyandig behandel.
Dawid
het onder sulke omstandighede van eensaamheid Psalm 25 geskryf.
- Hy word so oorval deur die eensaamheid dat hy begin bid.
- Daar is vir hom geen ander moontlikheid nie.
- Hy besef dat daar in hierdie saak net van een kant af verligting kan
kom: van BO af!
In
sy gebed begin hy bid dat die Here dit tog moet keer dat sy vyande
hulle oor hom moet verlekker.
- Die hele lewe is vir hom verkeerd. Trouens die hele
wêreld is vir die psalmdigter verkeerd.
- Hy wil hê dat die regverdiges moet jubel – dit
sou korrek wees.
- In sy
alleenheid is dit ook nie goddelose mense wat sy hartseer veroorsaak nie - dit is die medegelowiges wat hulle deur die
sonde laat beïnvloed.
Dawid
bid met die volle versekering dat sy gebed verhoor sal word.
- Sy vertrekpunt is dat die verhouding tussen hom en God nie een van
alleenheid is nie.
- God
maak ons nie verstotelinge nie!
- Dit is altyd die moeite werd om te bid, want God verhoor en Hy is
altyd persoonlik by ons!
Kom
ons volg Dawid in sy gebed.
- Eers bid hy dat die Here hom moet verlos van sy vyande.
- In vers 4 kry sy gebed nuwe diepte.
- Hy besef meteens dat daar groter gevare is as eensaamheid en
bedreiging deur mense.
- Daar is die gevaar dat mens ongelowig kan word – hy kan
soos sy vyande van die Here se weë afdwaal.
- Daarom bid hy dat die Here hom ook moet lei dat hy nie ook soos sy
vyande troueloos word nie.
- Hy weet baie goed dat sy eensaamheid sou verdwyn as hy soos sy vyande
word, want dan sou hulle hom tussen hulle opneem.
- Maar hy stel nie in hierdie moontlikheid belang nie: die
Here moet aan hom Sy weë bekend maak en Sy paaie aan hom leer.
Eers
het Dawid gebid vir verlossing. Toe vir leiding. In
vers 6 begin hy bid vir vergewing van sy sondes.
Hy
besin oor sy lewe en dan besef hy dat hy al die ellendes verdien
waaronder hy gebuk gaan.
- Weer ’n keer word dit duidelik dat die gevaar baie groot is
dat hy van die Here se paaie kan afdwaal, want hy het al oor en oor van
die Here se weë afgewyk.
- Dawid bid nie net vir sekere sondes wat hy gedoen het nie.
- Hy bid vir alles wat hy deur sy hele lewe verbrou het.
- Hy dink veral aan die sondes wat hy as ’n jongman gedoen
het, toe sy lewensondervinding nog maar skraal was.
Die
digter van Psalm 119 het ook hierdie ondervinding geken, daarom vra
hy: Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?
Die antwoord: deur te lewe soos wat die Here dit in die Bybel
voorskryf (sy weë te hou na Gods Woord).
- Job het op een stadium in sy swaarkry gewonder of dit die sondes van
sy jeug is wat die oorsaak is dat die Here hom straf. Hy
sê:
Wil U ‘n verwaaide
blaar skrik aanja en die droë stoppel agtervolg, dat
U bitter dinge oor my beskik en my die ongeregtighede van my jeug laat
erwe, (Job 13:25-26 AFR53)
- Net so worstel Dawid: Hy begeer dat God hom sy sondes nie
moet toereken nie.
Van
vers 8 af begin Dawid se stemming verander: Hy begin jubel.
- Hy is seker dat die Here sy gebed sal verhoor.
- Die Here is goed. Hy onderwys sondaars in sy weë.
- Die Here leer sy weg aan alle sondaars wat met ootmoed hulle sondes
bely, en wat al hulle verkeerdhede erken.
