Ons hulp is in die Naam van die Here wat die hemel en die aarde geskape
het.
Geliefdes, genade en vrede vir u van God ons Vader en die Here Jesus
Christus deur die kragtige werking van God die Heilige Gees.
Amen.
Lofpsalm 89:1, 6.
Gebed.
Psalm 1:1
Skriflesing: Psalm 1.
Teks: Kategismus Sondag 49.
Psalm 1: 6
Waarlik,
die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die
goddeloses lei tot ondergang.
Psalm 1 praat van twee paaie waarop 'n mens kan gaan. Kom ons sê
dat daar twee moontlikhede is waarvolgens mens kan lewe. Die een
moontlikheid is om regverdig te wees. Die ander moontlikheid is om
onregverdig te wees.
Daar word die volgende dinge van die regverdige vertel:
- Hy volg nie die raad van die goddeloses nie.
- Dit beteken dat hy nie na die raad van slegte mense luister
nie, omdat hy 'n groter behoefte het om te luister na alles wat die
Here hom beveel.
- Die regverdige gaan ook nie met sondaars om nie.
- Hy het beter geselsskap om met die Here te voer. Hy praat
liewer met die Here in sy gedagtes en sy gebede.
- Hy gaan ook makliker met die kinders van die Here om: met
kerkmense en met uitverkorenes.
- Die regverdige sit ook nie in die kring van die spotters nie.
- Hy span nie saam met die ligsinniges nie, en hy dryf nie die
spot met die wet van die Here nie.
- Hy het behae in die Wet van die Here.
- Dit staan mooi geskryf in die Psalm: Hy vind sy vreugde in die
Woord van die Here. Hy oordink dit dag en nag.
Hierdie dinge is tekenend van 'n bekeringslewe. Dit is daarom ook
kenmerkend van 'n ware gelowige, want dit is eie aan sy lewensstyl. Ons
lewens moet ook op hierdie styl gelewe word:
- Ons lewe moet 'n dankoffer aan God wees.
- Dit moet 'n lewe wees waarin die wil van die Here in ons aardse
lewe gebeur soos wat dit in die hemel in die lewe van die engele gebeur.
- Ons moet in ons lewe werklik lus hê om die wil van die Here
te doen, m.a.w. voortdurend dink aan die wil van God, en dan buig voor
elke beslissing wat die Here oor ons lewe vel.
- Dit moet 'n gebedslewe wees waarin ons vra dat die Here se wil in
ons lewe moet geskied.
Wanneer ons bid: Laat U wil geskied, gebeur daar eintlik drie dinge:
1. Dit is die gebed van 'n wedergebore
hart.
2. Tweedens is dit 'n voorskrif van
die hoogste Koning.
3. Derdens kry ons in hierdie gebed
die voorbeeld van die engele.
1. Dit is die gebed van 'n wedergebore
hart.
Ons mag net bid dat die wil van die Here op aarde moet geskied, as dit
by ons 'n werklike behoefte is.
- Ons kan dit net bid as ons 'n sielsbehoefte beleef om met al ons
kragte van die sonde af weg te vlug.
- Ons moet hierdie deel van die Onse Vader bid omdat ons moeg is
daarvan om deur die wêreld en die sonde van die aarde vasgevang
en geregreer te word.
- Enige mens wat wedergebore is ? en ons is wedergeborenes ?
ondervind 'n afsku in die verkeerde.
- Hierdie gebed is dus 'n getuienis dat ons met al ons kragte veg
teen die werk van die Satan op elke plek waar dit paaie kruis met my
lewe.
Ons deel mos almal in die genade van die Here Jesus Christus. Dit is
tog immers waarvoor Hy vir ons onthalwe 'n kruisdood gesterf het. Ons
weet dus dat ons begenadigdes is. Wat is die effek daarvan?
- Juis daarom ken ons die Here.
- Ons is die mense waarvan Psalm 1 praat as daar gepraat word van
"iemand wat 'n afkeer het in die verkeerde pad."
- Ons wil nie saam met die goddelose beweeg nie. Ons wil die wil
van die Here doen.
- Ons weet dat die goddeloses 'n valse godsdiens loop en verkondig.
- Ons besef dat hulle lewe, wat hulle aan almal voorhou as so
goed, inderwaarheid 'n lewe lewe is wat geen toekoms het nie.
- Ons besef dat hulle lewens hoofsaaklik gaan oor die aardse, en
oor plesier, en oor dinge wat net van tydelike aard is.
- Dit kom maar daarop neer dat dat sulke mense nie die wil van
die Here op die aarde wil uitvoer soos wat dit in die hemel uitgevoer
word nie.