Hierdie
onderwysing is natuurlik die genade wat ons het in die Here Jesus
Christus, want in die Nuwe Testament word gesê dat Christus
die sondaars in die weg onderrig.
Ek het nie
gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering. (Lukas
5:32 AFR53)
En
Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My
huis moet ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies
nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak. (Markus 11:17
AFR53)
Dawid
is in Psalm 25 so verdiep in sy sondes en dit wat hy verkeerd doen, dat
hy in vers 16 met ’n baie diep belydenis vorendag kom:
Wees my genadig, want ek is eensaam ...
Sy
sondes maak dat daar ’n afstand is tussen hom en God.
Die
grootste eensaamheid wat daar kan wees, is ’n eensaamheid
sonder God.
- Adam was alleen in sy verhouding met God, maar al het hy aanvanklik
geen lewensmaat gehad nie, was hy nie eensaam nie.
- Hy het die teenwoordigheid van sy Skepper altyd by hom gehad.
- Die sonde het die verhouding met God kom versteur, en in die plek
daarvan het daar alleenheid gekom – eensaamheid en die pyn
wat daarmee saamgaan soos ons dit ken.
- Kain het ook na die moord op sy broer ’n eensame swerwer
geword, wat dit uitgeroep het in die land Nod dat sy skuld te groot is
om vergewe te word.
- Judas
was ook so ’n eensame dissipel tussen die ander dissipels.
- Hy het die boosheid van sy hart geken, en hy het geweet dat hy anders
was as die ander dissipels. Hy het geweet van die verraad in
sy hart.
- Nadat hy Christus oorgelewer het, belewe hy die hel van werklik
alleen wees en van verstoot wees.
- Hy gaan gee die geld terug.
- Hy wil terugkry wat hy met sy boosheid verspeel het – en al
wat hy daarvoor terugkry is dat hy toegesnou word dat hy maar kan
toesien!
- Die bloedgeld dryf hom na die plek toe waar hy homself gaan
ophang - ’n alleendood sonder God!
Ons
is ook in sommige opsigte so verkeerd.
- Ons bou somtyds vir ons ’n wêreld waarin ons
eensaam is.
- Daar is van
ons wat ons in ons swaarkry en eensaamheid verheug.
- Is dit nie so dat ons dan soos Judas word nie? Ons doen
verkeerd terwyl ons van beter weet?
As
jy ’n alleenpad wil loop, loop jy ’n doodsweg want
dit skeur jou so in die donker in dat jy in jou swaarmoedigheid ook God
verloor.
- U
weet almal dat neerslagtigheid so erg word, dat mens nie eers wil bid
nie.
- Dan beleef ons iets
van die Psalmdigter se woorde as hy sing – soos dit in ons
Psalmboek berym is in Psalm 25 vers 8:
O my God,
ontferm U oor my
in my diepe ongeluk;
eensaam
is ek - o verhoor my! -
gans ellendig en in druk.
Om
my heen, aan alle kant,
is die skrik van duisend
dode;
laat dan, HEER, u regterhand
my
verlos uit al my node.
Dit
is die verskriklike eensaamheid sonder God.
Maar
daar is nog ’n eensaamheid. Dit is die eensaamheid
waar ons alleen is tussen die mense, omdat ons God by ons het.
- Daar kom tye en plekke wanneer ons mense en hulle verkeerde dinge
laat staan en kies vir die regte dinge wat by God belangrik is
– en dan is ons verstoot van alle mense.
- Dit is ’n heerlike eensaamheid.
Dit
is ’n voorreg as ons hierdie soort van eensaamheid ervaar.
- Maar ons kry dit nie onverdiend nie: daar was Iemand wat
hierdie eensaamheid in sy volle bitterheid en angs moes deurleef, sodat
ons dit nou met vreugde kan beleef.
- Die Persoon is Jesus Christus ons God en Here.