Lees Psalm 1 goed en dan merk u op dat daar drie verskillende grade van
verval in die mens se lewe is.
- Eers staan daar dat die regverdige nie saam met die goddelose
loop nie. Hy volg nie hulle raad nie.
- Daarna kom die Psalm by iemand wie se verval al erger is. Hy het
omgang met goddeloses. Hy staan by hulle.
- Die ander een is nie meer 'n regverdige nie, want hy het al klaar
een van die goddeloses geword. Hy sit in die kring van die spotters. Of
soos die Nuwe Vertaling dit stel: Hy span saam met die ligsinniges !
Die Psalmdigter stel dit baie duidelik in watter mate elkeen van hulle
die wil van die Here doen.
- Die eerste en dien die Here, en hy laat die wil van die Here op
aarde geskied, want hy volg ook geen goddelose raad nie.
- Die volgende een wat met die ongelowiges omgaan, is al meer in
hulle mag. Hy beoefen al saam met hulle verkeerde dinge. Hy deel al in
die raad van die goddelose. Die wil van die Here is nie meer sy volle
lewe nie.
- Die laaste een span saam met die ligsinniges.
- Hulle is mense wat niks begryp van die wil van die Here nie.
- Hulle verstaan nie ons gelowiges se roeping tot gehoorsaamheid
nie.
- Hierdie man wat met hulle saamspan, kan nie meer omdraai nie.
Hy het klaar die wil van die Here versaak.
Ons sou nie hierdie dinge kon raaksien as die Here Jesus nie vir ons
gesterf het nie.
- Nou leef ons verlig deur die genade. Dit veronderstel dat daar by
ons 'n verlange en 'n strewe is om die wil van die Here te doen.
- Juis dit laat ons dan besef dat nie een van ons self met eie krag
die wil van God kan uitvoer nie.
- Die Here Jesus se kruisdood het tot gevolg dat die Heilige Gees
oor ons uitgestort is, en enersyds maak Hy ons oë oop vir die
toestand waarin ons is, en andersyds lei Hy ons in die begeerte om uit
hierdie toestand van sonde los te breek, en God van harte te dien.
Dit is natuurlik ons motivering vir hierdie gebed van die Onse Vader.
Dit is waarom gesê word dat net iemand met 'n wedergebore hart
hierdie gebed kan bid. Ons ken die Here.
- Ons ken Hom eerste al as die Skepper van hemel en aarde.
- Ons ken Hom ook as Verlosser deur Jesus Christus.
- Prakties beteken dit dat die Here sy almag aan ons geopenbaar
het, en dat ons uit sy openbaring in die gang van die geskiedenis
geleer het dat God in sy mag onstuitbaar en onkeerbaar is.
Wat van ander skepsels, soos die engele?
- Die duiwel en sy engele was in die hemel ongehoorsaam, en is
daarom deur Jesus se dood en opstanding verslaan en selfs vernietig as
gevolg van hulle ongehoorsaamheid.
- Die kruisdood het ook net weer bevestig dat die duiwel en sy
engele selfs in hulle toestand niks kan doen sonder die toestemming van
God nie.
Soos al die ander gebede van die Onse Vader is hierdie een ook nie
selfsugtig nie.
- Dis nie 'n gebed dat net ek alleen aan die wil van die Here
gehoorsaam moet wees nie.
- Dis 'n gebed dat alle mense op die aarde aan die wil van die Here
gehoorsaam moet wees soos wat die engele in die hemel ? dis die wat nie
saam met die duiwel in sonde geval het nie ? aan die wil van die Here
gehoorsaam is.
Die rede vir hierdie ernstige gebed vir alle gelowiges is omdat al die
gelowiges in hierdie tyd uitgelewer is aan die spanning en stryd om
goed en kwaad van mekaar af te onderskei. Die ware gelowige het tog die
ernstige begeerte dat die Here al die uitverkorenes tot hulp moet wees
in hulle nood.
2. Tweedens is dit 'n voorskrif van
die hoogste Koning.
- Die Here is die Koning van die Kerk.
- Hy is die enigste Wetgewer.
- Hy is ook die Enigste Verlosser.
Hy het bepaal dat deel van ons dankbaarheid vir die groot verlossing
wat Hy oor ons bewerk het, in ons gebede sal uitkom. Onder andere in
ons gebed dat die wil van die Here op die aarde moet geskied ? en dat
dit ook in ons gehoorsaamheid na vore moet tree.
- Die wil van die Here verander nooit, en daarom sal hierdie
gebedsopdrag ook nooit verander nie.
- Dit is waarom daar in die Kategismus staan dat ons die Here
sonder teëspraak moet gehoorsaam.
- Omdat die Here nie 'n geteëpratery duld nie, beteken dit ook
dat diegene wat nie by sy gebedsopdragte inval nie, uiteindelik die
gevolge daarvan sal moet dra.
Ons moet net by onsself baie duidelikheid hê oor die betekenis
van die gebed "Laat U wil geskied."
Dit beteken dat ons onderneem om die wil van die Here op letterlik elke
terrein van die lewe uit te voer:
- In ons huisgesin en gesinslewe.
- In ons kerk.
- In ons politiek.
- In ons maatskaplike instellings.
- Oral.
Dit sal net kan gebeur as ons elke stukkie van ons lewe beginselmatig
benader, en voortdurend weeg om te doen wat vir God belangrik is.
M.a.w. ons moet baie sterk beginselgerig lewe.
- Die Bybel leer tog baie sterk dat die Here nie mense wat
eiewillig lewe, ongestraf daarmee laat wegkom nie, en Hy straf altyd
eiewillige Godsdiens.
- Toegepas beteken dit dat my gesinslewe ook deel uitmaak van my
aanbidding.
- Dit beteken ook dat my sosiale lewe en my vriendekring ook 'n
plek is waar ons die wil van God uitlewe en 'n werklikheid maak.
Die hele saak het natuurlik 'n rooi lig ook.
- Ons moet daarteen waak dat ons nie Christelik vroom aan God se
wil gehoorsaam is, maar die hele tyd daaroor loop en kla nie!
- Daar is geen goed in om die wil van ons Skepper met die een sug
na die ander uit te leef nie.
- Ons moet die wil van die Here gewillig en getrou navolg. Ons moet
m.a.w. regtig lus hê om dit te doen.
3. Derdens kry ons in hierdie gebed
die voorbeeld van die engele.
Die Here gebruik die engele as 'n voorbeeld in ons gebed, om ons te
bemoedig.
- Uit hulle voorbeeld leer ons dat die wil van die Here gedoen kan
word. Hulle is skepsele net soos ons, en hulle gehoorsaam die Here
getrou en gewilliglik in die hemel.
- Die engele word natuurlik vir nog 'n rede genoem: dit is 'n
verwyt teen die Satan.
- Hy was vernaam, maar het op 'n stadium geweier om die wil van
die Here te doen. As straf op sy ongehoorsaamheid is hy uit die hemel
gewerp.
- Daar is vir hom ook 'n belofte wat wag om vervul te word, en
dit is dat hy met die wederkoms van die Here in die hel gewerp sal word.
- Hy is dus 'n voorbeeld van wat van die gaan word wat nie na die
Here luister nie.
Ons het hierin ook die voorbeeld van die Here Jesus Christus ? God se
Seun, ons Here en Verlosser.
- In die Ou Testament lees ons van die Engel van die Here, die
Ongeskape Engel wat aan die wil van God getrou bly in sy middelaarswerk.
- Ons weet tog dat hierdie spesifieke verskyningsvorm die
gestalte van die Here Jesus was.
- Die Here Jesus is die Hoof van die engelemagte, en Hy is altyd
getrou en gehoorsaam aan die wil van die Vader.
- Hy het met sy hele lewe die wil van sy Vader uitgevoer. Tot met
sy dood toe.
- Hy het sekerlik nie eers nodig gehad om te sterf nie, want Hy
is self God, maar as mens gehoorsaam Hy die wil van sy Vader, sodat dit
daardeur vir ons ook moontlik geword het om hemel toe te gaan.
- Deur sy gehoorsaamheid word die deure van die hemel vir ons wat
ongehoorsaam is, oopgemaak.
- Meer nog: Ons kry deur hierdie verdienste van Hom die reg tot
gebed.
- Ons kan nou in sy Naam bid: Laat U wil geskied ? ook in my lewe.
- Ons kan nou bid vir iets waarvoor ons buite Christus om dikwels
nie baie lus het om te doen nie.
Daarom is hierdie gebed ook iets van 'n belydenis waarmee ons ons
dankbaarheid betuig omdat die Here ons so verander het dat ons werklik
nie meer lus het om sondes te doen nie.
- Ons is dankbaar dat ons so verander is dat ons nou onder die
leiding van die Heilige Gees bid:
Leer my Heer, U regte weë.
Wys die regte pad my aan.
Maak my hart daartoe geneë
om met lus daarop te gaan.
Wil my deur U waarheid leer,
lei my dwalende gedagtes;
want U is my Heil, o Heer,
U is ek altyd te wagte.
Amen.
Slotgebed.
Slotpsalm 121: 1.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die
gemeenskap van die Heilige Gees bly by u almal.
Amen
Dr. M.J. du Plessis
Gereformeerde Kerk Bellville
Datum: 10 Maart 2002.