- Hy het die vloek van eensaamheid en verlatenheid gedra. Ons
sien Hom in Dawid se woorde:
Wend U tot my en
wees my genadig, want ek is eensaam en ellendig. (Psalms 25:16 AFR53)
Die nag van die Here Jesus Christus geboorte
was daar ’n koor van engele uit die hemel wat dit in die
velde uitjuig dat die Seun van God gebore is.
- Terwyl die engelesang die ruimtes gevul het, het die Christuskind
eensaam in ’n stal gelê.
- Die wêreld waarvoor Hy gekom het, was nie in hulle hordes
daar om Hom te ontvang nie!
- Dan kom die kindermoord. Terwyl baie moeders geween het oor
hulle dooie kindertjies, is Jesus ’n eensame vlugtelingskind
in Egipte.
Wanneer
Hy volwasse is, kla Hy sy nood:
En Jesus
sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van
die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy
hoof kan neerlê nie. (Matteus 8:20 AFR53)
Die
einde van Jesus se lewe was die eensaamste van al die tyd.
- Met die laaste intog in Jerusalem was daar nog ’n skare
mense wat profeties geskreeu het: Hosanna vir die Seun van
Dawid!
- ’n Paar
dae later is dit vir die mense duidelik dat Hy nie ’n aardse
koning gaan wees nie, en dan verlaat hulle Hom.
- Die dissipels is nog daar – maar ook nie vir lank nie.
- Een verraai Hom en daar bly elf aan die Nagmaalstafel oor.
- Van hierdie elf is daar maar drie by Hom as Hy gaan bid in Getsemane.
- En toe niemand nie, want sy dissipels het Hom verlaat en gevlug.
Verlaat
van God en mens skreeu Jesus dit aan die kruis uit:
My God, My God, waarom het U my verlaat?
Alleen
is Hy die dood in.
Psalm
130 is van Hom waar:
Uit dieptes gans verlore
van redding ver vandaan
waar hoop se laaste spore
in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, O Here, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in U oor!
En
die Here het gehoor, want daar het verlossing van eensaamheid
gekom. Ons Verlosser leef – Hy het die eensaamheid
van die dood oorkom en opgestaan.
Die
betekenis van Jesus se oorwinning oor die dood en oor alle eensaamheid
is dat Hy ons daarmee leer dat ons nooit eensaam hoef te wees nie.
- As ons eerlik leef in ‘n ware geloof, dan is Hy na sy
opstanding nooit meer weg van ons af nie – Hy is altyd by ons
om ons alleenheid van ons af weg te neem.
- Dit kan ons net doen as ons daarna streef om in gemeenskap met die
Here Jesus te lewe, soos wat Dawid gebid het:
HERE,
maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u
waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die
hele dag. (Psalms 25:4-5 AFR53)
En ook in vers
12:
Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy
sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies. (Psalms 25:12 AFR53)
Wanneer
ons sterf, sterf ons ook nie eensaam soos die Here Jesus nie.
- Ons sterf om dadelik by Hom te wees. Dink aan sy woorde vir
die rower langs Hom aan die kruis:
Jy sal vandag saam met My in die Paradys wees!
- Die teenwoordigheid van Jesus Christus maak dit onmoontlik dat ons
ooit weer in die eensaamheid van Godverlatenheid kan wees.
In
die versoening van die Here Jesus se kruisdood kan ons bid as ons
eensaam raak:
Bewaar my siel en red my; laat my
nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. Laat vroomheid en
opregtheid my bewaar, want U verwag ek. o God, verlos my
(Israel) uit al sy benoudhede! (Psalm 25:20-22 AFR53
- gewysig om by die preek in te pas MJdP)
Daarom
moet ons selfs in ons alleenste oomblikke onthou wat gesing word in
Psalm 23:
my hart ken geen doodsvrees of verskrikking
omdat U staf my troos is en verkwikking.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm
138:1, 4.
Die
Here sal jou seën en jou behoed;
Die
Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die
Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 1 Januarie 2006 (aand)